Geloofwaardig?

27 05 2010

Cartoon - Religion

“Die mense sê”… Seker een van die gevaarlikste veralgemenings wat rondloop. Die “inligting” het nie ‘n baas, ‘n oorsprong nie. So daar is niemand om tot verantwoording te roep nie. In ‘n sin is ons weer terug by ‘n paar weke terug se blogpost oor Persepsies. Die strokiesprent hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

“Almal weet” die Christelike geloof is wreedaardig, kyk maar net na die kruistogte en inkwisisie. SONDER om enigsens van die gruwels van die verlede te probeer goed praat, moet ‘n mens darem onthou dat mense se wêreldbeeld baie anders was so ‘n duisend jaar gelede. Dit was lank voor menseregte en demokrasie. Dit was ‘n feudale sisteem waar mense wat die grond bewerk het geen regte gehad het nie – probeer dit vandag!

Verder was iets soos die kruistogte ook in ‘n groot mate ‘n respons op Moslem imperialisme. http://en.wikipedia.org/wiki/Crusades: “The Crusades originally had the goal of recapturing Jerusalem and the Holy Land from Muslim rule and were launched in response to a call from the Christian Byzantine Empire for help against the expansion of the Muslim Seljuk Turks into Anatolia.”

Enige “feite” tel egter min as mens iets wil afkraak, veral as dit godsdiens is. Nou kom die probleem egter… ons as Christene gee baie skietgoed aan mense wat nie in God glo nie.

Skandale rondom TV predikers, rondom Rooms Katolieke priesters en seuntjies, ens, ens kraak die beeld van Christene orals af. Dan praat ons nie eers van wat die lidmate ook doen nie!

Wat my persoonlik egter krap, is Christene wat maklik veroordelend kan wees. Vingers word gewys, mense word ge-“label”, ge-boks, reg om hel toe gepos te word, want ONS mening is al wat tel — nee ekskuus, MY mening is al wat tel!

Elke nou en dan gebeur daar egter iets wat weer hoop gee, baiemaal uit heel onverwagse oorde. So skryf Danie Mouton in die Oos-Kaapse enuus van 28 Mei 2010 oor hoe (wit) boere gehelp het na ‘n taxi ongeluk naby Elliot en die (swart) kinders se berafniskostes en hospitaalkostes betaal het.  “Die mense” sê mos boere is rassisties… wel, hoe verduidelik “die mense” dan dit wat hier gebeur het? Verder lees ek in die Time Magazine van hoe Pous Benedict XVI, wat as konserwatief afgemaak word deur “die mense”, in 2000 tydens ‘n seremonie wat Pous Johannes Paulus II gereël is, verskoning gemaak het vir die Inkwisisie – wel in versigtige woorde, maar nogtans, van die Rooms Katolieke Kerk, ‘n verskoning!: “even men of the church, in the name of faith and morals, have sometimes used methods not in keeping with the Gospel in the solemn duty of defending the truth.” Nou moet nog gewag en gesien word wat die Pous gaan sê oor die skandaal rondom kindermolestering in die Katolieke kerk…

Terwyl ek gedurende die laaste week nagedink het oor Joh 16 en 17, en die Gees van Waarheid wat ons van die Waarheid sal leer, het ek aan hierdie spotprente op hierdie blad gedink, en hoe min geloofwaardigheid Christene in die oë van die wêreld het. Die gemiddelde uitbeelding van ‘n Christen is of ‘n “Bible-puncher” met ‘n paar geraamtes in die kas, of ‘n “wimp” sonder ruggraat.

Dit lyk vir my ons as Christene sal baie meer dienend moet wees, soos die Elliot boere, baie meer moet staan vir wat reg is, voordat ons weer ons geloofwaardigheid sal terugkry.

Advertisements




Grense

18 05 2010

Wat is dit met mense en grense? Iets uit die oertyd toe alles oor oorlewing gegaan het? Iets van ‘n ingebore aversie teen dit wat ANDERS is? Grense rondom mysself, my gevoelens. Grense rondom my familie, grense rondom my mense, my land, my kontinent, selfs dalk eendag rondom my wêreld teen wat van buite mag kom?

Waar dit ookal vandaan kom, dis ‘n werklikheid. ‘n Werklikheid wat die manier waarop ek werk en woon bepaal. Kyk maar na ons hoë mure en elektriese omheinings om ons huise. Selfs op vakansie, ver van enige amptelike kampplekke in die Kalahari of Namib, trek ons ons voertuie in ‘n laer om ONS ruimte te skep.

In die verband het ek jare terug ‘n baie interresante ondervinding gehad by Ukwi pan, in die weste van Botswana. Ons het in die bos gekamp, en ons voertuie in ‘n halfmaan getrek, met ons vuur as die fokuspunt van die halfmaan. ‘n Man van die Garankwa (spel?) San het uit die bos uit gestap gekom, aan die verste kant van die vuur gaan sit en homself warm gemaak. Geen oogkontak gemaak nie, ook nie na ons voertuie of besittings gekyk nie. Na ‘n ruk staan hy op en loop. Eers toe ons met hom begin praat, draai hy om en gesels met ons in die suiwerste Afrikaans! Hy verduidelik toe vir ons dat vir hulle, ‘n vuur altyd gemeenskaplike besitting is. Daarom ag hulle dit as ongeskik as jy jou vuur toe parkeer dat niemand anders daarby kan uitkom nie. Van ‘n besoeker word verwag dat hy nie tussen die vuur en jou huis sal kom nie. Na ‘n gesprek het hy die volgende dag teruggekom en vir my vriend ‘n pyl en boog kom maak, sodat ons kan sien hoe hy dit doen.

Hoeveel keer mis ons nie verrykende ondervindings  omdat ons laer trek en ander buite hou nie?

Die een ding wat my keer op keer tref van Jesus se optrede teenoor mense was Sy openheid. Die vrou met bloedvloeing het die moed gehad om aan die soom van Sy kleed te raak. Telkemale reik Hy uit, na die Siro-Fenisiese vrou, na Samaritane, na veragte Jode soos Levi die tollenaar, na kinders. Hy trek nooit laer en hou ander weg nie.

Wat sê my laer-trek mentaliteit van my getuienis as Christen? Hoe kan ek meer soos Jesus wees en oop wees vir ander?

Die Garankwa man se stelling dat vuur ‘n gemeenskaplike besitting is, het my laat dink aan die uitstorting van die Heilige Gees soos tonge van vuur… Hoeveel keer probeer ons om die vuur van die Gees vir onsself te hou – Myne! Terwyl Jesus se opdrag juis die teenoorgestelde was – in Jerusalem en Samaria, ja tot aan die uithoeke van die wêreld moet ons hierdie vuur deel!

Dankie tog vir Jesus se uitsending van Sy dissipels, vir Sy uitreik na mense buite die volk waaronder hy gebore is, want ook ons was hierdie buitestaanders na wie die eerste Christene gestuur is, ook ons is nie gebore Jode nie. Dit plaas egter nou ook op my die verpligting om nie die evangelie vir myself te probeer hou nie, maar om uit te reik na ander.

Ons moet onsself egter mooi vergewis van wat ons probeer bereik as ons uitreik na ander – die doel is tog nie om van ander kopieë van onsself te maak nie. Wat wil ek wys, hoe wil ek teenoor ander optree?

Wat moet in MY verander om in liefde, met Jesus se gesindheid na ander uit te reik? Wat moet ek leer by Jesus om grense te kan oorsteek eerder as om grense op te rig? Na wie stuur Jesus my?





Chocolate Jesus

7 05 2010

Tom Waits sing die volgende liedjie:

Chocolate Jesuschocolate Jesus

Don’t go to church on Sunday
Don’t get on my knees to pray
Don’t memorize the books of the Bible
I got my own special way
But I know Jesus loves me
maybe just a little bit more
I fall on my knees every Sunday
At Zerelda Lee’s candy store
Well it’s got to be a chocolate Jesus
Make me feel good inside
Got to be a chocolate Jesus
Keep me satisfied

Well I don’t want no Abba Zabba
Don’t want no Almond Joy
There ain’t nothing better
suitable for this boy
Well it’s the only thing
that can pick me up
Better than a cup of gold
See only a chocolate Jesus
can satisfy my soul

(Solo)
When the weather gets rough
and it’s whiskey in the shade
it’s best to wrap your savior
up in cellophane
He flows like the big muddy
but that’s ok
Pour him over ice cream
for a nice parfait

Well it’s got to be a chocolate Jesus
good enough for me
Got to be a chocolate Jesus
good enough for me

Well it’s got to be a chocolate Jesus
make me feel good inside
Got to be a chocolate Jesus
Keep me satisfied

Hmm….  “wrap your saviour up in cellophane” sodat JY kan besluit hoe en waar en wanneer jy Hom kan geniet…

Soms wonder ek hoe gemaklik Jesus in ons kerke van vandag sou gewees het. Die dra van ‘n kruis, die opoffering, die minste wees… hoeveel daarvan sien ons in ons dag tot dag se kerk-wees?

My Jesus moet vir MY sorg. Hy moet keer dat niks verkeerd gaan nie. Hy moet sorg dat dit net goed gaan met my. Die boodskap Sondag moet tog net nie steurend wees nie, maar dit moet lekker sag wees dat Hy uitgegooi kan word “over ice cream” hier in MY kerk.

TOG! Tog is daar ook die ander kant.  Danie Mouton skryf in die Oos-Kaap se eNuus van 7 Mei oor (wit) boere van Elliot wat (swart) kinders se hospitaalonkostes betaal na ‘n Taxi ongeluk.  Hy skryf verder dat die “burgemeester van die Libode-munisipaliteit (Mthatha) by die opening van die Sinethemba-kinderhuis gesê het sy het die NG Kerk leer ken as die kerk wat omgee vir die mense”.

Sommige mense se geloofsbelewenis is van so ‘n aard dat hulle net die sagte Jesus, die een wat praat soos ek wil hoor, kan verteer. Ander weer wil “geslaan” word met die Woord. Is enige van die twee uiterstes dit waaroor dit gaan? Hoe kom ‘n mens by die balans uit? NT Wright skryf “the challenge of Jesus, in the 21st century as in the first, is that we should look away from ourselves and get on board with the project the one true God launched at creation and re-launched with Jesus himself… Genuine Christianity is to be expressed in self-giving love and radical holiness.” My Presbiteriaanse kollega verwys na sonde en sê dat die eintlik probleem die middelste letter van die woord “sIn” is. Solank alles oor MY gaan, soek ek wat my pas, hetsy sag of “geslaan” deur die Woord.

Die laaste reël van die koor van Tom Wait se liedjie is dalk die sleutel tot die verstaan van waarheen ons gaan met die boodskap van Jesus. As dit net oor MY gaan, om MY “satisfied” te hou, sien ek gevaartekens. Vir my is die boodskap van Jesus juis een van wegkyk van myself, van fokus op Jesus. Fillipense 2:5 som dit mooi op: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.” ‘n Gesindheid van liefde, van omgee, van jouself gee, van aanvaarding, van uitreik, maar ook ‘n gesindheid van waarheid.

Wie is goed genoeg vir my? Of moet die “goed genoeg” deel liewer heeltemal uitgelos word? Ons praat tog nie hier van ‘n lys wette wat nagekom moet word nie. Ons praat oor ‘n lewenswyse, ‘n lewenswyse waarin ons vir God en ons naaste lief is. ‘n Lewenswyse wat prakties wys dat ons omgee.

‘n “Chocolate Jesus”? Nee dankie, nie vir my nie! Met die genade van bo sal ek die pad van Jesus probeer loop.