Markus 8:27-37 – Wie sê julle is Ek?

19 09 2021

Liewe Jesus, vriendelike Jesus, “Wat ‘n Vriend het ons in Jesus” – So ‘n Jesus sou nooit iemand ‘n harde woord toegesnou het nie, of sou Hy?

Wat as Jesus vir iemand sou gesê het “hou jou mond!”, of “shut up?” Pas dit in jou prentjie van Jesus? Die Afrikaanse vertalings, soos die Engelse vertalings, maak die woord epitimaō wat drie keer in hierdie gedeelte gebruik word, so bietjie sagter. In Afrikaans word dit vertaal as “opdrag gegee”, “belet”, “vermaan” of “berispe”. 

Tog gebruik hierdie perikoop in Markus baie harde en direkte taal. Jesus draai nie doekies om nie. Amper nog meer skokkend is dat Petrus ook vir Jesus sê “hou jou mond!” ‘n Mens sidder by die gedagte daaraan.

En die vraag wat aanleiding gee tot hierdie harde woorde is ‘n heel onskuldige een: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Tog sny die vraag diep. In die eerste eeu het die Jode ‘n Messias verwag, en daar was baie gedagtes oor hoe hierdie Messias sou lyk. Buite Bybelse geskrifte van die tyd net voor Jesus soos 4 Esra, 2 Baruch en die Qumran gemeenskap se Damaskus dokument praat almal van geïdealiseerde militêre leiers wat die Romeine sou verjaag en Israel sou herstel. Nie een van hulle het ‘n Messias verwag wat aan ‘n kruis sou sterf nie, nog minder een wat dieselfde kruis vir Sy volgelinge sou aanbied nie! (:34) “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” Nêrens sê Jesus: “Ek gaan vir julle sterf en julle moet by bewonder daarvoor” nie. Nee, inteendeel, Hy kom vertel hoe Hy gaan ly en sterf, en hoe sy dissipels ook vervolg sal word! Nou nie juis woorde wat aanloklik klink nie!

En alles draai om daardie onskuldige woorde: “wie sê julle is Ek?” 

En wie sê ons is Jesus? Ons maak van die kruis juweliersware wat enigiemand dra, sonder om waarde daaraan te heg. Die Romeinse staatsman Cicero, het so 50 jaar voor Jesus se geboorte geskryf dat daar nie woorde bestaan wat die verskriklikheid en skande van die kruis kan uitdruk nie. Dis amper soos om vandag met ‘n hangertjie wat ‘n galg uitbeeld rond te loop – die kruisiging was net BAIE erger vir die Jode en Romeine as ‘n galg vandag vir ons. So, as Jesus nie maar bloot ‘n stukkie mode-juweliersware is nie, wie is Hy dan?

Hy is ook nie die reddende Jesus as ons daarmee verwag dat Hy ons uit hierdie wêreld gaan verlos nie! Nee, Hy het nie gekom om ons weg te neem, om ons te “red” van die die “slegte” wêreld nie, Hy stuur ons eerder die wêreld in om iets van God se Koninkryk te kom bring en wys.

So het Hy selfs nie gekom om die oplossing vir al ons probleme te wees nie!Hy het beslis nie gekom met die uitsluitlike doel om vir ons ‘n gemaklike lewe te gee nie. Luister weer na :35: “Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red.” Om Hom te volg beteken jy kan sterf!

Hy is selfs NIE Koning Jesus nie! Dit is nou as ons die verstaan het wat lank in die kerk geleef het dat Jesus eintlik soos die Romeinse keiser moet optree en heers. Jesus het egter eerder sy dissipels se voete gewas as om baas te speel (Joh 13)!

Wie is Jesus dan? Hy is, duidelik hier volgens Markus, ons kern, ons diepste wese. Die woord wat as “lewe” vertaal word in die Afrikaans, psige, is veel meer as om net asem te haal Dit gaan oor wat is die diepste dryfkrag, motivering, doel van ons lewe. En dit is wie Jesus is en wil wees in my lewe!

Wat stel ons soms in die plek van Jesus? Waarop vertrou ons? Ons bankrekeninge? (Luk 12:16-20). Ons prestasies? (Matt 7:21-23). Ons aansien? (Mark 12:38-40) Politici? (Mark 12:13-17) Wapens? (Matt 26:51-52). Nie een van daai goed is ‘n vervanging vir Jesus as sentraal in jou psige, lewe nie. Nie een van daai goed is ‘n vervanging vir jou kruis opneem en die pad saam met Jesus loop nie.


Aksies

Information

Lewer kommentaar