Sluimer en slaap?

28 01 2016

Ek is ‘n Christen. My probleme is opgelos. Jesus is die antwoord vir alles, so alles loop altyd reg. Ek en my vrou het nooit ‘n misverstand nie, en ons kinders is gehoorsaam.  Klink soos ‘n sprokie? Ja, want doodgewoon nie reg nie! Christene het ook moeilikheid, meningsverskille, stout kinders, siektes, ens.

Ons loop baiemaal met ‘n groot klomp persepsies van hoe die lewe as Christen lyk. Persepsies wat soms doodgewoon verkeerd is! Ps 121 is soos God se stil stem om ons te help om op die regte plek hulp te soek. Soms word ons totaal uitgeboul met die tipes probleme wat ons in ons Christelike lewe mee te doene kry – wat probleme is daar wel! Om Jesus te volg beteken nie ons sal nooit probleme kry nie. Hy gebruik die hele Matteus 10 om ons te waarsku oor alles wat ons sal oorval as ons Hom volg.

So, probleme ken ons. Hoe help Ps 121 ons dan? Hierdie Psalm is gesing op pad na Jerusalem, as ‘n pelgrimslied. Daar is ‘n klomp goed wat ‘n pelgrim kan oorkom. ‘n Enkel kan verswik word. Jy kan iets eet wat nie met jou akkordeer nie. Die son kan warm wees en jou water opraak. As vers 3 dan sê “Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie”, beteken dit dan dat ‘n gelowige nooit probleme het nie? Dit kan tog nie waar wees nie.

Die Psalm begin tog tereg dat ‘n mens soms hulp soek met dié woorde: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Baie van ons interpreteer dit as verwysend na die standvastigheid van die berge. God is dan ook so standvastig. Dit is nie heeltemal verkeerd nie, maar daar sit dalk meer hieragter.

As ‘n Jood opgestap het Jerusalem toe, deur die valleie rondom Jerigo, en hy kyk op na die berge en heuwels, wat sou hy sien? Die berge ja, maar ook baie meer. In die tyd toe die Psalm geskryf is was Palestina oortrek met afgodery. Baal, Ashera, Astarte en nog baie meer is aanbid. En hierdie aanbidding het meestal op hoë plekke geskied. Op die heuwels en berge is heilige bome, klippilare en houtpale gevind waar die aanbidding geskied het. So, as jy opgekyk het na die berge, wat sou jy sien? Afgod aanbiddingsplekke!

Die Psalm kom sê dan jou hulp kom NIE van Baal, Ashera, Astarte, die songod of maangod nie, dit kom van die Skepper van alles. Jou hulp kom nie van Baal wat berug was in die verhale oor hom dat hy maklik geslaap het en daarom nie sy volgelinge kon help nie, nee “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Hy is Skepper van alles, geen klip of grot of son of maan kan slegte invloede op jou uitoefen nie. Die Bybel is pynlik realisties oor die feit dat die lewe in geloof ook seerkry, siekte, ongelukke kan bevat. Tog is die belofte daar op baie plekke, maar ook spesifiek in Ps 121, dat Hy daar is om ons deur die moeite en verdriet te dra. God is nie daar ver eenkant wat wakker gemaak moet word deur die dominee of ons dankoffers of ons gebede nie. Hy is elke oomblik teenwoordig op ons lewenspad.

‘n Groot gevaar vir my lewe as Christen is om te leef asof ek twee gelowe het. Die een vir Sondag. Die een wat ons bêre vir die groot krisisse in ons lewe. Vir die algemene goed, die enkel wat onder ons knak, die stamp van die toon teen ‘n klip, die hitte, daarvoor gebruik ons ons elke dag se geloof – die antwoorde wat ons by Oprah kry, of ‘n vriend se advies, of die “Inspirational quote” op Facebook. Ons dink nie dat God belangstel in ons elke dag se lewe nie!
Ps 121 sê dat die God wat die “GROOT” dinge doen, wat hemel en aarde skep, is dieselfde God wat saam met my seerkry as dinge by die werk onregverdig is, Dit is dieselfde God wat saam met my seerkry as my huweliksverhouding sukkel, of ‘n vriend iets kwetsend kwytraak, of iemand iets onnadenkend sê wat my te nakom. Dit is die een en dieselfde God wat ook my reisgenoot is op die pelgrimstog van my lewe.

Ek loop dieselfde pad as die nie-Christen, betaal dieselfde vir my brandstof en kruideniersware, het dieselfde vrese oor politiek en misdaad. Die verskil is dat ek kan vertrou op die God wat my bystaan en versterk om die pad in geloof te loop. Ek het nie die Baals en Astartes van ons moderne lewe nodig nie, “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Met erkenning aan Eugene Peterson: “A long obedience in the same direction”





Wat sien jy?

8 05 2011

Wat soek ons in die lewe?  Geld, geluk? As Eugene Peterson, ’n Amerikaanse predikant, reg is, soek mense na twee dinge: wonderwerke en antwoorde. Waarom wonderwerke? Want God kan vir ons dinge doen wat ons self nie kan doen nie. Waarom antwoorde? Want God kan vir ons dinge vertel wat ons self nie kan uitpluis nie.

Die feit dat ons as mense in ’n gebroke wêreld leef, maak dat daar altyd by ons die hunkering is na ’n lewe en omstandighede wat nie die ongelukke, skokke, nare ontdekkings, misdadigheid, teleurstellings, en noem maar op, van ons bestaan reflekteer nie. Die daaglikse sorge en bekommernisse kan ’n mens moedeloos maak – ’n soort magteloosheid bring wat jou van jou lewensvreugde en -moed beroof.

Soms is daar dinge wat met jou gebeur wat geld of mag nie kan regmaak nie. Dit is asof jou hoop in die niet verdwyn, asof die gordyn vir jou gesak het en jy al een is wat met jou nood en bekommernis oorgebly het – nêrens om heen te draai nie, niemand om te raadpleeg nie, nie ’n nommer wat jy kan bel nie.

Soms raak ons so uitsigloos agv dinge wat op ons neerdruk, dat ons die voor die hand liggende, dit wat voor ons oë is, nie sien nie.

Soos hierdie manne wat hier op pad is na Emmaus toe (Luk 24:13-35). Terwyl hulle loop en praat oor dit wat gebeur het, verskyn Jesus self aan hulle, maar hulle herken Hom nie. Selfs toe Hy vra waaroor hulle gesels, kryt hulle Hom uit as ‘n “vreemdeling in Jerusalem”. En dan, as hulle vir Hom vertel waaroor dit gaan, gee hulle hulle diepste gevoelens weer (:21): “Ons het so gehoop dat dit hy is wat Israel sou verlos.”

So gehoop Hy sou die gehate Romeine verjaag, so gehoop dat Hy die Messias sou wees…  Vir ons as Christene klink dit dalk vreemd, het hulle dan nie die profete gelees wat vertel het van die Messias wat sou kom as die lydende kneg van die Here nie? Vir ons is die woorde van Jesaja 52 en 53 tog goed bekend, Jesus het dit op Homself van toepassing gemaak. Maar die Jode in die tyd van Jesus se verwagting van ‘n Messias was beslis NIE as een wat sou kom ly nie! Inteendeel, hulle het ‘n glorieryke koninkryk verwag, ‘n terugkeer na die koningshuis van Dawid, met selfs nog meer mag en prag en praal.

Die Emmaus gangers praat van “ons leiers” en “ons profete” – hulle was kerkmense, hulle het geweet van die beloftes. Hulle het die profete geken, selfs saam met Jesus rondbeweeg. Hulle het geweet Jesus sou kom dien, maar hulle was blind daarvoor. Hulle het hul eie verwagting / idees gehad

So het hulle verwagtinge hulle blind gemaak vir wat, nee WIE, voor hulle oë staan. ‘n Koning sou hulle aanvaar, maar een wat aan ‘n kruis gesterf het, tog nie!

Toe kry die Emmaus gangers albei die dinge waarvan Eugene Peterson praat, ‘n antwoord en ‘n wonderwerk! Eers verduidelik Jesus aan hulle die profesieë, en toe nadat hulle Hom herken by die maaltyd, verdwyn Hy voor hulle oë.

Ons is gelukkig om vandag beide te hê – die antwoord en die wonderwerk! Ons het die hele Bybel, ons het Jesus se woorde, ons het Sy dissipels se nadenke oor Hom, ons het briewe waarin hulle mekaar onderrig en bemoedig het. Ons het meer as genoeg om ons te oortuig van God se liefde!

Daarby het ons ook die wonderwerk. Ons het God self wat deur Sy Gees in ons woon. Ons word elke dag herinner aan die wonderwerk van God se liefde vir ons!

Maar…  ons soek en bevraagteken nog al die tyd, ons sien die antwoorde wat voor ons oë is nie raak nie.

Hoekom? – Ons lees graag die Bybel selektief of glad nie, en so mis ons die boodskap. Ons is so verblind deur smart, woede, mismoedigheid dat ons vergeet van die wonderwerke en antwoorde wat God al vir ons vroeër gegee het  – ons geheue is net so kort soos die Emmaus gangers  Ons onthou net as dit goed gaan. As die swaar van die daaglikse gebroke wêreld ons tref dan vra ons waar is God? – hoekom laat Hy seer toe? – – in plaas daarvan om God se antwoord en God se wonderwerk wat alreeds in ons lewens gebeur het raak te sien!

Sien God raak! Help ander om God raak te sien!

(Met erkenning aan http://seisoenvanluister.co.za/) Read the rest of this entry »





Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.





Geloofwaardig?

27 05 2010

Cartoon - Religion

“Die mense sê”… Seker een van die gevaarlikste veralgemenings wat rondloop. Die “inligting” het nie ‘n baas, ‘n oorsprong nie. So daar is niemand om tot verantwoording te roep nie. In ‘n sin is ons weer terug by ‘n paar weke terug se blogpost oor Persepsies. Die strokiesprent hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

“Almal weet” die Christelike geloof is wreedaardig, kyk maar net na die kruistogte en inkwisisie. SONDER om enigsens van die gruwels van die verlede te probeer goed praat, moet ‘n mens darem onthou dat mense se wêreldbeeld baie anders was so ‘n duisend jaar gelede. Dit was lank voor menseregte en demokrasie. Dit was ‘n feudale sisteem waar mense wat die grond bewerk het geen regte gehad het nie – probeer dit vandag!

Verder was iets soos die kruistogte ook in ‘n groot mate ‘n respons op Moslem imperialisme. http://en.wikipedia.org/wiki/Crusades: “The Crusades originally had the goal of recapturing Jerusalem and the Holy Land from Muslim rule and were launched in response to a call from the Christian Byzantine Empire for help against the expansion of the Muslim Seljuk Turks into Anatolia.”

Enige “feite” tel egter min as mens iets wil afkraak, veral as dit godsdiens is. Nou kom die probleem egter… ons as Christene gee baie skietgoed aan mense wat nie in God glo nie.

Skandale rondom TV predikers, rondom Rooms Katolieke priesters en seuntjies, ens, ens kraak die beeld van Christene orals af. Dan praat ons nie eers van wat die lidmate ook doen nie!

Wat my persoonlik egter krap, is Christene wat maklik veroordelend kan wees. Vingers word gewys, mense word ge-“label”, ge-boks, reg om hel toe gepos te word, want ONS mening is al wat tel — nee ekskuus, MY mening is al wat tel!

Elke nou en dan gebeur daar egter iets wat weer hoop gee, baiemaal uit heel onverwagse oorde. So skryf Danie Mouton in die Oos-Kaapse enuus van 28 Mei 2010 oor hoe (wit) boere gehelp het na ‘n taxi ongeluk naby Elliot en die (swart) kinders se berafniskostes en hospitaalkostes betaal het.  “Die mense” sê mos boere is rassisties… wel, hoe verduidelik “die mense” dan dit wat hier gebeur het? Verder lees ek in die Time Magazine van hoe Pous Benedict XVI, wat as konserwatief afgemaak word deur “die mense”, in 2000 tydens ‘n seremonie wat Pous Johannes Paulus II gereël is, verskoning gemaak het vir die Inkwisisie – wel in versigtige woorde, maar nogtans, van die Rooms Katolieke Kerk, ‘n verskoning!: “even men of the church, in the name of faith and morals, have sometimes used methods not in keeping with the Gospel in the solemn duty of defending the truth.” Nou moet nog gewag en gesien word wat die Pous gaan sê oor die skandaal rondom kindermolestering in die Katolieke kerk…

Terwyl ek gedurende die laaste week nagedink het oor Joh 16 en 17, en die Gees van Waarheid wat ons van die Waarheid sal leer, het ek aan hierdie spotprente op hierdie blad gedink, en hoe min geloofwaardigheid Christene in die oë van die wêreld het. Die gemiddelde uitbeelding van ‘n Christen is of ‘n “Bible-puncher” met ‘n paar geraamtes in die kas, of ‘n “wimp” sonder ruggraat.

Dit lyk vir my ons as Christene sal baie meer dienend moet wees, soos die Elliot boere, baie meer moet staan vir wat reg is, voordat ons weer ons geloofwaardigheid sal terugkry.





Grense

18 05 2010

Wat is dit met mense en grense? Iets uit die oertyd toe alles oor oorlewing gegaan het? Iets van ‘n ingebore aversie teen dit wat ANDERS is? Grense rondom mysself, my gevoelens. Grense rondom my familie, grense rondom my mense, my land, my kontinent, selfs dalk eendag rondom my wêreld teen wat van buite mag kom?

Waar dit ookal vandaan kom, dis ‘n werklikheid. ‘n Werklikheid wat die manier waarop ek werk en woon bepaal. Kyk maar na ons hoë mure en elektriese omheinings om ons huise. Selfs op vakansie, ver van enige amptelike kampplekke in die Kalahari of Namib, trek ons ons voertuie in ‘n laer om ONS ruimte te skep.

In die verband het ek jare terug ‘n baie interresante ondervinding gehad by Ukwi pan, in die weste van Botswana. Ons het in die bos gekamp, en ons voertuie in ‘n halfmaan getrek, met ons vuur as die fokuspunt van die halfmaan. ‘n Man van die Garankwa (spel?) San het uit die bos uit gestap gekom, aan die verste kant van die vuur gaan sit en homself warm gemaak. Geen oogkontak gemaak nie, ook nie na ons voertuie of besittings gekyk nie. Na ‘n ruk staan hy op en loop. Eers toe ons met hom begin praat, draai hy om en gesels met ons in die suiwerste Afrikaans! Hy verduidelik toe vir ons dat vir hulle, ‘n vuur altyd gemeenskaplike besitting is. Daarom ag hulle dit as ongeskik as jy jou vuur toe parkeer dat niemand anders daarby kan uitkom nie. Van ‘n besoeker word verwag dat hy nie tussen die vuur en jou huis sal kom nie. Na ‘n gesprek het hy die volgende dag teruggekom en vir my vriend ‘n pyl en boog kom maak, sodat ons kan sien hoe hy dit doen.

Hoeveel keer mis ons nie verrykende ondervindings  omdat ons laer trek en ander buite hou nie?

Die een ding wat my keer op keer tref van Jesus se optrede teenoor mense was Sy openheid. Die vrou met bloedvloeing het die moed gehad om aan die soom van Sy kleed te raak. Telkemale reik Hy uit, na die Siro-Fenisiese vrou, na Samaritane, na veragte Jode soos Levi die tollenaar, na kinders. Hy trek nooit laer en hou ander weg nie.

Wat sê my laer-trek mentaliteit van my getuienis as Christen? Hoe kan ek meer soos Jesus wees en oop wees vir ander?

Die Garankwa man se stelling dat vuur ‘n gemeenskaplike besitting is, het my laat dink aan die uitstorting van die Heilige Gees soos tonge van vuur… Hoeveel keer probeer ons om die vuur van die Gees vir onsself te hou – Myne! Terwyl Jesus se opdrag juis die teenoorgestelde was – in Jerusalem en Samaria, ja tot aan die uithoeke van die wêreld moet ons hierdie vuur deel!

Dankie tog vir Jesus se uitsending van Sy dissipels, vir Sy uitreik na mense buite die volk waaronder hy gebore is, want ook ons was hierdie buitestaanders na wie die eerste Christene gestuur is, ook ons is nie gebore Jode nie. Dit plaas egter nou ook op my die verpligting om nie die evangelie vir myself te probeer hou nie, maar om uit te reik na ander.

Ons moet onsself egter mooi vergewis van wat ons probeer bereik as ons uitreik na ander – die doel is tog nie om van ander kopieë van onsself te maak nie. Wat wil ek wys, hoe wil ek teenoor ander optree?

Wat moet in MY verander om in liefde, met Jesus se gesindheid na ander uit te reik? Wat moet ek leer by Jesus om grense te kan oorsteek eerder as om grense op te rig? Na wie stuur Jesus my?





Persepsies

23 04 2010

Persepsies is darem maar ‘n ding! My woordeboek beskryf ‘n persepsie as daai ding wat onaantreklike meisies (en ouens!) al hoe mooier laat lyk hoe meer bier jy drink…. Eintlik wil dit seker maar net sê “beauty is in the eye of the beholder”… Dit is ‘n ding wat rasioneel moeilik vasgevat kan word, want hy slaan baie diep in jou binneste, in die kern van jou bestaan vas. So het sekere ouens baie sterk persepsies oor watter karre die beste eyeis (Moet nie eers raak aan die Land Rover / Land Cruiser debat tussen die 4×4 ouens nie!). Alles baie onskuldig, lekker gesels-stof vir om ‘n braaivleis vuur.

Ongelukkig trap persepsie egter baie dieper spore as dit! Soms selfs bloederige spore…. So het ons persepsies oor ander nasies en volke – kyk maar net na al die grappe oor Iere / Skotte / Duitsers / Swart mense / Chinese / Pole / Boere . Weereens baie onskuldig, alhoewel soms erg kwetsend! En verder vertel dit ‘n verhaal van weggesteekte (en soms openbare) meerderwaardigheid, rassisme en selfs haat teenoor die een wat die onderwerp van die grap is… Soms gaan dit nog baie verder! Gaan luister maar na wat Palestyne oor Jode sê, en andersom. Die persepsies, die woorde, loop uit op bloed wat vloei in daardie geweste. En dit is maar net enkele voorbeelde uit ‘n wêreld waarin onvrede eintlik die norm geword het. In Suid-Afrika loop gemoedere juis hoog oor die persepsies wat die lied “Kill the boer” aanwakker.

Hierdie hele relaas oor persepsies het weer by my opgekom na die lees van die tweegesprek tussen Nico Smith en Anton Pienaar in die jongste Kerkbode oor kerkhereniging en die besware / probleme daar rondom. As iemand wat sedert 1987 in die gemeentebediening in die NG Sendingkerk en VGK gestaan het, het ek ‘n sekere persepsie oor die NG Kerk opgebou. Meestal gebaseer op my eie ondervindings, maar ook op ander se oorvertelde ondervindings. Van my eie ondervindings was byvoorbeeld die NG Lidmaat wat weier om my met die hand te groet, want “hy vat nie aan ‘n hand wat die Belhar belydenis onderteken het nie”. Dan was daar die emiritus leraar wat ouderling te die NG Gemeente Calitzdorp was, wat vir ons groepie NG Sendingkerk predikante wou dogmatiek leer, want ons kerkbegrip was (volgens sy persepsie) gebrekkig. Om nie eers te praat van die male sonder tal wat ek deur NG lidmate gevra is wat se opleiding ek het nie, om deur stom verbasing begroet te word as ek hulle vertel dat ek en hulle dominee saam op kweekskool was, en dat ek eintlik dieselfde opleiding het.

So is my persepsie rondom die hele afwysing en negatiewe siening van die Belhar Belydenis onder gewone NG lidmate dat dit spruit uit sienings wat opgebou is deur die Afrikaanse pers en NG dominees in die laat tagtiger en vroeë negentiger jare.

Prof Nico Smith skryf: “’n Jaar of twee gelede is ek gevra om ondersoek in te stel na die redes vir die skeuring wat in VGK-gemeentes in die Vrystaat plaasgevind het. Dit was uiters ontstellende verhale wat ek moes aanhoor oor hoe  NG kerkrade die VGK-gemeentes behandel het. In die 14 gemeentes wat ek besoek het, was in al die gemeentes van die VGK die plaaslike NG gemeentes aangewys as medeverantwoordelik vir die skeuring.” Dit het my herinner aan die Selgemeente werkswinkel wat ek in Mosselbaai bygewoon het so jaar of wat nadat die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika verenig het om die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te stig. By hierdie werkswinkel was ‘n leraar van die NGKA in Lesotho wat nie deel was van die eenwording nie, wat buite die VGK gebly het. Nadat ek en hy eers ‘n paar persepsies oor mekaar uit die weg geruim het, vertel hy toe vir my dat hy sy salaris vanuit die NG Kerkkantoor in die Vrystaat kry. Daar is aan hom persoonlik gesê dat as hy en sy gemeente sou saamgaan met die eenwording en by die VGK aansluit, hy sy salaris sou verloor.  So kan vele VGK leraars dieselfde verhale vertel. Dit het gelei tot wantroue teenoor die NG Kerk. Vrae word gevra oor die NG Kerk se bona fides as positief klinkende sinode-besluite geneem word.

Noudat ek amper ‘n jaar in die NG Kerk gemeenteleraar is, kom ek agter dat baie van dieselfde wantroue ook aan hierdie kant lê. Jare gelede het ‘n NG leraar op ‘n kerkeenheidskonferensie te Wellington vir my gesê dat sy grootste probleem met kerkhereniging is dat hy vrees wat met sy salaris en pensioenvoordele kan gebeur. As hy nie so ernstig was in sy vrese nie, het ek seker uitgebars van die lag oor die wanpersepsie wat agter so ‘n stelling sit. Die persepsie dat sy pensioen en salaris in gedrang is, skep egter ‘n gevoel van wantroue teenoor die kerkherenigings proses – wat sit hieragter! Slegs die negatiewe rondom die VGK stigting is gekommunikeer, en nie die positiewe nie. Wat egter kommerwekkend is, is dat dieselfde sienings nou nog deur sommige leraars gehuldig word! Die feite van die saak was dat by die stigting van die VGK daar drie amptelike pensioenfondse bestaan het in die NGSK en NGKA. Al drie is behou as amptelike fondse van die VGK en gemeentes besluit saam met hulle dominees by watter fonds aangesluit word. Pensioenfondse word immers deur landswette beskerm. Met salarisse het die VGK kreatief gewerk. Die NGKA se salarsskaal het laer as die NGSK s’n begin, en ook laer geëindig. Die twee salarisskale is toe saamgevoeg om een lang skaal te maak. Elke jaar vir tien jaar lank is toe een kerf aan die onderkant verwyder totdat daar op ‘n meer werkbare skaal uitgekom is. Geen leraar se salaris of pensioen is nadelig geraak direk as gevolg van die eenwording en die stigting van die VGK nie, behalwe die dreigemente wat hierbo genoem is teenoor leraars indien hulle met die eenwording sou saamgaan.

Net so het die VGK met sy stigting die selfstandigheid van gemeentes bevestig. Gemeentes besluit self watter taal gepraat word tydens hulle erediens, daarom kry ‘n mens op verskeie plekke in die land Afrikaanssprekende en Xhosasprekende VGK gemeentes in dieselfde dorp.

Besware oor salarisse en pensioene om kerkhereniging te verhoed is om spreekwoordelik viool te speel terwyl Rome brand. Die NG Kerk ondervind wat die VGK al jare mee sukkel, naamlik ‘n gebrek aan geld om predikante te betaal. Danie Mouton skryf oor die NG Ring van Graaff-Reinet: “Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.” Dit is ‘n patroon wat regdeur die land voorkom in beide VGK en NG gemeentes. Ek sit die week in ‘n vergadering van ‘n klein NG gemeente. ‘n Vergadering waarin oor die oorlewing van die gemeente gepraat word. Waarin ernstig en kreatief gedink moet word om die voortbestaan en die bediening van die gemeente te verseker. 500m vanaf die vergadering sit die kerkgebou van ‘n klein VGK gemeente. Hulle het ook nie ‘n vaste predikant nie. Hulle sukkel ook met voortbestaan. Niemand van die NG Gemeente het egter nog ooit gedink om die VGK gemeente te nader sodat hulle ‘n predikant gesamentlik kan beroep nie…

Moet ons nie ‘n slag mekaar se persepsies erken en herken nie. Moet ons nie ‘n slag probeer om ander se vrese daadwerklik aan te spreek en uit die weg te ruim nie? Jesus sê tog duidelik aan ons in Joh 13:34-35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”” Liefde is al ding wat persepsie kan oorwin. Liefde is al wat jarelange wantroue kan oorwin. Liefde vra egter waarheid, eerlikheid. Liefde vra dat ek bereid sal wees om my gekoesterde persepsies neer te lê en om te aanvaar dat EK dalk ook verkeerd kan wees, dat my persepsie dalk ook skeefgetrek kan wees!

So moes ek na jare van opgeboude persepsies agterkom dat die NG Kerk van vandag nie meer die NG Kerk van vroeër is nie. Alhoewel die ou sieninge nog hier en daar kop uitsteek, is die NG kerk besig om ‘n nuwe kultuur te ontwikkel. ‘n NG Kerk wat LUISTER??!! Vir iemand wat uit die VGK kom, met 20 jaar se opgeboude persepsies, was dit nogal ‘n “eye opener”! Prof Willie Jonker was tog reg in sy 1998 boek: “Selfs die kerk kan verander”!

Persepsies! Dit herinner my sterk aan oogklappe!