Esegiël skryf nie Kinderbybel taal nie!

12 08 2019

Esegiël 16 is nou een van daardie gedeeltes in die Bybel wat jy NIE in die Sondagskool klas lees nie. Jy sal dit ook nie in ‘n Kinderbybel kry nie! Iemand van ‘n sensitiewe konstitusie kan heeltemal onthuts raak as mens sulke taal in die kerk lees!

Esegiël was ‘n profeet wat in Babilon opgetree het vanaf so omtrent 593vC. Hy praat hard met die Israeliete oor hoekom hulle in hierdie penarie van ballingskap sit. Sommige van sy beelde is nie vir sensitiewe ore bedoel nie! Hy begin sommer in vers 3 met ‘n verwysing na die oorsprong van Jerusalem, wat vir ‘n trotse Jood glad nie lekker sou gewees het om te hoor nie. Dit was nie oorspronklik ‘n Israelitiese stad nie. Dawid het dit van die Jebusiete afgeneem (Josua 18:28). Met hierdie verwysing spreek Esegiël hulle trots vir hulle stad aan.

En dan wys hy hulle nog ook daarop dat hulle glad nie suiwer van ras is nie! “Jou pa was ‘n Amoriet, jou ma ‘n Hetiet.” (:3) Al hulle trots, al hulle sekerhede word deur Esegiël onder hulle voete uitgeruk. Dan verduidelik die Here deur Esegiël vir hulle hoe Hy hulle versorg het as pasgebore babas toe hulle weggegooi is (:5) Tog het hulle skandelose dade uitgevoer deur hulle eie kinders weg te gooi deur hulle aan afgode te offer. Hulle was slegter as prostitute, want hulle het ander betaal om skandelik met hulle om te gaan! (:31-33). Dit alles ten spyte daarvan dat die Here hulle oorlaai het met geskenke, hulle versorg het. (:13-14).

As ‘n soort kersie op die koek, vergelyk die Here hulle selfs met Sodom – DIE toonbeeld van sonde in die Ou Testament – “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “jou suster Sodom en haar dogters het nie gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie. Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.” (:48-49)

En dan, net soos mens dink daar is geen salf aan hulle te smeer nie, hulle is dan selfs ERGER as Sodom! Dan kom die Here vanaf vers 60 en belowe nog steeds Sy genade en liefde. Beloof Hy om nog steeds aan die verbond getrou te bly, al het hulle dit minag.

Wat ‘n gedeelte! Nou wat beteken iets wat omtrent 2600 jaar gelede geskryf is vir my vandag? Ek was geskok toe ek lees oor wat die Here beskou as verkeerd: “Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.” Trots, hoogmoed, vraatsug, verdrukking van mense, dit was Sodom se sondes, en Israel was nog baie erger!

‘n Mens hoef nie ver in vandag se samelewing te soek vir hierdie goed nie, ons koerante en nuusberigte is vol daarvan en nog baie meer. Hoe lyk God se boodskap vir mense wat Hom verwerp, wat mekaar onderdruk, wat niks omgee nie? Die ongelooflike antwoord kom in vers 63 na vore: “Ek gaan My met jou versoen ten spyte van alles wat jy gedoen het” Die NIV sê: “I (will) make atonement for you for all you have done” En dit is presies wat ons in Markus 10:45 sien: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” En dit gebeur, soos Romeine dit stel, sonder dat ons nou eers “goeie mense” moet word: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Ten spyte van ons trots, hoogmoed, vraatsug en neerkyk op ander, is God se arms nog steeds oop vir ons! Hoe lyk jou arms? Jou trots?

Advertisements




‘n Dolle gejaag!

5 08 2019

Angs, stres, bekommernis, sommer normale, alledaagse dinge wat deel is van ons lewens. Dan sê ons sommer gou dis deel van die moderne lewe. Ons moet dit maar so aanvaar. Maar is dit so?

In Eksodus 5 lees ons die gebeure in die aanloop tot die Eksodus. Farao laai ekstra werk op die Israeliete, en die opsigters stres hulle dood. Inderwaarheid sê hulle vir Moses en Aäron: ““Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao” (:21).

En hoekom was al die werk in die eerste plek nodig? Hierdie slawe moes bakstene maak waarin Farao sy surplus kon stoor (Eks 1:11), en dit was ‘n nimmereindigende siklus. Hier was nie plek vir rus nie, net werk, werk, werk! Selfs in daai tyd was daar stres! Farao was ‘n slaaf van sy eie sukses, want hy en die opsigters onder hom was vasgevang in ‘n sirkel van werk, Hulle kon nie rus nie, want die werkers kon nie rus nie.

In hierdie sirkel van moegheid en oorwerk kom die God van die brandende bos skielik! (Eks 3). Hy lei hulle uiteindelik uit Egipte, en gee vir hulle ‘n manier van in vryheid lewe – die 10 gebooie (Eks 20). Hier manier van lewe begin deur hulle daarop te wys dat God nie soos die Egiptiese gode is nie – “Jy mag naas my geen ander gode hê nie” (Eks 20:3). En dan sommer gou-gou, in die 4de gebod, kom die wonderlike woorde: Ses dae moet jy werk, maar op die 7de mag jy geen werk doen nie! Die sirkel van werk, werk, werk word verbreek!

Jesus het hierdie probleem baie goed raakgesien, en som dit op in Matt 6:24: ““Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Mammon is ‘n harde baas, soos Farao al geleer het, daarom dat Jesus dan dadelik oorgaan om oor bekommernis te praat: :“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie” (:25) Die pad van mammon is die pad van eindelose gesoek na meer, ‘n pad van nooit genoeg hê nie, ‘n pad van nooit goed genoeg wees nie, van eindelose rusteloosheid, ‘n pad sonder ‘n Sabbatsrus. Dit is ‘n pad sonder God.

In ‘n sin kom sê Jesus ons moet kies watter god ons wil dien – die god van rusteloosheid en stres, of die God wat rus (Gen 2:2) Jesus kom stel dit ook op nog ‘n ander manier in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ons dien ‘n God wat rus en vir ons laat rus, want ons lewens is in Sy hande. Hy sorg, daarom hoef ons nie in bekommernis te verval nie.

Dit is die keuse, ‘n keuse tussen rusteloosheid of rustigheid. ‘n Keuse tussen ‘n dolle gejaag en ‘n fees! (Eks 5:1). Want sien, die “normale” bekommernis en stres, is ten diepste ‘n teken dat God in ons gedagtes te klein is. Ons dink ten diepste nie dat Hy in staat is om vir ons te sorg nie. Daarom raak die keuse tussen rusteloosheid en rustigheid ‘n geloofskeuse: Vertrou ons God of nie?

Na aanleiding van Eksodus 5:1-18 , Matteus 6:24-34 en Walter Brueggemann: Sabbath as Resistance