Prosesse, prosedures en ander goggas

14 11 2016

“‘n Diep geestelike ervaring.” Dit is hoe meer as een persoon die 2015 vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk beskryf het. ‘n Vergadering ‘n “geestelike ervaring”??? Dit moes baie spesiaal gewees het. Ongelukkig was ek nie daar om te deel in die ervaring nie, maar dit het wel uitgeloop op ‘n klomp besware. Soveel so dat ‘n Buitengewone Algemene Sinode in November 2016 gehou is om die besware aan te hoor. En daar was ek. As sekundes afgevaardigde.

Die agenda (Insluitend beswaarskrifte en gravamina, 746 bladsye!) het ons ‘n week voor die tyd gekry. Maar daar was eers nog ‘n streeksinode om af te handel, so, het ‘n mens maar probeer lees waar moontlik, maar glad nie voorberei soos dit behoort te gewees het nie. Dat ek nie al een in hierdie bootjie was nie word sommer die eerste aand duidelik.

Na ‘n uur en ‘n half gesprek rondom die Algemene Taakspan Regte (ATR) se verslag word dit duidelik dat ons eintlik niks te sê het oor die 2015 besluit rondom selfdegeslagverbintenisse nie. ‘n Appèlliggaam het dit alreeds van die tafel af gevee as gevolg van prosedurefoute!  Frustrasie begin! Kon die ATR dit nie maar duidelik gesê het aan die begin van hulle verslag nie? Duidelik was die oorgrote meerderheid van die vergadering saam met my onder ‘n wanindruk.

‘n Ander gogga wat sommer die eerste aand sy kop uitgesteek het was regsmenings. Dit het omtrent soos die eindtyd geklink, maar behalwe vir oorloë en gerugte van oorloë was dit regsmenings en gerugte van hofsake!

Dag twee begin toe op ‘n manier wat hierdie doodgewone plattelandse dominee glad nie verstaan het nie. 2015 se besluit is van die tafel af, in prosedurele terme bestaan dit nie meer nie. Tog word die volgende dag daaraan gewy om diegene wat besware of voorleggings oor die 2015 besluit het, kans te gee om dit te lug. Twee en twintig mense kry tyd om te praat oor ‘n besluit wat nie meer bestaan nie! Hoe nou gemaak?

Uiteindelik kom die sinode by ‘n gesprek wat aan die hart van die verstaan van die boodskap van die Bybel oor selfdegeslagverbintenisse lê, naamlik Skrifgesag en die verstaan van die Skrif. Dit was tenminste ‘n gesprek van ordentlike gehalte en diepte. So, met verwagting vir ‘n ordentlike besluit oor hierdie saak wag ons vir voorstelle op die tafel.

Dit gebeur toe, ‘n voorstel, oorgeneem uit een van die beswaarskrifte, met ‘n klomp amendemente, kom op die tafel. Punt vir punt, soos dit hoort, word dit bespreek en beredeneer. Die eerste stemming oor ‘n amendement val, dit word aanvaar, en daar kom die wiele af! ‘n Afgevaardigde spring op en beskuldig die sinode daarvan dat die kerk se “hamartologie en soteriologie” nou verander is! Dis nou, in gewone Afrikaans, sondeleer en verlossingsleer. Daar is ‘n harwar. Prosedure foute is gemaak. Die oorspronklike voorsteller het nie kans op repliek gekry nie. Die besluit word verwerp en die vergadering rol terug na ‘n posisie voor die besluit geval het. Repliek word gelewer, weer word gestem, die keer word die amendement verwerp.

Oor die uiteindelike besluit sal ek later ietsie sê, maar oor die prosesse, prosedures en ander goggas? Nie ‘n geestelike ervaring vir my gewees nie….

Advertisements




Ecclesia completa en ander groot woorde

11 11 2016

IMG_3827.JPGDie pas afgelope Buitegewone Vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in Pretoria (7-10 Nov 2016) het, soos soveel keer in die verlede, heelwat reaksie uitgelok. Hier wil ek nie reflekteer oor die besluit rondom selfdegeslagverhoudings nie, maar eerder so bietjie wonder oor hoekom daar soms sulke skerp verskille op die vloer kon wees. Ons het tog ooreengekom dat ons die gesag van die Skrif aanvaar, ons het selfs ‘n lang gesprek oor die verstaan van die Skrif gehad (hermeneutiek), maar toe dit by die toepassing kom…

Opvallend was hoe sommige afgevaardigdes gehou het daarvan om “groot woorde”, tegniese terme, te gebruik, wat natuurlik lei tot die uitsluiting van die 50% kerkraadslede teenwoordig (waarvan, ek sou raai, die meeste nie tegniese teologiese terme in Latyn en Grieks verstaan nie, die dominees sukkel daarmee!).

Ek wonder…. Ek wonder of of nie iets in die debatte gesien het van die laaste van die “moderniste” wat krampagtig aan “sekerhede” vasklou nie, terwyl ‘n groot deel van die vergadering al baie meer gemaklik is met ‘n post-modernistiese styl. Sonder om nou self baie tegnies of akademies te raak, net ‘n enkele opmerking oor die verskil tussen die twee (Daar is baie meer verskille as wat ek hier op ‘n verenvoudigde manier uitlig!).

‘n Modernistiese wêreldbeskouing werk meestal met absolute waarhede, vaste waarhede, swart of wit styl argumente. ‘n Post-modernistiese styl is baie gemaklik met grys areas, met erkenning dat ons nie als weet nie, met die mistiese.

Die voorstanders van ‘n meer inklusiewe houding teenoor mense wat in die kerk randfigure is, in hierdie geval mense met ‘n selfdegeslagseksueleoriëntasie, erken meerendeels dat ons onseker is van baie dinge, soos Paulus dit stel in 1 Korintiërs 13:12 (AFR83): “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld“. Tog wil hulle ruimte maak vir dit waarvan ons wel seker is, naamlik die liefde en genade van God wat daar is vir alle mense.

Wat ek gehoor het van diegene wat BAIE meer seker is van hulle standpunte en van hulle “feite”, is absolute sekerheid. Dit IS wat die huwelik is, en basta. Dit is wat die Bybel sê, ek verstaan dit absoluut en duidelik. Selfs ironiese opmerkings deur mense aan die ander kant is letterlik geïnterpreteer.

Ek wonder… Soos wat meer “millennials” afgevaardig word en die “Baby-boomers” al minder word by hierdie vergaderings mag die styl van debatvoering dalk heelwat verander. Dit is egter ook nie ‘n reglynige saak nie. Van die “Baby-boomers” het baie inklusiewe taal gebruik en van die “millennials” baie eksklusiewe taal. Dalk glad nie ‘n gender / ouderdom ding nie.

Ekself vind my baie gemaklik by Paulus se “dowwe spieël”!





Wat bely ek? Artikel 1 en die Ned Geref Kerk

10 11 2014

Bely_Belhar.001Deur die eeue het mense die nodigheid gevoel om dit wat hulle glo te bely, in woorde om te sit. So kry ons al vroeg in die Ou Testament die “Shema Israel”, “Luister Israel”, waar Israel hulle geloof in God bely. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here… (Deut 6:4-9, 11:13-21, Numeri 15:37-41). Ook in die Nuwe Testament kry on etlike gevalle waar mense dit nodug voel om dit wat hulle glo in woorde uit te druk.  In Matteus 16:16 word Petrus aangehaal as hy sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”, en in Johannes 11:27 sê Martha: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.

Ook in van die briewe in die Nuwe Testament kry ons gedeeltes wat lyk of dit vroeë geloofsbelydenisse is. Fillipense 2:6-11 is een voorbeeld hiervan: “(6) Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,…. (11) en elke tong sou erken:“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Maar hoekom? Hoekom het mense in die Bybelse tyd en daarna die nodigheid gevoel om wat hulle glo in woorde uit te druk? Daar is ‘n paar redes daarvoor, waarvan sommige die volgende kan wees:

  • Onthou eerstens dat dit nie gaan oor jou lojaliteit aan die Bybel nie
  • Dit help om waarheid van dwaling te onderskei
  • Dit is ‘n openbare stelling van wat ons glo
  • Dit probeer sistematies sê wat ons aan die hand van die Bybel glo oor ’n spesifieke saak of sake

Hierdie proses van te wil uitdruk wat jy glo het na die Bybelse tyd voortgegaan. Die Ned Geref Kerk onderskryf byvoorbeeld op die oomblik ses Belydenisskrifte. Dit is die volgende:

Ekumeniese Belydenisskrifte – Hierdie is Belydenisskrifte wat die NG Kerk met ‘n baie groot deel van die wêreldwye kerk deel.

Apostoliese Geloofsbelydenis  – Die vroegste reste van die belydenis mag sover as c. 180nC teruggaan, maar die eerste verwysing daarna is in n brief wat in 390nC vanaf ‘n sinode in Milaan gestuur is. Dit probeer opsom wat die Nuwe Testament oor Jesus sê.
Geloofsbelydenis van Nicea – Die vroesgte weergawe van die belydenis is in 325 nC deur die eerste Konsilie van Nicea opgestel. Dit is hoofsaaklik geskryf om die kettery dat Jesus ’n geskape wese was aan te spreek (Die dwaling van Arius)
Geloofsbelydenis van Athanasius – Die belydenis is in gebruik in kerke sedert die sesde eeu. Dit spreek geloof in die Drie-Eenheid uit teen ‘n dwaling dat Jesus ondergeskik is aan God die Vader en nie deel van ’n Eenheid nie.

Dan is daar die drie Gereformeerde Belydenisse, of Drie Formuliere van Eenheid wat die NG Kerk plaas binne die Gereformeerde raamwerk van kerke:

Nederlandse Geloofsbelydenis – Geskryf in 1561 deur Guido de Bres, wat in 1567 gehang word deur die Spaanse Inkwisisie omdat hy dit nie wil terugtrek nie. Dit stel die Protestantse geloof se beginsels teen die vervolging deur die Katolieke Kerk van die middeleeue.

Heidelbergse Kategismus – Geskryf in 1563 in Heidelberg, Duitsland, geksryf op versoek van  keurvors Frederik III van die Palts. Dit is geskryf om Protestantse geloof se beginsels aan nuwe gelowiges te leer, veral in reaksie op die Konsilie van Trent se aanvalle op die Protestantse geloof.

Dordtse leerreëls – Opgestel op die sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande van 1618 – 1619 in Dordrecht, Nederland. Dit is spesifiek gemik daarop om Armininius se dwaling dat die vrye wil van die mens bepalend is in ons verhouding met God, teen te werk

In die breë kan oor al hierdie belydenisse gesê word dat hulle ontstaan en “oorlewing” met stryd gepaard gegaan het. Mense het letterlik hulle lewens verloor om die waarheid wat hierin opgeteken staan te bely.

Nou waarnatoe met die huidige stryd rondom Artikel 1 van die NG Kerk se Kerkorde? Die geskiedenis gaan eintlik terug na die Wêreld Alliansie van Gereformeerde Kerke se uitspraak in Augustus 1982 te Ottowa wat die teologiese regverdiging van apartheid, en die gepaardgaande gedwonge skeiding van christene op rassegrondslag, as ‘n dwaling bestempel het. Dit was vir die NG Kerk ‘n bitter pil om te sluk, en die gepaardgaande konsep Belhar Belydenis wat dieselfde jaar deur die NG Sendingkerk se sinode aanvaar is, was die kersie op die koek. Dit maak dat baie lidmate van die NG Kerk nie die woord “Belhar” kan hoor sonder om weer die gevoelens van 1982 op te roep nie. Tog het die NG Kerk se beleidstandpunt Kerk en Samelewing van 1986 alreeds erken dat die kerk skuldig was aan die WAGK se beskuldiging. Op verskeie Sinodes het die NG Kerk is ook nou al gesê dat die Belydenis van Belhar in lyn met die Skrif is. Om die waarheid te sê het die Algemene Sinode van die NG Kerk alreeds in 1990 besluit dat die Belydenis van Belhar nie onskriftuurlik is nie (en ook nie in stryd is met die Drie Formuliere van Eenheid nie).

Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk stel bloot die Belydenisgrondslag van die kerk. Die huidige voorstel sê dat ons by die verpligting bly om die ses belydenisskrifte hierbo genoem te aanvaar, maar dat ‘n ekstra belydenis, wat opsioneel sal wees om te bely, bygevoeg word. Dit is die Belydenis van Belhar.

In kort beteken die “JA” of “NEE” stem wat van lidmate, gemeentes en sinodes gevra word die volgende (Erkenning aan “Die Kerkbode” 7 November 2014):

  • JA: Ek stem persoonlik saam met Belhar en gee aan ander ruimte om dit nie te bely nie
  • JA: Ek stem nie persoonlik saam met Belhar nie, maar gee ruimte aan ander om dit wel te bely
  • NEE: Ek stem nie persoonlik saam met Belhar nie en wil ook nie aan ander ruimte gee om dit te bely nie

‘n “Ja” stem deur twee derdes van die gemeentes en sinodes van die kerk sal eintlik net bevestig wat alreeds bestaan, naamlik dat ‘n groot klomp lidmate, predikante, gemeentes en sinodes hulle heelhartig vereenselwig met die inhoud en strekking van die Belydenis van Belhar. Voorbeelde is legio, van baie predikante (insluitende die meeste proponente wat afstudeer) wat dit alreeds vir jare tydens legitimasie onderteken, tot gemeentes soos die NG Gemeente Langeaanweg wat dit amptelik aanvaar het in 1997.

Die skrywer hiervan het alreeds die belydenis in 1987 onderteken en staan nog heelhartig by die vyf punte van die Belydenis van Belhar:

  • Glo in God, Vader, Seun en Gees
  • Glo dat God ons een maak en dat ons geroep is om dié eenheid sigbaar uit te leef
  • Glo dat God ons met Hom en mekaar versoen
  • Glo dat ons God moet navolg deur regverdig te lewe
  • Glo dat ons God meer gehoorsaam moet wees as mense

Verdere leestof kan die volgende insluit:





Soos ‘n boom by ‘n waterstroom

15 06 2012

Image

Die afgelope week (4-7 Junie 2012) het die Oos-Kaap se NG Kerk sinode gehou. Daar is oor baie goed gepraat en besin – Jeug en onderwys, belydenisskrifte, administrasie, eenheid van die kerk, lidmate, doop, predikante, ens, ens… Ek kan sommer hoor hoe mense dink – “En? Wat beteken dit vir ons hier waar ons die Here dien? Sulke vergaderings is sommer tydmors!”

Tog het hierdie sinode ons almal met ‘n boodskap huis toe gestuur, met Psalm 1:3, so vertaal: “Die NG Kerk in Oos-Kaapland is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” Mooi woorde. Baie poëties gestel. Maar hoe kom ‘n mens by die mooi verby, hoe kry die vrugte van hierdie boom voete in God se wêreld?

Kom ons vertaal hierdie teks nog so bietjie verder: “Die gemeente waar ek die Here dien is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” En wat van nog verder: “Ek, vul jou eie naam hier in, is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.”

‘n Mens kan nou baie goed sê oor hierdie teks. Ons kan uitwei oor wat dit beteken om God se boom te wees – hoe die beeld van ‘n boom iets sê van sterkte, van diep gewortel wees, van tot nut wees vir ander deur die skaduwee en vrugte. Ons kan verder uitwei oor God se waterstroom en hoe God ons versorg, hoe Hy altyd daar is vir ons, hoe die boom nooit kan groei sonder Hom nie.

Maar, gedagtig aan wat Jesus gesê het in Matteus 21 rakende die vyeboom wat nie vrugte gedra het nie, moet ons miskien ‘n bietjie gaan let op die vrugte wat ons dra. Dra ons “op die regte tyd” vrugte? Wat bedoel Psalm 1 met hierdie vrugte?

Die bron van die vrugte word baie duidelik in Psalm 1 uitgewys as die Woord van God. God self is die Een wat die vrugte in ons bewerk. Ons dra nie vrug omdat ons so oulik is nie. Psalm 1 sê ons moet die Woord eet en drink en slaap, dan dra ons vrugte as gelowiges en gemeente, nie omdat ons so goed beplan en goeie administrasie het nie.

Die vrugte is ook nie eintlik vir ONSSELF bedoel nie. ‘n Boom eet nie sy eie vrugte nie! Vrugte is daar om ander mee te versterk, ander mee te dien. Die vrugte is ook publiek, dit moet raakgesien kan word anders beteken dit niks vir ander nie. Anders kan niemand sy honger met daardie vrugte stil nie.

Hoe dra ek en jy, as God se bome, gevoed en versorg deur God, God se vrugte op die regte tyd?

Laat ek myself net ‘n oomblik hier in die rede val. Baiemaal dink ons dat geloof ‘n privaat saak is, ‘n saak vir my binnekamer. Is daar iets soos ‘n private geloof?  Nee! In die Bybelse tye was my publieke lewe en my geloofslewe een. Deesdae sê ons ons geloof het niks te make met my werk, my sport, ens nie. Ons het van geloof iets gemaak wat op ‘n Sondag vir ‘n uur of so beoefen word. Maandag begin die regte lewe weer…

Vir Psalm 1 is dit nie hoe dit moet gebeur nie. Vanuit God se Woord, vanuit my ontmoeting met God, word ons versterk om vrugte te dra, om duidelik en in die openbaar, in die publiek, Christen te wees

Dit beteken NIE dat ons daarop moet aandring om alles oop en toe te maak met gebed nie. In die ou dae is die enigste tye wat God se stem gehoor is by iets soos ‘n sinode die opening en afsluiting aan die begin en einde van die dag – tussen-in het ons met mekaar geredekawel en mekaar met ons welsprekendheid probeer oortuig. God se stem, God se vrugte moet deurlopend na vore kom. Dank die Heer dat dinge al hoe meer so gedoen word!

Ons word alreeds hier in die erediens daarvoor gereed gemaak. Al die goed wat ons hier doen en saam deel, vanaf die seëngroet regdeur die Wet, Geloofsbelydenis, prediking, tot by die uitsendingseën aan die einde het tog ten doel om ons te voed langs God se waterstroom.  As ons by die Here uitkom, is dit onmoontlik om nie vrugte te dra nie.

SODAT ons vrugte, God se vrugte deur ons, gesien kan word in die onderwys, in die politiek deur die versterking van ons demokrasie, in die werksplek, in die media, by die eenkant, verstote gedeeltes van ons samelewing. God se stem word duidelik in die manier wat ons die sout is vir die aarde,

Hoekom?  Hoekom is dit nodig om hierdie publieke, in die openbaar sigbare, vrugte te dra? Is dit nie genoeg om net versterk te word in ons eie “binnekamer” in ons eie “geloof” nie?

Ons moet hierdie openbare, publieke vrugte dra want ons is uit genade gered…in Christus geskape tot die goeie werk wat God voorberei het (Efes 2). God het die wêreld lief (Joh 3:16) en wil deur ons vrugte Sy liefde aan die wêreld bring.

(Met erkenning aan Prof Piet Naudé se voordrag tydens die sinode)

(Foto: Heinrich Alberts)