Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.





Hoe radikaal is Jesus? (Matt 5)

15 02 2011

Matt 5:21-37 ‘n Redelike radikale Jesus wat ons hier hoor, is dit nie? So radikaal dat mense baiekeer na die bergrede kyk as net iets wat as teorie moontlik is – dis tog nie die werklike lewe die nie!

Kom ons kyk bietjie na hierdie gedeelte, en die normale reaksies wat ons hierop kry – Aan die een kant kry ons die mense wat sê dat Jesus die wet nog baie meer belangrik ag en maak as wat die in die Ou Testament is.  Hierdie reaksie sê dat Jesus se WET erger en swaarder is as die Ou Testament se wet. Hierdie mense sê ‘n mens moet maar net luister na Jesus se gebruik van die woorde: ““julle het gehoor… maar ek sê vir julle” as bewys vir hulle standpunt.

Hierdie manier van kyk na die Bergpredikasie neem die etiese deel van God se Wet ernstig op, maar reduseer dit tot net ‘n moraliteits les…

Teenoor hierdie siening kry jy die wat sê Jesus vat die wet hier tot die absurde sodat ons kan sien dat ons nie instaat is om die wet self na te kom nie. Om so na die gedeelte te kyk, beklemtoon beslis God se genade en vergifnis, maar neem enige morele oproep op ons lewe weg. Dan kan ons amper doen wat ons wil, God sal mos vergewe!

Ek dink hierdie twee algemene maniere van kyk na hierdie moeilike vereistes wat Jesus stel, mis die punt. Jesus stel nie in die wet belang nie. Jesus praat oor God se Koninkryk, die Koninkryk wat rewolusionêr anders is as wat die wêreld verwag, wat God se droom vir ons is. In ONS wêreld kyk ons gewoonlik eers wat pas MY, in God se wêreld, mot ons ons naaste liefhê soos onsself….

Jesus praat oor God en Sy Koninkryk, nie dooie wette nie! En as ons oor God praat gaan dit altyd oor verhoudings – en verhoudings is juis die ding wat vinnig by die deur uitvlieg as ons wetties raak! Ons dink God se wet gaan oor, jy weet, wette!  Doen net die regte dinge, hou jouself uit die moeilikheid uit. Die Wet is egter BAIE meer as dit, God se wet gaan oor verhoudinge.

Neem nou net die 10 gebooie as voorbeeld. Die eerste tafel gaan oor ons verhouding met God, en die tweede oor ons verhouding met mekaar. As ons dit so sien, as iets positief, dan is die Wet daar om ons te help om mekaar en God te eer deur die tipe verhouding waarmee ons met mekaar in verband staan. Maar ons vergeet dit so maklik, en probeer die Wet hou om die wet se onthalwe, en so raak ons wetties oor kleredrag, sang, liturgie, taal, musiekinstrumente, kansels, ens, ens!

Jesus kom en radikaliseer die Wet, nie sodat ons dit meer of minder ernstig moet opneem nie, maar sodat ons ‘n slag kan nadink oor die wêreld waarin ons wil woon. Hopelik ‘n wêreld waarin ons mekaar respekteer en eer as mense vir wie God liefhet en wat geseën word deur God. Jesus sê dis nie genoeg om nie moord te pleeg nie, ons moet mekaar met respek hanteer. Wat sê dit vir ons wat soms so maklik ontplof, hetsy in padwoede of by die huis met vrou/man, kinders?….

Wette het natuurlik ‘n wetlike karakter, maar dis ‘n byproduk, nie die essensiële van die wet nie. God se wet is gegee sodat ons vir Hom en vir mekaar kan eer, respekteer en omgee. Ons hou egter daarvan om dit net letterlik op te neem, want dit neem dit so bietjie weg van my af. Ek het mos niemand doodgemaak vandag nie! Aha, maar waar het ek liefde en respek betoon?

Moord vandag – nee! Ek is ok!
Owerspel vandag – nee! Ek is ok!
Maar Jesus wil baie meer van ons hê! Hy wil hê dat ons na mekaar kyk soos God na ons kyk, en dat ons mekaar so sal hanteer.

Wat se tipe gemeenskap wil u graag in woon? Wat se tipe kerk wil u graag die Here in dien?

Jesus kom sê dat ons hieroor moet nadink, EN DIT DAN GAAN WAAR MAAK as God se verteenwoordigers! Moenie vra “Wie my te na gekom het nie”, gaan leef as God se verteenwoordiger en herstel verhoudings (:23,24)

Wil ons in ‘n gemeente en gemeenskap waarin daar respek, eer en omgee vir mekaar is leef?

Nou gaan maak dit waar! Gaan leef so!

(met erkenning aan Workingpreacher.org)





Is jy hoop?

6 12 2010

Rom 15:4-13

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Dit is die Aäronitiese seën uit Num 6:24-26 waarmee ek graag ‘n diens afsluit. Wat beteken dit egter, wat beteken dit as die seën die belofte van vrede gee, maar ons ervaar dit nie, ons sien dit nie in ons alledaagse lewe nie…  Misdaad, gesinsprobleme, ongelukke, geldprobleme… lyk nie of ons in ‘n besondere vredevolle tyd leef nie. Met Jesus se geboorte het die engele aangekondig: “ “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Luk 2:14) Vrede? Vrede? Waar is dit?

Om te verstaan wat hierdie aankondiginge beteken, moet ons miskien mooi gaan kyk na ons teks vanoggend: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13). Hier word vrede en vreugde gekoppel aan hoop, hoop wat vloei uit God as die BRON van hoop.

☛ Hoop is ‘n moeilike en maklike woord – Ons is geneig om hoop = te stel aan optimisme. Maar wat is optimisme eintlik, dit is maar net die geloof dat, ten spyte van hoe erg die probleme lyk, dinge ten goede sal uitwerk. In dieselfde omstandighede sal die pessimis weer net die komende ramp sien, alles is verlore!

Hoop het iets in gemeen met beide optimisme en pessimisme. Hoop sien in elke situasie ‘n oplossing, en soos die pessimis, sien dit die situasie in sy volle swang, sy volle potensiaal vir rampe en ellende.

Hoop is egter ook TOTAAL anders as beide optimisme en pessimisme. Optimisme en pessimisme veroorsaak dat ons ‘n situasie maar net aanvaar soos dit kom, “what will be will be”, ons kan tog niks verander aan die uitkoms nie, So, fatalisties, aanvaar ons maar wat kom.

Hoop aanvaar nie maar net wat kom nie, hoop vereis dat ons die wêreld sien soos dit is, eerlik, met al sy probleme, sonder ‘n lagie vernis bo-oor, maar weet dit kan beter.

Ons kan dit doen, want die bron van ons hoop is nie maar net valse optimisme nie, die bron van ons hoop is God self, wat dit in ons werk deur die Heilige Gees.

Daarom kan ons hoop nie los verstaan word van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit kan nie los verstaan word van God se liefde wat vir ons bewys en gegee is deur Jesus se geboorte, sterwe en opstanding nie. God se liefde wat verder in ons leef deur Sy Heilige Gees.

☛ Hoe hoop ek op vrede? Hoe leef ek uit hoop? Hoe maak ek die aankondiging van die engele waar?

Slegs deur dit waar te maak vir ander. Want hoop roep ons op tot aksie, tot die uitleef van ons hoop.  Romeine 15 roep ons op om eensgesind onder mekaar te wees, om mekaar te aanvaar, om Sy hoop uit te dra aan alle nasies, om God te loof en prys. Hoop gaan nie oor lekker voel, om knus in my nessie te sit en te “hoop” die storms van die lewe sal nie die boom waarin ek sit ontwortel nie. Hoop roep ons, om ter wille van die eer van God, die storms tromp-op te loop, om ander te aanvaar soos God ons aanvaar – al hou ons soms nie van hulle nie.

Hierdie woord wat in Afrikaans met “aanvaar” vertaal word, het ‘n diep betekenis in die Grieks, eintlik heelwat dieper as wat ons die gewoonlik in Afrikaans verstaan. Dit verwys na die ander persoon aanvaar, neem as jou metgesel, om die ander in jou huis in te neem, om toegang tot jou hart te verleen.

In kort beteken dit nie om HOOP vir jouself te soek nie, maar om God se hoop vir ander te wees! God se vrede breek daar deur waar ek ander aanvaar. Die versoeking is daar om hierdie hoop op ‘n nou, op myself gerigte manier te verstaan – EK wil tog iets beter vir my en my gesin hê! Dit is egter nie waarvan Paulus praat nie. Die hoop wat die Heilige Gees in my werk is nie net vir myself nie, dit is daar om gedeel te word!

In hierdie Kerstyd word ons geroep om te aanvaar soos Christus aanvaar het, om hoop te bring soos Hy hoop gebring het, om vrede te wees vir ander soos Hy ons vrede is. Martin Luther het dit ‘n “gelukkige ruil” genoem. Christus neem alles op Hom wat ons van God skei, en gee vir ons die lewe, en dit in oorvloed, in Christus. So word ons voortdurend by God verwelkom, en so moet ons ander verwelkom en aanvaar.

Ons hoop moet al sterker word deur die krag van die Heilige Gees!    God se vrede moet al sigbaarder word deur ons lewens!

Mense moet hoop sien, hoor, voel en ervaar as ons in hulle teenwoordigheid is of as hulle aan ons dink.

Is jy ander mense se hoop?





Geloofwaardig?

27 05 2010

Cartoon - Religion

“Die mense sê”… Seker een van die gevaarlikste veralgemenings wat rondloop. Die “inligting” het nie ‘n baas, ‘n oorsprong nie. So daar is niemand om tot verantwoording te roep nie. In ‘n sin is ons weer terug by ‘n paar weke terug se blogpost oor Persepsies. Die strokiesprent hierbo is ‘n uitstekende voorbeeld daarvan.

“Almal weet” die Christelike geloof is wreedaardig, kyk maar net na die kruistogte en inkwisisie. SONDER om enigsens van die gruwels van die verlede te probeer goed praat, moet ‘n mens darem onthou dat mense se wêreldbeeld baie anders was so ‘n duisend jaar gelede. Dit was lank voor menseregte en demokrasie. Dit was ‘n feudale sisteem waar mense wat die grond bewerk het geen regte gehad het nie – probeer dit vandag!

Verder was iets soos die kruistogte ook in ‘n groot mate ‘n respons op Moslem imperialisme. http://en.wikipedia.org/wiki/Crusades: “The Crusades originally had the goal of recapturing Jerusalem and the Holy Land from Muslim rule and were launched in response to a call from the Christian Byzantine Empire for help against the expansion of the Muslim Seljuk Turks into Anatolia.”

Enige “feite” tel egter min as mens iets wil afkraak, veral as dit godsdiens is. Nou kom die probleem egter… ons as Christene gee baie skietgoed aan mense wat nie in God glo nie.

Skandale rondom TV predikers, rondom Rooms Katolieke priesters en seuntjies, ens, ens kraak die beeld van Christene orals af. Dan praat ons nie eers van wat die lidmate ook doen nie!

Wat my persoonlik egter krap, is Christene wat maklik veroordelend kan wees. Vingers word gewys, mense word ge-“label”, ge-boks, reg om hel toe gepos te word, want ONS mening is al wat tel — nee ekskuus, MY mening is al wat tel!

Elke nou en dan gebeur daar egter iets wat weer hoop gee, baiemaal uit heel onverwagse oorde. So skryf Danie Mouton in die Oos-Kaapse enuus van 28 Mei 2010 oor hoe (wit) boere gehelp het na ‘n taxi ongeluk naby Elliot en die (swart) kinders se berafniskostes en hospitaalkostes betaal het.  “Die mense” sê mos boere is rassisties… wel, hoe verduidelik “die mense” dan dit wat hier gebeur het? Verder lees ek in die Time Magazine van hoe Pous Benedict XVI, wat as konserwatief afgemaak word deur “die mense”, in 2000 tydens ‘n seremonie wat Pous Johannes Paulus II gereël is, verskoning gemaak het vir die Inkwisisie – wel in versigtige woorde, maar nogtans, van die Rooms Katolieke Kerk, ‘n verskoning!: “even men of the church, in the name of faith and morals, have sometimes used methods not in keeping with the Gospel in the solemn duty of defending the truth.” Nou moet nog gewag en gesien word wat die Pous gaan sê oor die skandaal rondom kindermolestering in die Katolieke kerk…

Terwyl ek gedurende die laaste week nagedink het oor Joh 16 en 17, en die Gees van Waarheid wat ons van die Waarheid sal leer, het ek aan hierdie spotprente op hierdie blad gedink, en hoe min geloofwaardigheid Christene in die oë van die wêreld het. Die gemiddelde uitbeelding van ‘n Christen is of ‘n “Bible-puncher” met ‘n paar geraamtes in die kas, of ‘n “wimp” sonder ruggraat.

Dit lyk vir my ons as Christene sal baie meer dienend moet wees, soos die Elliot boere, baie meer moet staan vir wat reg is, voordat ons weer ons geloofwaardigheid sal terugkry.





Persepsies

23 04 2010

Persepsies is darem maar ‘n ding! My woordeboek beskryf ‘n persepsie as daai ding wat onaantreklike meisies (en ouens!) al hoe mooier laat lyk hoe meer bier jy drink…. Eintlik wil dit seker maar net sê “beauty is in the eye of the beholder”… Dit is ‘n ding wat rasioneel moeilik vasgevat kan word, want hy slaan baie diep in jou binneste, in die kern van jou bestaan vas. So het sekere ouens baie sterk persepsies oor watter karre die beste eyeis (Moet nie eers raak aan die Land Rover / Land Cruiser debat tussen die 4×4 ouens nie!). Alles baie onskuldig, lekker gesels-stof vir om ‘n braaivleis vuur.

Ongelukkig trap persepsie egter baie dieper spore as dit! Soms selfs bloederige spore…. So het ons persepsies oor ander nasies en volke – kyk maar net na al die grappe oor Iere / Skotte / Duitsers / Swart mense / Chinese / Pole / Boere . Weereens baie onskuldig, alhoewel soms erg kwetsend! En verder vertel dit ‘n verhaal van weggesteekte (en soms openbare) meerderwaardigheid, rassisme en selfs haat teenoor die een wat die onderwerp van die grap is… Soms gaan dit nog baie verder! Gaan luister maar na wat Palestyne oor Jode sê, en andersom. Die persepsies, die woorde, loop uit op bloed wat vloei in daardie geweste. En dit is maar net enkele voorbeelde uit ‘n wêreld waarin onvrede eintlik die norm geword het. In Suid-Afrika loop gemoedere juis hoog oor die persepsies wat die lied “Kill the boer” aanwakker.

Hierdie hele relaas oor persepsies het weer by my opgekom na die lees van die tweegesprek tussen Nico Smith en Anton Pienaar in die jongste Kerkbode oor kerkhereniging en die besware / probleme daar rondom. As iemand wat sedert 1987 in die gemeentebediening in die NG Sendingkerk en VGK gestaan het, het ek ‘n sekere persepsie oor die NG Kerk opgebou. Meestal gebaseer op my eie ondervindings, maar ook op ander se oorvertelde ondervindings. Van my eie ondervindings was byvoorbeeld die NG Lidmaat wat weier om my met die hand te groet, want “hy vat nie aan ‘n hand wat die Belhar belydenis onderteken het nie”. Dan was daar die emiritus leraar wat ouderling te die NG Gemeente Calitzdorp was, wat vir ons groepie NG Sendingkerk predikante wou dogmatiek leer, want ons kerkbegrip was (volgens sy persepsie) gebrekkig. Om nie eers te praat van die male sonder tal wat ek deur NG lidmate gevra is wat se opleiding ek het nie, om deur stom verbasing begroet te word as ek hulle vertel dat ek en hulle dominee saam op kweekskool was, en dat ek eintlik dieselfde opleiding het.

So is my persepsie rondom die hele afwysing en negatiewe siening van die Belhar Belydenis onder gewone NG lidmate dat dit spruit uit sienings wat opgebou is deur die Afrikaanse pers en NG dominees in die laat tagtiger en vroeë negentiger jare.

Prof Nico Smith skryf: “’n Jaar of twee gelede is ek gevra om ondersoek in te stel na die redes vir die skeuring wat in VGK-gemeentes in die Vrystaat plaasgevind het. Dit was uiters ontstellende verhale wat ek moes aanhoor oor hoe  NG kerkrade die VGK-gemeentes behandel het. In die 14 gemeentes wat ek besoek het, was in al die gemeentes van die VGK die plaaslike NG gemeentes aangewys as medeverantwoordelik vir die skeuring.” Dit het my herinner aan die Selgemeente werkswinkel wat ek in Mosselbaai bygewoon het so jaar of wat nadat die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika verenig het om die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te stig. By hierdie werkswinkel was ‘n leraar van die NGKA in Lesotho wat nie deel was van die eenwording nie, wat buite die VGK gebly het. Nadat ek en hy eers ‘n paar persepsies oor mekaar uit die weg geruim het, vertel hy toe vir my dat hy sy salaris vanuit die NG Kerkkantoor in die Vrystaat kry. Daar is aan hom persoonlik gesê dat as hy en sy gemeente sou saamgaan met die eenwording en by die VGK aansluit, hy sy salaris sou verloor.  So kan vele VGK leraars dieselfde verhale vertel. Dit het gelei tot wantroue teenoor die NG Kerk. Vrae word gevra oor die NG Kerk se bona fides as positief klinkende sinode-besluite geneem word.

Noudat ek amper ‘n jaar in die NG Kerk gemeenteleraar is, kom ek agter dat baie van dieselfde wantroue ook aan hierdie kant lê. Jare gelede het ‘n NG leraar op ‘n kerkeenheidskonferensie te Wellington vir my gesê dat sy grootste probleem met kerkhereniging is dat hy vrees wat met sy salaris en pensioenvoordele kan gebeur. As hy nie so ernstig was in sy vrese nie, het ek seker uitgebars van die lag oor die wanpersepsie wat agter so ‘n stelling sit. Die persepsie dat sy pensioen en salaris in gedrang is, skep egter ‘n gevoel van wantroue teenoor die kerkherenigings proses – wat sit hieragter! Slegs die negatiewe rondom die VGK stigting is gekommunikeer, en nie die positiewe nie. Wat egter kommerwekkend is, is dat dieselfde sienings nou nog deur sommige leraars gehuldig word! Die feite van die saak was dat by die stigting van die VGK daar drie amptelike pensioenfondse bestaan het in die NGSK en NGKA. Al drie is behou as amptelike fondse van die VGK en gemeentes besluit saam met hulle dominees by watter fonds aangesluit word. Pensioenfondse word immers deur landswette beskerm. Met salarisse het die VGK kreatief gewerk. Die NGKA se salarsskaal het laer as die NGSK s’n begin, en ook laer geëindig. Die twee salarisskale is toe saamgevoeg om een lang skaal te maak. Elke jaar vir tien jaar lank is toe een kerf aan die onderkant verwyder totdat daar op ‘n meer werkbare skaal uitgekom is. Geen leraar se salaris of pensioen is nadelig geraak direk as gevolg van die eenwording en die stigting van die VGK nie, behalwe die dreigemente wat hierbo genoem is teenoor leraars indien hulle met die eenwording sou saamgaan.

Net so het die VGK met sy stigting die selfstandigheid van gemeentes bevestig. Gemeentes besluit self watter taal gepraat word tydens hulle erediens, daarom kry ‘n mens op verskeie plekke in die land Afrikaanssprekende en Xhosasprekende VGK gemeentes in dieselfde dorp.

Besware oor salarisse en pensioene om kerkhereniging te verhoed is om spreekwoordelik viool te speel terwyl Rome brand. Die NG Kerk ondervind wat die VGK al jare mee sukkel, naamlik ‘n gebrek aan geld om predikante te betaal. Danie Mouton skryf oor die NG Ring van Graaff-Reinet: “Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.” Dit is ‘n patroon wat regdeur die land voorkom in beide VGK en NG gemeentes. Ek sit die week in ‘n vergadering van ‘n klein NG gemeente. ‘n Vergadering waarin oor die oorlewing van die gemeente gepraat word. Waarin ernstig en kreatief gedink moet word om die voortbestaan en die bediening van die gemeente te verseker. 500m vanaf die vergadering sit die kerkgebou van ‘n klein VGK gemeente. Hulle het ook nie ‘n vaste predikant nie. Hulle sukkel ook met voortbestaan. Niemand van die NG Gemeente het egter nog ooit gedink om die VGK gemeente te nader sodat hulle ‘n predikant gesamentlik kan beroep nie…

Moet ons nie ‘n slag mekaar se persepsies erken en herken nie. Moet ons nie ‘n slag probeer om ander se vrese daadwerklik aan te spreek en uit die weg te ruim nie? Jesus sê tog duidelik aan ons in Joh 13:34-35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”” Liefde is al ding wat persepsie kan oorwin. Liefde is al wat jarelange wantroue kan oorwin. Liefde vra egter waarheid, eerlikheid. Liefde vra dat ek bereid sal wees om my gekoesterde persepsies neer te lê en om te aanvaar dat EK dalk ook verkeerd kan wees, dat my persepsie dalk ook skeefgetrek kan wees!

So moes ek na jare van opgeboude persepsies agterkom dat die NG Kerk van vandag nie meer die NG Kerk van vroeër is nie. Alhoewel die ou sieninge nog hier en daar kop uitsteek, is die NG kerk besig om ‘n nuwe kultuur te ontwikkel. ‘n NG Kerk wat LUISTER??!! Vir iemand wat uit die VGK kom, met 20 jaar se opgeboude persepsies, was dit nogal ‘n “eye opener”! Prof Willie Jonker was tog reg in sy 1998 boek: “Selfs die kerk kan verander”!

Persepsies! Dit herinner my sterk aan oogklappe!





Luk 19:28-40 – Vredevors vs Oorlogsvors

26 03 2010

Luk 19:28-40

Ons almal ken die verhaal van Palm Sondag, Jesus se intog in Jerusalem in. Min van ons besef dat daar daardie dag TWEE intogte in Jerusalem in was.  Marcus Borg en John Dominic Crossan in hulle boek “The Last Week” het vir my dié liggie laat opgaan.

Die een ken ons. Jesus wat Jerusalem vanuit die Ooste op die donkievul inry. Die klere en palmtakke wat op die pad voor die donkie neergegooi is. Jesus wat van die klein, armoedige dorpie Nasaret was, met ‘n boodskap oor die Koninkryk van God, gevolg deur meestal arm mense. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gekom vanaf Galilea, so 160km Noord van Jerusalem.

Vanuit die Weste is daar nog ‘n optog, een wat die mense van Jesus se tyd goed geken het, maar wat vandag minder bekend is. Die Romeinse Goewerneur, Pontius Pilatus, kom die stad binne vooraan  kolonne kavelarie en soldate. Pilatus het in Cesarea gewoon, so 100km Wes van Jerusalem. Met groot Joodse feestye het die Goewerneur dan Jerusalem toe gekom, in geval van moeilikheid. Sy gevolg soldate het dan ook die garnisoen in Jerusalem versterk.

Tussen die twee optogte kom daar seker nie ‘n groter verskil gewees het nie:
•    Jesus op ‘n donkievul. Saal gemaak van klere. ‘n Kleinerige groepie juigende mense wat hulle klere en palmtakke voor hom op die pad neergooi.
•    Vanuit die Weste die imperiale optog, ‘n toonbeeld van mag en krag. Kavelarie op perde, voetsoldate, gepoleerde leerpantser, glintsterende helmette, goue arende op baniere – maar ‘n skare wat die onderdrukker stil aanstaar.

Daar is egter ‘n verdere, baie belangrike, verskil. Pilatus se optog vertoon nie net die imeriale Romeinse mag nie, maar ook die Romeinse godsdiens. Reeds met Augustus, 31VC, is die keiser as goddelik aangesien en in die amptelike staatsgodsdiens aanbid. Inskripsies verwys na Augustus as “seun van god”, “here” en “redder”. Alhoewel Tiberius wat na Augustus keiser geword het, en nou in die tyd van Jesus keiser is, nie so baie gemaak het van die keiseraanbidding as Augustus nie, is dit nog steeds, 10-15 jaar na Augustus se dood, die amptelike staatsgodsdiens.

Hierteenoor is die, by vergelyking, armoedige optog van Jesus, “seun van God”, “Here” en “Redder” uit die Ooste. Jesus se optog is nie net ‘n kompeterende intog nie, dit gaan ook oor ‘n kompeterende Godsdiens! Die evangelieskrywers het dit baie duidelik verstaan!  In Jesus se hele intog sou ‘n Jood van daardie tyd dadelik Sagaria 9:9 raakgesien het: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

Jesus se intog is ‘n doelbewuste vervulling van die profesie in Sagaria, en dit sou nie ongemerk verbygegaan het nie.

Pilatus kom die stad binne as heerser, met vertoon van wapens en mag en krag. Jesus kom die stad binne as vervulling van ‘n profesie as koning, maar ‘n koning wat, volgens die res van Sagaria, van oorlog ontslae sal raak, wat vrede sal bring, waarlik die Vredevors teenoor die oorlogsvors!