Genesis 1, wat sê dit?

29 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Dis lank, lank gelede. So 700 jaar voor Christus geleef het. Dis nou al 2700 gelede wat dié storie afspeel.

‘n Klein Joodse kindjie kom by sy oupa en vertel van ‘n storie wat hy by ‘n maatjie gehoor het. Die maatjie was van die land waar hulle nou woon, Babilon.

Die storie is verskriklik! Dit vertel hoe die gode met ‘n reuse seemonster baklei het. Nadat hulle hom oorwin het, het hulle kinders gehad. Gou gou het hulle egter onder mekaar baklei! Die twee hoof gode, Apsu en Tiamat, wou hulle kinders doodmaak omdat hulle te veel raas! Dit vertel hoe mense gemaak is om as slawe vir die gode te werk. Hulle moes alles doen, net om die gode gelukkig te hou.

Die Joodse seuntjie is heeltemal verwar! Kan dit so wees oupa? Is ons God ook so kwaad vir ons? Wil Hy ook van ons slawe maak? Moet ons Hom net gelukkig maak?

Lekker lag die oupa uit sy maag! Hierdie klomp Babiloniërs verstaan niks van liefde nie. Ons God, die ware God, werk heeltemal anders. Kom ek vertel vir jou ‘n baie ou verhaal van hoe God werklik is en hoe die wêreld ontstaan het.

Alles was woes en leeg. Daar was nie seemonsters nie, daar was niks, net ‘n reuse deurmekaarspul en chaos. God het toe begin om alles op hulle plek te sit. Alles te orden. Lig en donker het Hy geskei, so ons hoef nie bang te wees vir die donker nie, Hy het dit ook gemaak.

Die land en see het Hy op hulle plek gesit. Diere en mense het Hy geskep om daar te woon en dit te geniet. Selfs die ou seemonster waarvoor jou maaitjie so bang is, God het hom ook gemaak! (Gen 1:21). Die ou groot seeslang, die Leviathan, ag man, jy hoef glad nie bang te wees nie, God “het hom gemaak om mee te speel.” (Ps 104:26) Hy is ‘n speelding vir God, nie iets wat ons of selfs God bedreig nie.

Wow oupa! Dis ‘n mooi storie! Dis sommer BAIE mooier as my maatjie s’n!!

Die mooiste deel kom nog, sê die oupa! Jy onthou daai deel waar jou maatjie gesê het mense is as slawe vir die gode gemaak, mense moet maar net die gode gelukkig hou? Wel, dis glad nie hoe dit is nie!

Ons weet nie hoekom God besluit het om die heelal en mense te maak nie, maar God het dit wat Hy gemaak het lief. Hy sê dit self in die Bybel! Nie net het Hy die skepping lief nie, Hy vertrou ons so dat Hy ons aangestel het as Sy verteenwoordigers om hierdie skepping op te pas en te versorg. Dis hoe lief Hy ons het.

En ons wat nou 2700 jaar later leef? Hoe kan ons die oupa se verhaal glo? Ons het NOG MEER rede om dit te glo as die klein Joodse seuntjie. Hy was in ballingskap, hulle land was verwoes deur die Babiloniërs. Hulle het nog net uitgesien na ‘n Messias wat eendag sou kom om alles reg te maak. Ons weet egter van Jesus wat gekom het sodat ons kinders van God kan wees. Om ons te herinner dat NIKS ons uit die hand van God kan ruk nie. Om ons te herinner daaraan dat God ons werklik baie lief het en elke dag ons Pappa wil wees.

Sommer Pappa en Mamma wat ons versorg!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”

 

 

 

Advertisements




Genesis 1 – Slingertelefoontyd

22 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Onthou jy nog ‘n slingertelefoon? Daai een wat jy geswaai het, dan het ‘n stem aan die ander kant gevra: “Nommer asseblief?” Wie weet vandag nog hoe so ‘n telefoon gewerk het behalwe die ouer mense? Is jou oupa of ouma dalk dom omdat hulle sukkel met ‘n selfoon? Kan jy so ‘n slingertelefoon gebruik?? Dit gaan glad nie oor slim of dom nie, dit gaan oor wat ons aan gewoond is, wat ons leer om te gebruik.

God wou nie in die Bybel verduidelik hoe elke dingetjie werk nie. Hy kom sê in die Bybel dat Hy betrokke was, dat Hy op elke vlak alles goed gemaak het.

God kom sê vir ons in Gen 1 dat Hy “geskep” het. En dan gebruik die skrywer die Hebreeuse woord “bara”. Die woord word 48 keer in die Ou Testament gebruik, en dit word ALTYD gebruik om iets aan te dui wat God doen – mense skep/bara NIE!

Nou kom die moeilike deel – “bara” verwys amper NOOIT na iets materieël nie (hard, sag, gas, ens). Dit verwys meestal na iets wat nie aan gevat kan word nie. So verwys Ps 89:13 daarna dat God Noord en Suid “bara” het. In Psalm 51:12 “bara” God ‘n rein hart, en so gaan dit aan. In Genesis 1 word die woord 2 maal gebruik – “Aan die begin het God geskep”, en God het die Leviathan, die seemonsters, geskep.

Nou wat beteken dit, wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?

Eerstens kan ons vergeet daarvan om evolusie of sulke goed te bewys of verkeerd te bewys uit Genesis 1. Die Bybel stel doodgewoon nie daarin belang nie! In die leefwêreld waarin die Ou Testament geskryf is, was daar nie ‘n vraag of God of gode betrokke was by die skepping nie, dit is doodgewoon aanvaar.Die materieële oorsprong van alles was nie ‘n vraag nie.

Tweedens, kyk na die prentjie by hierdie blogpost (en die een van ‘n paar weke gelede daaroor) van die wêreldbeeld van die Israeliete. Chaos, die waters, die seemonsters, duisternis, dit alles is as gevare, as bedreiginge gesien. Alles wat buite die “hemelkoepel”, buite die “firmament” is, is gevaarlik! Nou kom Genesis 1 en sê, lag amper vir die vrees, jy’s bang vir die seemonster? God het hom ook geskep, op sy plek gesit.

Want dit is waaroor die hele verhaal van Genesis 1 gaan – God gee aan alles funksies, God orden alles, God plaas alles op hulle regte plekke, God laat alles goed werk. God het nie die mense van die slingertelefoontyd ‘n selfoon verduideliking gegee nie. Hy het dinge verduidelik op ‘n manier wat hulle verstaan het.

Ons dink dalk vandag dit het langer gevat as 24 uur, of dalk ook glad nie – DIT MAAK GLAD NIE SAAK HOE LANK DIT GEVAT HET NIE! Genesis probeer nie daardie vraag antwoord nie!

Genesis kom sê binne ‘n wêreld waar alles gevaarlik en boos gesien is, dat God alles orden en beheer. God hou selfs die seemonsters op hulle plek!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 – Onwaar?

15 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

“Die Bybel is onwaar en onbetroubaar” skryf Prof. Jurie van den Heever in sy boek “Wat moet ons met ons kerk doen?” Hy baseer sy stelling daarop dat sekere goed in die Bybel beskryf word op ‘n manier wat ons vandag weet nie so is nie, bv die maan word as ‘n ligbron beskryf terwyl ons vandag weet dit weerkaats net die son se lig.

Is dit egter hoe ons die Bybel die denke van die Ou Testamentiese mense moet verstaan? Onthou, daar is niks in die Bybel geskryf wat verder gaan as die verstaan wat die mense van daardie tyd van die heelal gehad het nie! Kom ek sê dit weer, ons kry nie in die Bybel wetenskap wat verder gaan as die mense van daardie tyd se verstaan nie!

Wat bedoel ek hiermee? Vers 6 van Gen 1 sê: “Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

Die ‘83 vertaling praat van ‘n “gewelf”, die ‘53 van ‘n “uitspansel”, die Engels van “expanse” of “vault”. Die Boodskap praat van ‘n “soliede struktuur”, die Nuwe Lewende Vertaling van ‘n “hemelkoepel”. Mens hoor ook soms die woord “firmament” in hierdie verband. Net die klomp vertalings wys dat die Hebreeuse woord “raqîa” (wat met hierdie woorde vertaal word) nie so eenvoudig is om te vertaal en te verstaan vandag nie.

Die ou Hebreërs het die heelal verstaan soos die ander mense rondom hulle. Die wêreld was eintlik gevaarlik en wil jou doodmaak. As ons nou na “raqîa” op ‘n letterlike materiële vlak kyk, dan moet ons sê, die aarde is plat en daar is ‘n soliede koepel struktuur wat die waters van chaos weg hou van ons! (Kyk na die prentjie bo-aan). En ons WEET vandag daar is nie so iets nie.

Maar vir die mense van die vroeë tyd was “raqîa” iets funksioneel, iets wat God gebruik het om die wêreld te orden, om chaos en gevaar weg te hou en die wêreld se ritmes van reën en seisoene te orden en bepaal. God moes jou beskerm. Dis ‘n vreemde wêreld vir ons, maar as ons dit nie verstaan nie, verklaar en verstaan ons die Bybel verkeerd!

Vir die mense van daai tyd het die materiële eienskappe van ‘n ding nie saak gemaak nie (is dit hard, sag, vloeistof, gas, ens), wat saak gemaak het is die FUNKSIE van die ding. En vandag nog bely ons dat God ons lewens en hierdie wêreld in Sy hand hou. Ons verstaan van HOE Hy dit doen is net ANDERS as die mense van die vroeë tyd.

So, die Bybel is nie onbetroubaar en onwaar as ‘n mens dit korrek binne sy tyd se kultuur en verstaan van die heelal lees nie.

As ons dit dan nou binne sy kultuur verstaan, hoe “vertaal” ons dit na ons kultuur en kennis vandag? Want dit is nie net ‘n taal wat vertaal moet word nie, maar ‘n hele leefwêreld en kultuur.

Miskien moet ons die vraag omdraai? Wat is daar wat jou vandag die bangste maak? Politieke onrus? Finansiële onsekerheid? ‘n Toekoms vir jou kinders? Jou gesondheid? Jou huwelik? Die Woord kom herinner ons dan dat desnieteenstaande dit waarvoor ons bang is, dit wat ons in die nag laat wakker lê, God nog steeds daar is, dat Sy “Hemelkoepel” Sy “raqîa”, daar is om ons te beskerm, dat Sy genade en liefde nog elke dag daar is vir ons.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 – Beginnende

8 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

“In die begin” Sulke gelaaide woorde! Wat het alles vir jou hierdie jaar begin? Bloot maar net ‘n “Nuwe Jaar”, of dalk het jy besluit om gesonder te leef, of jy begin ‘n nuwe lewensfase, of ‘n nuwe werk, of jy trou en begin so anders leef, of daar is ‘n kind of kleinkind. Wanneer iets nuuts begin is daar altyd so ietsie van onsekerheid, van “Hoe gaan dit werklik werk”. En, so ver in die jaar in alreeds, hoe lyk dit met die dinge wat jy begin het?

“In die begin” in Genesis 1 klink so bekend, soos ‘n “Nuwe Jaar” wat maar weer net dieselfde as die vorige jaar gaan wees. Tot ons met nuwe oë kyk en met nuwe ore luister. Neem nou maar die frase “die Gees van God het oor die waters gesweef”. Dit klink so gewoon, maar ongelukkig wys ons vertaling nie die poëtiese taal mooi uit nie. ‘n Mens sou net so wel kon vertaal “die Gees van God het oor die waters gedans”! Daar is iets vreugdevol, iets van uitbundige blydskap in die taal van Genesis 1!

James Weldon Johnson tel iets hiervan op in sy gedig “The Creation.”

And God stepped out on space,

And he looked around and said:

I’m lonely—

I’ll make me a world.

Then God smiled,

And the light broke,

And the darkness rolled up on one side,

And the light stood shining on the other,

And God said: That’s good!

“Then God smiled”. God werk met “beginnings”, met nuwe begin, met die aanpak van iets goeds en moois. Die meeste Bybelvertalings, insluitende die Afrikaanses wat ons het, sukkel met die eerste woord in die Hebreeus: “Bereshith”. Die Afrikaanse vertalings sê “in DIE begin”, die Engelses “in THE beginning”. Eintlik sou dit meer inpas by die oorspronklike teks as dit iets ou sê soos “aanvanklik”, of “beginnende”.

God vertel hier in Genesis 1 hoe Hy ‘n pad begin maak wat lei tot die verhouding wat ek en jy vandag met Hom kan hê. Dit is ook nie ‘n afgehandelde taak nie. God het begin, en is nog steeds besig om aan die verhouding tussen ons te werk. Hierdie is nie ‘n geskiedenis handboek of ‘n wetenskaplike uiteensetting nie, dit is bloot God wat kom sê hoe lief Hy ons en die wêreld het, hoe graag hy, soos Genesis 3 later sê, in die koelte van die aand saam met die mens, ons, in Sy tuin wil wandel.

Al wat ons eintlik kan doen is om in verwondering te staan voor hierdie God wat  saam met ons wil wandel, hierdie God wat glimlag oor ons lewens uit liefde, wat omgee oor ons en waar ons is. Hierdie jaar, hierdie dag en elke oomblik wil God saam met ons wandel.

“Then God smiled, And the light broke” skryf James Weldon Johnson. Heelwat later sê die engele “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14) “Aan die begin” van die res van jou lewe, “beginnende van hierdie oomblik af, weet dat God se glimlag lig in jou lewe bring, dat niks te donker of boos of erg kan gebeur wat jou skei van Sy glimlag en genade oor jou lewe nie!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Soli Deo Gloria – Tot God se eer alleen!

1 07 2018

Print(Weereens ‘n herinnering dat hierdie op ‘n vereenvoudige wyse en in verhaaltrant geskryf is)

En so kom ons verhaal van die vyf solas tot ‘n einde:

Ons word GERED uit GENADE alleen,

deur GELOOF alleen,

in CHRISTUS alleen,

volgens DIE WOORD alleen,

tot EER VAN GOD alleen.

In die geskiedenis van die kerk gebeur daar so elke 500 jaar iets wat die rigting, die toekoms van die kerk vir die volgende 500 jaar bepaal. Rondom die jaar 500 het die kerk magsbehep geraak. Rondom 1004nC het die magsbeheptheid uitgeloop op die split tussen die Oosterse en Westerse kerk. Rondom 1517 was dit die Reformasie. Wat is dit wat vandag gebeur, wat herontdek ons vandag wat die rigting vir die toekoms gaan bepaal?

Dit kan iets verkeerd wees soos die magsbeheptheid van 500nC. Of dit kan die herontdekking van God se eer wees! Hoe weet ons wanneer iets tot God se eer is? Kol 3 gee vir ons die antwoord:

1Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Dis maklik om te praat oor God se eer, dis maklik om te sê ek wil volgens God se wil leef. Dis maklik om te sê ek wil alles in Jesus se naam doen en God in alles dank. HOE kom ek egter daarby uit?

Kolossense se plan om daarby uit te kom is om ons gedagtes te rig op die dinge wat daarbo is. Dit klink egter nog steeds vaag, tot ons gaan kyk na die oorspronklike woorde wat Paulus geskryf het. Paulus sê ons moet “phroneo”, letterlik om jou brein, jou gedagtes, te OEFEN. Daar is die ou gesegde dat wat die hart van vol is loop die mond van oor.

Die Chinese het ‘n spreekword wat as volg lui: Wees versigtig met jou gedagtes, want gedagtes word woorde. Wees versigtig met jou woorde, want woorde word dade. Wees versigtig met jou dade, want dade word gewoontes. Wees versigtig met jou gewoontes, want jou gewoontes word jou karakter, wie jy is.

So, waarop jy fokus, dit is wat jy word. Die tweede deel wat Paulus sê is dat ons fokus, ons in oefening, moet wees op die “dinge daarbo”. En wat is daarbo, of eerder by Paulus, WIE is daarbo? Soos vers 1 sê, dit is Christus.

So met ‘n lang omhaal van woorde kom sê Paulus ons moet oefen om Christus raak te sien, oefen om Hom in alles te sien, oefen om die negatiewe wat rondom ons gebeur mis te kyk om sodoende al meer vir Hom te sien. DAN sal wat ons ook al sê of doen in die Naam van Christus tot eer van God strek!

En HOE sien ons Christus raak, hoe OEFEN ons?…. Dit sal jy in jou eie lewe en omstandighede moet uitwerk!