Psalm 65 – God se leivoor is vol water

12 07 2020

Goeiemôre! Op ‘n naweek van stormagtigheid kom ons en luister na God se Woord.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Pragtige ou loflied uit New Zealand: Liedboek 563

Vandag se teks is Psalm 65

Hier is ‘n prent die kinders. Laat hulle met ‘n inkleurkryt merk ‘n lysie maak van waar die Psalm oor God praat. Laat hulle met ‘n ander kleur merk waar die Psalm oor mense praat. Skryf die mooiste stukkie iewers vir jouself neer.

Psalm 65 kinder

Die video op YouTube en op Kerkaanlyn.

Die audio vir as jy dit verkies is beskikbaar by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

Vandag bly ons by die ou liedere! Tel jou seëninge!

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

Die Teks:

Psalm 65

Direkte Vertaling

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied.

2 Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. 3 U wat gebede hoor — na U moet alle mense kom.

4 Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredinge. 5 Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom — hy mag woon in die voorhowe van u huis. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel.

6 Tereg antwoord U ons met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos — U, die vertroude tot aan al die einders van die aarde en die verste see, 7 die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, 8 wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe, die rumoer van volke. 9 Daarom het die bewoners van die einders ontsag vir u wondertekens. U laat gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan.

10 U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, ja, so berei U dit voor: 11 U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. 12 U kroon u goeie jaar; waar u spore lê, drup dit van vettigheid. 13 Die weivelde van die woestyn drup, juigend omgord die heuwels hulleself. 14 Die weiding is oortrek met kleinvee;die valleie is beklee met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing.

‘n Mooi Psalm met bekende woorde! Hoeveel van ons het nie al geluister na vers 5 as ‘n votum by die aanvang van ‘n diens nie: “Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,die goeie dinge in u heilige woning.” (:’83 vertaling) Dan gaan die Psalm voort vanaf vers 6 om te praat oor hoe God alles onder beheer het, selfs die see en natuur. Hoe Hy omsien na die land (:10), hoe die voorspoed “drup van vettigheid”!

Alles mooi, alles in plek, alles reg. Maar as my lewe nie so lyk nie? Dinsdag hierdie week het Annelise Burges in die Vrye Weekblad se daaglikse bulletin geskryf: “Ek wou oor iets anders as Covid-19 skryf hierdie week, want ek bespeur ‘n geweldige tamheid onder byna almal wat ek ken. Daar is vrees, (irritasie), eensaamheid ( irritasie), bekommernis (irritasie), woede (irritasie).” Wat maak ek met so ‘n “mooi” Psalm, ‘n Psalm wat van die goeie van die lewe skryf as ek bevrees is, of dalk selfs vol woede?

Walter Brueggemann skryf oor die Psalms dat ons ‘n herhaling van oriëntasie, disoriëntasie en heroriënteringkry. Ons sien ietsie daarvan hier. Net die vorige Psalm, 64:2 sê:”Luister, o God, na my stem as ek kla”. Psalm 65 begin met “Aan U kom ‘n lofsang toe, o God”. Psalm 65 as ‘n psalm van heroriëntering praat oor hoe die lewe lyk as dit gelewe word vanuit ‘n verwagting, ‘n verwagting op die Een wat alle gebede hoor (:3).

En so ‘n lewe begin, volgens vers 4, by God se genade, by die Een wat ons oortredinge bedek. Al skei ek myself van God af, al val ek in, om Brueggemann se woord te gebruik, disoriëntasie omdat ek ongehoorsaam en hardkoppig is, nog steeds is die genade daar. Die genade wat ons in God se teenwoordigheid veilig laat bly – in die woorde van die psalm, in God se voorhowe laat bly.

So ‘n lewe in die plek van genade maak dat ons God beter raaksien, wat help dat ons God ook raaksien as die Een wat die storms stilmaak, “wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe” (:8), maar ook “die rumoer van volke”. Die storms van die lewe, die “vrees, eensaamheid, bekommernis, woede” (Burgess) van leef in ‘n tyd van Covid-19, maar ook in ‘n tyd van politieke spanning, ‘n tyd waarin mense rassehaat aanjaag, ‘n tyd wat ons wonder oor politici se bona-fides, ‘n tyd van misdaad. Ook in hierdie tyd is ons nie geskei van God se genade nie, nie op moedverloor se vlakte nie.

God stil nie net die storms nie (ook die binne-in my!), maar gebruik hulle om te wys hoe Hy sorg, hoe Hy “na die land omsien”. En dit roep ons tot lof (:14).

Ons kry hierdie selfde tema as Paulus in Romeine 8 skryf oor wat Christus kom doen het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1) Te midde van chaos, te midde van moedeloosheid en wanhoop, het Hy ons “in Christus Jesus die lewe (ge)gee”, het Hy ons “vrygemaak.”

Binne disoriëntasie van sonde en wanhoop en moedeloosheid, kom heroriënteer Christus ons, kom gee Hy ons rede om te juig en jubel.

Want Hy weet hoe lyk so ‘n deurmekaar lewe, Hy weet wat dit is om die disoriëntasie van onregverdigheid deur te maak, selfs die finale disoriëntasie van die dood. Daarom, in my vrees, eensaamheid, bekommernis, woede, is Hy met ons, langs ons, hou Hy ons vas, dra Hy ons.

Ons kan uitroep van vreugde, ons kan sing, want Jesus draai ons in die regte rigting, Hy oriënteer ons elke oomblik, elke dag. God se leivoor is inderdaad vol water! (Ps 65:10)

 





Sluimer en slaap?

28 01 2016

Ek is ‘n Christen. My probleme is opgelos. Jesus is die antwoord vir alles, so alles loop altyd reg. Ek en my vrou het nooit ‘n misverstand nie, en ons kinders is gehoorsaam.  Klink soos ‘n sprokie? Ja, want doodgewoon nie reg nie! Christene het ook moeilikheid, meningsverskille, stout kinders, siektes, ens.

Ons loop baiemaal met ‘n groot klomp persepsies van hoe die lewe as Christen lyk. Persepsies wat soms doodgewoon verkeerd is! Ps 121 is soos God se stil stem om ons te help om op die regte plek hulp te soek. Soms word ons totaal uitgeboul met die tipes probleme wat ons in ons Christelike lewe mee te doene kry – wat probleme is daar wel! Om Jesus te volg beteken nie ons sal nooit probleme kry nie. Hy gebruik die hele Matteus 10 om ons te waarsku oor alles wat ons sal oorval as ons Hom volg.

So, probleme ken ons. Hoe help Ps 121 ons dan? Hierdie Psalm is gesing op pad na Jerusalem, as ‘n pelgrimslied. Daar is ‘n klomp goed wat ‘n pelgrim kan oorkom. ‘n Enkel kan verswik word. Jy kan iets eet wat nie met jou akkordeer nie. Die son kan warm wees en jou water opraak. As vers 3 dan sê “Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie”, beteken dit dan dat ‘n gelowige nooit probleme het nie? Dit kan tog nie waar wees nie.

Die Psalm begin tog tereg dat ‘n mens soms hulp soek met dié woorde: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Baie van ons interpreteer dit as verwysend na die standvastigheid van die berge. God is dan ook so standvastig. Dit is nie heeltemal verkeerd nie, maar daar sit dalk meer hieragter.

As ‘n Jood opgestap het Jerusalem toe, deur die valleie rondom Jerigo, en hy kyk op na die berge en heuwels, wat sou hy sien? Die berge ja, maar ook baie meer. In die tyd toe die Psalm geskryf is was Palestina oortrek met afgodery. Baal, Ashera, Astarte en nog baie meer is aanbid. En hierdie aanbidding het meestal op hoë plekke geskied. Op die heuwels en berge is heilige bome, klippilare en houtpale gevind waar die aanbidding geskied het. So, as jy opgekyk het na die berge, wat sou jy sien? Afgod aanbiddingsplekke!

Die Psalm kom sê dan jou hulp kom NIE van Baal, Ashera, Astarte, die songod of maangod nie, dit kom van die Skepper van alles. Jou hulp kom nie van Baal wat berug was in die verhale oor hom dat hy maklik geslaap het en daarom nie sy volgelinge kon help nie, nee “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Hy is Skepper van alles, geen klip of grot of son of maan kan slegte invloede op jou uitoefen nie. Die Bybel is pynlik realisties oor die feit dat die lewe in geloof ook seerkry, siekte, ongelukke kan bevat. Tog is die belofte daar op baie plekke, maar ook spesifiek in Ps 121, dat Hy daar is om ons deur die moeite en verdriet te dra. God is nie daar ver eenkant wat wakker gemaak moet word deur die dominee of ons dankoffers of ons gebede nie. Hy is elke oomblik teenwoordig op ons lewenspad.

‘n Groot gevaar vir my lewe as Christen is om te leef asof ek twee gelowe het. Die een vir Sondag. Die een wat ons bêre vir die groot krisisse in ons lewe. Vir die algemene goed, die enkel wat onder ons knak, die stamp van die toon teen ‘n klip, die hitte, daarvoor gebruik ons ons elke dag se geloof – die antwoorde wat ons by Oprah kry, of ‘n vriend se advies, of die “Inspirational quote” op Facebook. Ons dink nie dat God belangstel in ons elke dag se lewe nie!
Ps 121 sê dat die God wat die “GROOT” dinge doen, wat hemel en aarde skep, is dieselfde God wat saam met my seerkry as dinge by die werk onregverdig is, Dit is dieselfde God wat saam met my seerkry as my huweliksverhouding sukkel, of ‘n vriend iets kwetsend kwytraak, of iemand iets onnadenkend sê wat my te nakom. Dit is die een en dieselfde God wat ook my reisgenoot is op die pelgrimstog van my lewe.

Ek loop dieselfde pad as die nie-Christen, betaal dieselfde vir my brandstof en kruideniersware, het dieselfde vrese oor politiek en misdaad. Die verskil is dat ek kan vertrou op die God wat my bystaan en versterk om die pad in geloof te loop. Ek het nie die Baals en Astartes van ons moderne lewe nodig nie, “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Met erkenning aan Eugene Peterson: “A long obedience in the same direction”





Soos ‘n boom by ‘n waterstroom

15 06 2012

Image

Die afgelope week (4-7 Junie 2012) het die Oos-Kaap se NG Kerk sinode gehou. Daar is oor baie goed gepraat en besin – Jeug en onderwys, belydenisskrifte, administrasie, eenheid van die kerk, lidmate, doop, predikante, ens, ens… Ek kan sommer hoor hoe mense dink – “En? Wat beteken dit vir ons hier waar ons die Here dien? Sulke vergaderings is sommer tydmors!”

Tog het hierdie sinode ons almal met ‘n boodskap huis toe gestuur, met Psalm 1:3, so vertaal: “Die NG Kerk in Oos-Kaapland is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” Mooi woorde. Baie poëties gestel. Maar hoe kom ‘n mens by die mooi verby, hoe kry die vrugte van hierdie boom voete in God se wêreld?

Kom ons vertaal hierdie teks nog so bietjie verder: “Die gemeente waar ek die Here dien is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” En wat van nog verder: “Ek, vul jou eie naam hier in, is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.”

‘n Mens kan nou baie goed sê oor hierdie teks. Ons kan uitwei oor wat dit beteken om God se boom te wees – hoe die beeld van ‘n boom iets sê van sterkte, van diep gewortel wees, van tot nut wees vir ander deur die skaduwee en vrugte. Ons kan verder uitwei oor God se waterstroom en hoe God ons versorg, hoe Hy altyd daar is vir ons, hoe die boom nooit kan groei sonder Hom nie.

Maar, gedagtig aan wat Jesus gesê het in Matteus 21 rakende die vyeboom wat nie vrugte gedra het nie, moet ons miskien ‘n bietjie gaan let op die vrugte wat ons dra. Dra ons “op die regte tyd” vrugte? Wat bedoel Psalm 1 met hierdie vrugte?

Die bron van die vrugte word baie duidelik in Psalm 1 uitgewys as die Woord van God. God self is die Een wat die vrugte in ons bewerk. Ons dra nie vrug omdat ons so oulik is nie. Psalm 1 sê ons moet die Woord eet en drink en slaap, dan dra ons vrugte as gelowiges en gemeente, nie omdat ons so goed beplan en goeie administrasie het nie.

Die vrugte is ook nie eintlik vir ONSSELF bedoel nie. ‘n Boom eet nie sy eie vrugte nie! Vrugte is daar om ander mee te versterk, ander mee te dien. Die vrugte is ook publiek, dit moet raakgesien kan word anders beteken dit niks vir ander nie. Anders kan niemand sy honger met daardie vrugte stil nie.

Hoe dra ek en jy, as God se bome, gevoed en versorg deur God, God se vrugte op die regte tyd?

Laat ek myself net ‘n oomblik hier in die rede val. Baiemaal dink ons dat geloof ‘n privaat saak is, ‘n saak vir my binnekamer. Is daar iets soos ‘n private geloof?  Nee! In die Bybelse tye was my publieke lewe en my geloofslewe een. Deesdae sê ons ons geloof het niks te make met my werk, my sport, ens nie. Ons het van geloof iets gemaak wat op ‘n Sondag vir ‘n uur of so beoefen word. Maandag begin die regte lewe weer…

Vir Psalm 1 is dit nie hoe dit moet gebeur nie. Vanuit God se Woord, vanuit my ontmoeting met God, word ons versterk om vrugte te dra, om duidelik en in die openbaar, in die publiek, Christen te wees

Dit beteken NIE dat ons daarop moet aandring om alles oop en toe te maak met gebed nie. In die ou dae is die enigste tye wat God se stem gehoor is by iets soos ‘n sinode die opening en afsluiting aan die begin en einde van die dag – tussen-in het ons met mekaar geredekawel en mekaar met ons welsprekendheid probeer oortuig. God se stem, God se vrugte moet deurlopend na vore kom. Dank die Heer dat dinge al hoe meer so gedoen word!

Ons word alreeds hier in die erediens daarvoor gereed gemaak. Al die goed wat ons hier doen en saam deel, vanaf die seëngroet regdeur die Wet, Geloofsbelydenis, prediking, tot by die uitsendingseën aan die einde het tog ten doel om ons te voed langs God se waterstroom.  As ons by die Here uitkom, is dit onmoontlik om nie vrugte te dra nie.

SODAT ons vrugte, God se vrugte deur ons, gesien kan word in die onderwys, in die politiek deur die versterking van ons demokrasie, in die werksplek, in die media, by die eenkant, verstote gedeeltes van ons samelewing. God se stem word duidelik in die manier wat ons die sout is vir die aarde,

Hoekom?  Hoekom is dit nodig om hierdie publieke, in die openbaar sigbare, vrugte te dra? Is dit nie genoeg om net versterk te word in ons eie “binnekamer” in ons eie “geloof” nie?

Ons moet hierdie openbare, publieke vrugte dra want ons is uit genade gered…in Christus geskape tot die goeie werk wat God voorberei het (Efes 2). God het die wêreld lief (Joh 3:16) en wil deur ons vrugte Sy liefde aan die wêreld bring.

(Met erkenning aan Prof Piet Naudé se voordrag tydens die sinode)

(Foto: Heinrich Alberts)