Opgestaan?

27 05 2015

Die opstanding bly maar ‘n moeilike ding. Vandag, met ons wetenskaplike, modernistiese, “sien is glo” uitkyk op alles, bly dit iets wat moeilik is om te aanvaar. Maar dit is nie net vandag moeilik nie. Gaan lees maar al die evangelies se verhale van die opstanding. Ongeloof en twyfel staan voorop in al die beskrywings. Van Maria wat gedink het Jesus se liggaam is gesteel tot Thomas se reaksie, dit was maar ‘n baie moeilike ding om te aanvaar!

Daar is 5 verbasende dinge in Jesus se opstanding, dinge wat deur die vier evangelies genoem word.
•    onvoorbereid
Eerstens was hierdie klomp volgelinge, dieselfdes wat 3 jaar saam met Jesus beweeg het, wat so intiem met hom was dat Maria Magdalena die term “Rabboeni” gebruik om Hom aan te spreek – ‘n intieme term van respek, eer, vir ‘n Rabbi – TOTAAL onvoorbereid vir wat gebeur het. Hulle wou dit bloot nie glo nie! In Lukas 24:11 word daar gesê die dissipels het gedink dis “onsin”. “An idle tale” (ESV).

•    “kenners” waardeloos (Farisieërs en Essene)
Daar was 2 groepe in die Joodse godsdienstige samelewing wat die opstanding van die dooies verkondig het. Albei van hulle mis hierdie gebeure totaal. Die Essene sit daar ver in die woestyn om te wag op die Messias wat sou kom en om hulself rein te hou vir die koms. Die Farisieërs, wel hulle kyk in die verkeerde rigting. Hulle verkondig opstanding, maar sien dit nie in Jesus nie.

•    randfigure prominent
Wie sien dit? Dissipels soos Petrus en Johannes word genoem, maar die enigste getuie wat in al 4 evangelies genoem word is Maria Magdalena. Dieselfde een uit wie 7 duiwels uitgedryf is – wat dit was weet ons nie werklik nie, maar dit sou haar op die verste rand van daardie samelewing gehou het. En dan moet ons nie vergeet dat die dissipels almal Galileërs was nie. Hulle was nou nie werklik geag in die Joodse samelewing nie, Inderwaarheid was dit een van die probleme wat die Fariseërs met Jesus gehad het – hoe kon daar enigiets goeds uit so ‘n agtertangse plek soos Galilea kom!

•    stil, nie met trompetgeskal
En dan gebeur dit stil.  Terwyl Jesus in vol sig van almal, met aardbewing volgens van die evangelies, gesterf het, gebeur die opstanding stil. Die graf is bloot leeg. Matteus verwys na ‘n aardbewing en lig wat die soldate laat flou word het, maar dit blyk bloot die koms van ‘n engel te gewees het.  Die mees opspraakwekkende gebeure sedert die skepping, en dit gebeur in stilte…

•    vrees
Lukas 24:37: “Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees.” Dit nadat die vroue vir hulle vertel het van die leë graf en wat die engel aan hulle gesê het. Dit nadat Petrus self die leë graf gesien het en hom verwonder het. Dit nadat die Emmaus gangers hulle vertel het dat hulle Jesus ontmoet het.

Miskien moet ons nie so hard op hulle wees nie. Hoe sal jy voel as iemand wat jy WEET dood was skielik langs jou staan?

☛ Wat beteken dit nou alles vir my wat 2000 jaar later bely “ek glo in die opstanding van die vlees?”

☛ Ek dink dis reg om te begin by ‘n bietjie verwondering. God is groot en almagtig, bewonderingwaardig. In ons kultuur is daar egter geen of weinig plek vir  verwondering nie. Ons is almal so blasé – ons het al als gesien, weet alles van als, en wat ek nie dadelik weet nie Google ek! Antwoorde op alles het ons!

Saam met die wete van God se liefde en genade moet daar dalk net so bietjie erkenning vir die misterie van God ook wees. Ons kan hoegenaamd nie alles verklaar rondom God se persoon, doel, motiewe ens nie. Sleg vir ‘n 21ste eeuse mens, maar verwonder jou maar so bietjie in dit wat jy nie weet nie.
☛ Erken dat God meer magtig is as wat ek of jy kan dink of droom! Maar ook meer genadig en liefdevol is as wat ek of jy kan dink of droom!
☛ Aanvaar wat Jesus gesê het: “Julle is getuies van hierdie dinge.” (Luk 24:48)

En wat beteken dit?
•    Dit beteken ons kan hoop sien waar ander hopeloosheid sien.
•    Dit beteken ons kan ander aanvaar wat afgeskryf word as tweederangs, “lost cases”.
•    Dit beteken ons kan stil, sonder trompetgeskal, God se liefde uitleef in klein, vir die wêreld onbenullige, dade en woorde.
•    Dit beteken my hoop is in ‘n opgestane Jesus!

Na aanleiding van Lukas 24:36-48. Met erkenning aan “Living the resurrection” van Eugene H. Peterson.





Hoekom het God my lief?

1 05 2015

In ‘n wêreld wat sy oordeel oor my vel op grond van wat ek besit, of wat se werk ek doen, of net oor wat “die mense” oor my sê (Henri Nouwen), bly die boodskap van Christus moeilik om te glo. God het MY lief? Hoekom? Dis darem bietjie dik vir ‘n daalder…  Wat sien God in my? Ons is so deur ons kultuur gekondisioneer dat ons alles moet verdien, dat die gedagte dat God dalk maar net vir ons kan lief wees nie aanvaarbaar is nie. As ek eerlik is met myself, as ek in naakte eerlikheid in die spieël kyk, kan ek nie glo dat God my sal liefhê nie…

Ons lees in die Ou Testament, vanaf Deuternomium 4:44, ‘n lang gedeelte oor die verbond, die ooreenkoms, wat God met die Israeliete sluit. Dan kom die skrywer uiteindelik in hoofstuk 7 by die vraag: Hoekom? Al die redes hoekom God nou nie vir Israel sou kon liefhê nie word genoem, hulle is klein, hulle was opstandig, ensovoorts.

☛ Die antwoord word nie gegee op ‘n manier wat ons sou dink dit moet wees nie. Inteendeel, eintlik word geen redes gegee nie! Drie keer word ons vertel dat God ons liefhet, en eenkeer word na ons liefde vir Hom verwys.

Baiekeer dink ons aan God se liefde vir ons as iets vreemds, iets verhewe, iets wat ons nie kan bereik nie. So word ons soms vertel dat die Nuwe Testament verskillende woorde vir liefde het, en dat God se liefde iets anders is. Die skrywer van Deuternomium maak egter nie so ‘n onderskeid nie – Hy gebruik in Deuternomium drie Hebreeuse woorde om God se liefde vir ons te beskryf (al 3 as liefde in die Afrikaans vertaal). Hierdie drie woorde omsluit die totaliteit van wat ons verstaan van liefde!
•    :7 – “Gasak” – Om genot te put uit die ander persoon se teenwoordigheid
•    :8 – “Ahabah” – Die liefde wat daar tussen man en vrou bestaan – ja God het ons selfs so lief! Hy verlang na ons, wil by ons wees.
•    :9 – “Gesed” – Genadige, liefdevolle omgee,  goedertierenheid

Niks wat ons verstaan as liefde is uitgesluit uit die manier hoe God ons liefhet nie! Sy liefde is allesomvattend!

☛ Nou hoe gemaak? Wat maak ek met so ‘n groot, skrikwekkende, selfs allesomvattende liefde?

Die woord wat gebruik word in vers 9 om ons respons op God se liefde te beskryf, “Ahab”, is familie van “ahabah” oor hoe God ons liefhet. Dit praat van verlang na die ander een, om honger te wees vir die teenwoordigheid van God soos om honger te wees vir kos te hê, om nie sonder Hom te kan klaarkom nie, om te soek en te vra na Hom, om te wil doen wat die ander een vra.

Ons kom vers 11, ons respons op God se liefde, deur “gehoorsaam … daarvolgens te lewe” al na net deur te soek na God, te besef dat ons afhanklik is van Hom!

☛ God het ons lief omdat Hy vir ons lief is – klaar! Ten spyte van wat ek verkeerd of reg doen, Hy bly lief vir my. Ten spyte van my ongehoorsaamheid, Hy bly lief vir my.

Hoe antwoord ek God? Deur dankie te sê met my lewe! Gaan leef sy liefde!