‘n Dolle gejaag!

5 08 2019

Angs, stres, bekommernis, sommer normale, alledaagse dinge wat deel is van ons lewens. Dan sê ons sommer gou dis deel van die moderne lewe. Ons moet dit maar so aanvaar. Maar is dit so?

In Eksodus 5 lees ons die gebeure in die aanloop tot die Eksodus. Farao laai ekstra werk op die Israeliete, en die opsigters stres hulle dood. Inderwaarheid sê hulle vir Moses en Aäron: ““Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao” (:21).

En hoekom was al die werk in die eerste plek nodig? Hierdie slawe moes bakstene maak waarin Farao sy surplus kon stoor (Eks 1:11), en dit was ‘n nimmereindigende siklus. Hier was nie plek vir rus nie, net werk, werk, werk! Selfs in daai tyd was daar stres! Farao was ‘n slaaf van sy eie sukses, want hy en die opsigters onder hom was vasgevang in ‘n sirkel van werk, Hulle kon nie rus nie, want die werkers kon nie rus nie.

In hierdie sirkel van moegheid en oorwerk kom die God van die brandende bos skielik! (Eks 3). Hy lei hulle uiteindelik uit Egipte, en gee vir hulle ‘n manier van in vryheid lewe – die 10 gebooie (Eks 20). Hier manier van lewe begin deur hulle daarop te wys dat God nie soos die Egiptiese gode is nie – “Jy mag naas my geen ander gode hê nie” (Eks 20:3). En dan sommer gou-gou, in die 4de gebod, kom die wonderlike woorde: Ses dae moet jy werk, maar op die 7de mag jy geen werk doen nie! Die sirkel van werk, werk, werk word verbreek!

Jesus het hierdie probleem baie goed raakgesien, en som dit op in Matt 6:24: ““Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Mammon is ‘n harde baas, soos Farao al geleer het, daarom dat Jesus dan dadelik oorgaan om oor bekommernis te praat: :“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie” (:25) Die pad van mammon is die pad van eindelose gesoek na meer, ‘n pad van nooit genoeg hê nie, ‘n pad van nooit goed genoeg wees nie, van eindelose rusteloosheid, ‘n pad sonder ‘n Sabbatsrus. Dit is ‘n pad sonder God.

In ‘n sin kom sê Jesus ons moet kies watter god ons wil dien – die god van rusteloosheid en stres, of die God wat rus (Gen 2:2) Jesus kom stel dit ook op nog ‘n ander manier in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ons dien ‘n God wat rus en vir ons laat rus, want ons lewens is in Sy hande. Hy sorg, daarom hoef ons nie in bekommernis te verval nie.

Dit is die keuse, ‘n keuse tussen rusteloosheid of rustigheid. ‘n Keuse tussen ‘n dolle gejaag en ‘n fees! (Eks 5:1). Want sien, die “normale” bekommernis en stres, is ten diepste ‘n teken dat God in ons gedagtes te klein is. Ons dink ten diepste nie dat Hy in staat is om vir ons te sorg nie. Daarom raak die keuse tussen rusteloosheid en rustigheid ‘n geloofskeuse: Vertrou ons God of nie?

Na aanleiding van Eksodus 5:1-18 , Matteus 6:24-34 en Walter Brueggemann: Sabbath as Resistance





Jesus se hart breek vir jou!

29 07 2019

Vrydagoggend se hoof nuusberigte was oor Polisielede wat deel was van transito rowers, oor Israel wat Palestyne se huise afbreek, oor ‘n Amerikaanse multimiljoenêr wat jong meisies seksueel gemolesteer het, oor ‘n Metrorail staking, oor NOG binne gevegte binne die ANC, oor die Amerikaanse president se rassistiese tweets, die derde Britse eerste minister in 3 jaar, ens, ens. Mens voel om soos die vrou van Bloubergstrand te sê “Hier is ‘n vet….. vet moeilikheid!”

Wat staan ‘n gelowige te doen in sulke omstandighede? As elke dag nog ‘n plaas aanval of huisbraak of moord vir ons bring? As ons moeg is van slegte nuus?

In Matt 9:35-36 lees ons die volgende woorde: “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. Hy het die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak. Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie.” “Moeg” – die woord wat hier as moeg vertaal word kan ook “geteister”, “harrassed”, beteken. Soos ons soms voel as ons na die nuus kyk! Eintlik sielsmoeg!

Maar dan Jesus se reaksie, Hy het hulle innig jammer gekry. Hier moet ek gou ‘n Griekse woord ingooi – Dit wat in Afrikaans vertaal word as dat Hy hulle “innig jammer gekry het”, is die woord “splagnitsomai”. Letterlik beteken dit Sy ingewande, Sy lewer, hart, het gedraai en geskeur vir die skare! Dit is hoe diep Jesus se gevoelens vir ons ons gaan! En die woord word nie net hier gebruik nie, ek kon vir julle gelees het oor Jesus se gevoelens vir die blindes in Matt 9_35_36 Luk 10_25_37.001Matt 20, vir die weduwee in Luk 7, en nog baie ander plekke. Elke keer breek Jesus se hart, elke keer, soos Stephan Joubert dit stel: “Lek Jesus se hart liefde!”

 

Jesus gebruik ook hierdie selfde woord in twee gelykenisse waarin Hy vir ons iets van die Vader se hart probeer leer. In die gelykenis van die verlore seun lees ons dat die Vader, wanneer sy jongste seun terugkom, “splagnitsomai”, sy vader hart breek oor hierdie seun! En dan stort hy oorvloedige liefde op hom uit – Net soos God die Vader met ons maak as ons terugdraai na Hom toe!

Die ander gelykenis waar Jesus “splagnitsomai” gebruik ken ons baie goed, die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. (Luk 10:25-37). Nadat daar NOG ‘n “hijack” was, nog ‘n aanranding, nog ‘n roof, stap die priester en Leviet by die man wat aangeval is, verby. En dan lees ons in vers 33-35: “Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’”.

En raai watter woord word vir die Samaritaan se innige jammer gevoel vir die man gebruik? – Splagnitsomai! Die een deurlopende lyn in al hierdie verhale is dat God ons raaksien! En nie maar net koud en klinies nie, maar Hy splagnitsomai oor ons, Sy hart skeur en lek liefde oor ons!!

As die lewe ons leer om hart en harteloos te word, as die lewe ons leer om net vir onsself te leef, kom Jesus en draai alles om, draai dit om soos wat Sy ingewande omdraai en skeur oor ons! – Waar ons net donkerte sien, bring Hy lig! – Waar ons net dood sien, bring Hy lewe! – As die wêreld met sy geweld en intriges en rug stekery my siek maak, bring Hy genesing! – As ons alleen en God-verlate voel, bring Jesus vir ons die nabyheid van God, van God wat omgee vir ons, van God wie se hart breek vir en oor ons!

Wat vra dit van my?

In Amerika is daar ‘n oliemaatskappy wat se advertensie leuse op ‘n stadium was: “We don’t want to change the world, we just want to change your oil!” As ons so kla oor waar alles heengaan, oor hoekom alles verkeerd is, onthou bietjie die seuntjie se vissies en broodjies waarmee Jesus 5000 mense gevoed het! (Joh 6).

Ja, ek en jy kan dalk nie die wêreld verander nie, maar ek daag jou uit vandag, JY KAN VIR 1 PERSOON IETS BETEKEN! Jy kan vir een persoon bid. Jy kan omgee vir een persoon. Jy kan een persoon help om God se liefde raak te sien op die manier wat jy hom of haar behandel!

Na aanleiding van Matt 9:35-36, Luk 10:25-37 en Stephan Joubert: https://lewensentrum.org.za/alberton/preek/jesus-se-hart-lek-liefde/





Wat leer die woestyn jou?

14 03 2011

Hoeveel keer gebeur dit dat ‘n mens regtig goed voel oor iets wat gebeur het, en net daarna val jy plat! Doen jy iets onnosel, Of tref die ongeluk jou! Dit is darem erg wanneer dit gebeur!

Matteus 4:1-11 beskryf amper net so iets vir ons hier wat in Jesus se lewe gebeur het. Net die voorafgaande gedeelte beskryf Jesus se doop, met God se ongelooflike woorde aan Hom: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.” Menslike gesproke moes dit ‘n absolute hoogtepunt in Jesus se lewe tot op hierdie stadium gewees het! Dink jou dit in – jy doen iets en God se stem kom dreunend uit die Hemel en Hy sê dat Hy van jou hou!

Na hierdie hoogtepunt, lei die Gees Jesus om Homself in die woestyn af te sonder. Die Bybel sê nie hoekom nie, maar ‘n mens kan jou indink dat hy na daardie geweldige ervaring moes nadink, bid, perspektief kry vir die taak wat op Hom wag.

En, byna erg menslik – Hy was tog volkome mens ook- oorval die versoekings Hom net na hierdie grootse ervaring. Drie versoekings, wat ook maar baie in ons eie lewens na vore kom. Versoekings wat regdeur sny na die kern van Jesus se bediening…. “As Jy regtig die Seun van God is”…. So ‘n ego van God se woorde by Jesus se doop, ‘n In twyfel bring van daardie wonderlike gebeurtenis.

Elkeen van die versoekings probeer ook Jesus sover kry om weg te draai van vertroue in God, en op sy eie vermoëns staat te maak….  Hoeveel keer val ons nie vir dieselfde versoeking nie!

Wat doen Jesus hiermee?  Hy word eers versoek om Sy mag te bewys deur klippe in brood te verander, so kan Hy mos wys Hy is magtig! Dan word Hy versoek om God se beloftes, God se getrouheid, te toets. Laastens word Jesus deur roem en mense se heldeverering versoek. Hoeveel makliker sou Sy taak nie gewees het as Hy hiervoor geval het nie!

Elke keer egter verwerp Jesus die versoeking en plaas Sy vertroue in God die Vader, vind Hy sy identiteit en toekoms in God. Jesus onderwerp deur hierdie hele woestyn ondervinding Sy wil aan God se wil.

Ons kan nou maklik dink dat die weerstaning van die versoekings maklik was vir Jesus, Hy is mos Seun van God! Ons moet egter onthou dat Hy ook volledig mens was. Verder was Hy honger, ons sou kon raai dalk dors en moeg ook. So, met Sy weerstand op die laagste, kom die versoekings om Hom terug te neem na die hoogtepunt toe God Hom Sy “geliefde Seun” genoem het. Tog hou Jesus, weerstaan hy die versoekings deur Sy vertroue in God te stel met elke antwoord. So begin Hy ook die pad stap, die pad wat uiteindelik tot aan die kruis lei.

Wat staan ons te doen? Wat beteken hierdie verhaal van Jesus se versoeking vir my elke dag se lewe? Hoe kan ons, in navolging van Christus, die versoekings en verleidings wat op ons pad kom weerstaan. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, daar is geen maklike antwoorde op versoeking nie! Paulus self kla in Romeine 7:19: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Ek dink dit is seker die meeste van ons se ondervinding. Veral as dit, soos hier met Jesus ons diepste drange, ons identiteit, erkenning, aanspreek.  Hoe kan ons tog die alledaagse versoekings te bowe kom, daardie dinge wat ons laat wegdraai van God af en laat staatmaak op ons eie krag en kennis? Kom ons probeer mekaar help met ‘n paar riglyne.

Een:  groei na Jesus toe: Elkeen van ons is op ‘n lewenslange reis om Jesus na te volg en jou identiteit in Jesus te vind. Hoe meer ons ons identiteit in Jesus vind, hoe meer verloor versoekings hul mag oor ons lewens.  Ons volg die voorbeeld van Jesus na, en ons leef vanuit sy oorwinning oor die versoeker.

Twee:  Eet die brood van die lewe: Die Woord van God, die Bybel, help ons om die wêreld en die lewe anders te verstaan en te beleef.  Daardie kortpaaie na erkenning, mag, belonings wat op ons pad kom word deur die Woord van God ontmasker. God se Woord ontsluit die ware betekenis van die lewe, en toon die pad na ware geluk.

Drie: van selfgerig na diensgerig: Eerder as om ons eie lewe in die sentrum te plaas, en na heldeverering, erkenning deur mense, te soek, is die weg uit die greep van versoeking om ander te dien en in die middelpunt te stel. Hoe meer ons vir mekaar, en vir die vreemdeling, die magtelose, die hulpbehoewende lewe, hoe meer word die versoeker se mag in ons lewe gebreek.

Vier: Bly by mekaar: Ons het mekaar as gelowiges nodig. Deur mekaar te versterk en bemoedig help ons mekaar om versoekings te weerstaan.

So kan ons ons identiteit vind waar dit werklik saak maak, by God! So kan ons ons wil aan God se wil onderwerp! Ten diepste is hierdie versoekings seker ook die soeke na sekerheid. Maak hierdie klippe brood, laat God se engele jou red, verkry al die mag in die wêreld en jy sal nooit weer wonder oor God nie! Jy sal in jou eie krag sterk genoeg staan… Maar dit lei tot val, want sonder God se krag kan ons nie die pad loop nie. Deur ons identiteit in God te vind, deur op versoekings te antwoord met ‘n vertroue gebaseer op God, weet jy WIE jy is, want jy weet WIE S’N jy is!  En weet jy wat jy moet doen!

Geloof neem nie die moeilikhede van die lewe weg nie. Inteendeel, soms kom die versoekings juis omdat ons nader aan God beweeg. Jesus nooi ons egter uit om ons hoop en moed daarin te vind dat God vir ons lief is, dat Hy elke dag die pad met ons WIL stap.





Waar liefde is, is daar geen vrees nie

1 03 2011

Na aanleiding van Matt 6:24-34:
Dit is darem vreemd hoe ons soms die Bybel lees – wat ‘n mens raaklees en wat ons mislees… Matt 6 is ‘n gedeelte uit die Bergrede van Jesus, en dit is een van daardie tekste wat ons sien as so bietjie onwerklik, utopies, iets wat net eendag in die Hemel waar kan wees. Ek bedoel, kan Jesus dit WERKLIK bedoel as Hy sê: “moet julle nie bekommer oor julle lewe” nie. Dit is mos eintlik belaglik in ons moderne lewe!  Ons het bekommernisse orals!

•    By die werk  – gaan ek my werk behou? Die teikendatums en teiken omset is onredelik! Regstellende aksie gaan my my werk kos!
•    By die huis – Wat vang die kinders tog aan? Hoekom is dit asof daar verwydering is tussen my en my huweliksmaat? Hoekom is daar nooit genoeg geld nie?
•    Bekommernisse oor…. wel jy noem dit! Daar is omtrent nie ‘n aspek van ons lewe wat ons nie in ‘n veld van bekommernisse omskep het nie.

Politiek, ekonomie, misdaad, ons maak eintlik ‘n beroep daarvan om bekommerd te wees.

Ons hele kultuur is daarop ingestel om hierdie bekommernisse te laat groei en blom en vrugte dra in ons lewens – wrange vrugte van depressie, stres, ens… Kyk na die nuus of die koerant, en dit is net slegte nuus. Kyk na ‘n advertensie en die boodskap is: Jy is nie goed genoeg nie – so raak mooier of slimmer. Jy stink – gebruik deodorant. Die goed wat jy het, jou kar, is pateties man, koop ‘n nuwe een!

Hoe kan Jesus vir ons in hierdie moderne lewe nog vra om nie bekommerd te wees nie? Nee ekskuus, Jesus VRA ons nie, Hy BEVEEL ons om ons nie te bekommer nie….

Voordat ons heeltemal dink dat Jesus dalk die kluts kwyt was hier, kom ons kyk bietjie mooi na die hele gedeelte wat ons gelees het. Dit begin met Jesus wat ons daarop wys dat ons nie twee base gelyktydig kan dien nie – Ons kan nie God en Mammon (die Aramese woord vir rykdom) dien nie.

Jesus sê nie dat geld goed of sleg is nie, geld, die smag daarna, maak net ‘n baie slegte baas – en hier gebruik Jesus dieselfde Griekse woord wat gebruik word om Hom te beskryf – Kurios – Here, Meester.  Jou Kurios is die een aan wie jou lojaliteit, jou tyd, jou diens, afgestaan word. En as geld, rykdom, goed my Kurios geword het, kom ons skielik agter ons het nooit genoeg nie. As geld ons sekuriteit is, dan tel ons, maak ons seker ons bly voor! Bekommer ons ons die heel tyd oor HOEVEEL ons het…

Jesus se egter: “julle kan nie God én Mammon dien nie.” “DAAROM sê Ek vir julle…”  Hy kom met ‘n heel alternatiewe manier van leef, ‘n alternatiewe manier van kyk na goed, eiendom, geld, sekuriteit.

God is oneindig, onmeetlik lief vir ons. Sy liefde werk met ‘n heel ander “ekonomie” as die geld-ekonomie. Dit kan nie opraak nie, selfs as ons Sy liefde wat Hy in ons gee uitdeel, raak dit nie op nie. Die van u wat kinders het, dink bietjie saam met my terug aan die geboorte van jou kinders – Toe die 1ste een gebore is, was ek baie lief vir haar, toe die 2de een gebore is was ek nie nou skielik net halfpad lief vir die eerste een nie, daar was genoeg liefde, meer as wat ek kon aan dink, vir hulle albei. So werk dit ook met God se liefde, hoe meer ons dit weggee, hoe meer het ons. Sy liefde kan nie geruil word nie, dit kan nie gebank word nie, dit kan nie getel word nie – hoe meer ons daaruit leef, hoe meer word dit!

Dit is hoekom Jesus sê dat ons nie bekommerd moet wees nie, want God se liefde raak nooit op nie! As ons in verhouding met God leef, as ons Hom liefhet en vertrou, dan skielik raak dit moontlik om Jesus te glo as Hy sê ons moet nie bekommerd wees nie. Dan begin ons iets van God se Koninkryk, van Sy droom vir ons, van Sy alternatiewe manier van lewe, raaksien.

Ja, dis nie maklik om die dinge wat Jesus sê te glo nie – My kind se universiteits geld moet nog steeds betaal word, die hoër brandstofprys moet nog steeds betaal word…. As ons egter toelaat dat Mammon God se oorvloed van liefde uit ons lewens verdryf, dan begin vrees ons lewens beheer. Vrees perk jou in, hou jou gevange. God se oorvloed stel ons egter vry. In Jesus se tyd was die heersers bang vir die alternatiewe manier van lewe wat Hy gebring het. Toe maak hulle Jesus dood. Moenie dat vrees jou dryf nie. 1Joh 4:18, 19: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie.”

God laat Hom egter nie inperk nie. Hy laat vir Jesus opstaan uit die dood – ‘n teken van Sy oorvloedige liefde. Hy verwoes nie diegene wat Jesus gekruisig het nie, Hy betoon nog steeds Sy liefde aan hulle.

Jesus nooi ons uit om in hierdie lewe van oorvloed te lewe!  ‘n Lewe waarin ons weet God het ons lief, niks kan ons van Sy liefde skei nie. ‘n Lewe deurdrenk met liefde! Waarin ons nie anders kan as om Sy liefde uit te leef teenoor ons naaste nie.





Hoe radikaal is Jesus? (Matt 5)

15 02 2011

Matt 5:21-37 ‘n Redelike radikale Jesus wat ons hier hoor, is dit nie? So radikaal dat mense baiekeer na die bergrede kyk as net iets wat as teorie moontlik is – dis tog nie die werklike lewe die nie!

Kom ons kyk bietjie na hierdie gedeelte, en die normale reaksies wat ons hierop kry – Aan die een kant kry ons die mense wat sê dat Jesus die wet nog baie meer belangrik ag en maak as wat die in die Ou Testament is.  Hierdie reaksie sê dat Jesus se WET erger en swaarder is as die Ou Testament se wet. Hierdie mense sê ‘n mens moet maar net luister na Jesus se gebruik van die woorde: ““julle het gehoor… maar ek sê vir julle” as bewys vir hulle standpunt.

Hierdie manier van kyk na die Bergpredikasie neem die etiese deel van God se Wet ernstig op, maar reduseer dit tot net ‘n moraliteits les…

Teenoor hierdie siening kry jy die wat sê Jesus vat die wet hier tot die absurde sodat ons kan sien dat ons nie instaat is om die wet self na te kom nie. Om so na die gedeelte te kyk, beklemtoon beslis God se genade en vergifnis, maar neem enige morele oproep op ons lewe weg. Dan kan ons amper doen wat ons wil, God sal mos vergewe!

Ek dink hierdie twee algemene maniere van kyk na hierdie moeilike vereistes wat Jesus stel, mis die punt. Jesus stel nie in die wet belang nie. Jesus praat oor God se Koninkryk, die Koninkryk wat rewolusionêr anders is as wat die wêreld verwag, wat God se droom vir ons is. In ONS wêreld kyk ons gewoonlik eers wat pas MY, in God se wêreld, mot ons ons naaste liefhê soos onsself….

Jesus praat oor God en Sy Koninkryk, nie dooie wette nie! En as ons oor God praat gaan dit altyd oor verhoudings – en verhoudings is juis die ding wat vinnig by die deur uitvlieg as ons wetties raak! Ons dink God se wet gaan oor, jy weet, wette!  Doen net die regte dinge, hou jouself uit die moeilikheid uit. Die Wet is egter BAIE meer as dit, God se wet gaan oor verhoudinge.

Neem nou net die 10 gebooie as voorbeeld. Die eerste tafel gaan oor ons verhouding met God, en die tweede oor ons verhouding met mekaar. As ons dit so sien, as iets positief, dan is die Wet daar om ons te help om mekaar en God te eer deur die tipe verhouding waarmee ons met mekaar in verband staan. Maar ons vergeet dit so maklik, en probeer die Wet hou om die wet se onthalwe, en so raak ons wetties oor kleredrag, sang, liturgie, taal, musiekinstrumente, kansels, ens, ens!

Jesus kom en radikaliseer die Wet, nie sodat ons dit meer of minder ernstig moet opneem nie, maar sodat ons ‘n slag kan nadink oor die wêreld waarin ons wil woon. Hopelik ‘n wêreld waarin ons mekaar respekteer en eer as mense vir wie God liefhet en wat geseën word deur God. Jesus sê dis nie genoeg om nie moord te pleeg nie, ons moet mekaar met respek hanteer. Wat sê dit vir ons wat soms so maklik ontplof, hetsy in padwoede of by die huis met vrou/man, kinders?….

Wette het natuurlik ‘n wetlike karakter, maar dis ‘n byproduk, nie die essensiële van die wet nie. God se wet is gegee sodat ons vir Hom en vir mekaar kan eer, respekteer en omgee. Ons hou egter daarvan om dit net letterlik op te neem, want dit neem dit so bietjie weg van my af. Ek het mos niemand doodgemaak vandag nie! Aha, maar waar het ek liefde en respek betoon?

Moord vandag – nee! Ek is ok!
Owerspel vandag – nee! Ek is ok!
Maar Jesus wil baie meer van ons hê! Hy wil hê dat ons na mekaar kyk soos God na ons kyk, en dat ons mekaar so sal hanteer.

Wat se tipe gemeenskap wil u graag in woon? Wat se tipe kerk wil u graag die Here in dien?

Jesus kom sê dat ons hieroor moet nadink, EN DIT DAN GAAN WAAR MAAK as God se verteenwoordigers! Moenie vra “Wie my te na gekom het nie”, gaan leef as God se verteenwoordiger en herstel verhoudings (:23,24)

Wil ons in ‘n gemeente en gemeenskap waarin daar respek, eer en omgee vir mekaar is leef?

Nou gaan maak dit waar! Gaan leef so!

(met erkenning aan Workingpreacher.org)