Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.





Persepsies

23 04 2010

Persepsies is darem maar ‘n ding! My woordeboek beskryf ‘n persepsie as daai ding wat onaantreklike meisies (en ouens!) al hoe mooier laat lyk hoe meer bier jy drink…. Eintlik wil dit seker maar net sê “beauty is in the eye of the beholder”… Dit is ‘n ding wat rasioneel moeilik vasgevat kan word, want hy slaan baie diep in jou binneste, in die kern van jou bestaan vas. So het sekere ouens baie sterk persepsies oor watter karre die beste eyeis (Moet nie eers raak aan die Land Rover / Land Cruiser debat tussen die 4×4 ouens nie!). Alles baie onskuldig, lekker gesels-stof vir om ‘n braaivleis vuur.

Ongelukkig trap persepsie egter baie dieper spore as dit! Soms selfs bloederige spore…. So het ons persepsies oor ander nasies en volke – kyk maar net na al die grappe oor Iere / Skotte / Duitsers / Swart mense / Chinese / Pole / Boere . Weereens baie onskuldig, alhoewel soms erg kwetsend! En verder vertel dit ‘n verhaal van weggesteekte (en soms openbare) meerderwaardigheid, rassisme en selfs haat teenoor die een wat die onderwerp van die grap is… Soms gaan dit nog baie verder! Gaan luister maar na wat Palestyne oor Jode sê, en andersom. Die persepsies, die woorde, loop uit op bloed wat vloei in daardie geweste. En dit is maar net enkele voorbeelde uit ‘n wêreld waarin onvrede eintlik die norm geword het. In Suid-Afrika loop gemoedere juis hoog oor die persepsies wat die lied “Kill the boer” aanwakker.

Hierdie hele relaas oor persepsies het weer by my opgekom na die lees van die tweegesprek tussen Nico Smith en Anton Pienaar in die jongste Kerkbode oor kerkhereniging en die besware / probleme daar rondom. As iemand wat sedert 1987 in die gemeentebediening in die NG Sendingkerk en VGK gestaan het, het ek ‘n sekere persepsie oor die NG Kerk opgebou. Meestal gebaseer op my eie ondervindings, maar ook op ander se oorvertelde ondervindings. Van my eie ondervindings was byvoorbeeld die NG Lidmaat wat weier om my met die hand te groet, want “hy vat nie aan ‘n hand wat die Belhar belydenis onderteken het nie”. Dan was daar die emiritus leraar wat ouderling te die NG Gemeente Calitzdorp was, wat vir ons groepie NG Sendingkerk predikante wou dogmatiek leer, want ons kerkbegrip was (volgens sy persepsie) gebrekkig. Om nie eers te praat van die male sonder tal wat ek deur NG lidmate gevra is wat se opleiding ek het nie, om deur stom verbasing begroet te word as ek hulle vertel dat ek en hulle dominee saam op kweekskool was, en dat ek eintlik dieselfde opleiding het.

So is my persepsie rondom die hele afwysing en negatiewe siening van die Belhar Belydenis onder gewone NG lidmate dat dit spruit uit sienings wat opgebou is deur die Afrikaanse pers en NG dominees in die laat tagtiger en vroeë negentiger jare.

Prof Nico Smith skryf: “’n Jaar of twee gelede is ek gevra om ondersoek in te stel na die redes vir die skeuring wat in VGK-gemeentes in die Vrystaat plaasgevind het. Dit was uiters ontstellende verhale wat ek moes aanhoor oor hoe  NG kerkrade die VGK-gemeentes behandel het. In die 14 gemeentes wat ek besoek het, was in al die gemeentes van die VGK die plaaslike NG gemeentes aangewys as medeverantwoordelik vir die skeuring.” Dit het my herinner aan die Selgemeente werkswinkel wat ek in Mosselbaai bygewoon het so jaar of wat nadat die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika verenig het om die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te stig. By hierdie werkswinkel was ‘n leraar van die NGKA in Lesotho wat nie deel was van die eenwording nie, wat buite die VGK gebly het. Nadat ek en hy eers ‘n paar persepsies oor mekaar uit die weg geruim het, vertel hy toe vir my dat hy sy salaris vanuit die NG Kerkkantoor in die Vrystaat kry. Daar is aan hom persoonlik gesê dat as hy en sy gemeente sou saamgaan met die eenwording en by die VGK aansluit, hy sy salaris sou verloor.  So kan vele VGK leraars dieselfde verhale vertel. Dit het gelei tot wantroue teenoor die NG Kerk. Vrae word gevra oor die NG Kerk se bona fides as positief klinkende sinode-besluite geneem word.

Noudat ek amper ‘n jaar in die NG Kerk gemeenteleraar is, kom ek agter dat baie van dieselfde wantroue ook aan hierdie kant lê. Jare gelede het ‘n NG leraar op ‘n kerkeenheidskonferensie te Wellington vir my gesê dat sy grootste probleem met kerkhereniging is dat hy vrees wat met sy salaris en pensioenvoordele kan gebeur. As hy nie so ernstig was in sy vrese nie, het ek seker uitgebars van die lag oor die wanpersepsie wat agter so ‘n stelling sit. Die persepsie dat sy pensioen en salaris in gedrang is, skep egter ‘n gevoel van wantroue teenoor die kerkherenigings proses – wat sit hieragter! Slegs die negatiewe rondom die VGK stigting is gekommunikeer, en nie die positiewe nie. Wat egter kommerwekkend is, is dat dieselfde sienings nou nog deur sommige leraars gehuldig word! Die feite van die saak was dat by die stigting van die VGK daar drie amptelike pensioenfondse bestaan het in die NGSK en NGKA. Al drie is behou as amptelike fondse van die VGK en gemeentes besluit saam met hulle dominees by watter fonds aangesluit word. Pensioenfondse word immers deur landswette beskerm. Met salarisse het die VGK kreatief gewerk. Die NGKA se salarsskaal het laer as die NGSK s’n begin, en ook laer geëindig. Die twee salarisskale is toe saamgevoeg om een lang skaal te maak. Elke jaar vir tien jaar lank is toe een kerf aan die onderkant verwyder totdat daar op ‘n meer werkbare skaal uitgekom is. Geen leraar se salaris of pensioen is nadelig geraak direk as gevolg van die eenwording en die stigting van die VGK nie, behalwe die dreigemente wat hierbo genoem is teenoor leraars indien hulle met die eenwording sou saamgaan.

Net so het die VGK met sy stigting die selfstandigheid van gemeentes bevestig. Gemeentes besluit self watter taal gepraat word tydens hulle erediens, daarom kry ‘n mens op verskeie plekke in die land Afrikaanssprekende en Xhosasprekende VGK gemeentes in dieselfde dorp.

Besware oor salarisse en pensioene om kerkhereniging te verhoed is om spreekwoordelik viool te speel terwyl Rome brand. Die NG Kerk ondervind wat die VGK al jare mee sukkel, naamlik ‘n gebrek aan geld om predikante te betaal. Danie Mouton skryf oor die NG Ring van Graaff-Reinet: “Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.” Dit is ‘n patroon wat regdeur die land voorkom in beide VGK en NG gemeentes. Ek sit die week in ‘n vergadering van ‘n klein NG gemeente. ‘n Vergadering waarin oor die oorlewing van die gemeente gepraat word. Waarin ernstig en kreatief gedink moet word om die voortbestaan en die bediening van die gemeente te verseker. 500m vanaf die vergadering sit die kerkgebou van ‘n klein VGK gemeente. Hulle het ook nie ‘n vaste predikant nie. Hulle sukkel ook met voortbestaan. Niemand van die NG Gemeente het egter nog ooit gedink om die VGK gemeente te nader sodat hulle ‘n predikant gesamentlik kan beroep nie…

Moet ons nie ‘n slag mekaar se persepsies erken en herken nie. Moet ons nie ‘n slag probeer om ander se vrese daadwerklik aan te spreek en uit die weg te ruim nie? Jesus sê tog duidelik aan ons in Joh 13:34-35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”” Liefde is al ding wat persepsie kan oorwin. Liefde is al wat jarelange wantroue kan oorwin. Liefde vra egter waarheid, eerlikheid. Liefde vra dat ek bereid sal wees om my gekoesterde persepsies neer te lê en om te aanvaar dat EK dalk ook verkeerd kan wees, dat my persepsie dalk ook skeefgetrek kan wees!

So moes ek na jare van opgeboude persepsies agterkom dat die NG Kerk van vandag nie meer die NG Kerk van vroeër is nie. Alhoewel die ou sieninge nog hier en daar kop uitsteek, is die NG kerk besig om ‘n nuwe kultuur te ontwikkel. ‘n NG Kerk wat LUISTER??!! Vir iemand wat uit die VGK kom, met 20 jaar se opgeboude persepsies, was dit nogal ‘n “eye opener”! Prof Willie Jonker was tog reg in sy 1998 boek: “Selfs die kerk kan verander”!

Persepsies! Dit herinner my sterk aan oogklappe!





Ontbyt is gereed! – Joh 21:1-19

15 04 2010

☛ Mense praat graag van die “goeie ou dae”, met die wens om daarna te kan terugkeer. As ons egter eerlik met mekaar is, bestaan daar nie so iets soos die “goeie ou dae nie”. Wat gebeur het, het gebeur – die lewe het nie ‘n “kyk-weer” knoppie nie. Petrus en ses ander dissipels doen ‘n mate van ‘n terugkeer na die ou weë hier in ons skrifgedeelte. Jesus is gekruisig, het opgestaan, die dissipels het Hom gesien, maar na 3 jaar se rondgaan saam met Jesus weet hulle nie regtig nou wat om te doen nie. So, hulle val maar terug op die ou bekende weë – hulle keer terug na Galilea en begin weer visvang.

☛ Dit is egter nie wat Jesus van hulle wou gehad het nie, Hy het baie groter planne vir hulle gehad! So, na ‘n vrugtelose nag van visvang, roep iemand na hulle van die wal af. Daar brand al klaar ‘n vuurtjie en vis is op die rooster, met brood as ‘n bygereg. Alhoewel Jesus al klaar sy eie vis gevang het, vra Hy vir hulle of hulle nie iets gevang het om te eet nie. Niks is egter gevang nie, maar toe hulle die net aan die anderkant van die skuit laat sak soos Jesus vra, vang hulle 153 visse met een slag! Onmiddelik herken hulle Jesus! Roei en swem wal toe en groet Hom, waarop Hy dan van Sy vis en brood vir hulle gee.

Dis baie belangrik dat ons verstaan wat hier gebeur het, want dit maak wat net in die volgende verse gebeur, as Jesus vir Petrus die sorg oor Sy skape gee, duidelik. Jesus het nie die dissipels se vis nodig nie. Syne lê al klaar op die rooster, die brood net daar langsaan. Soveel keer sê mense vir iemand: “Die Here wil jou seën, MAAR…” en dan volg daar iets soos : Jy moet genoeg of reg bid, of jy het nie genoeg geloof nie, of jy het te veel sonde in jou lewe, ens ens. God is NIE afhanklik van ons geloof, ons gebed, ons tiendes nie! God KIES om ons te gebruik, om ons Sy verteenwoordigers (Gen 1:26) te maak.

Omdat Hy vir ons lief het, kies Hy om vir ons die taak te gee om na Sy skape om te sien….

(Met erkenning aan Peter Woods van http://thelisteninghermit.wordpress.com/)





Die verrassende God

3 04 2010

Het gister die voorreg gehad om drie Goeie Vrydag nagmale waar te neem, een in die NG Kerk, en twee in Xhosasprekende VGK gemeentes. Was nogal getref deur die verskil in geloofsbelewing tussen die verskillende gemeentes, maar nie net tussen die VGK en NGK gemeentes, soos wat ons dalk sou verwag nie. Ook tussen die twee VGK gemeentes was daar ‘n verskil, met die een wat in amper uitbundige vreugde vooruitgryp na dit wat na Goeie Vrydag kom, die opstanding. By die ander VGK gemeente het ek ‘n baie soortgelyke belewenis as by die NG gemeente gekry – ‘n soort van biddende ootmoet, ‘n besef van wat Goeie Vrydag vir Jesus beteken het. Die teks vir al drie geleenthede was dieselfde, die prediker dieselfde.

Dit, saam met die lees van die Leesrooster se fokusteks vir opstanding Sondag, Hand 10:34-43, het my laat wonder of ons nie partykeer te veel maak van die verskille, en te min van dit wat ons saambind nie.

Ek is seker ek sou in verskillende NG gemeentes ook die verskil in geloofsbelewenis ervaar het, as wat ek tussen die drie gemeentes van gister ervaar het. In plaas van om so te fokus op ras en taal, moet ons dalk eerder die wonderlike veelvoudigheid van God se genade vier.

Weereens het God my, in die woorde van die Leesrooster se preekstudie, verras! Die verassing het egter nie daar opgehou nie!

‘n Ou universiteitsvriend van my, Piet Steyn, wat tentmaker sendeling in die Oekraine is, stuur toe ook vir my ‘n epos waarin ons so bietjie gesels oor die Ortodokse gebruike rondom Paasfees. Die verrassende vir my is toe hoe, na “70 jaar van formele ateisme” gebruike soos om mekaar te groet rondom Paasfees met die gebruiklike “Christus het opgestaan”, “Hy het waarlik opgestaan”, nog steeds oorleef. Piet se vrou, Dekseltjie (‘n storie vir ‘n ander dag!), put groot genot daaruit om ateistiese of agnostiese kollegas en vriende met “Christus het opgestaan” te groet, net om die outomatiese respons van “Hy het waarlik opgestaan” te kry. Wat natuurlik dadelik opgevolg word met rooi gesigte, want hulle glo mos nie in dié “bygeloof” nie!

So op hierdie Saterdag voor Paasfees, groet ek julle met “Christos waskres!” (Russies vir “Christus het opgestaan”).

En ek hoor by voorbaat julle antwoord “wahistinoe waskres!” (Russies vir “Hy het waarlik opgestaan”). Nie as kultureel gewoonte-antwoord nie, maar gebore uit die geloof in ‘n lewende God wat ons nog telkemale kan verras!