Rots!

23 07 2017

51p3yyn2g8lSo 600 jaar voor Christus gaan Israel deur ‘n baie moeilike tyd. Hulle word twee keer deur die Babiloniërs oorrompel, en elke keer word ‘n klomp mense in ballingskap weg gevoer. By elkeen van die geleenthede bly net die “armstes van die landsbevolking” oor (2 Kon 24:14, 25:12).

Hierdie gedeelte uit die boek van die profeet Jesaja word dan geskryf aan en vir die mense wat in ballingskap sit. Vir hulle wat alles, insluitend moed, verloor het. Vanaf Jesaja 41 al word Israel herinner aan wie hulle in God se oë is – gekies, gevorm, geskep, gemaak, uitgekies, geroep, ens. Ten spyte van wat hulle van hulself dink, God ag hulle, God gee om, is lief vir hulle. Ook ten spyte van hulle minagting van God! In Jesaja 43:22 kla God hulle aan: “Maar jy het My nie aangeroep nie, Jakob, jy het nie moeite gedoen om My te dien nie, Israel.

Ten spyte van dit alles, is en bly God genadig en liefdevol. En die mooiste is, God vertel van hulle oortredings met humor! In Jesaja 44:16 word vertel hoe ‘n man helfte van ‘n houtstomp opkap om brandhout mee te maak, en dan vers 17: “Van die hout wat oorbly, maak hy ‘n god, ‘n beeld, hy buig voor hom en aanbid hom, hy bid tot hom en sê: “Red my, want jy is my god!” God lag hiervoor! Want “Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6b)

Hoe slim, sterk en magtig ons ookal is, God bly God. Of ek nou Donald Trump of Andrea Merkel of Jacob Zuma is, God bly God. Daarom ook dat ons nie bang hoef te wees vir die Zumas en Netanyahus en Trumps van hierdie wêreld nie. “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie! Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig, dit vir julle gesê nie? Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek weet van geeneen nie.” (Jesaja 44:8)

En waarvoor is ons bang? Want bang IS ons! Die beraders vertel van hoe mense by hulle aanklop vir hulp agv stres. Daar is goed in die lewe wat hulle bang maak. Ook vir ons. Of dit nou politieke en ekonomiese onsekerheid is, of dit siekte is, of dit nou spanning in my verhoudingslewe is, die feit bly dat ons in ‘n baie spanningsvolle tyd lewe. Dit word nog vererger want baie van ons het ons vertroue gestel in dinge wat nou wankelrig lyk – van finansiële sekuriteit tot politieke mag tot in beheer probeer wees van my eie lewe.

God sê daar IS ‘n toekoms! ‘n Toekoms wat Hy in Sy hand hou. ‘n Toekoms wat dalk nie presies so lyk soos wat ons dit altyd graag wil hê nie, maar ‘n toekoms waarin God teenwoordig is, waarin Hy Sy liefde en genade in ons lewens uitstort. Maar dit gaan nie net oor ons nie! God se genade is nie daar om net vir MY ‘n plek in die hemel te verseker nie. “Ek maak jou ‘n lig vir die nasies sodat die redding wat Ek bewerk, die uithoeke van die aarde sal bereik.” (Jesaja 49:8) Te midde van onsekerheid. Te midde van goed wat nie loop soos wat ek dit wil hê nie. Te midde van goed wat soms baie sleg vir my loop. Daar herinner God ons: “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie!” Want ook Jesus se woorde is nog steeds waar: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld”. (Matt 28:20)

Na aanleiding van Jesaja 44:6-8

Advertisements




Alles loop reg, altyd reg???

22 04 2011

☛ Neels Jackson skryf dié week in die Beeld, oor hoe ons na God kyk. En dan sê Neels dat ons graag ‘n God soos ‘n Toyota wil hê… Julle weet mos, “Alles loop reg, altyd reg.”

Die groot probleem waarmee ons egter opgeskeep sit, is dat alles NIE altyd reg loop nie! Misdaad, siektes, droogtes of oorstromings, natuurrampe en allerlei ander dinge wys ons dat dinge NIE altyd reg loop nie, selfs nie vir gelowiges nie. Dan kry ons mense wat dit goed bedoel wat vir ons kom sê: “Jy moet net meer geloof hê”. Dan sal alles reg loop.

Mense wat hierdie tipe Toyota Godsbeeld het, word dan in hulle diepste wese geskok wanneer iets soos die tsoenami in Japan gebeur, of kanker my tref, of my kind sterf, of….  Dan argumenteer hulle, hoe kan Hy God wees as Hy nie so iets kan keer nie! So asof Hy ’n ligskakelaar is wat dinge laat gebeur as jy die knoppie van gebed druk.

☛ In ons teks vanmôre (Jesaja 52:13-53:12) word die “Dienaar van God” beskryf, as iemand wat NIE ‘n “alles loop reg” Godsbeeld kon gehad het nie. Ons lees “hy was misvormd”, “hy was verag”, “hy was deur mense verstoot”, “iemand wat lyding en pyn geken het”.

As ons ook vanoggend dink aan Jesus se lyding aan die kruis  dan is dit sinvol om te vra wat Sy lyding beteken vir die verskillende vorms van swaarkry wat ’n ons hier op aarde beleef.

Die een ding wat dit nié beteken nie, is dat daar nie langer moeite en ellende gaan wees nie. Die Psalmdigter het immers nie geskryf dat hy die dal van doodskaduwee gaan systap nie, wel dat hy dit met vertroue tegemoet sal gaan. Hy “sal geen onheil vrees nie,” het die ou vertaling gesê.

Want in ’n sin is die Japanse tsoenami nie ’n abnormale verskynsel nie. Dit is hoe die lewe is.

‘n Lewe wat dit nie ontsien het om die Seun van God aan ‘n kruis vas te spyker nie!

☛ As die tsoenamies van die lewe ons egter tref, watter sin bied Jesus se lyding vir ons?  Soos Martin Luther vra, waar vind ons ‘n genadige God? Vanuit die Nuwe Testament is hierdie beeld van die dienaar van God in Jesaja al op Jesus van toepassing gemaak, maar nie net op Hom nie. In 1 Petrus 2 word hierdie beeld op ons daaglikse lewe as Christene van toepassing gemaak deurdat ons Christus in Sy lyding moet navolg.

Niemand sien egter uit daarna om te ly nie, niemand wil willens en wetens in pyn inloop nie. Jesaja gebruik die beeld van die “arm van God” om te verduidelik dat selfs binne lyding en pyn, God nog steeds daar is, God nog steeds genadig is. Hy is daar om ons te ondersteun. Sy “arm” is magtig genoeg, en Hy liefdevol genoeg om met ons te wees deur alles wat ons mag teenkom.

Hierin is besondere betekenis opgesluit vir ons as die kerk. Daar word baie gevra na hoe “die kerk” se stem in hierdie tye gehoor moet word. Ons as die kerk van die Here behoort nie onsself nie maar aan die oorwinnaar, die eerste kneg, aan Jesus. Ons is nie geroepe om die suksesvolste, mooiste, rykste in ons omgewing te wees nie, Nee, soos die kneg van die Here “ons lyding op hom geneem” het, so moet ons ‘n plek wees wat die swaarkry en lyding van die omgewing op ons neem. Juis ons hantering van swaarkry en teenspoed moet ‘n getuienis wees teenoor die mense rondom ons van ons geloof in Christus. Soos 1 Petrus 2:20,21 sê, “om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep” Jesus is tog elke oomblik met ons, ook in ons lyding. Waar vind ons ‘n genadige God? In ons eie lewens, en ons maak Hom sigbaar deur ons optrede.

Vandag herinner ons, bind ons vas, aan Jesus se kruisdood, dat ons Hom hierin moet volg deur juis hierdie genade en hoop aan die nasies te wys en na hulle te neem (Jes 49:6).

(Met erkenning aan Neels Jackson)