Soos ‘n boom by ‘n waterstroom

15 06 2012

Image

Die afgelope week (4-7 Junie 2012) het die Oos-Kaap se NG Kerk sinode gehou. Daar is oor baie goed gepraat en besin – Jeug en onderwys, belydenisskrifte, administrasie, eenheid van die kerk, lidmate, doop, predikante, ens, ens… Ek kan sommer hoor hoe mense dink – “En? Wat beteken dit vir ons hier waar ons die Here dien? Sulke vergaderings is sommer tydmors!”

Tog het hierdie sinode ons almal met ‘n boodskap huis toe gestuur, met Psalm 1:3, so vertaal: “Die NG Kerk in Oos-Kaapland is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” Mooi woorde. Baie poëties gestel. Maar hoe kom ‘n mens by die mooi verby, hoe kry die vrugte van hierdie boom voete in God se wêreld?

Kom ons vertaal hierdie teks nog so bietjie verder: “Die gemeente waar ek die Here dien is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” En wat van nog verder: “Ek, vul jou eie naam hier in, is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.”

‘n Mens kan nou baie goed sê oor hierdie teks. Ons kan uitwei oor wat dit beteken om God se boom te wees – hoe die beeld van ‘n boom iets sê van sterkte, van diep gewortel wees, van tot nut wees vir ander deur die skaduwee en vrugte. Ons kan verder uitwei oor God se waterstroom en hoe God ons versorg, hoe Hy altyd daar is vir ons, hoe die boom nooit kan groei sonder Hom nie.

Maar, gedagtig aan wat Jesus gesê het in Matteus 21 rakende die vyeboom wat nie vrugte gedra het nie, moet ons miskien ‘n bietjie gaan let op die vrugte wat ons dra. Dra ons “op die regte tyd” vrugte? Wat bedoel Psalm 1 met hierdie vrugte?

Die bron van die vrugte word baie duidelik in Psalm 1 uitgewys as die Woord van God. God self is die Een wat die vrugte in ons bewerk. Ons dra nie vrug omdat ons so oulik is nie. Psalm 1 sê ons moet die Woord eet en drink en slaap, dan dra ons vrugte as gelowiges en gemeente, nie omdat ons so goed beplan en goeie administrasie het nie.

Die vrugte is ook nie eintlik vir ONSSELF bedoel nie. ‘n Boom eet nie sy eie vrugte nie! Vrugte is daar om ander mee te versterk, ander mee te dien. Die vrugte is ook publiek, dit moet raakgesien kan word anders beteken dit niks vir ander nie. Anders kan niemand sy honger met daardie vrugte stil nie.

Hoe dra ek en jy, as God se bome, gevoed en versorg deur God, God se vrugte op die regte tyd?

Laat ek myself net ‘n oomblik hier in die rede val. Baiemaal dink ons dat geloof ‘n privaat saak is, ‘n saak vir my binnekamer. Is daar iets soos ‘n private geloof?  Nee! In die Bybelse tye was my publieke lewe en my geloofslewe een. Deesdae sê ons ons geloof het niks te make met my werk, my sport, ens nie. Ons het van geloof iets gemaak wat op ‘n Sondag vir ‘n uur of so beoefen word. Maandag begin die regte lewe weer…

Vir Psalm 1 is dit nie hoe dit moet gebeur nie. Vanuit God se Woord, vanuit my ontmoeting met God, word ons versterk om vrugte te dra, om duidelik en in die openbaar, in die publiek, Christen te wees

Dit beteken NIE dat ons daarop moet aandring om alles oop en toe te maak met gebed nie. In die ou dae is die enigste tye wat God se stem gehoor is by iets soos ‘n sinode die opening en afsluiting aan die begin en einde van die dag – tussen-in het ons met mekaar geredekawel en mekaar met ons welsprekendheid probeer oortuig. God se stem, God se vrugte moet deurlopend na vore kom. Dank die Heer dat dinge al hoe meer so gedoen word!

Ons word alreeds hier in die erediens daarvoor gereed gemaak. Al die goed wat ons hier doen en saam deel, vanaf die seëngroet regdeur die Wet, Geloofsbelydenis, prediking, tot by die uitsendingseën aan die einde het tog ten doel om ons te voed langs God se waterstroom.  As ons by die Here uitkom, is dit onmoontlik om nie vrugte te dra nie.

SODAT ons vrugte, God se vrugte deur ons, gesien kan word in die onderwys, in die politiek deur die versterking van ons demokrasie, in die werksplek, in die media, by die eenkant, verstote gedeeltes van ons samelewing. God se stem word duidelik in die manier wat ons die sout is vir die aarde,

Hoekom?  Hoekom is dit nodig om hierdie publieke, in die openbaar sigbare, vrugte te dra? Is dit nie genoeg om net versterk te word in ons eie “binnekamer” in ons eie “geloof” nie?

Ons moet hierdie openbare, publieke vrugte dra want ons is uit genade gered…in Christus geskape tot die goeie werk wat God voorberei het (Efes 2). God het die wêreld lief (Joh 3:16) en wil deur ons vrugte Sy liefde aan die wêreld bring.

(Met erkenning aan Prof Piet Naudé se voordrag tydens die sinode)

(Foto: Heinrich Alberts)





‘n Nuwe mens – of ‘n “name brand”?

11 07 2010

(Na aanleiding van Gal 6:1-16)

Tieners – die van ons wat dié spesie in die huis het, of nog kan onthou toe hulle aanhuis was, WEET hoe belangrik die REGTE goed vir hulle is. Jy weet, die regte soos die regte “label” op die jean, die regte naam skoene, die regte “look” selfoon…. O ja, en pa moet tog ook die regte kar ook ry, ek wil my nie skaam vir pa nie… Om nie eers te praat van in die regte buurt te bly, en met die regte mense te sosialiseer nie!

Ons wat dit ken kan lekker lag daaroor, want iewers langs die pad ontgroei hulle (HOPELIK!) die sienings. Ongelukkig gebeur dit nie orals nie, en die groot maatskappye weet dit goed. Darem dat karre, klere, selfone, selfs kos(!) geadverteer word op die beginsels dat dit jou meer aanvaarbaar, meer “cool”, slimmer, mooier, maerder, belangriker sal maak.

Selfs in die kerk ontglip ons nie die tendense nie. In die swart gemeenskap waar ek in die Transkei gewerk het, is dit baie belangrik dat ‘n begrafnis REG gehou moet word. Ek moet iemand anders s’n bywoon, anders sal sy/haar familie nie myne bywoon nie. Die sukses van die begrafnis word dikwels gemeet aan hoeveel beeste en skape geslag is… Dis maar moeilik om nie ‘n meerderwaardige glimlaggie te hê as ons oor die dinge dink nie. Maar ook ons het maar die geneigdheid dat uiterlike dinge en tekens vir ons baie belangrik is. Dink maar aan die gevegte oor jare oor die dra van die toga in ons kerk. Oor hoe kerke roem op wie die beste musiek maak. Oor hoe heilig die kansel is, oor dat die ONS kerk is en hier word slegs Afrikaans gepraat…. Moet ook tog net nie vergeet om die regte mense te bedank vanaf die kansel nie…

Paulus skryf met sy eie hand, in groot letters, dat die enigste wat belangrik is in die lewe die kruis van Jesus Christus is. Die kruis wat ons simbool van vryheid is – vryheid om ander in liefde te dien (Gal 5:13).

Vir ons klink dit heel voor die hand liggend, ons het tog met die simbool van die kruis grootgeword. In Paulus se dag was dit egter glad nie so voor die hand liggend nie. Hy skryf juis hier met sy eie hand omdat die besnydenis so ‘n roemteken, so ‘n “name brand”, onder die Galasiërs geword het. Jy moet tog net sorg dat jy besny is, dan is jy ‘n “regte” Christen!

Hierteenoor stel Paulus die teken van die kruis. Die kruis wat ‘n vervloeking vir die mense van die eerste eeu nC was, ‘n teken van Romeinse vervolging. Die kruis was baie eerder ‘n teken van skande en vervolging as van roem en eer! In hierdie vergelyking van Paulus tussen besnydenis en kruis, kom die ou waarheid weer na vore – die besnydenis is iets wat EK doen, die kruis praat van GOD se genade.

Genade wat van my ‘n nuwe mens maak (:15). Genade wat maak dat die uiterlike, dit wat die mense sien, nie belangrik is nie, maar dat ek vir God dien. En dit is so ‘n moeilike les om te leer – God se genade wat ons alles is, nie wat die “mense sê”, of wat die mense sien nie. Oud en jonk, ons sukkel maar almal daarmee! Ons sukkel maar om nie op ander neer te sien nie (:3,4)

Hierdie nuwe mens se prioriteite gaan nie oor MY nie – vers 9 sê duidelik ons moet fokus na buite, op die goeie wat wag om gedoen te word. En pasop maar vir te vinnig oordeel oor die ander, vers 1 waarsku ons juis dat ook ons in versoekings kom!

Dit lyk vir my ons moet soms juis voor ‘n krisis te staan kom om hierdie lewensles te kan leer. Ek is, word, ‘n nuwe mens deur genade alleen. Dit is genade dat ek vanoggend my oë kon oopmaak. Dit is genade dat ek tot by die kerk kon loop of ry. Dit is genade dat ek klere het om vanoggend aan te trek. Dit is genade dat ons die voorreg het om hierdie erediens in Afrikaans te kan hou.

Niks hiervan verdien ons nie, dit is uit God se hand alleen!

Nadat Prof Flip Theron van Stellenbosch (wat onlangs oorlede is) gediagnoseer is met ongeneeslike Pankreaskanker skryf hy die volgende in ‘n brief aan ‘n vriend van hom: “Deur alles heen het ek diepe dankbaarheid oor hoe ‘n uiters bevoorregte lewe my gegun is. Menslik gesproke is die prognose nie goed nie, maar soos Ps 68: 20 lui: “Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons. God is ons heil.” Vreemd dat nou dat ek minder tyd het, het ek eintlik meer tyd en verwonder my oor die rykdom wat die Here vir my gegee het in my vrou, ons kinders, en wonderlike vriende wat familie insluit. Hoewel ek tans ‘n ekstra las dra, het heelwat ander laste van my afgeval.”

Wat moet gebeur dat ONS, EK, die grootte en wydte, die diepte en rykdom van God se genade en liefde kan begin besef en leef? Genade wat daar is vir my, maar ook vir almal rondom my!





Nabot se wingerd

11 06 2010

Slaan Nabot se wingerd, die bekende verhaal uit 1 Konings 21 oor die misbruik van mag, my die week soos ‘n nat vis deur die gesig!Vineyard

Nabot het ‘n wingerd gehad, langs een van Koning Agab se paleise. Die koning wil toe vir hom ‘n kruietuin aanlê waar die wingerd staan. Nabot wil egter nie verkoop nie, dit is immers sy erfgrond. Koning Agab se vrou, Isebel (Jezebel in Engels) reël toe, op ‘n manier wat die mafia jaloers sal maak, dat Nabot doodgemaak word op ‘n valse aanklag. Toe vat Koning Agab sommer die wingerd….

Nou wat laat my aan die ou verhaal dink? Twee gebeure…

Nommer 1:  In die Klein-Karoo bly ‘n ou dame al vir donkiejare in ‘n eenvoudige plaashuisie. Die eienaar het vir haar lewensreg in die huisie gegee, as dank vir dienste oor die jare gelewer. Sy bly nog soos mense 50-60 jaar terug. Soveel so dat die plaaslike toeristevereniging nou al toeriste bring om te sien hoe sy leef. En sy geniet dit, en gesels met hulle oor die ou dae! Die eienaar van die plaas trou weer, en die nuwe vrou sien toe ‘n geleentheid om geld te maak… sit die ou dame uit haar huisie uit en af van die plaas af, en omskep die huisie in ‘n gastehuis. Dan kan hulle mos bietjie geld maak hieruit – vergeet maar van beloftes, van jare getroue diens, ens, ens…. Isebel het haar eie planne!

Nommer 2: ‘n Kerk van Gereformeerde belydenis (Kerk A) besluit om ‘n nuwe kerk (Kerk B) te “plant” in ‘n naburige dorp. Die feit dat die nuwe kerk (Kerk B) nie gereformeerd is nie, en dat daar al baie kerke in daardie dorp is, hinder blykbaar vir niemand nie…  Een van die bestaande kerke is ‘n susterkerk (Kerk C) van die plantende kerk, in die ou dae (miskien nou nog in sommige kringe!), sou hulle van ‘n dogterkerk gepraat het.

Hierdie susterkerk (Kerk C) gebruik ‘n kerkgebou wat vir hulle geskenk is in die sewentigerjare. Deur die jare is die kerkgebou dalk nooit getransporteer op die suster se naam nie, want hulle is maar arm. Die kerk word egter gebruik vir al die normale kerkdinge, soos kerke maar gebruik word. Nou krap Kerk A (alweer) waar dit nie jeuk nie – hulle wil nou net seker maak of die kerkgebou nie dalk nog steeds in hulle naam is nie, sodat hulle dit vir die nuwe geplante kerk (Kerk B) kan gee….  Jare gelede se beloftes aan kerk C tel niks. Jare se gebruiksreg tel niks. Die feit dat die twee susters in die geloof is tel niks. Al vraag wat gevra word is, het ons die MAG om dit te doen?

Soos Isebel vir Agab gesê het, “Jy is koning, doen wat jy wil”, so tree die diegene hierbo ook op. En om dit erger te maak, soos die spreekwoord sê: “Eers gegeven en dan genomen is erger als ‘n dief gestolen.”

Ai Nabot, jy’s maar – soos die armes – nog steeds met ons!





Geloofwaardig?

27 05 2010

Cartoon - Religion

“Die mense sê”… Seker een van die gevaarlikste veralgemenings wat rondloop. Die “inligting” het nie ‘n baas, ‘n oorsprong nie. So daar is niemand om tot verantwoording te roep nie. In ‘n sin is ons weer terug by ‘n paar weke terug se blogpost oor Persepsies. Die strokiesprent hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

“Almal weet” die Christelike geloof is wreedaardig, kyk maar net na die kruistogte en inkwisisie. SONDER om enigsens van die gruwels van die verlede te probeer goed praat, moet ‘n mens darem onthou dat mense se wêreldbeeld baie anders was so ‘n duisend jaar gelede. Dit was lank voor menseregte en demokrasie. Dit was ‘n feudale sisteem waar mense wat die grond bewerk het geen regte gehad het nie – probeer dit vandag!

Verder was iets soos die kruistogte ook in ‘n groot mate ‘n respons op Moslem imperialisme. http://en.wikipedia.org/wiki/Crusades: “The Crusades originally had the goal of recapturing Jerusalem and the Holy Land from Muslim rule and were launched in response to a call from the Christian Byzantine Empire for help against the expansion of the Muslim Seljuk Turks into Anatolia.”

Enige “feite” tel egter min as mens iets wil afkraak, veral as dit godsdiens is. Nou kom die probleem egter… ons as Christene gee baie skietgoed aan mense wat nie in God glo nie.

Skandale rondom TV predikers, rondom Rooms Katolieke priesters en seuntjies, ens, ens kraak die beeld van Christene orals af. Dan praat ons nie eers van wat die lidmate ook doen nie!

Wat my persoonlik egter krap, is Christene wat maklik veroordelend kan wees. Vingers word gewys, mense word ge-“label”, ge-boks, reg om hel toe gepos te word, want ONS mening is al wat tel — nee ekskuus, MY mening is al wat tel!

Elke nou en dan gebeur daar egter iets wat weer hoop gee, baiemaal uit heel onverwagse oorde. So skryf Danie Mouton in die Oos-Kaapse enuus van 28 Mei 2010 oor hoe (wit) boere gehelp het na ‘n taxi ongeluk naby Elliot en die (swart) kinders se berafniskostes en hospitaalkostes betaal het.  “Die mense” sê mos boere is rassisties… wel, hoe verduidelik “die mense” dan dit wat hier gebeur het? Verder lees ek in die Time Magazine van hoe Pous Benedict XVI, wat as konserwatief afgemaak word deur “die mense”, in 2000 tydens ‘n seremonie wat Pous Johannes Paulus II gereël is, verskoning gemaak het vir die Inkwisisie – wel in versigtige woorde, maar nogtans, van die Rooms Katolieke Kerk, ‘n verskoning!: “even men of the church, in the name of faith and morals, have sometimes used methods not in keeping with the Gospel in the solemn duty of defending the truth.” Nou moet nog gewag en gesien word wat die Pous gaan sê oor die skandaal rondom kindermolestering in die Katolieke kerk…

Terwyl ek gedurende die laaste week nagedink het oor Joh 16 en 17, en die Gees van Waarheid wat ons van die Waarheid sal leer, het ek aan hierdie spotprente op hierdie blad gedink, en hoe min geloofwaardigheid Christene in die oë van die wêreld het. Die gemiddelde uitbeelding van ‘n Christen is of ‘n “Bible-puncher” met ‘n paar geraamtes in die kas, of ‘n “wimp” sonder ruggraat.

Dit lyk vir my ons as Christene sal baie meer dienend moet wees, soos die Elliot boere, baie meer moet staan vir wat reg is, voordat ons weer ons geloofwaardigheid sal terugkry.