Bybelstudie – Romeine

17 06 2020

Bybelstudie dag 😁. Hierdie week lees ons Paulus se brief aan die Romeine..

Romeine het 16 hoofstukke, so jy sal tussen 2 en 3 hoofstukke ‘n dag moet lees om die hele brief in ‘n week deur te lees.

Lees elke keer die teksgedeelte rustig deur nadat jy gebid het.

Dan vra jy jouself af:
• Wat tref jou? Watter woord, gedagte of teksgedeelte praat met jou? Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat die gedeelte jou voel? Probeer ‘n gevoelswoord koppel aan die gedagtes wat by jou opkom. Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.
• Hoe laat hierdie gedeelte jou voel? Wat sal jy vir God wil sê oor dit wat jy verstaan?
• Praat nou in gebed met Hom daaroor.

So bietjie agtergrond om jou te help nadink en verstaan waaroor Paulus praat. Lees dit, en soos jy die Romeine brief deurlees hierdie week, kyk of jy hierdie temas kan raaksien.

Die Romeine brief was nog altyd baie belangrik in die verstaan van Jesus. Vanaf Augustinus (geb 354nC) tot Martin Luther (geb 1483) tot John Wesley (geb 1703, stigter van Metodiste) tot Karl Barth (geb 1886, geweldige invloedryke Switserse teoloog) tot vandag lei en verlig en gee die Romeine brief nog steeds nuwe insigte.

Die brief se fondament is in Israel se geskrifte, veral in die boek Jesaja. Dit is een van die briewe van Paulus wat die meeste van ‘n uitgewerkte struktuur wys. Romeine gee egter vir ons ‘n pragtige beeld van hoe die Evangelie van Jesus Christus lyk wanneer dit grond vind en groei in multi-etniese kerke in ‘n heidense stad. As sulks het dit vandag nog baie vir ons te sê oor die uitleef van die evangelie in ons tyd. In Paulus se denke beteken regverdiging deur die geloof gemeenskap in die geloof, om gedoop te wees en die Heilige Gees te ontvang beteken om anders, moreel anders, te leef, en die erkenning van Jesus as Heer moet dit moontlik maak vir gelowiges van baie verskillende agtergronde om saam te leef as familie ten spyte van verskille oor randsake.

Die kerk in Rome was nie een groot kerk nie. Dit het bestaan uit ‘n klomp klein huiskerke, kerkies wat soms uiteenlopende standpunte gehandhaaf het. Paulus wou graag die stad en die gelowiges daar gebruik as ‘n basis van waaruit hy sy werk kon uitbrei na Spanje. Van die kerkies was egter wantrouerig oor Paulus en sy motiewe, so hy moet homself bekendstel en verduidelik wat dit is, eintlike WIE dit is wat hy verkondig.

Daar was vir baie lank ‘n klein teenwoordigheid van Jode in Rome, maar nadat keiser Pompey Palestina in 63vC ingeneem het, is baie Jode Rome toe gebring. Eers as slawe, maar baie is later vrygestel en het Romeinse burgers geword. Onder keisers Julius Caesar en Augustus het dit goed gegaan met die Jode in Rome en in die Ryk. Hulle het spesiale voorregte gehad, soos dat hulle vrygestel is van gedwonge militêre diens en keiseraanbidding. Keisers Tiberius en Caligula was egter vyandig teenoor die Jode. In die tyd van Claudius (keiser vanaf 41-54nC) is die Jode uit Rome verban omdat daar ‘n twis was oor ‘n sekere “Chrestus”. Blykbaar was daar ‘n taamlike heftige verskil tussen die Christene en Jode in die sinagoges (waar die Christene aanvanklik aanbid het) oor Jesus Christus.

Teen die tyd wat Paulus die Romeine brief geskryf het vanaf naby Korinte omstreeks 56/57nC, het die Jode, asook Joodse gelowiges, reeds weer teruggekeer Rome toe. Daar was egter nog steeds spanning tussen gelowiges uit die Jodendom en gelowiges uit die heidendom. In die tyd wat Jode verban was, het die gelowiges uit die heidendom die leierskap oorgeneem van die huiskerke in die stad. Die kerke het ‘n baie minder Joodse karakter getoon as voordat die Jode verban is.

Net so terloops, daar is nie klinkklare bewyse vir die Rooms Katolieke tradisie dat Petrus die kerk in Rome gestig het nie. Dit lyk eerder asof Joodse pelgrims wat Jerusalem toe gegaan het vir groot feeste (Hand 2:10-11) daar met gelowiges in aanraking gekom het. Handelaars soos Priscilla en Aquila (Rom 16:3) het ook ‘n rol gespeel.

Kom ons kyk na die briewe se groter prentjie:
Anders as Paulus se ander briewe is daar ‘n duidelike struktuur in die Romeine brief. Daar is vier hoof dele: Hoofstukke 1-4, 5-8, 9-11 en 12-16.

‘n Sterk kenmerk van Romeine is die grootheid van God en die regverdiging wat Hy bewerk. Beverly Gaventa in “When in Romans” beskryf dit pragtig: “What is so disruptive about Paul’s understanding of salvation is his challenge to us to hear the gospel in its vastness. The vastness of what God has accomplished is far larger than the word “salvation” usually suggests. Of course, God’s action in the gospel speaks to the lives of individuals, to what we often refer to as the “spiritual” life. And, of course, God’s action reaches beyond the “spiritual” to include the redemption of our institutions, the reconciliation of ethnic groups, and the confrontation of empires of all sorts. If we think that God’s power is restricted to the sphere of the “spiritual,” then we have a fairly small notion of God. What we also need to hear is Paul’s understanding that the gospel encompasses the cosmos, the whole of creation—all the way out and all the way down in human life.”

Hierdie “regverdiging” is al baie gedebatteer en mee gesukkel om reg te vertaal, hoe lyk dit en hoe werk dit? Om “vrygespreek” te wees (Rom 5:9), die “regverdiging van God” (dikaiosynē theou) is nie dit wat ons as geskenk van God ontvang nie (Rom. 4.11; 5.17; Fil. 3.9). Dit is die gevolg van God se getroue reddende aksie in Christus. Soos in Jesaja en in die Psalms verwys die term na God se eie “regverdigheid”. Ons is “regverdig”, “vrygespreek”, omdat God regverdig is. Dit is ‘n uitvloeisel van wie Hy in Sy wese is.

God se getrouheid word beantwoord deur menslike geloof (die Grieks vir “geloof” en “getrouheid” is dieselfde).

Opsommend, die Romeine brief is evangelie-gesentreerd. Paulus doen sy beste om te verseker dat die gelowiges in Rome se geloof, dade, aanbidding, oortuigings en verhoudinge gevorm word deur die goeie nuus, die evangelie van Jesus Christus.

Tweedens dring Paulus daarop aan dat die etnies gemengde kerke van Rome mekaar moet aanvaar en verwelkom. God se oorvloedige genade is bedoel om ander na mekaar en Hom toe te trek.

Geniet die Romeine brief!

Met erkenning aan: “The New Testament in Its World” N. T. Wright and Michael F. Bird Zondervan Academic , 2019





Is jy hoop?

6 12 2010

Rom 15:4-13

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Dit is die Aäronitiese seën uit Num 6:24-26 waarmee ek graag ‘n diens afsluit. Wat beteken dit egter, wat beteken dit as die seën die belofte van vrede gee, maar ons ervaar dit nie, ons sien dit nie in ons alledaagse lewe nie…  Misdaad, gesinsprobleme, ongelukke, geldprobleme… lyk nie of ons in ‘n besondere vredevolle tyd leef nie. Met Jesus se geboorte het die engele aangekondig: “ “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14) Vrede? Vrede? Waar is dit?

Om te verstaan wat hierdie aankondiginge beteken, moet ons miskien mooi gaan kyk na ons teks vanoggend: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13). Hier word vrede en vreugde gekoppel aan hoop, hoop wat vloei uit God as die BRON van hoop.

☛ Hoop is ‘n moeilike en maklike woord – Ons is geneig om hoop = te stel aan optimisme. Maar wat is optimisme eintlik, dit is maar net die geloof dat, ten spyte van hoe erg die probleme lyk, dinge ten goede sal uitwerk. In dieselfde omstandighede sal die pessimis weer net die komende ramp sien, alles is verlore!

Hoop het iets in gemeen met beide optimisme en pessimisme. Hoop sien in elke situasie ‘n oplossing, en soos die pessimis, sien dit die situasie in sy volle swang, sy volle potensiaal vir rampe en ellende.

Hoop is egter ook TOTAAL anders as beide optimisme en pessimisme. Optimisme en pessimisme veroorsaak dat ons ‘n situasie maar net aanvaar soos dit kom, “what will be will be”, ons kan tog niks verander aan die uitkoms nie, So, fatalisties, aanvaar ons maar wat kom.

Hoop aanvaar nie maar net wat kom nie, hoop vereis dat ons die wêreld sien soos dit is, eerlik, met al sy probleme, sonder ‘n lagie vernis bo-oor, maar weet dit kan beter.

Ons kan dit doen, want die bron van ons hoop is nie maar net valse optimisme nie, die bron van ons hoop is God self, wat dit in ons werk deur die Heilige Gees.

Daarom kan ons hoop nie los verstaan word van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit kan nie los verstaan word van God se liefde wat vir ons bewys en gegee is deur Jesus se geboorte, sterwe en opstanding nie. God se liefde wat verder in ons leef deur Sy Heilige Gees.

☛ Hoe hoop ek op vrede? Hoe leef ek uit hoop? Hoe maak ek die aankondiging van die engele waar?

Slegs deur dit waar te maak vir ander. Want hoop roep ons op tot aksie, tot die uitleef van ons hoop.  Romeine 15 roep ons op om eensgesind onder mekaar te wees, om mekaar te aanvaar, om Sy hoop uit te dra aan alle nasies, om God te loof en prys. Hoop gaan nie oor lekker voel, om knus in my nessie te sit en te “hoop” die storms van die lewe sal nie die boom waarin ek sit ontwortel nie. Hoop roep ons, om ter wille van die eer van God, die storms tromp-op te loop, om ander te aanvaar soos God ons aanvaar – al hou ons soms nie van hulle nie.

Hierdie woord wat in Afrikaans met “aanvaar” vertaal word, het ‘n diep betekenis in die Grieks, eintlik heelwat dieper as wat ons die gewoonlik in Afrikaans verstaan. Dit verwys na die ander persoon aanvaar, neem as jou metgesel, om die ander in jou huis in te neem, om toegang tot jou hart te verleen.

In kort beteken dit nie om HOOP vir jouself te soek nie, maar om God se hoop vir ander te wees! God se vrede breek daar deur waar ek ander aanvaar. Die versoeking is daar om hierdie hoop op ‘n nou, op myself gerigte manier te verstaan – EK wil tog iets beter vir my en my gesin hê! Dit is egter nie waarvan Paulus praat nie. Die hoop wat die Heilige Gees in my werk is nie net vir myself nie, dit is daar om gedeel te word!

In hierdie Kerstyd word ons geroep om te aanvaar soos Christus aanvaar het, om hoop te bring soos Hy hoop gebring het, om vrede te wees vir ander soos Hy ons vrede is. Martin Luther het dit ‘n “gelukkige ruil” genoem. Christus neem alles op Hom wat ons van God skei, en gee vir ons die lewe, en dit in oorvloed, in Christus. So word ons voortdurend by God verwelkom, en so moet ons ander verwelkom en aanvaar.

Ons hoop moet al sterker word deur die krag van die Heilige Gees!    God se vrede moet al sigbaarder word deur ons lewens!

Mense moet hoop sien, hoor, voel en ervaar as ons in hulle teenwoordigheid is of as hulle aan ons dink.

Is jy ander mense se hoop?