Filemon en Efesiërs vir vandag

4 06 2020

Bybelstudie dag 😁.

Filemon en Efesiërs het saam 7 hoofstukke, so jy kan een hoofstuk ‘n dag lees.

Lees elke keer die teksgedeelte rustig deur nadat jy gebid het.

Dan vra jy jouself af:

  • Wat tref jou? Watter woord, gedagte of teksgedeelte praat met jou? Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.

  • Hoe laat die gedeelte jou voel? Probeer ‘n gevoelswoord koppel aan die gedagtes wat by jou opkom. Dink daaroor na en praat met die Here daaroor.

  • Hoe laat hierdie gedeelte jou voel? Wat sal jy vir God wil sê oor dit wat jy verstaan?

  • Praat nou in gebed met Hom daaroor.

So bietjie agtergrond om jou te help nadink en verstaan waaroor Paulus praat. Lees dit, en soos jy die Filemon en Efesiërs briewe deurlees hierdie week, kyk of jy hierdie temas kan raaksien.

Die drie briewe, Kolossense, Efesiërs en Filemon hoort eintlik saam as briewe wat aan die kerk in Klein-Asië (hedendaagse Turkye) geskryf is. (Lees gerus die inligting wat ek 20 Mei uitgestuur het oor Kolossense weer) Die drie briewe word bes moontlik uit die tronk in Efesiërs geskryf. Kolossense en Filemon met ‘n spesifieke doel en adres, Efesiërs as ‘n brief wat gesirkuleer sou word tussen die kerke in daardie omgewing. In die tyd wat Paulus in daardie omgewing gewerk het, het hy minstens een keer, maar bes moontlik twee keer in die tronk in Efese beland. Dit spruit uit die die effek wat die Evangelie van Christus op die Joodse gemeenskap gehad het, met ‘n verdeling in die Sinagoge in Efese. Daar was ook ‘n opstand deur die silwersmede wat beeldjies van Artemis gemaak het, omdat mense die afgodsdiens verlaat het om Christus te volg (Handelinge 19-21 het meer hieroor).

Pergamom was die hoofstad van die Romeinse Klein-Asië provinsie. Efese was egter die groter en belangriker stad. In die antieke literatuur lees mens hoe Efese opgehemel word as “die eerste en grootste metropool in Asië”, as “die lig van Asië”, en “die mark van Asië”.

Efese het die gebruiklike tempels vir Zeus, Apollos, die godin Roma en keiser Augustus gehad. Vier keer groter egter as die Parthenon van Athene het die tempel van Artemis (Romeinse naam – Diana) aan die noord-oostelike kant van die stad gestaan, een van die wonders van die antieke wêreld. Soos wat ons Londen kan herken aan die “Big Ben” of Pretoria aan die Uniegeboue of Voortrekkermonument, so is Efese geken aan die tempel van Artemis.

Soos in die vorige stuk gesê het die hele area ‘n bevolking gehuisves wat bestaan het uit mense van Klein-Asië self, Grieke, Italianers en ‘n redelike groot Joodse bevolking.

Kom ons begin deur na Filemon te kyk. Die brief is bekend dat dit op die retoriese styl geskryf is, waar jy iemand van iets probeer oortuig sonder om dit vir hom reguit te sê. Paulus se kommer oor die wegloopslaaf Onesimus strek egter baie wyer as die slaaf self. Vir Paulus gaan dit oor die eenheid van die kerk van Christus oor tradisionele grense heen. Dit kan, soos in Galasiërs, gaan oor die eenheid tussen Jood en heiden in Christus. Dit kan gaan oor die eenheid van die kerk in ‘n heidense en onderdrukkende politieke situasie (deel van die punt van Filippense). Hier in Filemon gaan dit oor eenheid oor klasse grense, ekonomiese grense heen. Die heel tyd hou Paulus dit wat hy telkemale in sy briewe herhaal, eenheid “en Christō” (in Christus), voor oë.

In Efesiërs kry ons Paulus se grond argument in 2:4-5: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” Alles wat hy sê rondom eenheid (2:11-3:13, 4:1-16), hoe om in ‘n heidense kultuur te leef (5:21-6:9), hoe om nuut te leef (4:17-5:20), kom vanuit die fondament van God se genade en liefde.

Kom ons kyk na die briewe se groter prentjie:

As ons Handelinge 19 en 2 Korintiërs 1 langs hierdie briewe lees, sien ons ‘n prentjie van Paulus se werk in Klein-Asië gedurende die vroeë jare 50nC. Dit sluit triomf, maar ook teleurstellings en teenstand in. Daar was opposisie van die Jode asook die Romeinse kultusse van Artemis, Zeus en keiseraanbidding. Paulus se antwoord op dit alles is om Christus se opperheerskappy in gedagte te hou, om te onthou dat Christus al klaar die oorwinning oor die bose behaal het, om te onthou dat die boodskap van die geskrifte van Israel in Jesus vervul is. Daarom kan die gelowiges nou oorwinnend lewe, in eenheid en heilig, as ‘n teken van die koms van God se Koninkryk. Die lewens van gelowiges is ‘n teken vir die wêreld van hoe God se nuwe mensheid lyk.

Geniet Filemon en Efesiërs!

Met erkenning aan: “The New Testament in Its World” N. T. Wright and Michael F. Bird Zondervan Academic , 2019





Hy is magtig!

13 09 2010

Die afgelope naweek Komga se kerkgebou se 100jarige bestaan gevier, met die gemeente wat 151 jaar gelede gestig is. Hieronder die boodskap vir die dag. Sal so ietsie oor die geskiedenis van die gemeente in ‘n ander post plaas.

———————————————–

Efesiërs 3:14-21

Dit is lekker om te kan fees vier! Dit is lekker om na te dink oor genade, oor dinge wat gebeur het. Sulke nadenke kan egter ook gevaarlik wees deurdat ons dalk net kan dink aan wat ONS gedoen het – asof hierdie kerk en gemeente se 151 jarige geskiedenis van ons afgehang het. Dit is ook gevaarlik, want ‘n mens kan dink die werk is nou klaar, ons kan terugsit, daar is niks meer om te doen nie.

Paulus se gebed vir die Efesiërs gee egter ‘n totaal ander perspektief aan ‘n dag soos vandag. Ons is nie hier bymekaar omdat ons so goed is of so hard gewerk het nie, nee, dis deur “die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.”(3:15) Dit is deur Sy Genade dat ons hier is.

God is die een is wat ons versterk, en NOG STEEDS versterk – die werk is nie klaar nie, dit gaan voort! Paulus praat van ‘n innerlike krag – ‘n krag, ‘n versterking wat kom uit die feit dat God deur Sy Gees in ons woon, ons lei.

Hierdie innerlike versterking lei direk tot die vestiging van ons fondamente in God se liefde (3:17), tot ons wortelskiet in God se liefde met wortels wat diep deurdring. Die manier waarop Paulus dit sê, wys daarop dat dit klaar gebeur het. Ek en jy HET wortelgeskiet in Christus se liefde. Hy is in ons harte, in die diepste sentrum van ons lewens. Dit gebeur deur die geloof, die aanvaarding van God se liefde, die neem van God op Sy Woord. Daardie wortels moet nou die liefde in ons lewens inbring en laat sigbaar word. Christus se liefde is nie maar bloot ‘n sêding of konsep nie, waar Hy is, is daar liefde!

Wanneer ons na onsself luister, dan is ons geneig om negatief te wees – ag die lidmate te Komga het so min geword… God se liefde is egter baie meer, baie wyer en hoër en verder as wat ons ooit kan droom of dink (3:18). As ons werklik na mekaar begin luister, begin praat oor wat God besig is om te doen, dan ontdek ons ‘n ander sy van die lewe. God se genade is net soveel groter as wat ons selfs kan droom!

Vers 19 sê God se liefde gaan alle verstand te bowe! Ons dink ons is slim, ons weet so baie, maar God se genade en God se liefde is onverstaanbaar. Ons kan dit net aanvaar. En dit is ten grootste wat ons hier vier vandag – God se genade en God se liefde wat oor soveel jare sigbaar was hier in Komga, maar nog steeds sigbaar is!

Hy is “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink”! (vers 20) Nie net nou of in die verlede nie, maar “deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.” (3:21)

Terwyl ons terugkyk na al die wel en weë van die kerk in hierdie geweste – na dae met baie lidmate, ander tye minder lidmate, samewerking met verskillende gemeentes, moet ons weet dat dit nooit vervelig kan wees as God se kind nie! Hy wil en kan elkeen van ons gebruik tot Sy eer. Hy is werklik “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink”!