Herinneringe…

8 08 2010

Darem vreemd hoe herinneringe ‘n mens soms net kan bestorm en onverwags vang. Sit gisteraand en praat met ‘n kollega, wat soos ek, ook verpligte militêre diensplig gedoen het as kapelaan. So met die gepraat begin daar hoeveel herinneringe deur my gedagtes spoel wat my laat wonder hoe diep van die herinneringe werklik lê. Hoeveel van Chris Louw se Boetman lê nog onder my vel en wegkruip? Ek weet nie….

Sommer so, sonder om te probeer sistematiseer of om te probeer orden in datum volgorde… onthou ek…:

  • Die kameraderie gedurende basies. Die saamstaan, die saam af-“chop”. Ek onthou die Dopper pelle wat die bottel Whiskey aan ‘n toutjie by die venster uitgehang het, die absolute sinnelose gerondjaag in die middel van die nag as die korporaal dronk terugkom in die basis.
  • Hoe die Afrikaanse, Engelse, Joodse en Sewendedag Adventiste dominees saamgebind word deur die saam swaarkry gedurende basies.
  • Die staande mag Kapelaan wat vir my sê die Belhar belydenis is 10% kommunisties – en sy gesig toe ek hom durf vra WATTER 10%!
  • Hoe die swart mense in Zwide die weermag op die hande gedra het in ’85, toe die weermag in die woongebiede ontplooi is, voor die noodtoestand. Ek onthou hoe die kampers, waarvan baie Xhosa kon praat, met die mense gesels het. Ek onthou hoe ons vrugte en koeldrank gegee is, want die inwoners het gedink ons kom beskerm hulle teen die polisie….
  • Hoe die vriendelike geaardheid soos handomkeer verander het toe die “powers that be” besluit het daar moet ‘n polisieman op elke weermag Buffel saamry. Hoe dit verder verander het toe die kampers afgehaal is en vervang is met jong 18jaar oud dienspligtiges.
  • Hoe die jong voertuig wag agterop die Buffel ‘n ou swart vrou met ‘n knopkierrie agter die kop geslaan het terwyl ons verbygery het. Hoe, nadat ek ‘n klag teen die troep gelê het,  ek ingeroep is op die rooi tapyt deur Brig Joffel van der Westhuizen omdat ek die “troepe se moraal ondermyn”!
  • Hoe die Kommandement Samjoor die volgende dag, nadat hy van my skrobering gehoor het, vragte knobkierries, assegaaie, ens., van weermag voertuie laat afhaal het.
  • Hoe ongemaklik ek gevoel het met die sake wat bespreek is as ek Brig Joffel van der Westhuizen se ordergroepe moes bywoon as die Kommandement Kapelaan weg was.
  • Die kommadant op Eenhana wat my binne ‘n paar minute nadat ek hom ontmoet het, vertel het hy gaan hoof van die leër word (hy het nooit nie….)
  • Hoe die einste kommadant in siviele klere rondloop, terwyl die res van die basis gedwing word om self op Saterdae en Sondae, as hulle af is, in vol browns rond te loop.
  • Die Samjoor wat die troepe probeer stilkry voordat ek opdaag om ‘n erediens te hou: “Julle f@#$%* troepe moet nou f@#$%* stilbly, want die f@#$%* dominee gaan nou kom f@#$%* preek!” Dit terwyl ek reg agter hom staan en my bes probeer om nie uit te bars van die lag nie… Weet nie wat die troepe van daardie dag se preek onthou het nie….
  • Die seiners se kamertjie, waar ons lekker kon sit en radio luister uit die “states” (Suid-Afrika) – en ook soms onwettig met die radio-telefoon “states” toe bel.
  • Hoe lekker ek en die Kom-Ops luitenant by die Ovambo hoofman kuier en Mahangu broodjies eet en bier drink. Hoe dieselfde hoofman die volgende dag ons skel omdat Koevoet deur sy Mahangu lande, deur die paalheining om sy stat, tot reg voor sy hut gery het. En met die wegry slag, na ‘n “ondervraging” sommer vir die lekker die heining en lande aan die ander kant ook stukkend gery het…
  • Hoe die dominee van die EGKA gemeente in Eenhana (susterkerk van die NG Kerk) vir my die gate in sy kerk se dak wys wat Koevoet daar geskiet het, sommer net vir die lekker.
  • My skok toe ek by Nkongo se menasie instap waar ek veronderstel was om ‘n diens te hou, en die aansteekbord is vol mens ore en ander liggaamsdele, by fotos van hoe die persone gelyk het toe hulle geskiet is.
  • Hoe minister Magnus Malan “kategories” ontken dat Suid-Afrika in Angola is of probeer wees. Hoe hy ‘n week later erken ons “was” daar, maar almal onttrek. Hoe Eenhana soos die Ben Schoeman hoofweg lyk terwyl die Ratels, Buffels, tenks “onttrek”, Noord, Angola in…
  • Hoe ek moet diens doen by die mediese pos wanneer Koevoet inkom om diesel en voorraad te kry – en reguit “medics” toe gaan vir penisilien inspuitings teen “VD”. Hoe die dokter hulle “opline”, broeke af, en die naalde soos “darts” in hulle boude ingooi!
  • Hoe die einste dokter wondere verrig om ‘n Koevoet lid wat onder ‘n Caspir beland het wat gerol het, deur te haal. Hy het vir my twee sakke plasma in die hand gestop, en ek moes druk om dit so vinnig moontlik in die man in te kry, terwyl die dok gewerk het om die bloeding te stop. Ek onthou ook sy uiterste teleurstelling toe hy hoor dat die man ‘n paar dae later in 1 Mil hospitaal oorlede is.
  • Die troepe wat met diep hartseer kom vertel van probleme by die huis. “Dear Johnnies” van meisies af, probleme tussen ouers, en die ouens sit ver, kan niks doen nie. Hoe manne begin soek na vastigheid as hulle ‘n slag onder die koeëls deurgeloop het…
  • Majoor (op daardie stadium) Willem Ratte, wat met sy vrou en dogter buite die basis se walle bly, tussen niks en nêrens, so 240km Wes van Rundu. Hoe die einste majoor in die nag Swapo uniform en “boots” aantrek en gaan rondloop waar die troepe die volgende dag gaan patrollie stap. Hoe daardie troepe, by hulle terugkeer in die basis, rondgejaag word as hulle nie sy spore opgetel het nie.
  • Hoe daar by dieselfde basis, laatmiddag ‘n Suid-Afikaanse Dakota sou land, om dan met ‘n ander bemanning verder te vlieg. Net om vroegoggend terug te keer, om te vertrek met die bemanning wat hom gebring het – wat nooit die nag in die basis in gekom het nie. Dit het my baie laat wonder, tot ‘n “rekkie” Kaptein wat ‘n keer of wat saam gevlieg het, na te veel biere vir my vertel het dat dit Amerikaanse loodse is wat die Dakota vol wapens bring. Suid-Afrikaanse loodse wat dit dan oor die grens vlieg na Savimbi se mense toe. Dit keer dan vroegoggend terug, vol ivoor as betaling vir die wapens…
  • Hoe ons lê en “tan” op die trampolien.
  • Hoe daar ‘n nuwe menasie gebou word op Mangeti-Duin, ‘n maand of wat voordat Namibia onafhanklik word en terwyl trokke dag vir dag weermag voorraad wegry Suid-Afrika toe.
  • Die lekker kerkdienste by die San van Namibia se Boesmanland, en hoe daar sommer in twee San tale in getolk word terwyl ek in Afrikaans preek.

Ja, onthou kan ‘n mens onthou… Ons Boetman generasie kan soms oor lang biere en rondom braaivleis vure probeer uitpluis hoekom ons daar was, of dit ooit sin gehad het. Sommige sal vreeslik vas staan op die waarde van wat ons gedoen het. Ander sien dit weer as uiters sinloos.

As ek egter terugdink, kan ek nie anders as om te dink dat as sommige goed anders hanteer was, baie lyding en dood gespaar kon gewees het nie – maar dit sou ‘n samelewing kopskuif nodig gehad het wat Pres de Klerk eers baie later gebring het. ‘n Kopskuif vanaf ‘n ons-julle denke, na ‘n ONS-ONS denke. ‘n Denke waarin ons saam kan besluit om saam te bou, eerder as af te breek. Nou nog raak ek sommer warm onder die boordjie vir mense wat al te maklik oorlog praatjies maak, niemand wen daarin nie, daar is net verloorders in oorlog.

Boetman, soms lê hy nog maar vlak…





Alles is ‘n gejaag na wind?

1 08 2010

Wat weet jy van die Prediker boek? Mag ek raai dalk die gesegde “Werp jou brood op die water” en miskien hoofstuk 12 – “Dink aan jou Skepper in jou jong dae” en hoofstuk 3 “Almal is van stof”  wat nogal gereeld by begrafnisse gebruik word.

Hoekom is hierdie boek enigsens in die Bybel? Die skrywer klink so sinies! Alles word beskryf as ‘n gejaag na wind- nie een keer nie maar 9 keer beskryf hy die lewe so in hierdie boek! Genoeg om enigiemand depressief te maak!

☛ Die prediker(Qoheleth – die Hebreeus vir iemand wat mense toespreek) praat nie op ‘n mooi stigtelike manier nie. Nee, hy is brutaal eerlik, eerlik oor wat hy gedoen het en wat hy dink daaroor. Hy het sin gesoek in:
•    Wysheid en kennis (1:16-18)
•    Lag en plesier (2:1-2)
•    Wyn (2:3)
•    Opbou van groot ondernemings deur harde werk (2:4-6)
•    Baie besittings (2:7-8)
•    ‘n “goeie lewe” – sleg en goed kom op die einde tot dieselfde (8:10)

Oor dit alles sê hy op die einde – “Dit is ‘n gejaag na wind”

☛ Van die goed wat die Prediker so afskryf, is dinge wat ONS as heel goed sal beskryf, wat is dan nou verkeerd met wysheid, met kennis, met harde werk? Dit is tog alles goed wat ons as eerbaar sien, as dinge wat die moeite werd is om na te jaag. Ons kan tog gou iets sê oor iemand wat lui of dom is! Hoekom skeer die Prediker dit dan oor dieselfde kam as ‘n blote gejaag na plesier?

Is dit nie maar juis omdat al hierdie goed maar weer dinge is wat ONS, EK, doen nie? Ek kan hoe slim wees, hoe hard werk, maar in een oomblik kan dit van my weggeneem word.

☛ In die sin herinner Prediker aan Jesus se gelykenis van die ryk dwaas (Luk 12:13-21). Die ryk man sê vir homself: “‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.” God antwoord hom dan: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” Selfs as ‘n mens jouself probeer troos met die gedagte dat jy dit vir jou kinders doen, dat jy ‘n nalatenskap daarstel waardeur jy onthou sal word, dan sê die Prediker dit is ‘n gejaag na wind want: “Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, en wie weet of hy ‘n wyse of ‘n dwase mens sal wees?” (2:18-19)

Sjoe! Hoort die boek enigsens in die Bybel? Is daar ‘n boodskap hier anders as dat alles maar verniet is? Wat sukkel die dominee met so ‘n teneerdrukkende teks?

☛ Hierdie vraag raak nog erger as ‘n mens in 3:12 lees: “ Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet” “Eat, drink and be merry!” blyk die Prediker se boodskap te wees….!

En in ‘n sin is dit PRESIES wat hy vir ons sê, al klink dit soos kettery! In Hoofstuk 2 verse 24 en 25, kom gee die Prediker vir ons die sleutel wat ons moet gebruik om hierdie, op die oog af siniese, stellings van hom te verstaan: “Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n  gawe uit die hand van God is.  Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?”
Vir die Prediker is ‘n lewe van dankbaarheid teenoor God, ‘n lewe waarin ons kan eet en drink en ons vriende en familie geniet, ‘n geskenk uit die hand van God. Vir die Prediker is om te eet, drink en die lewe te geniet ‘n daad van GELOOF! Vir elkeen wat gedink het die Ou Testament praat van WET en die Nuwe Testament van GENADE, herinner die Prediker ons dat alles GENADE is!

Kom ons wees maar eerlik, as ons na die onregverdigheid van die lewe kyk. As ons sien hoe dit goed gaan met “slegte” mense, en hoe “goeie “ mense sukkel – het ons nie ook maar al iewers gedink die lewe is ‘n “gejaag na wind” nie?

En dit is… As ons nie onthou dat elke dingetjie, elke seëning, elke dag van gesondheid, elke kind, elke sonstraaltjie, ‘n gawe van God is nie…. ‘n Gawe wat ons nie verdien nie, maar wat ons as geskenk kry.

(Na aanleiding van Prediker 1:2, 12-14, 2:18-23 en http://www.workingpreacher.org)