Hierdie is die tweede in die “nuwe” manier van die inligting oor die boodskappe uitstuur. Anders as in die verlede word die boodskap nie vooraf opgeneem nie, maar op die Sondagoggend op die gemeente se Facebook Groep “Live” uitgesaai. Hierdie is dan die boodskap alleen wat beskikbaar is via ‘n paar skakels.
Die Video weergawe van die preek is op ons gemeente se YouTube kanaal. Die nuutste oordenking is altyd heel eerste, maar almal sedert die begin van grendeltyd is hier beskikbaar.
Die audio weergawe van die oordenking is by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.
Die teks: Die tekste wat gelees word is uit Johannes 1, 3 en 18
BOODSKAP VIR NGK STUTTERHEIM OP 11 OKTOBER 2020 – Prof Jurgens Hendriks
INLEIDING
Toe ek begin voorberei vir die preek, besluit ek om eers “Stutterheim, Eastern Cape” te google. Die eerste items wat verskyn is ʼn klomp sites wat Stutterheim bemark. In een van die berigte word die volgende van Stutterheim gesê:
Originally established as a missionary station in 1837, Stutterheim today has achieved acclaim for its community building and development, and the Stutterheim Miracle – the successful reconciliation process of a small town – is internationally regarded. (12 Apr 2019)
Ek dink toe die woorde Stutterheim as a Mission Station is regtig wonderlik, dis nou iets waarna al die kerke en Christene in Stutterheim kan strewe! Ek besluit ek sal graag meer van die “Stutterheim Miracle” wil weet. Ek het nog nooit daarvan gehoor as ek op Stutterheim was of met Stutterheim mense gesels nie. As jy die Stutterheimers oor hulle dorp vra, hoor jy:
“NAG; DUISERNIS; TIPIES OOS-KAAP; KORRUP.”
Toe google ek twee woorde: “Stutterheim – Korrupsie.”
Goeie Vader, watter verhaal ontvou toe op die rekenaar! Dis net duisternis, nag! Dit lyk of die Stutterheim miracle verwys na hoe korrupsie hier die oorhand gekry het. Ek het die laaste drie verslae van die Amathlathi Munisipaliteit gekyk en vergelyk met die Hawks en polisieverslae oor R92 miljoen wat verduister is… dit lees soos die “werke van die duisternis.” Dit klop ook met verhale van ons kinders en ander oor die tipe diens en algemene dienslewering wat die publiek in Stutterheim en die wyer Amathlathi area ontvang. Absoluut nag, duisternis!
As mens dit alles gelees het, kan jy net tot een gevolgtrekking kom:
STUTTERHEIM MOET WEER ’N MISSION STATION WORD
ʼn Tweede vraag kom toe by my op:
Sal daar mense wees wat bereid is om sendelinge op Stutterheim te wees?
Die kerk in Stutterheim moet twee vrae beantwoord:
1 Wie is jy?… dit is die vraag na jou identiteit.
2 Wat doen jy? … dit is die vraag na jou aktiwiteit.
Die boodskap wat ek op 18 Augustus 2019 hier gebring het, het gegaan oor die eerste vraag: “Wie is jy?” Oor die identiteit van die mens. Oor hoe God ons geskape het. Die teksgedeeltes was uit Genesis.
God het die mens na sy beeld en gelykenis geskape om as geloofsgemeenskap na die hele skepping om te sien. Adam het egter nie daarvoor kans gesien nie, hy wou self soos God wees. Hy wou net na sy eie tuintjie kyk. En toe loop alles verkeerd. Nag, duisternis.
Vanoggend se preek gaan oor die tweede vraag:
2 Wat doen jy?
Vandag kyk ons na die lewe van Jesus Christus. Paulus noem Christus in 1 Kor 15:45 die tweede Adam. In Christus sien ons dus wie God wil hê ons moes wees, ons identiteit, maar veral: in Christus se menswording sien ons wat God wil hê ons moet doen!
Dit konfronteer mens dus met die vraag: Is jy bereid om ʼn sendeling op Stutterheim te wees?
Ons lees uit die evangelie volgens Johannes.
SKRIFLESING UIT DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES
Die Woord het mens geword Johannes 1
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2 Hy was reeds in die begin by God. 3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10 Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.
JOHANNES 3:1-21
1 Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. 2 Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” 3 Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (U ken die verhaal, so ons gaan na vers 14)
14 Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15 sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. 16 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17 God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18 Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19 En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20 Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21 Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
JOHANNES 18:33-40
33 Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?” 34 Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” 35 “Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?” 36 “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” 37 “Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus. “Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” 38 “Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39 Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” 40 Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ‘n rower.
1 WIE GOD IS EN WAT GOD DOEN - JOHANNES 1
Johannes begin deur as’t ware die skeppingsverhaal vir Grieke te vertaal. Christus is die Adam wat skep – wat geskep het en herskep. Die beeld en gelykenis van God, die Drie-eenheid is agter die teks wat vertel wat God doen: Hy skep, Hy bring lig.
Hierdie Lig het in Christus na die duisternis gevulde aarde gekom en die donker wêreld van die Romeinse Ryk kon nie die Lig verduister nie. Die liefde van God was onkeerbaar en bly onkeerbaar… sy liefde vir die wêreld. Vandag nog.
As mens in Stutterheim woon kan jy vra: kan die lig ook hier kom skyn en die duisternis en korrupsie verdryf?
Die verhaal van Nikodemus se nagtelike besoek aan Jesus help om die vraag te antwoord.
2 WAT GOD IN CHRISTUS DOEN VERDUIDELIK AAN NIKODEMUS
Nikodemus vra of Jesus die koning van die Jode is. Dis ʼn eerste-Adam vraag want Nikodemus soek soos alle Jode ʼn Joodse tuintjie (soos Afrikaners met apartheid ʼn Afrikaanse tuintjie gesoek het). Nee, sê Jesus, dit gaan om die Koninkryk van God.
M.a.w. Jesus antwoord Nikodemus se vraag “Wat doen jy” met: “Ek bring die Koninkryk van God.”
Kom sê dit anders. Jesus antwoord: “Ek is ʼn sendeling vir die Koninkryk van God.”
In goeie Afrikaans sien Jesus dat Nikodemus nie ʼn clue het waarom dit gaan nie. Hy sê en verduidelik toe vir Nikodemus dat hy eers wedergebore moet word.
Wedergeboorte is as jou identiteit weg skuif van Adam se tuintjie / jou eie tuintjie en jy besef jy is ʼn sendeling om die groot tuin van God te bearbei, om daar lig te bring. Dit is waarvoor God jou geskape het. Dit is wat jy veronderstel is om te doen op Stutterheim: ʼn sendeling wat in hierdie mooi paradys-wêreld lig bring, God se waarheid bring.
Hoekom? Omdat dit vrot is van die duisternis. Wie is hier wat sal ontken dat dit nag is in Stutterheim se stadsraad, in die dorp, in die regering, in die Oos-Kaap, in SA?
Wie is jy, Nikodemus?
Wat doen jy, Nikodemus?
As jy in Christus glo en hom volg is jy ʼn sendeling wat lig moet bring in duisternis. Hierdie eenvoudige besef vra ʼn wedergeboorte.
Dit vra dat jy in die Woord wat die hemel en aarde geskep het, sal glo en Hom sal volg … in Stutterheim sendeling word want hier het baie mense die duisternis liewer as die lig.
EN: Jesus sê dit baie duidelik in die oorbekende Joh 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het ….” t.w.v. die lewe, die ewige lewe, dit wil sê: alle lewe. “Die wêreld” sluit Stutterheim se wêreld in.
Wie is jy in hierdie wêreld?
Wat doen jy in hierdie wêreld?
• As jy niks doen nie en die duisternis laat voortduur;
• As jy niks doen aan die wêreld om jou nie, is jy mos nie ʼn sendeling nie.
En as jy nie ʼn sendeling is nie, het jy soos Nikodemus ʼn wedergeboorte nodig. Jy moet tot geloof kom.
3 WAT GOD IN CHRISTUS DOEN VERDUIDELIK AAN PILATUS
Pilatus vra dieselfde vraag as Nikodemus aan Jesus:
“Is jỳ die Koning van die Jode?”
Jesus antwoord hom dat sy koninkryk nie ʼn Adam-tuintjie of ʼn Joodse tuintjie is nie – m.a.w. ook nie ʼn blanke tuintjie of ʼn Afrikaner tuintjie nie ook nie ʼn Romeinse Ryk tuintjie nie.
Die Koninkryk van God sê Jesus vir Pilatus gaan om die waarheid!
Toe lag Pilatus en vra soos omtrent almal vandag ook vra: “Wat is die waarheid?”
As dit duisternis –nag- is, korrupsie verrotte nag is, is die waarheid nie sigbaar nie. Die lig is verduister.
ʼn Baie goeie illustrasie hiervan is die Zondo kommissie. Vra vir die Zondo-kommissie: “Wat is die waarheid?” … en luister jy na die getuienisse kan jy net lag. In die duisternis is selfs die waarheid nie sigbaar nie. As daar nie lig is nie, kan niemand die waarheid sien en besef nie. Dan sterf alles. Daar is geen menswaardige lewe vir enigiemand in die duisternis van ʼn waarheidslose wêreld nie.
In ʼn waarheidslose wêreld word rowers soos Barabbas vrygelaat.
Daar is baie Barabbas rowers wat in Stutterheim, in die Oos-Kaap, in SA en in die wye wêreld vry rondloop.
4 WAT BETEKEN WEDERGEBOORTE IN DIE PRAKTYK?
Luister weer na Joh 1:9—12:
9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10 Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.
Die woord is hier baie duidelik. Daar is lig vir die wêreld. Daar is waarheid want Jesus het gekom en kan deur die Heilige Gees by ons wees.
As mense Jesus aanneem, in hom glo, kinders van God word, volgelinge van Jesus word……………. gebeur iets met hulle. Hulle word uit God gebore, wedergebore.
Hoe weet jy dit het gebeur:
• LIG BEGIN DIE DONKER VERDRYF
• WAARHEID ONTMASKER DIE LEUEN EN KORRUPSIE
En hoe gebeur dit?
• MENSE WAT IN JESUS GLO, VOLG HOM … DOEN WAT HY GEDOEN HET
En wat het Jesus gedoen?
• Jesus het na siek mense, arm mense, veroordeelde, sondige mense, gegaan. Hy het oor rasse en klasse grense gegaan. En: hy het die korrupsie in die kerk en samelewing aangespreek, vreesloos.
• Hy het daardie mense liefgehad, vir hulle omgegee al was hulle sleg. Hy het vir hulle die waarheid vertel van hoe mens moet lewe. Hy het gaan help.
Dit is nie maklik nie. Daar is altyd een of ander kruis op die pad. Maar: anderkant die kruis is die opstanding en nuwe lewe.
Die lig kan net in Stutterheim (of enige plek) kom as Christus se volgelinge verhoudinge ontwikkel en betrokke raak by mense en plekke wat in die duister is en hulle bemagtig met liefde en met geregtigheid en respek en die waarheid.
Dinge kan net verander as ons uit ons eie tuintjies, huise, werkkringe stap en oor grense gaan na die ander kant …. en daar betrokke raak
Dis wedergeboorte.
Dit is wat dit beteken om Jesus te volg.
Dit is wat oor tyd die wêreld verander.
5 SLOT
Gemeente,
Wie is ons? Wat doen ons? Watter tipe Koninkryk soek ons? Wie volg ons?
Jesus het homself gegee tot aan die kruis en die wêreld verander. Die Heilige Gees is vir ons gegee. Jesus het ons uitgestuur: “Gaan na al die nasies, tot in Stutterheim in die Oos-Kaap…”
Om weer gebore te word en Jesus te volg beteken om uit te gaan en oor grense te gaan na waar dit stukkend is, waar dit korrup is en daar te gaan help ….
Stutterheim het begin as ʼn sendingstasie.
Stutterheim kan herleef in waarheid en lig en in lewe as jy en ek ʼn sendeling word.
Die “Stutterheim miracle” kan weer gebeur – nie in ons eie krag nie maar in wedergeboorte wat ons oë oopmaak vir die Koninkryk van God, ons bevry van ʼn lewe in ons eie koninkrykies.
Amen