” . . . it’s all a miracle.”

16 09 2019

In die vorige blogpost het ek Prof Jurgens Hendriks se preek geplaas oor hoe om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees in die omstandighede waarbinne ons leef. In die week daarna  lees ek ‘n nuwe boek van Nelus Niemandt met die tema: “Egte lewe waar jy is”. En hou toe stiltetyd aan die hand van Hebreërs 12:22-24, 28 waarin die skrywer probeer troos en leiding verskaf aan ‘n groepie Joodse Christene wat in uitdagende tye leef. Miskien wil God iets vir ons sê rakende die tyd waarin ONS leef!

Hierdie gelowiges aan wie hierdie brief gerig is, worstel daagliks met ‘n verskeidenheid beproewings, onsekerhede en bekommernisse. Nou twyfel hulle of Jesus se verlossing regtig ‘n verbetering aan hulle daaglikse lewe maak. Uiteindelik bevraagteken hulle die waarde van hulle geloof, hulle dryf weg van die Here en sy kerk en verval in ongeloof. Klink dit half bekend?

Waar is God binne die chaos in ons dorpe, land en wêreld? Die Hebreërskrywer wil hulle bemoedig en aanspoor tot volharding in geloof en om vanuit dié geloofsverhouding ‘n verskil in die wêreld te maak! Omdat hy ons hiervan wil oortuig, vra hy dat ons terugdink aan die Paasgebeure wat radikale verandering in ons geloofslewe gebring het.

Voor Paasfees, in die Ou-Testamentiese tye, het die hoëpriester een maal per jaar versoening vir die Israeliete se sondes gedoen. Daarvoor het hy ‘n dier op die altaar geoffer. Maar die Paasgebeure het dit “beter” gemaak. Jesus het Homself eenmalig en genoegsaam aan die kruis op Golgota geoffer. Nou is die kloof tussen God en ons wat deur die sonde veroorsaak is, finaal oorbrug. Ons kan lewe met nuwe hoop ten spyte van ons daaglikse stryd. Hoop wat ons daartoe lei om God uit dankbaarheid te dien met ons hele lewe, want dit is sy wil (Heb 12:28). Dit is ‘n opdrag van die Here self (Matt 28:19) om ‘n verskil te maak in die lewe van alle mense (Hand 1:8)!

Tydens ‘n onderhoud met Golda Meir vertel die wêreldbekende Joodse pianis/komponis, Arthur Rubenstein dat “when I received Yeshua Hamashiach (Jesus the Messiah) into my heart, my life was changed. Ever since then I have experienced joy and peace”. Dan sê hy verder: “Now I am able to speak, to see, to hear, to walk, to have music and paintings . . . it’s all a miracle.”

Dit vra dat ons as gelowiges in hierdie wêreld instap en ‘n verskil gaan maak. Dit is tyd om op te hou vaskyk teen ons eie swaarkry en te besef ‘n groot groep Suid-Afrikaners het nie die voorreg om te werk, of om kos op die tafel te hê, of om lopende water en spoeltoilette in hulle skole te hê nie.

Ons moet nie bloot polities daaroor dink nie, maar eerder een ete per week vas om die kos wat ons sou eet met nagmaal kerk toe bring vir uitdeel aan swaarkry-mense. Dit is ironies dat Moslems ons hierin tot voorbeeld is! Mens kan met jou eie lewe en jou eie beperkte vermoë geweldig baie doen om ander te help en by te staan.

Maar dan moet ons met ander oë kyk, met God se oë kyk. As ek na my dorp kyk, wat sien ons? Net verval, moeilikheid? – Watter tekens van nuwe lewe sien jy in jou dorp? – Watter tekens van verlossing en herstel is sigbaar? – Is daar iets te sien van liefde en sorgsaamheid? Wat bring jy hiervan na vore?

Met stof van https://seisoenvanluister.co.za en geïnspireer deur Prof Jurgens Hendriks.





Genesis 1 nogeens

5 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Mensig ek is besig!

Nee, jammer, ek het nie tyd nie!

Ek wens my lewe was nie so besig nie!

Klink dit bekend? Ons Westerlinge het ‘n bepaalde fokus op besig wees, so asof dit ‘n skande is om nie besig te wees nie. Elke minuut moet “produktief” gebruik word, anders voel ons skuldig. Dit veroorsaak natuurlik allerlei verhoudings- en gesondheids-probleme. Mense naby jou voel weggestoot want jy het nie tyd vir hulle nie. Jou besigwees en rondhardloop veroorsaak stresverwante probleme in jou liggaam.

Is dit wat God bedoel het? In Genesis 1:3-5 sien ons hoe God tyd skep en dit verdeel in tydperke van lig en donker. En voor jy dink alles bestaan al van altyd af, onthou dat Einstein met die Bybel saamstem dat tyd geskep is en gekrimp, gerek en gebuig kan word! So, wat sê die Bybel oor tyd?

Dit help dalk om die Nuwe Testamentiese woorde vir tyd te gebruik (Dit is natuurlik nie in die OT nie, maar help dalk met die verstaan) – In die NT word na tyd as of “chronos” of “kairos” verwys. Chronos is daai tyd wat ons so mee “besig” is, horlosietyd. Kairos is die Godgegewe tyd, die geleenthede, die “regte tye” wat Hy oor ons pad bring.

Genesis 1 praat in kairos tyd – Bereshith, beginnende, op Sy tyd, soos Hy wou, het God geskep. Vir die skrywer van Gen 1, en God, het dit nie gegaan oor horlosie of kalendertyd nie. Dit het gegaan oor God se regte tyd vir sekere goed om te gebeur.

‘n Groot deel van die Wysheidsliteratuur in die Bybel fokus op kairos-tyd. ‘n Mens is wys wanneer jy weet WANNEER om ‘n dwaas te antwoord of nie (Spreuke 26:4-5). Wanneer Prediker ons herinner dat daar ‘n seisoen vir alles is, praat hy nie van die kalender nie! Om God se tyd raak te sien, om die kairos moment raak te sien, is ‘n belangrike deel van ons Christelike lewe. Om te weet wanneer om te bemoedig en te troos, wanneer om fees te vier, en wanneer om te treur.

Ons, met ons kultuur, is werklik sleg met die herkenning van God se tyd! Ons dink gewoonlik net in chronos tyd. Dinge moet gebeur, moet stiptelik wees, moet afgehandel word. Die mense van die Bybelse tyd het glad nie so gewerk nie. Om te “wag op die Here” is gesien as deel van jou manier om God te dien en Hom te vertrou: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” Ps 27:14 ‘53 vert

Ons sien sit en wag as tydmors!

God, en die Bybelskrywers, het gefokus op die REGTE tyd vir iets om te gebeur, ‘n tyd waar God Sy doel kon bereik. Dinge, die skepping, Jesus se geboorte, Jesus se wederkoms, gebeur wanneer dit God se kairos-tyd, God se bestemde, regte, tyd is. ‘n Tyd wat ‘n sekonde, ‘n jaar, ‘n miljoen jaar kans wees, soos God wil. 2 Pet 3:8 “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” Ps 90:4 “Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Nou is die regte tyd om God te eer, God te dank, God te dien.

NS: Dit het ‘n reuse implikasie vir hoe ons die Bybel, spesifiek Gen 1, en ons eie lewens sien. Ons fokus op chronos sien jy in hoe mense wil uitwerk op watter datum is Jesus se wederkoms (chronos), ipv om HIERDIE OOMBLIK te sien as God se kairos moment, tyd aan ons geskenk.

Was die dae van Genesis 1 24 uur dae? Die Bybel stel nie belang in daardie vraag of antwoord nie! Dit was God se bestemde oomblik, God se kairos-tyd. Rom 5:6 “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.” God is nie gebind aan ons konsep van tyd nie, Hy het dit geskep!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Chaos is nie vir God ‘n probleem nie!

17 01 2015

2015 begin darem weer met lekker chaos! Terreur aanval in Parys, vliegtuig wat val, plaaslik polisie wat aangeval is, nog plaasaanvalle en dan bekgevegte tussen sangeresse en aktrises. En moenie vergeet van ESKOM wat al klaar weer beurtkrag begin instel het nie! Mens wil amper vra “Is dit nou nodig”! Kan ons nie maar net een jaar rustig begin nie?

Dan praat ek nog nie eers van familiespanning wat baie keer maar deel is van die vakansieseisoen nie – elkeen het mos sy eie idee van wat ‘n lekker vakansie is!

In hierdie chaos vra mense some – “Waar is God?” Hoekom laat Hy toe dat dinge so deurmekaar loop? Dit is vrae wat die mense in die ou tyd ook gehad het. By die Egiptenare, die Assiriërs, die Babiloniërs, orals in die geskrifte wat ons het van die oertyd word hierdie selfde vraag gevra.

By die ander volke – buiten Israel – was die antwoord gewoonlik dat chaos gevaarlik is, en dat daar geveg moet word om dit te oorwin. Hetsy nou of dit in die vorm van ‘n seedraak of die see self was, dit moes oorwin word sodat die wêreld geskep kon word.

☛ Hierteenoor kom Genesis 1 met ‘n totaal ander siening. God het alles gemaak, selfs die chaos! Luister maar wat sê verse 1 en 2: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters”. Die “diep waters”, die “tehom” in Hebreeus, is juis dit waarvoor die mense bang was, die sinnebeeld van chaos en onbeheerbare kragte. Dit was “onbewoonbaar”, “woes en leeg” volgens die ‘53 vertaling.

Wat doen God dan? Veg Hy? Sukkel Hy? Nee, alles, selfs die woeste en leë diep waters is deur Hom gemaak. Hy spreek slegs ‘n woord, en die donkerte word verdryf:  “Laat daar lig wees!” Hy spreek nog ‘n woord en die diep waters word getem en op sy plek gehou deur soliede aarde. Chaos is nie vir God ‘n probleem nie!

☛ Hoekom nie? Want “die Gees van God het oor die waters gesweef” Hierdie beeld van God se Gees wat oor die waters sweef word in herinnering geroep in Deut 32:11 as dieselfde woord gebruik word om te verduidelik hoe God soos ‘n arend bokant haar kuikens sweef om hulle te beskerm. Van die ou kerkvaders het die beeld gebruik van ‘n hen wat haar kuikens versorg. Chaos is nie vir God ‘n probleem nie, want Hy versorg, Hy lei, Hy skep die goeie uit die chaos!

En so kan ons die res van die hoofstuk lees – dit waarvoor die mense bang was, die diep waters, word die bron van al die seediere, “ En God het gesien dit is goed” (:22). Elke keer spreek God ‘n woord, “en dit was goed”.

☛ Geen wonder Paulus het hierdie selfde beeld gebruik toe hy na God se herskepping verwys het nie: 2 Kor 4:6 “God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

Waar is God in 2015? Nee, Hy spreek nog steeds ‘n Woord, Hy verlig ons “met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

Ons kan deur baie brille na hierdie nuwe jaar kyk. Ons kies eintlik hoe om te kyk. Wat se bril wil ek gebruik?
– ‘n bril van vrees vir chaos
– ‘n bril wat niks sien nie, want als is net duisternis
– ‘n bril van ontkenning
– ‘n bril van geweld – “sien hulle reg!”

God se bril is die heerlikheid wat Jesus Christus uitstraal. ‘n Heerlikheid wat die wêreld verander, wat dit wat woes en leeg is, bewoonbaar en goed maak. ‘n Heerlikheid waartoe Hy ons roep en stuur as Sy verteenwoordigers (:26).

Watter bril gebruik ek om na die jaar te kyk?





Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.