Matteus 10:40-42 God is met jou teenwoordig.

28 06 2020

Goeiemôre! Die vierde Sondag van Koninkrykstyd! Baie seën en ‘n goeie familietyd julle toegewens.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Hier is ‘n Onse Vader gebed idee vir die kinders en kleinkinders.

Hier is ‘n lied wat julle voor die tyd kan saamsing!God is hier teenwoordig.(Die video sê Retief Burger, maar dis eintlik Liza Liversage wat sing)

Vandag se teks is Matteus 10:40-42

Die video op YouTube

Vir Audio alleen as jou data min is – by Anchor, Spotify of Apple Podcasts.

Video op ons kerk se direkte lyn na die oordenking

Onse Vaderdeur Kevin Leo as ‘n lied om na die tyd na te luister.

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

TEKS: Matteus 10:40-42

Direkte Vertaling: “40 “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. 41 Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die beloning van ‘n profeet kry, en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die beloning van ‘n regverdige kry. 42 En wie aan een van hierdie geringes ‘n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy ‘n dissipel is — Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis nie sy beloning verbeur nie.”

Wat hoor jy as jy na hierdie woorde luister? Kan ek probeer raai? Die meeste van ons hoor twee goed dadelik. Die eerste is die fokus op die beloning, en tweedens hoor ons hierdie woorde as ‘n opdrag. ONS moet ander ontvang.

Is ek dalk reg? Hoor jy dit as ‘n opdrag? EK moet ander ontvang, verwelkom, dan is daar ‘n beloning. Ek moet goed wees vir ander, ek moet, al is dit net met ‘n beker koue water, vir ander sorg.

Wat daarvan as dit dalk nie is wat daar staan nie? Ons lees so maklik vers 40 se klem mis: “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het”. Jesus plaas Sy hoorders hier nie in die posisie van hulle wat gasvryheid aanbied nie, maar as diegene wat gasvryheid ontvang! Mense wat ontvang word, wat verwelkom word, aanvaar word, welkome gaste is.

Nou klink die teks sommer anders! Veral as ons onthou dat gasvryheid in die antieke wêreld ‘n baie belangrike saak was. Jy het nie net die persoon wat voor jou staan verwelkom nie, maar die gemeenskap en die familie wat die persoon verteenwoordig ook. In terme van hierdie teks kan jy sê dat as jy ‘n volgeling van Jesus verwelkom, verwelkom jy Jesus self asook die Een wat Hom gestuur het, die Vader.

So, veel eerder as ‘n bevel om ander te verwelkom, is hierdie teks ‘n belofte. As julle – Jesus se volgelinge – verwelkom word, bring julle Jesus en die Vader se teenwoordigheid in daardie huis in.

Skielik raak die vraag nie of EK ander verwelkom nie, maar of my teenwoordigheid iets van God se teenwoordigheid vir ander bring. Dit is ‘n BAIE MOEILIKER saak as om net ander te verwelkom! Onthou die konteks van hierdie hoofstuk. Vanaf vers 5 lê Jesus al klem op die feit dat die dissipels gestuur word, “soos skape onder wolwe” in (:16), en as gestuurdes bring hierdie dissipels iets van God se teenwoordigheid met hulle saam.

Wat beteken dit vir my elke dag se lewe? Wat beteken dit vir my omgang met ander? Wat sê dit vir ons oor kerk van Christus wees?

– Ek dink dit vertel ons dat ons werk nie binne die vier mure van die kerkgebou is nie. Ons werk, ons christen-wees, ons getuie-wees, is buite by die werk, in die dorp, tussen mense. En dis nie altyd lekker of maklik nie. Ons hou van in beheer wees, maar nou is ons aan ander se ontvangs uitgelewer. En daardie ontvangs is nie altyd vriendelik nie! In hierdie selfde hoofstuk waarsku Jesus dat sommige ons nie gaan ontvang nie, dat sommige vyandig gaan wees. Tog stuur Hy ons nog steeds!

Hoe sal die wêreld rondom my lyk as ek elke interaksie met ander sien as die plek waar my teenwoordigheid iets van God se teenwoordigheid wys?





Die Pastorale of Mentorskap briewe van Paulus

24 06 2020

Bybelstudie dag 😁. Hierdie week lees ons Paulus se sogenaamde pastorale briewe, 1 en 2 Timoteus en Titus. Hiermee kom ons ook aan die einde van ons kyk na Paulus se briewe.

Hierdie drie briewe het gesamentlik 13 hoofstukke, so jy kan rustig 2 hoofstukke per dag lees en dit in ‘n week deurlees.

Lees elke keer die teksgedeelte rustig deur nadat jy gebid het.

Dan vra jy jouself af:
• Wat tref jou? Watter woord, gedagte of teksgedeelte praat met jou? Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat die gedeelte jou voel? Probeer ‘n gevoelswoord koppel aan die gedagtes wat by jou opkom. Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat hierdie gedeelte jou voel? Wat sal jy vir God wil sê oor dit wat jy verstaan?
• Praat nou in gebed met Hom daaroor.

So bietjie agtergrond om jou te help nadink en verstaan waaroor Paulus praat. Lees dit, en soos jy die pastorale briewe deurlees hierdie week, kyk of jy hierdie temas kan raaksien.

Alhoewel hierdie briewe tradisioneel bekend staan as die “Pastorale briewe”, is ‘n meer korrekte term dalk eerder die “Mentorskap briewe”. Paulus mentor hier persone wat sy werk voorsit. Timoteus en Titus is junior kollegas van Paulus, maar ons sien ‘n warmte in die briewe, iets van hoe hy vir hulle omgegee het.

Dit is moeilik om die briewe histories te plaas, maar die mees waarskynlike prentjie lyk asof Paulus na ‘n eerste gevangenisskap in Rome weer Oos gereis het, en 1 Timoteus en die Titus brief langs die pad geskryf het. 2 Timoteus sal dan tydens ‘n tweede gevangenisskap in Rome geskryf gewees het. Soos gesê, dis moeilik om hierdie briewe se ontstaansgeskiedenis honderd persent te plaas, maar dit lyk na die mees waarskynlike scenario.

Daar is ook ‘n teorie dat ten minste een van die briewe (2 Tim?) na Paulus se dood saamgestel is deur een van Paulus se medewerkers, dalk Lukas, uit geskrifte wat Paulus agtergelaat het. Hierdie is van die briewe wat die moeilikste is om te plaas, maar die boodskap daaruit is sterk gedrywe deur die evangelie van Christus soos wat Paulus dit verkondig het.

Hoe dit ook al sy, dit lyk of die briewe rondom die middel van die jare 60 geskryf is.

Vroeg in 1 Timoteus, hoofstuk 2:8-15, is daar ‘n gedeelte wat mense al baie jare mee sukkel. Kom ons som dit so op. Paulus is nie besig om vroue “op hulle plek” te sit nie. Hy is besig om beide mans en vroue te help om die normale stereotipes te oorkom. Mans moet ophou met macho en kragdadige optrede, vrouens moet ophou om net op uiterlike dinge soos mooi juwele en ander versierings te fokus. Vroue moet tyd gegee word om te studeer – ‘n geweldige teen-kulturele ding vir daardie tyd! Die meeste vroue is nie eers kans gegun om te leer lees nie.

Hierdie perikoop het die kerk deur die jare laat sukkel omdat ons nie die teen-kulturele eienskappe raakgesien het nie, of dit deur die bril van ‘n eie patriargale samelewing gelees het. Wat die saak nog moeilike maak is dat hierdie perikoop ‘n paar baie raar en moeilike Griekse woorde bevat wat die verstaan nog moeiliker maak. Dit wil egter blyk dat Paulus sê dat vroue die geleentheid gegee moet word om te studeer, nie om oor te neem soos in die Artmenis kultus (waaroor ons ‘n vorige keer meer stilgestaan het) nie, maar sodat mans en vrouens almal die gawes van studeer, om ander te leer en leierskap wat God hulle gee tot volheid kan bring.

Baie dieselfde tipe prentjie kom na vore in Titus 2, naamlik dat die kerk van Christus ‘n plek is waar mense kan leer en geleer word om sodoende tot die beste van hulle potensiaal te kan ontwikkel.

Kom ons kyk na die briewe se groter prentjie:
William Mounce skryf: “At the heart of the Pastoral Epistles is the gospel of Jesus Christ. Paulus is baie ernstig daaroor dat geloof nie net gepraat moet word nie, maar dat dit jou diepste binneste so verander dat jou geloof ‘n lewende realiteit is.

Paulus skryf aan klein en kwesbare kerkies met jong leiers en hy doen sy bes om hulle so te bemagtig dat hulle kan sterk staan in die geloof.

Ten spyte van hierdie aanmoedigings is die briewe nie lyste van moets en moenies nie. Dit praat van geloof wat gelewe word.

En dan plaas die briewe die verantwoordelikheid wat ouer en volwasse gelowiges het voorop. Ons is almal geroep om jongeres te mentor, nie deur vir hulle reëls te leer nie, maar deur hulle te wys hoe geloof gelewe word en om hulle op hierdie pad by te staan.

Geniet die Pastorale/Mentorskap briewe! Volgende keer begin ons na die vier Evangelies te kyk.

Met erkenning aan: “The New Testament in Its World” N. T. Wright and Michael F. Bird Zondervan Academic , 2019





Gen 21:8-21 – Hagar en Ismael, hoekom is hierdie verhaal in die Bybel?

21 06 2020

Goeiemôre! Die derde Sondag van Koninkrykstyd en ook Vadersdag! Baie seën en ‘n goeie familietyd julle toegewens. Mag julle ook in hierdie vreemde tyd die vreugde van goeie herinneringe en dalk, as jy gelukkig is, die fisiese nabyheid van jou vader geniet. Onthou dat die belofte van die Woord is dat ons Hemelse Vader altyd met ons is.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Hier is ‘n vadersdag idee vir die kinders en kleinkinders

Hier is ‘n lied wat julle voor die tyd kan saamsing!Meer as Rykdom

Vandag se teks is Gen 21:8-21

Die video op YouTube

Vir Audio alleen as jou data min is, op Anchor of Spotify

En dan die video op ons gemeente se direkte lyn.

Bly by my Heer” as ‘n lied om na die tyd na te luister. Die koor is herskryf om te pas in die tyd waarin ons leef. Luister gerus!

As jy verkies om die teks te kan lees, hier volg dit. Mag jy ‘n goeie dag hê!

Gen 21:8-21 (Vadersdag)

Wat kan ‘n lag aan jou doen? Dalk was daar so iets in Ismael se lag, of dalk is Sara net herinner aan ‘n jarelange doring in haar vlees. Dink jou so bietjie in. Daar is hierdie belofte van God van ‘n nageslag, maar jy raak al oud en daar is geen kinders nie. Om die waarheid te sê, toe die drie engele julle besoek het, het jy gelag oor die belofte! Uit desperaatheid, en volgens die kultuurgebruike van jou tyd, bied jy jou slavin vir jou man aan. Dis vernedering nommer 1. Dan, wanneer die slavin swanger word, minag sy jou (Gen 16:4) – vernedering no 2. Nou, wanneer sy die kind van Abraham by die slavin, Ismael, sien lag, sien sy dit as ‘n derde vernedering. Of, dalk is sy net herinner aan die jarelange doring in die vlees.

Prakties het hierdie wegjaag van Hagar en haar seun nogal ‘n effek. Ismael sou, omdat Abraham hom erken het as sy seun, saam met Isak ge-erf het. Deur Hagar te laat gaan en haar vry te stel van slaaf wees, erf Ismael nou nie meer saam met Isak nie.

‘n Lekker deurmekaar “soapie” tipe van storie! Laag op laag van intrige. En arme Abraham weet nie wat om te doen nie (soos soveel anders mans soms nie hulle vrouens verstaan nie!) Hy voel sleg, Ismael is immers sy seun! En dan kom God met die vreemde woorde (:12): Stuur hulle weg! “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie.” Harteloos! En dit van ‘n God van liefde! Wat is hier aan die gang?

Die teks spel dit nie vir ons uit nie. Tog, as ons hoofstuk 16 lees en weer verse 15-21 van hoofstuk 21 is dit duidelik dat God nie probeer om van hulle ontslae te raak nie. God hoor Ismael en Hager se gehuil en sorg vir hulle. Ook die weggejaagde een, die een wat nie welkom is nie word deur God versorg.

Maar hoekom is dit nodig om die verhaal hier te vertel? En hoekom vind Paulus dit jare later nodig om in Galasiërs ook na hierdie verhaal te verwys?

Die hootema van die aartsvaderverhale in Genesis is om te verduidelik waar Israel as volk vandaan kom, maar ons maak ‘n fout as ons dink dat Israel alleen deur God raakgesien en versorg word. Regdeur is daar die verhale, soos die van Hagar en Ismael, van mense wat nie deel is van die Israel-verhaal nie, maar vir wie God omgee en wie Hy versorg. Dink sommer aan Lot, aan Esau, aan die baie verwysings om vir die vreemdeling, weduwee en wese te sorg.

God se liefde en sorg is nie net vir die wat IN is, vir die wat volk, wat Israel is nie. God is nie net vir die gelowiges en “kerkmense” lief nie. Ons as gelowiges het nie alleen-reg op God se liefde nie.

Soos Johannes ook jare later in die bekende Joh 3:16 skryf “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het”. Die hele wêreld, om ook ons uit te nooi om saam met Hom Sy liefde uit te leef teenoor hulle wat ons beskou as buite-mense, buite-egtelike kinders soos Ismael. Jesus is daar vir ons almal. Hy stuur ons met SY liefde en sorg na almal.

Hierdie afgelope weke is ons gekonfronteer met moorde op vroue, met rassegeweld in die VSA, met moorde en aanvalle op mense op plase hier in SA, en dis maklik, te maklik, om “HULLE” te blameer – Hulle haat ons, hulle tree verkeerd op, hulle rand vroue aan. In plaas van deel van die vingerwysbrigade te wees word ek en jy geroep om almal wat ly, almal wat eenkant toe gestoot is, almal wat huil, se stemme te hoor en iets te wys van God se oop arms en harte vir die noodlydendes.

Soos Jesus dit vir ons mooi uitgespel het in Matteus 5:4-5, 7, 9 (Die Boodskap)
4 “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog.
5 “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie. God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.

7 “Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee. God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.

9 “Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.





Bybelstudie – Romeine

17 06 2020

Bybelstudie dag 😁. Hierdie week lees ons Paulus se brief aan die Romeine..

Romeine het 16 hoofstukke, so jy sal tussen 2 en 3 hoofstukke ‘n dag moet lees om die hele brief in ‘n week deur te lees.

Lees elke keer die teksgedeelte rustig deur nadat jy gebid het.

Dan vra jy jouself af:
• Wat tref jou? Watter woord, gedagte of teksgedeelte praat met jou? Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat die gedeelte jou voel? Probeer ‘n gevoelswoord koppel aan die gedagtes wat by jou opkom. Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat hierdie gedeelte jou voel? Wat sal jy vir God wil sê oor dit wat jy verstaan?
• Praat nou in gebed met Hom daaroor.

So bietjie agtergrond om jou te help nadink en verstaan waaroor Paulus praat. Lees dit, en soos jy die Romeine brief deurlees hierdie week, kyk of jy hierdie temas kan raaksien.

Die Romeine brief was nog altyd baie belangrik in die verstaan van Jesus. Vanaf Augustinus (geb 354nC) tot Martin Luther (geb 1483) tot John Wesley (geb 1703, stigter van Metodiste) tot Karl Barth (geb 1886, geweldige invloedryke Switserse teoloog) tot vandag lei en verlig en gee die Romeine brief nog steeds nuwe insigte.

Die brief se fondament is in Israel se geskrifte, veral in die boek Jesaja. Dit is een van die briewe van Paulus wat die meeste van ‘n uitgewerkte struktuur wys. Romeine gee egter vir ons ‘n pragtige beeld van hoe die Evangelie van Jesus Christus lyk wanneer dit grond vind en groei in multi-etniese kerke in ‘n heidense stad. As sulks het dit vandag nog baie vir ons te sê oor die uitleef van die evangelie in ons tyd. In Paulus se denke beteken regverdiging deur die geloof gemeenskap in die geloof, om gedoop te wees en die Heilige Gees te ontvang beteken om anders, moreel anders, te leef, en die erkenning van Jesus as Heer moet dit moontlik maak vir gelowiges van baie verskillende agtergronde om saam te leef as familie ten spyte van verskille oor randsake.

Die kerk in Rome was nie een groot kerk nie. Dit het bestaan uit ‘n klomp klein huiskerke, kerkies wat soms uiteenlopende standpunte gehandhaaf het. Paulus wou graag die stad en die gelowiges daar gebruik as ‘n basis van waaruit hy sy werk kon uitbrei na Spanje. Van die kerkies was egter wantrouerig oor Paulus en sy motiewe, so hy moet homself bekendstel en verduidelik wat dit is, eintlike WIE dit is wat hy verkondig.

Daar was vir baie lank ‘n klein teenwoordigheid van Jode in Rome, maar nadat keiser Pompey Palestina in 63vC ingeneem het, is baie Jode Rome toe gebring. Eers as slawe, maar baie is later vrygestel en het Romeinse burgers geword. Onder keisers Julius Caesar en Augustus het dit goed gegaan met die Jode in Rome en in die Ryk. Hulle het spesiale voorregte gehad, soos dat hulle vrygestel is van gedwonge militêre diens en keiseraanbidding. Keisers Tiberius en Caligula was egter vyandig teenoor die Jode. In die tyd van Claudius (keiser vanaf 41-54nC) is die Jode uit Rome verban omdat daar ‘n twis was oor ‘n sekere “Chrestus”. Blykbaar was daar ‘n taamlike heftige verskil tussen die Christene en Jode in die sinagoges (waar die Christene aanvanklik aanbid het) oor Jesus Christus.

Teen die tyd wat Paulus die Romeine brief geskryf het vanaf naby Korinte omstreeks 56/57nC, het die Jode, asook Joodse gelowiges, reeds weer teruggekeer Rome toe. Daar was egter nog steeds spanning tussen gelowiges uit die Jodendom en gelowiges uit die heidendom. In die tyd wat Jode verban was, het die gelowiges uit die heidendom die leierskap oorgeneem van die huiskerke in die stad. Die kerke het ‘n baie minder Joodse karakter getoon as voordat die Jode verban is.

Net so terloops, daar is nie klinkklare bewyse vir die Rooms Katolieke tradisie dat Petrus die kerk in Rome gestig het nie. Dit lyk eerder asof Joodse pelgrims wat Jerusalem toe gegaan het vir groot feeste (Hand 2:10-11) daar met gelowiges in aanraking gekom het. Handelaars soos Priscilla en Aquila (Rom 16:3) het ook ‘n rol gespeel.

Kom ons kyk na die briewe se groter prentjie:
Anders as Paulus se ander briewe is daar ‘n duidelike struktuur in die Romeine brief. Daar is vier hoof dele: Hoofstukke 1-4, 5-8, 9-11 en 12-16.

‘n Sterk kenmerk van Romeine is die grootheid van God en die regverdiging wat Hy bewerk. Beverly Gaventa in “When in Romans” beskryf dit pragtig: “What is so disruptive about Paul’s understanding of salvation is his challenge to us to hear the gospel in its vastness. The vastness of what God has accomplished is far larger than the word “salvation” usually suggests. Of course, God’s action in the gospel speaks to the lives of individuals, to what we often refer to as the “spiritual” life. And, of course, God’s action reaches beyond the “spiritual” to include the redemption of our institutions, the reconciliation of ethnic groups, and the confrontation of empires of all sorts. If we think that God’s power is restricted to the sphere of the “spiritual,” then we have a fairly small notion of God. What we also need to hear is Paul’s understanding that the gospel encompasses the cosmos, the whole of creation—all the way out and all the way down in human life.”

Hierdie “regverdiging” is al baie gedebatteer en mee gesukkel om reg te vertaal, hoe lyk dit en hoe werk dit? Om “vrygespreek” te wees (Rom 5:9), die “regverdiging van God” (dikaiosynē theou) is nie dit wat ons as geskenk van God ontvang nie (Rom. 4.11; 5.17; Fil. 3.9). Dit is die gevolg van God se getroue reddende aksie in Christus. Soos in Jesaja en in die Psalms verwys die term na God se eie “regverdigheid”. Ons is “regverdig”, “vrygespreek”, omdat God regverdig is. Dit is ‘n uitvloeisel van wie Hy in Sy wese is.

God se getrouheid word beantwoord deur menslike geloof (die Grieks vir “geloof” en “getrouheid” is dieselfde).

Opsommend, die Romeine brief is evangelie-gesentreerd. Paulus doen sy beste om te verseker dat die gelowiges in Rome se geloof, dade, aanbidding, oortuigings en verhoudinge gevorm word deur die goeie nuus, die evangelie van Jesus Christus.

Tweedens dring Paulus daarop aan dat die etnies gemengde kerke van Rome mekaar moet aanvaar en verwelkom. God se oorvloedige genade is bedoel om ander na mekaar en Hom toe te trek.

Geniet die Romeine brief!

Met erkenning aan: “The New Testament in Its World” N. T. Wright and Michael F. Bird Zondervan Academic , 2019





Matteus 9:35-10:8 Jesus gee om!

14 06 2020

Goeiemôre! Tweede Sondag van Koninkrykstyd.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Hier is ‘n inkleurprent vir die kinders en kleinkinders om hulle te herinner aan die liefde van Jesus.

Hier is ‘n lied wat julle voor die tyd kan saamsing!

Vandag se teks is Matteus 9:35-10:8
Die video op YouTube

Vir Audio alleen as jou data min is: Op Anchor en Spotify

Video op ons kerk se direkte lyn na die oordenking

En ‘n pragtige lied om na die tyd na te luister, ek is baie seker julle ken dit! – doen dit as jou aanbidding, geloofsbelydenis na die hoor van die Woord.

En as jy verkies om net te lees, hier is die teks van die orodenking:

Matteus 9:35-10:8

Ons kyk vanoggend na die begin van die tweede lang toespraak van Jesus in die Matteus Evangelie (die eerste een is die Bergrede in Matt 4). En hier reg aan die begin kry ons die diepste beweegrede oor hoekom Jesus doen wat Hy doen: (:36) “Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry, omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder ‘n herder.” Matteus gebruik daai mooi Griekse woord – splagnizomai – waaroor ons al in die verlede gepraat het. Jesus se hart breek, Sy hart en ingewande kom in beroering oor hulle. Jesus sien nie neer op die skare se ellende nie, Hy het nie ‘n neerbuigende bejammerende houding nie, Hy beleef empatie met die mense, Hy voel saam met hulle.

Trouens, Jesus voel nie net saam met hulle nie, Hy sien geweldige potensiaal in die skare, want Hy draai na sy dissipels en sê (:37-38): “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid daarom die Here van die oes dat Hy arbeiders uitstuur om sy oes in te samel.

Die bekende prediker uit die VSA, Thomas Long, skryf: “Where others might gaze on such a group and see only desperate, even overwhelming, neediness, Jesus sees in them great potential.”

Nou wat sê hierdie teks vir ons wat leef in ‘n tyd van moorde en rassisme en korrupsie en Covid-19? Het dit enige betekenis is so ‘n tyd?

Ek dink die Here praat duidelik met ons elkeen individueel, maar ook gesamentlik as gemeente.

Een: Jesus voeg ons as sy gemeente saam. Ons is ‘n uiteenlopende groep, net soos Jesus se eerste dissipelkring. Ons kom uit verskillende agtergronde. Sommige is tollenaars en ander Selote – mense wat mekaar in die wêreld daarbuite sou takel. Aangesien ons deur ons roeping en verlossing aan Jesus gebind is, leef ons ook versoen met mekaar en gebruik ons ons gawes tot opbou en voordeel van mekaar en die wêreld.

Tweedens is ons ‘n gestuurde gemeenskap. Jesus het ons geroep en opgebou om ons te stuur. Ons bly die hele tyd oor ons geloof en ons roeping in terme van ons gestuurdheid dink. Jesus se genade het ons bereik, sodat ons deur deelname aan Jesus se sending die wêreld kan bereik.

Derdens is ons taak om deur woorde en dade te getuig. Ons moet vertel van die vrede van die Here. Ons moet ook genesing en herstel bring. Ons is geroep om siekes gesond te maak, dooies op te wek, melaatses te reinig en duiwels uit te dryf.

– Ons moet wyd dink oor elkeen van hierdie take van herstel. Siekes word gesond gemaak waar ons mense versorg, mense bemoedig, mense in gemeenskap insluit en vriendskap betoon. Daar is baie doodsheid wat ons deur liefde en genade kan herstel, selfs al wek ons nie – soos Jesus – letterlik dooies op nie. Dink egter hoeveel mense sou in hierdie Covid-19 tyd nie gesterf het as dit nie vir die kerk van die Here was wat kospakkies uitgedeel het nie. Dit is hoe mens lewe en genesing bring en die dood beveg.

– Wat duiwels betref, moet ons dink aan sistemiese boosheid soos geweld, materialisme, haat, rassisme en die skep van verdeeldheid, soms deur iets so “onskuldig” soos ‘n Facebook plasing.

Jesus se opdragte is vandag nog net so aktueel soos toe Hy dit die eerste keer uitgespreek het.

Dit is geen wonder nie, want Jesus self is tot vandag toe hiermee besig in die wêreld. Net soos aan sy destydse dissipels, nooi Hy ons vandag ook nog om deel te word van sy sending na die wêreld. Eintlik is daar maar net één sending, en ons is bevoorreg om ingenooi te word.

Jesus se sending word gemotiveer deur sy diepe meelewing met mense in nood. Mag die Heilige Gees ook hierdie empatie by ons wek.

Met erkenning aan https://preekriglyne.co.za/matteus-935-108-9-23-14-junie/