Psalm 65 – God se leivoor is vol water

12 07 2020

Goeiemôre! Op ‘n naweek van stormagtigheid kom ons en luister na God se Woord.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Pragtige ou loflied uit New Zealand: Liedboek 563

Vandag se teks is Psalm 65

Hier is ‘n prent die kinders. Laat hulle met ‘n inkleurkryt merk ‘n lysie maak van waar die Psalm oor God praat. Laat hulle met ‘n ander kleur merk waar die Psalm oor mense praat. Skryf die mooiste stukkie iewers vir jouself neer.

Psalm 65 kinder

Die video op YouTube en op Kerkaanlyn.

Die audio vir as jy dit verkies is beskikbaar by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

Vandag bly ons by die ou liedere! Tel jou seëninge!

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

Die Teks:

Psalm 65

Direkte Vertaling

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied.

2 Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. 3 U wat gebede hoor — na U moet alle mense kom.

4 Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredinge. 5 Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom — hy mag woon in die voorhowe van u huis. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel.

6 Tereg antwoord U ons met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos — U, die vertroude tot aan al die einders van die aarde en die verste see, 7 die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, 8 wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe, die rumoer van volke. 9 Daarom het die bewoners van die einders ontsag vir u wondertekens. U laat gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan.

10 U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, ja, so berei U dit voor: 11 U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. 12 U kroon u goeie jaar; waar u spore lê, drup dit van vettigheid. 13 Die weivelde van die woestyn drup, juigend omgord die heuwels hulleself. 14 Die weiding is oortrek met kleinvee;die valleie is beklee met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing.

‘n Mooi Psalm met bekende woorde! Hoeveel van ons het nie al geluister na vers 5 as ‘n votum by die aanvang van ‘n diens nie: “Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,die goeie dinge in u heilige woning.” (:’83 vertaling) Dan gaan die Psalm voort vanaf vers 6 om te praat oor hoe God alles onder beheer het, selfs die see en natuur. Hoe Hy omsien na die land (:10), hoe die voorspoed “drup van vettigheid”!

Alles mooi, alles in plek, alles reg. Maar as my lewe nie so lyk nie? Dinsdag hierdie week het Annelise Burges in die Vrye Weekblad se daaglikse bulletin geskryf: “Ek wou oor iets anders as Covid-19 skryf hierdie week, want ek bespeur ‘n geweldige tamheid onder byna almal wat ek ken. Daar is vrees, (irritasie), eensaamheid ( irritasie), bekommernis (irritasie), woede (irritasie).” Wat maak ek met so ‘n “mooi” Psalm, ‘n Psalm wat van die goeie van die lewe skryf as ek bevrees is, of dalk selfs vol woede?

Walter Brueggemann skryf oor die Psalms dat ons ‘n herhaling van oriëntasie, disoriëntasie en heroriënteringkry. Ons sien ietsie daarvan hier. Net die vorige Psalm, 64:2 sê:”Luister, o God, na my stem as ek kla”. Psalm 65 begin met “Aan U kom ‘n lofsang toe, o God”. Psalm 65 as ‘n psalm van heroriëntering praat oor hoe die lewe lyk as dit gelewe word vanuit ‘n verwagting, ‘n verwagting op die Een wat alle gebede hoor (:3).

En so ‘n lewe begin, volgens vers 4, by God se genade, by die Een wat ons oortredinge bedek. Al skei ek myself van God af, al val ek in, om Brueggemann se woord te gebruik, disoriëntasie omdat ek ongehoorsaam en hardkoppig is, nog steeds is die genade daar. Die genade wat ons in God se teenwoordigheid veilig laat bly – in die woorde van die psalm, in God se voorhowe laat bly.

So ‘n lewe in die plek van genade maak dat ons God beter raaksien, wat help dat ons God ook raaksien as die Een wat die storms stilmaak, “wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe” (:8), maar ook “die rumoer van volke”. Die storms van die lewe, die “vrees, eensaamheid, bekommernis, woede” (Burgess) van leef in ‘n tyd van Covid-19, maar ook in ‘n tyd van politieke spanning, ‘n tyd waarin mense rassehaat aanjaag, ‘n tyd wat ons wonder oor politici se bona-fides, ‘n tyd van misdaad. Ook in hierdie tyd is ons nie geskei van God se genade nie, nie op moedverloor se vlakte nie.

God stil nie net die storms nie (ook die binne-in my!), maar gebruik hulle om te wys hoe Hy sorg, hoe Hy “na die land omsien”. En dit roep ons tot lof (:14).

Ons kry hierdie selfde tema as Paulus in Romeine 8 skryf oor wat Christus kom doen het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1) Te midde van chaos, te midde van moedeloosheid en wanhoop, het Hy ons “in Christus Jesus die lewe (ge)gee”, het Hy ons “vrygemaak.”

Binne disoriëntasie van sonde en wanhoop en moedeloosheid, kom heroriënteer Christus ons, kom gee Hy ons rede om te juig en jubel.

Want Hy weet hoe lyk so ‘n deurmekaar lewe, Hy weet wat dit is om die disoriëntasie van onregverdigheid deur te maak, selfs die finale disoriëntasie van die dood. Daarom, in my vrees, eensaamheid, bekommernis, woede, is Hy met ons, langs ons, hou Hy ons vas, dra Hy ons.

Ons kan uitroep van vreugde, ons kan sing, want Jesus draai ons in die regte rigting, Hy oriënteer ons elke oomblik, elke dag. God se leivoor is inderdaad vol water! (Ps 65:10)

 





Opgestaan?

27 05 2015

Die opstanding bly maar ‘n moeilike ding. Vandag, met ons wetenskaplike, modernistiese, “sien is glo” uitkyk op alles, bly dit iets wat moeilik is om te aanvaar. Maar dit is nie net vandag moeilik nie. Gaan lees maar al die evangelies se verhale van die opstanding. Ongeloof en twyfel staan voorop in al die beskrywings. Van Maria wat gedink het Jesus se liggaam is gesteel tot Thomas se reaksie, dit was maar ‘n baie moeilike ding om te aanvaar!

Daar is 5 verbasende dinge in Jesus se opstanding, dinge wat deur die vier evangelies genoem word.
•    onvoorbereid
Eerstens was hierdie klomp volgelinge, dieselfdes wat 3 jaar saam met Jesus beweeg het, wat so intiem met hom was dat Maria Magdalena die term “Rabboeni” gebruik om Hom aan te spreek – ‘n intieme term van respek, eer, vir ‘n Rabbi – TOTAAL onvoorbereid vir wat gebeur het. Hulle wou dit bloot nie glo nie! In Lukas 24:11 word daar gesê die dissipels het gedink dis “onsin”. “An idle tale” (ESV).

•    “kenners” waardeloos (Farisieërs en Essene)
Daar was 2 groepe in die Joodse godsdienstige samelewing wat die opstanding van die dooies verkondig het. Albei van hulle mis hierdie gebeure totaal. Die Essene sit daar ver in die woestyn om te wag op die Messias wat sou kom en om hulself rein te hou vir die koms. Die Farisieërs, wel hulle kyk in die verkeerde rigting. Hulle verkondig opstanding, maar sien dit nie in Jesus nie.

•    randfigure prominent
Wie sien dit? Dissipels soos Petrus en Johannes word genoem, maar die enigste getuie wat in al 4 evangelies genoem word is Maria Magdalena. Dieselfde een uit wie 7 duiwels uitgedryf is – wat dit was weet ons nie werklik nie, maar dit sou haar op die verste rand van daardie samelewing gehou het. En dan moet ons nie vergeet dat die dissipels almal Galileërs was nie. Hulle was nou nie werklik geag in die Joodse samelewing nie, Inderwaarheid was dit een van die probleme wat die Fariseërs met Jesus gehad het – hoe kon daar enigiets goeds uit so ‘n agtertangse plek soos Galilea kom!

•    stil, nie met trompetgeskal
En dan gebeur dit stil.  Terwyl Jesus in vol sig van almal, met aardbewing volgens van die evangelies, gesterf het, gebeur die opstanding stil. Die graf is bloot leeg. Matteus verwys na ‘n aardbewing en lig wat die soldate laat flou word het, maar dit blyk bloot die koms van ‘n engel te gewees het.  Die mees opspraakwekkende gebeure sedert die skepping, en dit gebeur in stilte…

•    vrees
Lukas 24:37: “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees.” Dit nadat die vroue vir hulle vertel het van die leë graf en wat die engel aan hulle gesê het. Dit nadat Petrus self die leë graf gesien het en hom verwonder het. Dit nadat die Emmaus gangers hulle vertel het dat hulle Jesus ontmoet het.

Miskien moet ons nie so hard op hulle wees nie. Hoe sal jy voel as iemand wat jy WEET dood was skielik langs jou staan?

☛ Wat beteken dit nou alles vir my wat 2000 jaar later bely “ek glo in die opstanding van die vlees?”

☛ Ek dink dis reg om te begin by ‘n bietjie verwondering. God is groot en almagtig, bewonderingwaardig. In ons kultuur is daar egter geen of weinig plek vir  verwondering nie. Ons is almal so blasé – ons het al als gesien, weet alles van als, en wat ek nie dadelik weet nie Google ek! Antwoorde op alles het ons!

Saam met die wete van God se liefde en genade moet daar dalk net so bietjie erkenning vir die misterie van God ook wees. Ons kan hoegenaamd nie alles verklaar rondom God se persoon, doel, motiewe ens nie. Sleg vir ‘n 21ste eeuse mens, maar verwonder jou maar so bietjie in dit wat jy nie weet nie.
☛ Erken dat God meer magtig is as wat ek of jy kan dink of droom! Maar ook meer genadig en liefdevol is as wat ek of jy kan dink of droom!
☛ Aanvaar wat Jesus gesê het: “Julle is getuies van hierdie dinge.” (Luk 24:48)

En wat beteken dit?
•    Dit beteken ons kan hoop sien waar ander hopeloosheid sien.
•    Dit beteken ons kan ander aanvaar wat afgeskryf word as tweederangs, “lost cases”.
•    Dit beteken ons kan stil, sonder trompetgeskal, God se liefde uitleef in klein, vir die wêreld onbenullige, dade en woorde.
•    Dit beteken my hoop is in ‘n opgestane Jesus!

Na aanleiding van Lukas 24:36-48. Met erkenning aan “Living the resurrection” van Eugene H. Peterson.





Is jy hoop?

6 12 2010

Rom 15:4-13

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Dit is die Aäronitiese seën uit Num 6:24-26 waarmee ek graag ‘n diens afsluit. Wat beteken dit egter, wat beteken dit as die seën die belofte van vrede gee, maar ons ervaar dit nie, ons sien dit nie in ons alledaagse lewe nie…  Misdaad, gesinsprobleme, ongelukke, geldprobleme… lyk nie of ons in ‘n besondere vredevolle tyd leef nie. Met Jesus se geboorte het die engele aangekondig: “ “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14) Vrede? Vrede? Waar is dit?

Om te verstaan wat hierdie aankondiginge beteken, moet ons miskien mooi gaan kyk na ons teks vanoggend: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13). Hier word vrede en vreugde gekoppel aan hoop, hoop wat vloei uit God as die BRON van hoop.

☛ Hoop is ‘n moeilike en maklike woord – Ons is geneig om hoop = te stel aan optimisme. Maar wat is optimisme eintlik, dit is maar net die geloof dat, ten spyte van hoe erg die probleme lyk, dinge ten goede sal uitwerk. In dieselfde omstandighede sal die pessimis weer net die komende ramp sien, alles is verlore!

Hoop het iets in gemeen met beide optimisme en pessimisme. Hoop sien in elke situasie ‘n oplossing, en soos die pessimis, sien dit die situasie in sy volle swang, sy volle potensiaal vir rampe en ellende.

Hoop is egter ook TOTAAL anders as beide optimisme en pessimisme. Optimisme en pessimisme veroorsaak dat ons ‘n situasie maar net aanvaar soos dit kom, “what will be will be”, ons kan tog niks verander aan die uitkoms nie, So, fatalisties, aanvaar ons maar wat kom.

Hoop aanvaar nie maar net wat kom nie, hoop vereis dat ons die wêreld sien soos dit is, eerlik, met al sy probleme, sonder ‘n lagie vernis bo-oor, maar weet dit kan beter.

Ons kan dit doen, want die bron van ons hoop is nie maar net valse optimisme nie, die bron van ons hoop is God self, wat dit in ons werk deur die Heilige Gees.

Daarom kan ons hoop nie los verstaan word van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit kan nie los verstaan word van God se liefde wat vir ons bewys en gegee is deur Jesus se geboorte, sterwe en opstanding nie. God se liefde wat verder in ons leef deur Sy Heilige Gees.

☛ Hoe hoop ek op vrede? Hoe leef ek uit hoop? Hoe maak ek die aankondiging van die engele waar?

Slegs deur dit waar te maak vir ander. Want hoop roep ons op tot aksie, tot die uitleef van ons hoop.  Romeine 15 roep ons op om eensgesind onder mekaar te wees, om mekaar te aanvaar, om Sy hoop uit te dra aan alle nasies, om God te loof en prys. Hoop gaan nie oor lekker voel, om knus in my nessie te sit en te “hoop” die storms van die lewe sal nie die boom waarin ek sit ontwortel nie. Hoop roep ons, om ter wille van die eer van God, die storms tromp-op te loop, om ander te aanvaar soos God ons aanvaar – al hou ons soms nie van hulle nie.

Hierdie woord wat in Afrikaans met “aanvaar” vertaal word, het ‘n diep betekenis in die Grieks, eintlik heelwat dieper as wat ons die gewoonlik in Afrikaans verstaan. Dit verwys na die ander persoon aanvaar, neem as jou metgesel, om die ander in jou huis in te neem, om toegang tot jou hart te verleen.

In kort beteken dit nie om HOOP vir jouself te soek nie, maar om God se hoop vir ander te wees! God se vrede breek daar deur waar ek ander aanvaar. Die versoeking is daar om hierdie hoop op ‘n nou, op myself gerigte manier te verstaan – EK wil tog iets beter vir my en my gesin hê! Dit is egter nie waarvan Paulus praat nie. Die hoop wat die Heilige Gees in my werk is nie net vir myself nie, dit is daar om gedeel te word!

In hierdie Kerstyd word ons geroep om te aanvaar soos Christus aanvaar het, om hoop te bring soos Hy hoop gebring het, om vrede te wees vir ander soos Hy ons vrede is. Martin Luther het dit ‘n “gelukkige ruil” genoem. Christus neem alles op Hom wat ons van God skei, en gee vir ons die lewe, en dit in oorvloed, in Christus. So word ons voortdurend by God verwelkom, en so moet ons ander verwelkom en aanvaar.

Ons hoop moet al sterker word deur die krag van die Heilige Gees!    God se vrede moet al sigbaarder word deur ons lewens!

Mense moet hoop sien, hoor, voel en ervaar as ons in hulle teenwoordigheid is of as hulle aan ons dink.

Is jy ander mense se hoop?