Belydenis aflegging – 1 Kor 1:27-29

22 11 2010

1 Kor 1:17-29 (27-29), Deut 7:7-9

Dit is lekker om op ‘n dag soos vandag te kan bymekaarkom, om hier te kan wees en die vreugde van ouers en jongmense te kan deel waar hulle belydenis van geloof aflê. Om deel te wees van ‘n diens waar kerkraadslede hulle bereidwilligheid om op ‘n besondere manier God en die gemeente te dien, kom bevestig. Waar Sondagskool kan terugkyk na ‘n jaar en weet hulle het meer van God geleer

Te midde van al die lekkerte is daar egter altyd die gevaar dat ons dink ONS doen hierdie dinge, ons is dan so oulik, ons offer so baie op vir God. Ons teksverse herinner ons egter onomwonde daaraan dat ONS niks het om op te roem nie – Deut 7:7: “die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” 1 Kor 1:29: “Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.”

Hoekom is ons dan vandag hier? Wat het gemaak dat ons bereid kan wees om hier te staan, en in die openbaar te sê wat ons glo? Om dit te verstaan moet ons ver terug gaan, terug na die tyd toe hierdie 4 jongmense nog babatjies was – hulle is al 4 as kindertjies gedoop. Dit was ‘n baken, ‘n oriëntasiepunt in hulle lewens, al het hulle niks daarvan verstaan op daardie tyd nie.
•    Eerstens het hulle ouers beloof om vir hulle van die Here te leer. Dit is glad nie iets wat voor die hand liggend is nie – die ouers moes self weet dat ‘n lewe saam met God beter is as ‘n lewe sonder Hom.
•    Die belangrikste wat daardie dag gebeur het is egter dat God self uitgereik het, toe hulle nog niks verstaan het nie, en vir hulle gesê het dat Hy beloof om vir hulle lief te wees. En nog meer, Hy het die teken van water gegee sodat hulle altyd iets kon hê om hulle te herinner aan God se liefde.
So behoort ons doop vir elkeen van ons ‘n versterking te wees. Toe die Duitse teoloog, Dietrich Bonnhoeffer in die tronk sit agv sy geloof, toe die Nazi’s hom druk om toe te gee en sy geloof te kompromenteer – toe skryf hy uit wanhoop: “Wie is ek?” God het hom egter genade gegee om daarby te skryf: “Wie ek ookal is, o God, U weet ek is U s’n.” En dit is waar van elkeen van ons – te midde van watter moeilikheid of twyfel ookal, kan ons uitroep: “U weet ek is U s’n.!”

Met wat hierdie jongmense vandag kom doen, kom sê hulle iets, iets wat ons ander wat dalk al lankal lidmate is ook met ons lewens moet sê. Dit gaan NIE hier oor wat EK kom sê nie, nee dit gaan oor voortgaande bevestiging van God se werk in my lewe:
•    Ons lewe deur die Gees van God gelei! Nie as ‘n soort magiese krag nie, maar baie prakties as ‘n uitlewing van wat Jesus gevra het, van Sy voorbeeld navolg. Dit is ‘n lewe IN DIE GEMEENTE waar ons take, bedieninge opneem (1 Kor 12), waar ons groei in insig, waar ons volhard in die lewe van gebed (Rom 8), waar ons sekere houdings, gesindhede uitleef teenoor ander (Gal 5). 1 Kor 12:20 sê nie verniet nie: “nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.” Ons word geroep om sorg te dra vir mekaar, om deur die Gees gelei, Jesus se gesig vir mekaar te wees!
•    Die feit dat ons vandag, of iewers in die verlede, belydenis van ons geloof kon aflê, kon antwoord op God se uitnodiging by my doop, bevestig dat God SY doopbelofte gestand gedoen het – Hy seën ons! Dit is louter genade dat ons hier kan staan en sê, “Ek glo in God die Vader, Seun en Heilige Gees.” Seën wat sigbaar word en moet word in ons lewens.
•    As kind aanvaar ek en leef ek met die heerlike wete dat God vir MY liefhet! Ek is ‘n voorbeeld vir die grootmense met my geloof.
•    As jongmens om myself op ‘n avontuurlike en energieke wyse aan God te gee – soms op maniere wat dalk die bestaande orde hier in die gemeente gaan uitdaag!
•    As jong volwassenes dalk om in my werk te ontdek ek kan my roeping as Christen uitleef.
•    As iemand in my middeljare dalk die ontdekking dat God my gebruik, juis my stand in die gemeenskap kan gebruik om Sy getuie te wees.
•    As ouer persoon het ek dalk meer tyd om my roeping as gelowige uit te leef, om my wysheid tot Sy eer te gebruik.

Alles is egter genade. Seën wat ons uit God se hand ontvang wat dwarsdeur ons lewens by ons bly. Om belydenis van geloof af te lê, is nie om ‘n doel te bereik nie. As ek gekies word vir die Springbokspan, kan ek nie maar net rustig agteroor gaan sit asof ek ge-“arrive” het nie! Nou is die tyd vir hard werk, vir speel in die span.

Gebruik die genade van God, genade wat Hy beloof het toe jy niks verstaan het nie, genade waarmee Hy jou gebring het tot vandag, genade waarmee Hy ook in jou lewe vorentoe met jou sal wees, gebruik dit , leef daaruit deur die Gees wat in jou woon, om elke dag en oomblik tot Sy eer te leef!

(Preek gelewer tydens die belydenis van geloof aflegging deur 4 jong mense)





Moeilike tye!

19 11 2010

André Swiegers sing, as sy 1966 VW Beetle weereens gaan staan, van “Moeilike tye”. Dit is iets wat ons almal seker onsself mee kan vereenselwig – of dit nou droogte, of finansies, of kinders, of politiek, of watookal is, ons weet van “moeilike tye”. Soms glo ons dat ons dit beter verstaan as enigiemand anders, want al die moeilikheid kom dan altyd na MY kant toe.

Dit is so dat ons in moeilike tye leef. Redelik gereeld hoor ek mense opmerk dat ons nou beslis in die laaste dae leef. Die wederkoms is ophande! Kyk net hoe sleg gaan alles.

Moeilike tye omdat die Wederkoms op pad is, soos Maleagi ons waarsku. Maar ook moeilike en selfs gevaarlike tekste, want daar is altyd iemand wat hierdie tekste probeer uitwerk, probeer ‘n datum gee vir wanneer die Wederkoms dan nou gaan gebeur. So is die Internet op die oomblik vol van ‘n radiostasie wat 21 Mei 2011 as die Oordeelsdag aankondig.

Gevaarlik want niemand het nog ooit reg voorspel nie – dieselfde radiostasie wat 21 Mei 2011 nou so seker aankondig as Oordeelsdag, het in die verlede 6 September 1994 as Oordeelsdag aangekondig. Regdeur die geskiedenis, vanaf die vroeë Christelike kerk, het mense die laaste dae aangekondig, maar dit lyk vir my ons is nog steeds hier.

Maar ook gevaarlik want mense speel met die Bybelse teks asof dit ‘n kode of wiskunde is, eerder as om dit te sien as God se waarskuwing en oproep om elke oomblik gereed te wees vir Hom – vir Sy wederkoms, maar ook om gereed te wees om as Sy getuies op te tree. Jesus self het ons gewaarsku: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (Matt 25:13)

Die grootste gevaar is seker egter dat ons dink ons kan die meesters raak van die Woord van God deur al hierdie vreeslike goed uit te werk. God se Woord is die lig vir ons voete, die riglyn waaraan ONS moet vashou. 2Ti 3:16 sê nie verniet nie: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Ons is onder die Woord, nie die Woord onder ons nie.

Ten spyte daarvan dat Jesus self in Matt 24:26 sê: “maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. net die Vader weet dit.” – ten spyte daarvan kom daar keer op keer weer mense wat ander verlei met sogenaamde voorspellings, of profesieë.

Die belangrike is nie om die Woord van God te probeer manipuleer nie. Moenie probeer om ‘n Dan Brown of Michael Drosin op die Bybel te trek en allerlei kodes daar in te lees nie. Die Woord van God moet gelees word as God se manier op met ons te praat, nie in kodes nie, maar in taal wat verstaanbaar was vir die mense wat dit gelees het, en wat vir ons nou verstaanbaar is. Soos Johannes 5:25 sê, die tyd is NOU. Nou is God se tyd van oordeel. Nou is God se tyd van redding. Nou is die tyd waarin ons moet leef as God se verteenwoordigers, as Sy getuies.

Maleagi beteken “My boodskapper”, en dit is juis die punt. Hierdie is nie menslike woorde nie, maar God wat via Sy boodskapper vir ons wil oproep daartoe om gereed te wees vir die koms van Sy Seun in ons harte en in ons lewens.

Wanneer Maleagi hier in die 5de eeu voor Christus skryf, is die volk lankal terug uit ballingskap, die tempel is herbou, en alles gaan goed… op die oog af. Die volk het egter al weer begin om teen God te oortree. Om God te probeer manipuleer deur hulle godsdiens, onderdrukking van swakkes en armes, korrupte leiers. Te midde van dit alles sê Maleagi – pasop! Die dag van die Here kom! Wie sal dan staande bly?

Slegs diegene wat onder die vleuels van die Here (Ou vertaling) hulle redding en skuiling vind. Dit is so maklik om selfgenoegsaam terug te sit en ‘n skeiding te maak tussen ONS en HULLE – Ons die goeie mense en HULLE die slegtes. Die wat gered word op die dag van die Here is egter hulle wat eerbied het vir God, wat God toelaat om hulle te beskerm onder Sy vleuels, nie die wat op eie geregtigheid staatmaak nie. Ook vir ons kom die woorde van God in Matt 23:37: “hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak”.

In moeilike tye, in gevaarlike tye, help dit nie om in kodes, voorspellings en profesieë redding te gaan soek nie. Onder die vleuels van die Here, as mense wat weet dat ons van Hom afhanklik is, daar is die redding!

Leef alreeds nou deur God se genade op die nuwe aarde.  Jesus het vir ons gesterf – ons hoef geen oordeel te vrees nie – ons hoef nie te fokus op EENDAG nie – Christus is NOU deel van ons lewe, nou help Hy ons om te “cope” met die moeilike tye. Agv Hom kyk ons anders na die wereld, na verhoudinge.  Ons konings kinders van God kan en moet ons juig en jubel want deur Jesus leef ons as oorwinnaars.

Mal 4:2 “ Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers” Dis ons daai!  Ons is vry deur Jesus. NOU en vir altyd.

(Maleagi 4:1-3. Met erkenning aan WorkingPreacher.org)





Kursus… of terapie?

9 11 2010

Kursusse, werkswinkels, en dies meer. Die moeite werd of “jolly” patrollie? My eie ondervinding oor die laaste twee jaar met die VBO (Voortgestette Bedienings Ontwikkeling) gerigte kursusse is dat nie een van hulle ‘n “jolly” patrollie was nie, maar dat hulle tog verskil het in die tipe groei wat in ‘n mens na vore kom. Van die kursusse bring meestal intellektuele stimulasie na vore. Ander weer bring ‘n sekere mate van geestelike of persoonlike groei na vore. Het egter onlangs ‘n Fasiliterende Leierskap kursus bygewoon wat ‘n totaal ander tipe groei na vore gebring het. Dit was een van daai kursusse waar mens dinge eers moes verteer om sin van te maak. En soos een van die kursus gangers (nie ‘n dominee nie), gesê het: “Hoe kry jy ‘n klomp predikante vir ‘n terapie sessie bymekaar? Jy vertel vir hulle dis ‘n Leierskap kursus!”

Daar sit ons toe, Dominees, “gewone lidmate” en nie-lidmate. Van die NG Kerk, VG Kerk en Congregational Kerk, en op die tweede dag van die kursus vertel ons vir mekaar van ons grootste pyn. Hoe gebeur so iets? Hoe gebeur dit dat mense van verskillende kerke en rasse, wat mekaar die vorige dag vir die eerste keer gesien het, so openlik van hulle pyn en vreugde kon praat?

Frederik Marais, die hoofaanbieder, het vanaf die eerste oomblik op dag een die reëls goed duidelik gemaak.

  • Ons gaan diep en blaamloos na mekaar luister.
  • Ons gaan mekaar bevestig wanneer ons iets hoor wat ons aanspreek.
  • Ons gaan ons voorveronderstellings suspendeer, op die lyn hang.

Hierdie “reëls” en die konsekwentheid waarmee dit toegepas is deur aanbieders en kursusgangers, het gelei tot die skep van ‘n veilige ruimte. ‘n Ruimte waarin elkeen net homself kon wees. ‘n Ruimte waarin elkeen gevoel het dat wat hy sê, net daar sou bly – dit sou nie die volgende week se skindernuus wees nie.

Dag een is begin met sekere voorbereidende werk, met die indentifisering van jou eie “case study” rondom ‘n spesifieke probleem wat jy ervaar. Op dag twee is een van die metodes om konflik en probleme mee te takel, die storie muur, gebruik. Hier het iets ongeloofliks gebeur. Vanaf die eerste persoon wat aan die beurt was, was daar ‘n brutale eerlikheid rondom waar hy of sy op die oomblik in sy/haar lewe is. Die storie muur het begin by die 1980’s, en in tydblokke geloop tot 2010. Elkeen het gedeel wat hy of sy veilig gevoel het om te deel. Te midde van storie na storie van pyn, hartseer, teleurstellings, mislukkings, vergifnis, rassisme, oorwinnings, groei, aanvaarding het daar soms trane gevloei, is daar soms gelag, maar is niemand onaangeraak gelaat nie. Die fasiliteerder van hierdie gedeelte, Frederik Nel, het met baie empatie en deernis almal genoeg tyd gegee om sy of haar storie te vertel.

Dit het gelei tot groei by ieder en elk. Net die besef dat jy nie al een is wat mislukkings in die gesig moes staar nie, die moed van ‘n ma wat haar kind se moordenaar besoek om hom te vergewe, ens, ens. Alles het ons diep geraak. Niemand het onaangeraak daar weggegaan nie!

Een ding wat my sterk sal bybly in die soeke na die oplossing vir konflik, is die krag daarin om elkeen teenwoordig toe te laat om gehoor te word, om “geluister na” te word.