Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.





Deur watter bril kyk JY?

28 03 2011

“Dit is nie WAT jy weet nie, maar WIE jy ken” – so sê ons mos graag as ons kyk na hoe mense opgang maak in die lewe… So is ons dalk soms so bietjie jaloers op ander wat vooruit gaan. Daar ‘n groot klomp voorveronderstellings wat ons gedrag elke dag bepaal, ‘n groot klomp stories wat inspeel op hoe ons die lewe sien. So aanvaar ons later baie dinge as vanselfsprekend, dit moet maar so wees. Byvoorbeeld dat politici so ‘n hoë posisie beklee. Dat mense in die ‘sagter wetenskappe’ soos onderwysers en maatskaplike werkers, met kleiner salarisse as sê nou maar ouditeure en aktuarisse tevrede moet wees. Dat ryk mense ook die invloedryke mense moet wees. Dat as jy ‘n groot sterk man is, jy outomaties die leier is. Dat kragdadigheid ‘n teken van ‘n goeie leier is.

‘n Groot klomp stories, voorveronderstellings, praat saam in ons lewens as ons na iemand kyk en daardie persoon beoordeel.

Hier in ons verhaal (Johannes 4:1-26) gebeur dieselfde ding. Die vrou kyk na Jesus en ‘n klomp goed, ‘n klomp verhale, ‘n klomp kultuurgoedere maak dat sy vir Hom sê: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Agter hierdie eenvoudige vraag sit ‘n groot klomp vooroordeel.

☛ Toe die Assiriërs Samaria verower het, die Noordelike ryk van Israel, het hulle groot getalle van die inwoners gedeporteer en hulle plek met burgers van oral oor die Assiriese ryk vervang (2 Kon 17:23). Die Assiriërs het hulle vreemde godsdiens en andersoortige kultuur saam met hulle gebring en derhalwe het ’n merkbare “verbastering” tussen die Joodse inwoners van Samaria en die Assiriërs plaasgevind. Hieruit het die Samaritane gespruit. Die suidelike stamme is later ook weggevoer in ballingskap, maar na Babilon. Ná jare in Babilon is hulle toegelaat om hulle weer in Israel te hervestig. Die teruggekeerdes van die suidelike ryk wou ’n tempel bou en die Samaritane se hulp is van die hand gewys. Vyandigheid het tussen hulle ontstaan. In 400 vC het die Samaritane vir hulle ’n tempel in Samaria gebou, wat in 128 vC deur die Jode verwoes is.

So is daar diep vyandigheid tussen Jood en Samaritaan. Hulle het glad nie langs dieselfde vuur, of is dit nou put, gesit nie.

☛ Dan weet ons nog van die vooroordele in daardie tyd oor hoe mans en vroue met mekaar moes omgaan – of liewer NIE met mekaar mag kontak gehad het nie. Soveel so dat ‘n Joodse man nie eers met sy eie vrou in die openbaar sou praat nie. Dat ‘n vrou gesien is as iemand wat nie eers voor die hof kan getuig nie…

☛ En Jesus praat met die Samaritaanse vrou, redeneer met haar, vra haar vir water. So keer Hy ‘n klomp gebruike en kultuurverwagtinge om. Een vir een word al die aspekte uit ‘n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26 wanneer Jesus sê dat Hy die Messias is.

Lydenstyd is die tyd wanneer ons herinner word dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af lyk betekenis aan ons lewens te gee – getoets en op hul kop gedraai (kan) word.

Hier het die plaaslike gemeente waar hierdie gedagtes as preek gedeel is, baie waardevolle insette gelewer. Op die vraag watter vooroordele, watter kultuurgoedere, ons weghou daarvan om ander as kinders van God te sien, is die volgende vooroordele uitgelig:

  • Ons kan net in die kerk glo – terwyl dit so is dat die Nuwe Testament ons aanmoedig om as gelowiges saam te verkeer, het ons vandag die ongelukkigheid dat baie mense IN die kerk al baie seer gekry het. Hulle vertrou nie meer ander Christene nie, en omdat hulle nie meer eredienste bywoon nie, maak ons hulle af as “ongelowig”. So verdiep ons net die seer waarmee hulle rondloop!
  • Iemand wat anders lyk of op ‘n ander manier aanbid is nie ‘n “regte” Christen nie – Eintlik maak iemand wat anders lyk of doen ons ongemaklik, en so is dit makliker om te projekteer, om die wat “anders” is te etiketteer. As die ander ‘n etiket van “liberaal” of “onvolwasse” of “oneerbiedig” om sy/haar nek dra, dan kan ons so ‘n persoon beheer. Kategoriseer. Eenkant in ‘n boksie wegpak.
  • So wil ons net ons geloof op ‘n Sondag in ‘n vaste ritueel uitleef – enigiets anders is “onstigtelik”. Ons fokus so op die vorm en ritueel dat ons nie die pyn en nood van die medegelowige wat saam met my in die erediens sit, oplet nie.
  • Ons aanvaar dit as normaal dat in ‘n klein plattelandse dorpie daar ten minste 7 of 8 kerke is – in een gemeenskap! – Ons is nie meer ongemaklik oor vooroordele wat ons as Christene uitmekaar hou nie. Jesus het reuse grense oorgesteek in Sy uitreik na die Samaritaanse vrou. Ons is nie eers gereed om die hand na ‘n mede-Christen uit te reik nie, of om saam met ‘n mede-Christen van ‘n ander taal, afkoms of ras God te aanbid nie. Ons is gemaklik met verdeeldheid in die Christen gemeenskap – is Jesus?
  • Eredienste is net “reg” as ‘n dominee of pastoor of iets dit aanbied. ‘n “Gewone” gelowige se nadenke oor die Skrif word afgeskiet as van minder waarde. As ek hoor ‘n ouderling of iemand anders gaan die diens lei, bly ek sommer by voorbaat weg!

Wat ‘n reuse klomp insig bestaan daar tog nie in ons klein dorpie nie! As ons hierdie perspektiewe, onder andere, kan begin uitleef, sal dit net groot dinge beteken vir die geloofsgemeenskap hier.

Die brille van vooroordeel is egter dik! Ons moet die Koning wat aan die kruis is raaksien. Die een wat vir ons wys dat diensbaarheid die kenmerk van ‘n leier is, en nie mag of posisie nie. So kan ons ook ons eie kultuurbrille weggooi en ander met die oë van Jesus raaksien, as mede verteenwoordigers van God geskape.





“Like it or not!” (nav Joh 3:16)

20 03 2011

Joh 3:16 – So ‘n lekker bekende vers. Dit is al so oorbekend dat ons soms nie die diepte van wat God gedoen het, besef nie. Joh 3:16 is een van die eerste, en baie keer die enigste, teksverse wat ons uit die kop uit ken.

Hierdie bekende vers het nogal, vir ons moderne denke, ‘n bietjie van ‘n angel ook…  Dit is GLAD NIE polities korrek nie. God vra nie ons toestemming om ons lief te hê nie. Hy praat nie eers met ons oor die konsekwensies van Sy liefde nie, nee Hy gaan bloot voort om ons lief te hê, en dan bewys Hy dit ook nog deur Sy Seun te stuur om vir ons te sterf…

Behalwe dat dit glad nie polities korrekte optrede is nie, is daar ‘n tweede angel in die stert van die vers. Die woord wat hier in Afrikaans as wêreld vertaal word, is die Griekse woord “kosmos”. Dié woord word in Johannes se evangelie gebruik om die wêreld wat sonder God is, die wêreld wat Sy liefde weerstaan, aan te dui (16:33, 17:9-19). So eintlik kon ons hierdie vers só vertaal het: “God het die wêreld wat Hom haat so lief gehad dat hy sy enigste seun gegee het…”

Hierdie liefde van God herinner my aan hoekom ons kinders doop. Vir sommige mense is dit ‘n probleem. Hulle wil hê die kinders moet eers self kan kies en kan verstaan waaroor die doop gaan. Die doop van kindertjies wat nie verstaan waaroor dit gaan nie, is egter juis ‘n pragtige illustrasie van God se liefde soos hier in Joh 3:16 uitgebeeld. In ‘n sin word ons by die doop oorspoel met God se onvoorwaardelike liefde. Liefde wat nie éérs vra of ons dit WIL hê nie, nee Hy gee dit bloot, oorvloedig. – “like it or not!”

Dit laat my dink aan ‘n verhaaltjie wat ek gehoor het van ‘n pa wat sy seuntjie in die bed gesit het. Die outjie wou glad nie gaan slaap nie, en het gestry en baklei teen die bed toe ganery. Gefrustreerd deurdat sy pa nie toegee nie, sê die outjie: “Ek haat jou!” Die pa antwoord toe maar heel rustig: “Ek is lief vir jou” Die seuntjie sê toe: “Moenie so sê nie!” Die pa antwoord: “Ek is jammer jy voel so, maar ek is lief vir jou.” Die seuntjie het aanhou protesteer, totdat sy pa sê: “Of jy nou daarvan hou of nie, ek is lief vir jou!”

Selfs ‘n klein seuntjie het besef dat hy magteloos is teen onvoorwaardelike liefde. Sy pa het nie gesê: “As jy soet bed toe gaan sal ek lief wees vir jou nie.” Dan sou die seuntjie kon onderhandel – nee die liefde is onvoorwaardelik. Wanneer ons met sulke onvoorwaardelike liefde gekonfronteer word, kan ons dit net aanvaar of wegvlug daarvan.

Die selfde is waar van ons. As God Sy liefde vir ons voorwaardelik gemaak het – Ek sal jou net liefhê as jy gedoop is / as jy dankoffers gee / as jy kerk toe kom… Dan kon ons met God onderhandel oor die voorwaardes waarop ons Sy liefde aanvaar, of ons kon dit bloot verwerp. Nou kom God en Hy het net onvoorwaardelik lief, al probeer ons some daardie liefde terug gooi in God se gesig, het Hy ons nog steeds lief. En bewys Hy dit deur aan die kruis vir ons te sterf!

In Jesus het God ‘n besluit VIR ons geneem. Hy sal vir ons lief bly, maak nie saak hoe ons daaroor voel nie. Dit is die een ding wat ons nie kan verander nie – God het vir ons lief, en nie net vir ons  – kerkmense – nie, Hy het almal in die wêreld, ook die wat Hom haat, lief. Lief met ‘n liefde oneindig groter as wat ons ons kan indink.

Dit is goeie nuus, lekker nuus!  Maar ook moeilike nuus. Dit hang nie van my geloof, my goedheid, my kerkmens wees af nie, God het ons bloot lief. Dit beteken ons is nie meer in beheer nie, ons kan nie met God onderhandel oor wat ons van hou, en wat nie. Ons het niks te doene met die feit dat Hy ons liefhet nie. Ons kan Hom nie dwing om ons meer óf minder lief te hê nie. En dit is JUIS vir ons moeilik, want ons hou daarvan om in beheer te wees.

Maar juis omdat ons nie in beheer is van hierdie verhouding nie, is dit die een verhouding wat ons nie kan opmors nie. Ons kan foute maak in ons verhoudings met ons huweliksmaats, met ons kinders, met ander mense, ons kan dit totaal opmors! Ons verhouding met God kan ons nie opmors nie, want dit hang nie van my af nie, dit is Sy verantwoordelikheid wat Hyself op Hom geneem het – dit is buite my beheer!

Beteken dit ek het niks om by te dra tot hierdie belangrike verhouding nie? Ek kan dit maar ignoreer en doen wat ek wil? Nee asseblief nie! Juis omdat ons so volkome, so volmaak lief gehê word, kan en moet ons in liefde reageer, moet ons God eer, moet ons Sy liefde uitleef teenoor ‘n kosmos, ‘n wêreld wat Hom haat en nie ken nie. Ons is Sy gesig, Sy verteenwoordigers, Sy manier wat Hy gekies het om Sy liefde sigbaar te maak in hierdie wêreld!

Moenie vergeet nie, God het jou lief, “like it or not!”

Onthou dit as:
∙     jy ‘n slegte dag by die werk gehad het
∙    jy nie gesond raak nie
∙    jy nie ‘n seer verhouding kan regmaak nie
∙    jy hartseer is
∙    jy frustreerd is

God het jou lief, “like it or not!”

(Met erkenning aan workingpreacher.org)





Wat leer die woestyn jou?

14 03 2011

Hoeveel keer gebeur dit dat ‘n mens regtig goed voel oor iets wat gebeur het, en net daarna val jy plat! Doen jy iets onnosel, Of tref die ongeluk jou! Dit is darem erg wanneer dit gebeur!

Matteus 4:1-11 beskryf amper net so iets vir ons hier wat in Jesus se lewe gebeur het. Net die voorafgaande gedeelte beskryf Jesus se doop, met God se ongelooflike woorde aan Hom: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.” Menslike gesproke moes dit ‘n absolute hoogtepunt in Jesus se lewe tot op hierdie stadium gewees het! Dink jou dit in – jy doen iets en God se stem kom dreunend uit die Hemel en Hy sê dat Hy van jou hou!

Na hierdie hoogtepunt, lei die Gees Jesus om Homself in die woestyn af te sonder. Die Bybel sê nie hoekom nie, maar ‘n mens kan jou indink dat hy na daardie geweldige ervaring moes nadink, bid, perspektief kry vir die taak wat op Hom wag.

En, byna erg menslik – Hy was tog volkome mens ook- oorval die versoekings Hom net na hierdie grootse ervaring. Drie versoekings, wat ook maar baie in ons eie lewens na vore kom. Versoekings wat regdeur sny na die kern van Jesus se bediening…. “As Jy regtig die Seun van God is”…. So ‘n ego van God se woorde by Jesus se doop, ‘n In twyfel bring van daardie wonderlike gebeurtenis.

Elkeen van die versoekings probeer ook Jesus sover kry om weg te draai van vertroue in God, en op sy eie vermoëns staat te maak….  Hoeveel keer val ons nie vir dieselfde versoeking nie!

Wat doen Jesus hiermee?  Hy word eers versoek om Sy mag te bewys deur klippe in brood te verander, so kan Hy mos wys Hy is magtig! Dan word Hy versoek om God se beloftes, God se getrouheid, te toets. Laastens word Jesus deur roem en mense se heldeverering versoek. Hoeveel makliker sou Sy taak nie gewees het as Hy hiervoor geval het nie!

Elke keer egter verwerp Jesus die versoeking en plaas Sy vertroue in God die Vader, vind Hy sy identiteit en toekoms in God. Jesus onderwerp deur hierdie hele woestyn ondervinding Sy wil aan God se wil.

Ons kan nou maklik dink dat die weerstaning van die versoekings maklik was vir Jesus, Hy is mos Seun van God! Ons moet egter onthou dat Hy ook volledig mens was. Verder was Hy honger, ons sou kon raai dalk dors en moeg ook. So, met Sy weerstand op die laagste, kom die versoekings om Hom terug te neem na die hoogtepunt toe God Hom Sy “geliefde Seun” genoem het. Tog hou Jesus, weerstaan hy die versoekings deur Sy vertroue in God te stel met elke antwoord. So begin Hy ook die pad stap, die pad wat uiteindelik tot aan die kruis lei.

Wat staan ons te doen? Wat beteken hierdie verhaal van Jesus se versoeking vir my elke dag se lewe? Hoe kan ons, in navolging van Christus, die versoekings en verleidings wat op ons pad kom weerstaan. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, daar is geen maklike antwoorde op versoeking nie! Paulus self kla in Romeine 7:19: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.” Ek dink dit is seker die meeste van ons se ondervinding. Veral as dit, soos hier met Jesus ons diepste drange, ons identiteit, erkenning, aanspreek.  Hoe kan ons tog die alledaagse versoekings te bowe kom, daardie dinge wat ons laat wegdraai van God af en laat staatmaak op ons eie krag en kennis? Kom ons probeer mekaar help met ‘n paar riglyne.

Een:  groei na Jesus toe: Elkeen van ons is op ‘n lewenslange reis om Jesus na te volg en jou identiteit in Jesus te vind. Hoe meer ons ons identiteit in Jesus vind, hoe meer verloor versoekings hul mag oor ons lewens.  Ons volg die voorbeeld van Jesus na, en ons leef vanuit sy oorwinning oor die versoeker.

Twee:  Eet die brood van die lewe: Die Woord van God, die Bybel, help ons om die wêreld en die lewe anders te verstaan en te beleef.  Daardie kortpaaie na erkenning, mag, belonings wat op ons pad kom word deur die Woord van God ontmasker. God se Woord ontsluit die ware betekenis van die lewe, en toon die pad na ware geluk.

Drie: van selfgerig na diensgerig: Eerder as om ons eie lewe in die sentrum te plaas, en na heldeverering, erkenning deur mense, te soek, is die weg uit die greep van versoeking om ander te dien en in die middelpunt te stel. Hoe meer ons vir mekaar, en vir die vreemdeling, die magtelose, die hulpbehoewende lewe, hoe meer word die versoeker se mag in ons lewe gebreek.

Vier: Bly by mekaar: Ons het mekaar as gelowiges nodig. Deur mekaar te versterk en bemoedig help ons mekaar om versoekings te weerstaan.

So kan ons ons identiteit vind waar dit werklik saak maak, by God! So kan ons ons wil aan God se wil onderwerp! Ten diepste is hierdie versoekings seker ook die soeke na sekerheid. Maak hierdie klippe brood, laat God se engele jou red, verkry al die mag in die wêreld en jy sal nooit weer wonder oor God nie! Jy sal in jou eie krag sterk genoeg staan… Maar dit lei tot val, want sonder God se krag kan ons nie die pad loop nie. Deur ons identiteit in God te vind, deur op versoekings te antwoord met ‘n vertroue gebaseer op God, weet jy WIE jy is, want jy weet WIE S’N jy is!  En weet jy wat jy moet doen!

Geloof neem nie die moeilikhede van die lewe weg nie. Inteendeel, soms kom die versoekings juis omdat ons nader aan God beweeg. Jesus nooi ons egter uit om ons hoop en moed daarin te vind dat God vir ons lief is, dat Hy elke dag die pad met ons WIL stap.





Waar liefde is, is daar geen vrees nie

1 03 2011

Na aanleiding van Matt 6:24-34:
Dit is darem vreemd hoe ons soms die Bybel lees – wat ‘n mens raaklees en wat ons mislees… Matt 6 is ‘n gedeelte uit die Bergrede van Jesus, en dit is een van daardie tekste wat ons sien as so bietjie onwerklik, utopies, iets wat net eendag in die Hemel waar kan wees. Ek bedoel, kan Jesus dit WERKLIK bedoel as Hy sê: “moet julle nie bekommer oor julle lewe” nie. Dit is mos eintlik belaglik in ons moderne lewe!  Ons het bekommernisse orals!

•    By die werk  – gaan ek my werk behou? Die teikendatums en teiken omset is onredelik! Regstellende aksie gaan my my werk kos!
•    By die huis – Wat vang die kinders tog aan? Hoekom is dit asof daar verwydering is tussen my en my huweliksmaat? Hoekom is daar nooit genoeg geld nie?
•    Bekommernisse oor…. wel jy noem dit! Daar is omtrent nie ‘n aspek van ons lewe wat ons nie in ‘n veld van bekommernisse omskep het nie.

Politiek, ekonomie, misdaad, ons maak eintlik ‘n beroep daarvan om bekommerd te wees.

Ons hele kultuur is daarop ingestel om hierdie bekommernisse te laat groei en blom en vrugte dra in ons lewens – wrange vrugte van depressie, stres, ens… Kyk na die nuus of die koerant, en dit is net slegte nuus. Kyk na ‘n advertensie en die boodskap is: Jy is nie goed genoeg nie – so raak mooier of slimmer. Jy stink – gebruik deodorant. Die goed wat jy het, jou kar, is pateties man, koop ‘n nuwe een!

Hoe kan Jesus vir ons in hierdie moderne lewe nog vra om nie bekommerd te wees nie? Nee ekskuus, Jesus VRA ons nie, Hy BEVEEL ons om ons nie te bekommer nie….

Voordat ons heeltemal dink dat Jesus dalk die kluts kwyt was hier, kom ons kyk bietjie mooi na die hele gedeelte wat ons gelees het. Dit begin met Jesus wat ons daarop wys dat ons nie twee base gelyktydig kan dien nie – Ons kan nie God en Mammon (die Aramese woord vir rykdom) dien nie.

Jesus sê nie dat geld goed of sleg is nie, geld, die smag daarna, maak net ‘n baie slegte baas – en hier gebruik Jesus dieselfde Griekse woord wat gebruik word om Hom te beskryf – Kurios – Here, Meester.  Jou Kurios is die een aan wie jou lojaliteit, jou tyd, jou diens, afgestaan word. En as geld, rykdom, goed my Kurios geword het, kom ons skielik agter ons het nooit genoeg nie. As geld ons sekuriteit is, dan tel ons, maak ons seker ons bly voor! Bekommer ons ons die heel tyd oor HOEVEEL ons het…

Jesus se egter: “julle kan nie God én Mammon dien nie.” “DAAROM sê Ek vir julle…”  Hy kom met ‘n heel alternatiewe manier van leef, ‘n alternatiewe manier van kyk na goed, eiendom, geld, sekuriteit.

God is oneindig, onmeetlik lief vir ons. Sy liefde werk met ‘n heel ander “ekonomie” as die geld-ekonomie. Dit kan nie opraak nie, selfs as ons Sy liefde wat Hy in ons gee uitdeel, raak dit nie op nie. Die van u wat kinders het, dink bietjie saam met my terug aan die geboorte van jou kinders – Toe die 1ste een gebore is, was ek baie lief vir haar, toe die 2de een gebore is was ek nie nou skielik net halfpad lief vir die eerste een nie, daar was genoeg liefde, meer as wat ek kon aan dink, vir hulle albei. So werk dit ook met God se liefde, hoe meer ons dit weggee, hoe meer het ons. Sy liefde kan nie geruil word nie, dit kan nie gebank word nie, dit kan nie getel word nie – hoe meer ons daaruit leef, hoe meer word dit!

Dit is hoekom Jesus sê dat ons nie bekommerd moet wees nie, want God se liefde raak nooit op nie! As ons in verhouding met God leef, as ons Hom liefhet en vertrou, dan skielik raak dit moontlik om Jesus te glo as Hy sê ons moet nie bekommerd wees nie. Dan begin ons iets van God se Koninkryk, van Sy droom vir ons, van Sy alternatiewe manier van lewe, raaksien.

Ja, dis nie maklik om die dinge wat Jesus sê te glo nie – My kind se universiteits geld moet nog steeds betaal word, die hoër brandstofprys moet nog steeds betaal word…. As ons egter toelaat dat Mammon God se oorvloed van liefde uit ons lewens verdryf, dan begin vrees ons lewens beheer. Vrees perk jou in, hou jou gevange. God se oorvloed stel ons egter vry. In Jesus se tyd was die heersers bang vir die alternatiewe manier van lewe wat Hy gebring het. Toe maak hulle Jesus dood. Moenie dat vrees jou dryf nie. 1Joh 4:18, 19: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie.”

God laat Hom egter nie inperk nie. Hy laat vir Jesus opstaan uit die dood – ‘n teken van Sy oorvloedige liefde. Hy verwoes nie diegene wat Jesus gekruisig het nie, Hy betoon nog steeds Sy liefde aan hulle.

Jesus nooi ons uit om in hierdie lewe van oorvloed te lewe!  ‘n Lewe waarin ons weet God het ons lief, niks kan ons van Sy liefde skei nie. ‘n Lewe deurdrenk met liefde! Waarin ons nie anders kan as om Sy liefde uit te leef teenoor ons naaste nie.