Maagdelike geboorte?

15 12 2010

Daar is ‘n klompie gedeeltes in die Bybel wat mense pla – kan die verhale ooit waar wees? Ons hou mos daarvan om dinge rasioneel te kan verklaar!  Matteus 11:18-25 is een van daardie tekste.

Die mense wat probleme kry of maak met hierdie verhale kom gewoonlik van twee kante af – daar is die vir wie ons geloof staan of val by die maagdelike geboorte. Vir ander is dit net te ongelooflik – in die letterlike sin – hulle kan net nie iets so bonatuurliks glo of aanvaar nie. Dan probeer dominees twee soorte antwoorde gee. Die een probeer met alle mag om die historiese waarheid van die verhaal te probeer bewys – en dit krap sommige mense om. Die ander verwys na die verhale as “metafore” en probeer dan aandui dat dit nie nodig is om dit letterlik te glo nie – en dit maak nog meer mense kwaad!

Persoonlik dink ek albei hierdie pogings mis die punt. Matteus skryf nie geskiedenis soos ons dit vandag verstaan nie. Hy probeer nie ‘n neutrale, onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis skryf nie!  Hy skryf geskiedenis soos al die geskiedskrywers in die eerste eeu na Christus geskryf het. Hy vertel ‘n verhaal om ons te leer en oor te haal om sy punt in te sien en te aanvaar.

Moet my nie verkeerd verstaan nie! Matteus skryf definitief ’n verhaal waarin hy glo, en hy wil hê ons moet die ook glo. Matteus is egter nie geinteresseerd in die “feite” nie. Hy wil aan ons ‘n groter waarheid, wat meer is as die saamvoeging van ‘n klompie feite, oordra. Matteus skryf in werklikheid ‘n geloofsbelydenis hier.

Deur te veg oor die “waarheid” al dan nie van die feite mis ons Matteus se boodskap heeltemal. Matteus is besig om ‘n skat met ons te deel – Hy gee aan ons ‘n geloofsbelydenis dat God in Jesus Christus weer aan die skep is. ‘n Nuwe skepping met die oog daarop om Sy beloftes aan Israel en die hele wêreld te hou!

Daar is twee sake wat Matteus aan die orde bring, en hy vleg hulle pragtig saam. Eerstens stel Matteus belang in skepping. Die Afrikaanse vertaling mis die nuanses van die Grieks hier, maar in vers 1 van Matteus 1 staan daar letterlik: “ Die genesis van Jesus Christus”. Die begin, die oorsprong van Jesus. En nou weer hier in vers 18 gebruik Matteus dieselfde woord – genesis – terwyl dit in Afrikaans met geboorte vertaal word. Matteus kom beskryf hier in die eerste boek van sy evangelie ‘n nuwe skepping van God, ‘n nuwe begin!

Die “Gees van God het oor die waters gesweef” in Genesis 1 vers 1. Hier is dieselfde Gees weer aktief, hierdie keer sodat Maria kan swanger word met, vir Matteus, die nuwe Adam. (Selfs Jesus se versoeking in Matt 4 herinner aan Adam en Eva se versoeking in Gen 3)

Saam met God wat besig is met ‘n nuwe skepping, konsentreer Matteus ook op God se beloftes aan Israel. Dit is hoekom Joseph so sentraal staan in hierdie gedeelte, want deur hom kan Jesus se geslagsregister terug gevoer word na Dawid. God het taamlike groot beloftes aan Israel gemaak deur Dawid, en Matteus glo dat God al hierdie beloftes en nog meer waar maak in en deur Jesus. Die grootste van hierdie beloftes was dat Dawid se koningshuis vir altyd sou regeer. In Jesus word hierdie belofte waar en gestand gedoen. Nou nie meer net vir Israel nie, maar vir almal van ons. God self stel Israel instaat om Sy doel met hulle te bereik, die doel wat ons in Jesaja 49 en 60 lees, naamlik dat Israel ‘n lig vir die nasies moes wees om ander na God toe te trek.

Emmanuel, “God met ons”, is God se nuwe skepping om Sy beloftes waar te maak! En God is nog steeds besig met Sy skepping, deur my elke dag NUUT te maak deur die Gees wat in my woon, dieselfde Gees wat in die begin oor die waters gesweef het. Hy is nog steeds besig om Sy beloftes waar te maak: Beloftes van liefde, deur ons instaat te stel om Sy liefde uit te leef.

Laat ons in hierdie Kerstyd werklik God se verteenwoordigers wees soos wat Hy al in Genesis vir ons gemaak het, laat ons Sy lig so laat skyn dat ander na Hom toe aangetrek kan word. Laat ons liefde ondermekaar van so ‘n aard wees dat ander sal glo dat Jesus Christus seun van God is!

(met erkenning aan workingpreacher.org)





Is jy hoop?

6 12 2010

Rom 15:4-13

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Dit is die Aäronitiese seën uit Num 6:24-26 waarmee ek graag ‘n diens afsluit. Wat beteken dit egter, wat beteken dit as die seën die belofte van vrede gee, maar ons ervaar dit nie, ons sien dit nie in ons alledaagse lewe nie…  Misdaad, gesinsprobleme, ongelukke, geldprobleme… lyk nie of ons in ‘n besondere vredevolle tyd leef nie. Met Jesus se geboorte het die engele aangekondig: “ “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14) Vrede? Vrede? Waar is dit?

Om te verstaan wat hierdie aankondiginge beteken, moet ons miskien mooi gaan kyk na ons teks vanoggend: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13). Hier word vrede en vreugde gekoppel aan hoop, hoop wat vloei uit God as die BRON van hoop.

☛ Hoop is ‘n moeilike en maklike woord – Ons is geneig om hoop = te stel aan optimisme. Maar wat is optimisme eintlik, dit is maar net die geloof dat, ten spyte van hoe erg die probleme lyk, dinge ten goede sal uitwerk. In dieselfde omstandighede sal die pessimis weer net die komende ramp sien, alles is verlore!

Hoop het iets in gemeen met beide optimisme en pessimisme. Hoop sien in elke situasie ‘n oplossing, en soos die pessimis, sien dit die situasie in sy volle swang, sy volle potensiaal vir rampe en ellende.

Hoop is egter ook TOTAAL anders as beide optimisme en pessimisme. Optimisme en pessimisme veroorsaak dat ons ‘n situasie maar net aanvaar soos dit kom, “what will be will be”, ons kan tog niks verander aan die uitkoms nie, So, fatalisties, aanvaar ons maar wat kom.

Hoop aanvaar nie maar net wat kom nie, hoop vereis dat ons die wêreld sien soos dit is, eerlik, met al sy probleme, sonder ‘n lagie vernis bo-oor, maar weet dit kan beter.

Ons kan dit doen, want die bron van ons hoop is nie maar net valse optimisme nie, die bron van ons hoop is God self, wat dit in ons werk deur die Heilige Gees.

Daarom kan ons hoop nie los verstaan word van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit kan nie los verstaan word van God se liefde wat vir ons bewys en gegee is deur Jesus se geboorte, sterwe en opstanding nie. God se liefde wat verder in ons leef deur Sy Heilige Gees.

☛ Hoe hoop ek op vrede? Hoe leef ek uit hoop? Hoe maak ek die aankondiging van die engele waar?

Slegs deur dit waar te maak vir ander. Want hoop roep ons op tot aksie, tot die uitleef van ons hoop.  Romeine 15 roep ons op om eensgesind onder mekaar te wees, om mekaar te aanvaar, om Sy hoop uit te dra aan alle nasies, om God te loof en prys. Hoop gaan nie oor lekker voel, om knus in my nessie te sit en te “hoop” die storms van die lewe sal nie die boom waarin ek sit ontwortel nie. Hoop roep ons, om ter wille van die eer van God, die storms tromp-op te loop, om ander te aanvaar soos God ons aanvaar – al hou ons soms nie van hulle nie.

Hierdie woord wat in Afrikaans met “aanvaar” vertaal word, het ‘n diep betekenis in die Grieks, eintlik heelwat dieper as wat ons die gewoonlik in Afrikaans verstaan. Dit verwys na die ander persoon aanvaar, neem as jou metgesel, om die ander in jou huis in te neem, om toegang tot jou hart te verleen.

In kort beteken dit nie om HOOP vir jouself te soek nie, maar om God se hoop vir ander te wees! God se vrede breek daar deur waar ek ander aanvaar. Die versoeking is daar om hierdie hoop op ‘n nou, op myself gerigte manier te verstaan – EK wil tog iets beter vir my en my gesin hê! Dit is egter nie waarvan Paulus praat nie. Die hoop wat die Heilige Gees in my werk is nie net vir myself nie, dit is daar om gedeel te word!

In hierdie Kerstyd word ons geroep om te aanvaar soos Christus aanvaar het, om hoop te bring soos Hy hoop gebring het, om vrede te wees vir ander soos Hy ons vrede is. Martin Luther het dit ‘n “gelukkige ruil” genoem. Christus neem alles op Hom wat ons van God skei, en gee vir ons die lewe, en dit in oorvloed, in Christus. So word ons voortdurend by God verwelkom, en so moet ons ander verwelkom en aanvaar.

Ons hoop moet al sterker word deur die krag van die Heilige Gees!    God se vrede moet al sigbaarder word deur ons lewens!

Mense moet hoop sien, hoor, voel en ervaar as ons in hulle teenwoordigheid is of as hulle aan ons dink.

Is jy ander mense se hoop?