Versoen…

30 10 2014

2 Korintiërs 5:18 : 2014 Direkte vertaling: En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het.

In van die Geloofsbelydenisse word as sulks oor versoening nagedink:

NGB art 21: Ons glo dat Jesus Christus Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort, soos die profete dit voorspel het.

HK – V&A 11 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal… Daarom… maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Belydenis van Belhar (1986): Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is.

In vorige blog plasings is ons herinner daaraan dat, terwyl ons die hele tyd vra: “Is God by ons?”, dat dit vraag eintlik is, “Is ons by God?” Toe het ons gevra: “Is ek by God deur myself te gee soos Hy Homself gee?” En verlede week was die vraag: “Is ek by God deur te bou aan die eenheid onder gelowiges?” Vandag se vraag “Is ek by God deur te help om vrede te herstel tussen mense?”

Dit alles begin met ‘n vernuwing in my verhouding met God, ‘n vrede herstel tussen my en God, ‘n versoening tussen my en God. Paulus begin deur in vers 16 te sê die vernuwing van ‘n gelowige se lewe bring verandering in jou verhouding tot ander mense. Paulus se se eie bekering getuig hiervan. Onderweg na Damaskus, om gelowiges te gaan terroriseer omdat hulle nie aan sy maatstawwe voldoen het nie, ontmoet hy die lewende Christus. Vroeër het hy Christus volgens menslike maatstawwe beoordeel. Nou het hy Christus waarlik leer ken. Dit bring ‘n radikale verandering in die manier waarop hy ander mense beoordeel.

Nou kyk Paulus (en ook ons) na die mede-mens op ’n geestelike manier. Ons fokus nie meer op die uiterlike, menslike maatstawe, of vanuit ’n wêreldse perspektief nie. Ons beoordeel nie soos vroeër Christus, en enigiemand anders, uit selfsug, onopregtheid of vooroordeel nie. Ons kyk met Christus se oë na ander.

Volgens vers 17 is hierdie nuwe manier van kyk moontlik, want die hele mens word vernuwe. Die ou dinge is verby, ’n nuwe skepping het plaasgevind, ‘n nuwe mens het tot stand gekom. Iets radikaal gebeur in Christus.

Volgens verse 18 en 19 is die nuwe dinge die werk van God. Die nuwe lewensuitkyk met nuwe standaarde en leefstyl (16) en nuwe bestaan, nuwe skepping (17) is God se inisiatief. Hy doen dit op die hoeksteen van Christus se versoening. In Christus is niks inderdaad meer dieselfde nie.

So God neem die inisiatief om vrede tussen ons en Hom te herstel, ‘n vrede wat ons net kan aanneem, net voor kan dankbaar wees. Nou kry ons die opdrag om die boodskap van die versoening uit te dra, of eerder, te bedien. Soos Jesus nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Mark 10:45), is daar ’n noue verband tussen versoening en dienslewering. Dis ’n roeping tot selfprysgawe. Versoening kos ’n prys! Nuwe mense leef versoenend en bedien ander met versoening.

Die kerk is nie ‘n magsgroep of ‘n sosiale beweging wat sy gewig probeer rondgooi nie. Die kerk bedien die versoening. Die kerk bring mense in Christus se Naam bymekaar. Versoening kan nie afgedwing word nie. Dit word af gepleit. Mense word aangemoedig om versoenend te leef in Christus se Naam. Om versoen met God en met mekaar te lewe.

Paulus is nie bloot besig om teoreties oor versoening te praat nie. Hy skryf in ‘n situasie waar versoening dringend tussen hom en die gelowiges in Korinte nodig is. Daar het ‘n uiters gespanne verhouding tussen die apostel en die gemeente bestaan oor

  • sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl. ook 7:5-16),
  • die kollekte (hfst. 8-9),
  • sy apostelskap (2:14-7:4), en
  • die vals apostels (hfst. 10-13; vgl. ook 2:14-4:6).

Weens die gespanne verhouding, moet daar versoening tussen die gelowiges in Korinte en tussen Paulus en hulle kom. Daar is immers ‘n gemeenskaplike roeping, nl. om die versoening van Christus te verkondig.

Paulus se argument is dat hy en die gelowiges in Korinte op ‘n nuwe manier na mekaar moet kyk. Hulle is immers nuwe mense. Hulle is in Christus nuutgemaak. Hulle moet ‘n manier vind om mekaar se hande op die pad van die evangelie te vat. Hy en die Korintiërs moet leer om na mekaar deur die oë van Christus te kyk. Hulle is Christus se verteenwoordigers. Hulle moet vir die wêreld illustreer dat God versoening bring.

In ‘n land waar gelowiges uit mekaar geskeur is, het Paulus se boodskap verreikende betekenis en implikasies.

Ons moet onsself afvra: Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is? Versoening het verreikende implikasies, vol uitdagings en struikelblokke, maar dit behoort verrykende nuwe geleenthede en ervarings mee te bring. ’n Nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ’n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk.

Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie.

“Ons kan allerhande soorte mooi slagspreuke uitdink en probeer om die kerk en ons gemeente te bemark. Ons kan mooi borde en brosjures produseer. Dit sal alles niks help as ons nie self die produk is wat bemarkbaar is nie. Dit sal sigbaar moet word in ons lewe as gemeente dat Jesus ’n verskil in ons maak. Terwyl kerke verdeel is, kan ons die mooiste storie opmaak, maar die produk is ongeloofwaardig.” (Julian Muller)

Versoening kan mens ‘n duur prys kos. Dit beteken dikwels dat jy jou trots moet sluk en die minste moet wees. Dit beteken jy moet jou aanspraak dat jy reg is, prysgee. Dikwels moet mens jou reg om die slagoffer van ander se gekonkel te wees, prysgee. Jy moet vrede maak en versoen, want die versoening geskied in Christus se Naam. Hy het die prys vir ons almal se sonde betaal. Om Christus ontwil versoen en vergewe ons. Ons Christus ontwil vat ons hande en leef die evangelie saam uit.

(Hierdie blogpost is die derde van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik  vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )

Advertisements




Een…

30 10 2014

flowersJoh 17:20-21: (2014 Direkte vertaling): “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo — dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

In ‘n vorige plasing op hierdiedie blog is ons gevra: “Is ek by God?” Daarna het die vraag gevolg: “Is ek by God deur myself te gee?” Vandag vra Johannes die vraag: “Is ek by God deur eenheid tussen gelowiges te soek?”

Hierdie vraag is deur die eeue ook al baiekeer aangespreek in verskillende Geloofsbelydenisse. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;”
Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.”
Belydenis van Belhar (1986): “Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.”

Jesus bid vandag vir ons en tree vir ons by die Vader in. Waarvoor bid Hy? Volgens hierdie gedeelte bid Hy vir herstelde verhoudings, vir geneesde mense, vir liefdevolle samesyn. “Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wLreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.” (17:21 Die Boodskap).

Deur Jesus word ons opgeneem in die lewe van die Heilige Goddelike Familie, Vader, Seun en Gees. Ons word kinders van God. Jesus bid dat die kwaliteit van ons verhoudinge dieselfde liefdevolle gehalte sal hê as die verhouding binne die Drie-eenheid.

Uit ‘n eerlike lees van Joh 17:20-26 kom ons agter dat eenheid vir Jesus belangrik was. Hy bid dat daar eenheid onder sy volgelinge sal wees. Onthou wie is die volgelinge oor wie dit hier gaan. Daar was vissermanne, belastinggaarders, ekstroverte en introverte, ouer en jonger mense asook mans en vroue onder hulle. Een ding kan ons van hierdie volgelinge van Jesus sê: Hulle was nie ‘n groep eenderse mense nie – en tog bid Jesus dat hulle een sal wees.

Miskien dink ons te veel oor eenheid in terme van eendersheid. Ons ken almal die storietjie van die ma wat na haar seun se paradedag gegaan het toe hy as polisie-offisier uitpasseer het. Die jong polisiemanne en vroue het netjies in gelid voor die skare verby marsjeer, maar o wee, die ma se seun was uit pas. “Kan jy glo”, sê sy vir die mense rondom haar, “my seun is die enigste een wat in pas is!”

Vir baie mense is ‘n kolom mense in uniform wat in gelid marsjeer, mooi! Dis volledige eendersheid. Die gevaar is dat ons iets hiervan in die kerk, in ons gemeente soek wanneer ons aan eenheid dink. Dan voel ons goed as almal konformeer na dieselfde kleredrag, dieselfde gebruike en optredes, ensovoorts.

Dis is nie verkeerd om by mekaar aan te pas en te konformeer nie. Ons doen dit in elk geval op baie terreine van ons lewe. Dink maar aan hoe mense elke jaar by nuwe modes aanpas. Die probleem onstaan egter wanneer ons dit begin verwar met gemeente-eenheid en kerkeenheid.

Wanneer dit gebeur, raak die gemeente of kerkruimte ‘n onveilige ruimte vir wie ook al uit pas is. Wee die een wat rook, sê een groep Christene. Wee die een wat geskei het, sê ‘n ander groep. Wee die een wat MIV positief is…..! Hierdie houdings lei tot stigma. En stigma funksioneer lynreg teenoor eenheid. Stigma lei daartoe dat ons na mekaar kyk met ‘n “Ons – Julle” houding.

In die Skifgedeelte waarby ons stilstaan, gaan dit baie duidelik om eenheid tussen Jesus se dissipels. Hierdie eenheid is so belangrik vir Jesus dat hy dringend tot sy Vader hiervoor bid. Die eenheid is so groots en diepgaande dat Jesus dit selfs met die eenheid wat daar tussen Hom en die Vader is, vergelyk. Hierdie eenheid is so belangrik vir die geloofwaardigheid van die evangelie dat Jesus by herhaling sê dat dit nodig is dat sy volgelinge een sal wees, want dan sal die wêreld weet en dan sal die wêreld glo.

Wanneer Jesus volgens Joh 17:22 sê dat Hy sy heerlikheid aan sy volgelinge gegee het sodat hulle ook een kan wees, gaan dit hier oor die paradoksale heerlikheid. Jesus “gee” aan sy dissipels sy lydensweg! In die ander evangelies lees ons dat Jesus herhaaldelik vir sy dissipels gesê het, neem jou kruis op en volg my (vgl Mat 10:38, 16:24, Mark 8:34 en Luk 9:23). Die eenheid tussen Jesus se dissipels is dus ten diepste ‘n eenheid wat die vrug is van dissipels van Jesus wat hulle kruise dra, volgelinge van Jesus wat bereid is om die minste te wees en ander se voete te was, gelowiges wie se optrede vol van genade en waarheid is. Dis ‘n liefdesgemeenskap volgens die liefde van Jesus.

In hierdie liefdesgemeenskap is die vrae, “wie is eenders en wie is anders?”, nie belangrik nie. Hier word gefokus op die vrae, “wie het hulp nodig? Wie se laste moet gehelp dra word?”

Wanneer ons so gemeente is, word ons gemeente ‘n plek van veiligheid, van genesing vir mense wat seergekry het, mense wat skynbaar anders is, mense van wie ons dink dat hulle uit pas geraak het. Die gemeente is mense wat deur God begenadig is. Mense wat God nuwe mense maak. En daarom kan ons ook mekaar in genade aanvaar in ons verskeidenheid en mekaar help om nuut te leef.

“Is ek by God deur eenheid onder gelowiges te soek?”

 

(Hierdie blogpost is die tweede van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik  vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )





Gee…

29 10 2014

B0318NL_op_800x600Johannes 17:10 Afr ’83 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.

In ‘n vorige post het ek die vraag gevra “Is ek by God?” Wie is hierdie God? Wie is Hy by wie ons moet bly? Deur die eeue het mense op baie maniere hierdie vraag probeer antwoord, maar die kern bly omtrent altyd dieselfde:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; Ek glo in die Heilige Gees” (Apostoliese Geloofsbelydenis)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.” (Geloofsbelydenis van Nicea)

Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.” (Belydenis van Belhar (1986))

Die Drie-Eenheid van Vader, Seun en Gees speel in elke geloofsbelydenis ‘n sentrale rol. Tereg ook. Vers 3 van Joh 17 sê: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

Mooi en waar woorde, woorde wat van ons kant af erken dat God groter is as wat ons ooit kan verstaan en droom Maar wat sê dit vir ons eintlik oor die karakter van God? In hierdie kort gedeelte wat ons gelees het uit ‘n gebed wat Jesus gebid het, kom daar belangrike sake na vore wat vir ons iets leer van hierdie God wat ons, volgens vers 3, kan ken.

Hierdie God, hierdie Vader, Seun en Heilige Gees, word gekenmerk deur iets baie belangrik in hierdie gebed – die gee van ‘n geskenk. Nege keer in hierdie paar verse word die woord “gee”, “didomi” gebruik. Ons is aan Jesus gegee deur God, en Hy gee aan ons God se woord, God se liefde. In die aksie van “gee”, is Vader en Seun een, en gee God eintlik Homself aan ons.

En dit is nie maar net per ongeluk dat die woorde hier so in Jesus se gebed deur Johannes opgeteken is nie, 75 keer in die evangelie van Johannes word daarop gewys dat God Homself aan ons gee

Wat sê dit vir my? Wat beteken dit vir my lewe en vir my besluite as ek weet ek is aan God gegee en Hy gee Homself aan my?

– Dit beteken onder andere dat ek sal weet ek behoort – ek is nie maar net los en vas in die lewe nie, ek is nie maar net ‘n ongeluk nie. Ek behoort aan God wat my ken en vir wie ek kan ken My geloof, my lewe begin by God wat my wil ken en Homself aan my wil bekendstel. Dit is my identiteit: Geken deur God! Aanvaar deur God!

– Dit beteken ook dat ek God se naam, volgens die tyd van Jesus se verstaan, God se karakter kan ken. Die God wie se naam ons bely in die belydenisskrifte is nie maar net ‘n veraf, onbetrokke God nie. Nee, ons kan Sy karakter ken, die karakter van die een wat alles gedoen het sodat ons Hom kan ken, wat Homself gegee het in lewe, sterfte en opstanding sodat ons Hom kan ken

– In vers 14 sê Jesus: “Ek het u woord aan hulle gegee”. ‘n Mens kan hierdie woorde nie hoor sonder om herinner te word aan die eerste vers van hierdie evangelie nie: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God”. Jesus het nie ‘n dooie letter, ‘n wet, gebring nie Deur die Woord te beliggaam het Hy ‘n verhouding, ‘n lewende Woord gebring wat bestaan uit ‘n verhouding met God.

Is ek by God? Want Hy is verseker by ons. Die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees GEE Homself aan ons sodat ons Sy karakter kan ken, GEE aan ons hierdie kennis deur die Woord wat vlees geword het, en GEE nou ook aan ons die opdrag om hierdie God verder te gaan bekend maak. :18: “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur”.

God gee Hom aan jou SODAT jy jouself aan HOM kan gee deur alles wat jy dink doen en sê!

(Hierdie blogpost is die eerste van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas

Agtergrond inligting en stof gebruik vanaf http://www.workingpreacher.org, http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )