Bybelstudie dag – Ons kyk verder na ons Joodse familie en die agtergrond van ons Christelike geloof.
Die vroeë Christene het in die Joodse sinagoges aanbid, en dit is eers toe daar vervolging vanaf die Jode gekom het dat hulle in huise begin aanbid het. Die meeste van die eerste gelowiges was ook Jode, en dis eers met Paulus se sendingwerk dat ‘n beduidende aantal nie-Jode Christene geword het.
Dit is dus belangrik dat ons iets van ons Joodse agtergrond verstaan en dat ons ook die Ou Testament lees.
Vandag gaan ons na so paar van die vreemde wette in die Ou Testament kyk. Byvoorbeeld Deuternomium 22:11 (DV): “Jy mag nie gemengde vesel — wol en linne tegelyk — dra nie.” Of wat van hierdie een Eksodus 30:22-25, 33: “Die HERE het met Moses gepraat en vir hom gesê: “Neem jy self keurgraad speserye: 500 sikkel verpoeierde mirre, die helfte soveel geurige kaneel — dit is 250 sikkel — en 250 sikkel geurige riet, asook 500 sikkel kassia, volgens die standaardgewig in die heiligdom, met ‘n hin olyfolie. 25 Jy moet daarvan heilige salfolie maak, met die kundigheid van ‘n salfmenger — ‘n besondere mengsel. Dit moet heilige salfolie wees. 33 Iemand wat iets soortgelyks voorberei, of wat daarvan op ‘n buitestander laat kom, sal van sy volk afgesny word.’ ” (‘n sikkel is omtrent 6kg en ‘n hin 3,8l)
Kom ons kyk vinnig na die eerste voorbeeld, die een rondom klere van gemengde wol en linne gemaak. Kyk gou na jou eie klere – as jy nie iets spesiaal in ‘n suiwer stof gekoop het nie, is die kanse seker 99% dat jy nou klere van gemengde stof dra. Oortree jy dan nou ‘n opdrag van die Here? Hier is dit belangrik om nie maar net die Ou Testament as irrelevant af te maak nie, maar om na die doel van die opdrag te kyk. Daarvoor het jy baiemaal nie eers ander bronne nodig nie, die antwoord is in die Bybel self! Eksodus 26:1 vertel vir ons waarvan die Tabernakel gemaak is. In Eksodus 28:1-6 lees ons waarvan die priesters se klere gemaak is. In albei gevalle is gemaak uit wol en linne wat saam geweef is! Het hulle dan nou God se opdrag verbreek?
Nee, die doel was eerder dat mense wat nie afgesonder, geheilig, was vir spesiale diens aan God nie mag lyk soos die priesters nie. Die wol-linne mengsel is gebruik om spesiale Goddelike diens aan te dui. Dit is amper soos om vandag soos ‘n polisieman aan te trek as jy nie een is nie. Dit is verbode, want jy doen jou voor vir wat jy nie is nie. Dieselfde geld vir die mengsel salfolie. Die spesifieke mengsel is gekies om spesiale diens aan God uit te beeld.
Die twee voorbeelde is dus nie vreemd binne die leefwêreld van die antieke Jode nie. Onthou, hulle het sopas vanuit die veel-godedom van Egipte gekom. Soos hulle terugverlang het na die “vleispotte van Egipte”, so het baie van hulle verlang na die privaat huisaltaar, daar waar hulle self as priesters opgetree het van vreemde Egiptiese gode. God kom dus in hierdie opdragte en verduidelik aan hulle in taal wat hulle goed sou verstaan, al is dit vreemd vir ons, dat hulle nie hulself moet aanmatig nie. God self bepaal hoe Hy gedien moet word. Elkeen kan nie maar self besluit watter god of op watter manier hy God wou dien nie. God stel ‘n duidelike breek tussen dit wat hulle vir omtrent 300 tot 400 jaar aan gewoond was in Egipte en hoe hulle nou moet leef as getuies vir Hom.
‘n Taak vir hierdie week:
1. Wat beteken “heilig” of “afgesonder” vir jou waar jy vandag leef? Hoe kan jy heilig wees in jou werk, huis en in die samelewing? Lees 1 Petrus 1:13-15 en 1 Tessalonisense 4:1-8 om jou te help met die antwoord.
2. In Eksodus 15 lees ons Moses se lied na die oorwinning by die Rietsee. Vers 11 sê: “Wie is soos U onder die gode, HERE? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in lofwaardige dade?” Wat beteken God se heiligheid vir jou? Hoe erken jy God as heilig in jou optrede elke dag?
Geniet! Volgende keer delf ons nog verder in die antieke Hebreeuse leefwêreld.