Dominees en die dinge wat hulle aanvang, of so word beweer!

27 07 2010

Daar word baie grappies oor dominees (en MEVROU dominee) vertel.  Grappies wat wat eintlik maar net snaaks is omdat dit met die dominee (of MEVROU) gebeur! Tog het sekere van die dinge, wat vir my (nou) snaaks is, ook maar meegewerk om my te maak wie ek is. Op die einde was baie van die dinge nie net snaaks nie, maar het dit ook tot groei gelei.

Een van diesulke gebeurtenisse het gebeur so paar maande nadat ek in my eerste gemeente bevestig is. Ons moes ‘n kragkabel insit om die kerkgebou op ESKOM krag te kry. Geld vir die duur, en taamlik lang, kabel was daar nie. Ek probeer toe reël dat van die kerkraadslede sal kom help, dan grawe ons sommer self die sloot. Sodoende kan ons mos geld bespaar. Niemand is toe regtig bereid om te kom help grawe nie. My humeur was toe baie korter as nou, en ek reken toe, dan sal EK die sloot grawe!

Saterdagoggend kom, en ek is daar by die kerk met pik en graaf – heeltemal alleen! Hardekwas genoeg vir twee, begin ek die sloot grawe, in erg klipperige en rotsagtige grond! Na so 20 minute verskyn die hele kerkraad uit die kliprandjie bokant die kerk, waar hulle gesit en kyk het hoe dominee sy hand blase kap in die klippe – en gekyk het of die dominee werklik so ernstig is oor sy sloot. Elkeen kom gewapen met pik en graaf, en die sloot word toe nog die oggend kaf gedraf.

Wat ek moes leer, was dat byna my hele kerkraad uit plaasarbeiders bestaan het, en dat hulle Saterdagoggende werk. Hulle moes spesiaal afkry om my sloot te kom grawe. Het darem hieruit geleer om eers seker te maak van mense se programme en omstandighede voordat ek ‘n mal perd opsaal – o ja, en om nie toe te laat dat my humeur vir my blase op die hande veroorsaak nie!

‘n Tweede geleentheid was darem baie lekkerder. In dieselfde gemeente moes al die katkisante voor die hele kerkraad verskyn vir ‘n ondersoek voordat hulle toegelaat is om belydenis van geloof af te lê. Die oggend met die toets, is daar so stuk of 12 katkisante, meestal so 16 tot 18 jaar oud, met een oom wat al oor die 60 was. En is die jongklomp slim! Maak nie saak wat die kerkraad uit die katkisasie boek vra nie, die antwoord is daar. Ek merk op dat die ou oom nie so vinnig antwoord nie, maar sê niks, want ek weet hy kan nie lees of skryf nie. Verder kan sy katkiseermeester, oorlede oom Gert Stuurman, ook nie lees of skryf nie…

Op ‘n stadium vra die een ouderling toe ‘n vraag wat nie net so in die katkisasie boekie staan nie, iets soos “Wie was Jesus werklik en wat beteken Hy vir my vandag?” Daar is al die jong voor op die wa katkisante se bekke skielik vol tande! Die vraag vra so klein bietjie insig, eerder as net om die vragies in die boekie soos ‘n pappegaai te leer. En toe dit so stil word, toe trek die oom wat nie kan lees of skryf nie weg. En hy antwoord. ‘n Antwoord wat die beste professor in Godgeleerheid graag sou wou kon gegee het.  Hy haal woordeliks uit die Bybel uit aan. Hy trek konklusies. Hy trek dit deur na sy eie lewe. Hy haal nog uit die Bybel uit aan. Totdat ons almal stil is. En ons almal geleer het. Moenie dink ‘n man is dom omdat hy nie kan lees of skryf nie…

Advertisements




‘n Nuwe mens – of ‘n “name brand”?

11 07 2010

(Na aanleiding van Gal 6:1-16)

Tieners – die van ons wat dié spesie in die huis het, of nog kan onthou toe hulle aanhuis was, WEET hoe belangrik die REGTE goed vir hulle is. Jy weet, die regte soos die regte “label” op die jean, die regte naam skoene, die regte “look” selfoon…. O ja, en pa moet tog ook die regte kar ook ry, ek wil my nie skaam vir pa nie… Om nie eers te praat van in die regte buurt te bly, en met die regte mense te sosialiseer nie!

Ons wat dit ken kan lekker lag daaroor, want iewers langs die pad ontgroei hulle (HOPELIK!) die sienings. Ongelukkig gebeur dit nie orals nie, en die groot maatskappye weet dit goed. Darem dat karre, klere, selfone, selfs kos(!) geadverteer word op die beginsels dat dit jou meer aanvaarbaar, meer “cool”, slimmer, mooier, maerder, belangriker sal maak.

Selfs in die kerk ontglip ons nie die tendense nie. In die swart gemeenskap waar ek in die Transkei gewerk het, is dit baie belangrik dat ‘n begrafnis REG gehou moet word. Ek moet iemand anders s’n bywoon, anders sal sy/haar familie nie myne bywoon nie. Die sukses van die begrafnis word dikwels gemeet aan hoeveel beeste en skape geslag is… Dis maar moeilik om nie ‘n meerderwaardige glimlaggie te hê as ons oor die dinge dink nie. Maar ook ons het maar die geneigdheid dat uiterlike dinge en tekens vir ons baie belangrik is. Dink maar aan die gevegte oor jare oor die dra van die toga in ons kerk. Oor hoe kerke roem op wie die beste musiek maak. Oor hoe heilig die kansel is, oor dat die ONS kerk is en hier word slegs Afrikaans gepraat…. Moet ook tog net nie vergeet om die regte mense te bedank vanaf die kansel nie…

Paulus skryf met sy eie hand, in groot letters, dat die enigste wat belangrik is in die lewe die kruis van Jesus Christus is. Die kruis wat ons simbool van vryheid is – vryheid om ander in liefde te dien (Gal 5:13).

Vir ons klink dit heel voor die hand liggend, ons het tog met die simbool van die kruis grootgeword. In Paulus se dag was dit egter glad nie so voor die hand liggend nie. Hy skryf juis hier met sy eie hand omdat die besnydenis so ‘n roemteken, so ‘n “name brand”, onder die Galasiërs geword het. Jy moet tog net sorg dat jy besny is, dan is jy ‘n “regte” Christen!

Hierteenoor stel Paulus die teken van die kruis. Die kruis wat ‘n vervloeking vir die mense van die eerste eeu nC was, ‘n teken van Romeinse vervolging. Die kruis was baie eerder ‘n teken van skande en vervolging as van roem en eer! In hierdie vergelyking van Paulus tussen besnydenis en kruis, kom die ou waarheid weer na vore – die besnydenis is iets wat EK doen, die kruis praat van GOD se genade.

Genade wat van my ‘n nuwe mens maak (:15). Genade wat maak dat die uiterlike, dit wat die mense sien, nie belangrik is nie, maar dat ek vir God dien. En dit is so ‘n moeilike les om te leer – God se genade wat ons alles is, nie wat die “mense sê”, of wat die mense sien nie. Oud en jonk, ons sukkel maar almal daarmee! Ons sukkel maar om nie op ander neer te sien nie (:3,4)

Hierdie nuwe mens se prioriteite gaan nie oor MY nie – vers 9 sê duidelik ons moet fokus na buite, op die goeie wat wag om gedoen te word. En pasop maar vir te vinnig oordeel oor die ander, vers 1 waarsku ons juis dat ook ons in versoekings kom!

Dit lyk vir my ons moet soms juis voor ‘n krisis te staan kom om hierdie lewensles te kan leer. Ek is, word, ‘n nuwe mens deur genade alleen. Dit is genade dat ek vanoggend my oë kon oopmaak. Dit is genade dat ek tot by die kerk kon loop of ry. Dit is genade dat ek klere het om vanoggend aan te trek. Dit is genade dat ons die voorreg het om hierdie erediens in Afrikaans te kan hou.

Niks hiervan verdien ons nie, dit is uit God se hand alleen!

Nadat Prof Flip Theron van Stellenbosch (wat onlangs oorlede is) gediagnoseer is met ongeneeslike Pankreaskanker skryf hy die volgende in ‘n brief aan ‘n vriend van hom: “Deur alles heen het ek diepe dankbaarheid oor hoe ‘n uiters bevoorregte lewe my gegun is. Menslik gesproke is die prognose nie goed nie, maar soos Ps 68: 20 lui: “Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons. God is ons heil.” Vreemd dat nou dat ek minder tyd het, het ek eintlik meer tyd en verwonder my oor die rykdom wat die Here vir my gegee het in my vrou, ons kinders, en wonderlike vriende wat familie insluit. Hoewel ek tans ‘n ekstra las dra, het heelwat ander laste van my afgeval.”

Wat moet gebeur dat ONS, EK, die grootte en wydte, die diepte en rykdom van God se genade en liefde kan begin besef en leef? Genade wat daar is vir my, maar ook vir almal rondom my!