Wat bely ek? Artikel 1 en die Ned Geref Kerk

10 11 2014

Bely_Belhar.001Deur die eeue het mense die nodigheid gevoel om dit wat hulle glo te bely, in woorde om te sit. So kry ons al vroeg in die Ou Testament die “Shema Israel”, “Luister Israel”, waar Israel hulle geloof in God bely. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here… (Deut 6:4-9, 11:13-21, Numeri 15:37-41). Ook in die Nuwe Testament kry on etlike gevalle waar mense dit nodug voel om dit wat hulle glo in woorde uit te druk.  In Matteus 16:16 word Petrus aangehaal as hy sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”, en in Johannes 11:27 sê Martha: “Ja, Here, ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.

Ook in van die briewe in die Nuwe Testament kry ons gedeeltes wat lyk of dit vroeë geloofsbelydenisse is. Fillipense 2:6-11 is een voorbeeld hiervan: “(6) Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,…. (11) en elke tong sou erken:“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.”

Maar hoekom? Hoekom het mense in die Bybelse tyd en daarna die nodigheid gevoel om wat hulle glo in woorde uit te druk? Daar is ‘n paar redes daarvoor, waarvan sommige die volgende kan wees:

  • Onthou eerstens dat dit nie gaan oor jou lojaliteit aan die Bybel nie
  • Dit help om waarheid van dwaling te onderskei
  • Dit is ‘n openbare stelling van wat ons glo
  • Dit probeer sistematies sê wat ons aan die hand van die Bybel glo oor ’n spesifieke saak of sake

Hierdie proses van te wil uitdruk wat jy glo het na die Bybelse tyd voortgegaan. Die Ned Geref Kerk onderskryf byvoorbeeld op die oomblik ses Belydenisskrifte. Dit is die volgende:

Ekumeniese Belydenisskrifte – Hierdie is Belydenisskrifte wat die NG Kerk met ‘n baie groot deel van die wêreldwye kerk deel.

Apostoliese Geloofsbelydenis  – Die vroegste reste van die belydenis mag sover as c. 180nC teruggaan, maar die eerste verwysing daarna is in n brief wat in 390nC vanaf ‘n sinode in Milaan gestuur is. Dit probeer opsom wat die Nuwe Testament oor Jesus sê.
Geloofsbelydenis van Nicea – Die vroesgte weergawe van die belydenis is in 325 nC deur die eerste Konsilie van Nicea opgestel. Dit is hoofsaaklik geskryf om die kettery dat Jesus ’n geskape wese was aan te spreek (Die dwaling van Arius)
Geloofsbelydenis van Athanasius – Die belydenis is in gebruik in kerke sedert die sesde eeu. Dit spreek geloof in die Drie-Eenheid uit teen ‘n dwaling dat Jesus ondergeskik is aan God die Vader en nie deel van ’n Eenheid nie.

Dan is daar die drie Gereformeerde Belydenisse, of Drie Formuliere van Eenheid wat die NG Kerk plaas binne die Gereformeerde raamwerk van kerke:

Nederlandse Geloofsbelydenis – Geskryf in 1561 deur Guido de Bres, wat in 1567 gehang word deur die Spaanse Inkwisisie omdat hy dit nie wil terugtrek nie. Dit stel die Protestantse geloof se beginsels teen die vervolging deur die Katolieke Kerk van die middeleeue.

Heidelbergse Kategismus – Geskryf in 1563 in Heidelberg, Duitsland, geksryf op versoek van  keurvors Frederik III van die Palts. Dit is geskryf om Protestantse geloof se beginsels aan nuwe gelowiges te leer, veral in reaksie op die Konsilie van Trent se aanvalle op die Protestantse geloof.

Dordtse leerreëls – Opgestel op die sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande van 1618 – 1619 in Dordrecht, Nederland. Dit is spesifiek gemik daarop om Armininius se dwaling dat die vrye wil van die mens bepalend is in ons verhouding met God, teen te werk

In die breë kan oor al hierdie belydenisse gesê word dat hulle ontstaan en “oorlewing” met stryd gepaard gegaan het. Mense het letterlik hulle lewens verloor om die waarheid wat hierin opgeteken staan te bely.

Nou waarnatoe met die huidige stryd rondom Artikel 1 van die NG Kerk se Kerkorde? Die geskiedenis gaan eintlik terug na die Wêreld Alliansie van Gereformeerde Kerke se uitspraak in Augustus 1982 te Ottowa wat die teologiese regverdiging van apartheid, en die gepaardgaande gedwonge skeiding van christene op rassegrondslag, as ‘n dwaling bestempel het. Dit was vir die NG Kerk ‘n bitter pil om te sluk, en die gepaardgaande konsep Belhar Belydenis wat dieselfde jaar deur die NG Sendingkerk se sinode aanvaar is, was die kersie op die koek. Dit maak dat baie lidmate van die NG Kerk nie die woord “Belhar” kan hoor sonder om weer die gevoelens van 1982 op te roep nie. Tog het die NG Kerk se beleidstandpunt Kerk en Samelewing van 1986 alreeds erken dat die kerk skuldig was aan die WAGK se beskuldiging. Op verskeie Sinodes het die NG Kerk is ook nou al gesê dat die Belydenis van Belhar in lyn met die Skrif is. Om die waarheid te sê het die Algemene Sinode van die NG Kerk alreeds in 1990 besluit dat die Belydenis van Belhar nie onskriftuurlik is nie (en ook nie in stryd is met die Drie Formuliere van Eenheid nie).

Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk stel bloot die Belydenisgrondslag van die kerk. Die huidige voorstel sê dat ons by die verpligting bly om die ses belydenisskrifte hierbo genoem te aanvaar, maar dat ‘n ekstra belydenis, wat opsioneel sal wees om te bely, bygevoeg word. Dit is die Belydenis van Belhar.

In kort beteken die “JA” of “NEE” stem wat van lidmate, gemeentes en sinodes gevra word die volgende (Erkenning aan “Die Kerkbode” 7 November 2014):

  • JA: Ek stem persoonlik saam met Belhar en gee aan ander ruimte om dit nie te bely nie
  • JA: Ek stem nie persoonlik saam met Belhar nie, maar gee ruimte aan ander om dit wel te bely
  • NEE: Ek stem nie persoonlik saam met Belhar nie en wil ook nie aan ander ruimte gee om dit te bely nie

‘n “Ja” stem deur twee derdes van die gemeentes en sinodes van die kerk sal eintlik net bevestig wat alreeds bestaan, naamlik dat ‘n groot klomp lidmate, predikante, gemeentes en sinodes hulle heelhartig vereenselwig met die inhoud en strekking van die Belydenis van Belhar. Voorbeelde is legio, van baie predikante (insluitende die meeste proponente wat afstudeer) wat dit alreeds vir jare tydens legitimasie onderteken, tot gemeentes soos die NG Gemeente Langeaanweg wat dit amptelik aanvaar het in 1997.

Die skrywer hiervan het alreeds die belydenis in 1987 onderteken en staan nog heelhartig by die vyf punte van die Belydenis van Belhar:

  • Glo in God, Vader, Seun en Gees
  • Glo dat God ons een maak en dat ons geroep is om dié eenheid sigbaar uit te leef
  • Glo dat God ons met Hom en mekaar versoen
  • Glo dat ons God moet navolg deur regverdig te lewe
  • Glo dat ons God meer gehoorsaam moet wees as mense

Verdere leestof kan die volgende insluit:





Regverdig…

9 11 2014

walk

Miga 6:8 (Direkte vertaling proef): Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die HERE van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?

Die afgelope 4 blog posts is ons herinner daaraan dat ons geloof oor God gaan, en nie oor onsself nie. Vier weke gelede is ons herinner daaraan dat, terwyl ons die hele tyd vra: “Is God by ons?”, dat dit vraag eintlik is, “Is ons by God?” Toe het ons gevra: “Is ek by God deur myself te gee soos Hy Homself gee?” En twee weke gelede was die vraag: “Is ek by God deur te bou aan die eenheid onder gelowiges?” Laas week was die vraag “Is ek by God deur te help om vrede te herstel tussen mense?”

Vandag word ons daaraan herinner dat ons by God moet wees deur regverdig teenoor alle mense te leef.

Hoekom? Hoekom is dt nodig om hoegenaamd die vraag te vra? Ons moet juis die vraag vra omdat ons dit so maklik verkeerd kry!

  • Die Here sal my seën want ek gaan baie kerk toe
  • Die Here sal my seën want ek bid baie
  • Die Here sal my seën want ek gee baie geld vir Sy werk
  • Die Here sal my genees want ek voldoen aan ‘n sekere klomp voorwaardes
  • ens, ens

Nee! Die Here seën omdat Hy wil! Omdat Hy vir ons lief is. In verse 4 en 5 van Miga 6 herinner die Here Israel daaraan dat Hy hulle uit Egipte gered het, dat Hy hulle beskerm het, dat Hy hulle oorwinnings gegee het – nie omdat hulle aan sekere voorwaardes voldoen het nie, maar omdat Hy vir hulle lief was.

Israel het egter hulle godsdiens omgedraai na iets waarmee hulle God probeer manipuleer – as ek dit of dat doen, dan MOET God reageer op die manier wat EK wil hê Hy moet, anders sê ek: God het my verlaat!

Dit mag dalk as ‘n skok kom vir van ons, maar godsdiens, geloof, verering van God, noem dit wat jy wil, gaan nie oor my nie, dit gaan oor God, Sy eer, die erkenning dat Hy ons liefhet ten spyte van wat ons doen en wie ons is.

AS ek egter dit besef, as ek besef dat geloof gaan oor die erkenning van God se almag en ons afhanklikheid aan Hom, dan vra Hy eenvoudig dat ons op so ‘n manier sal lewe dat ons deur ons lewens vir Hom dankie sê. En Miga 6:8 spel dit mooi uit:

Wat anders eis die HERE van jou as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys
en om noulettend die pad saam met jou God te loop?

God is regverdig, Hy vra dat ons dit erken deur ook regverdig te leef.

God is liefde, Hy vra dat ons dit erken deur ook in liefde te leef.

God is by ons, wil in verhouding met ons leef, Hy vra dat ons dit erken deur ook ‘n verhouding met Hom te bou van ons kant af.

Sien, al die “goeie” goed, al die “Christelike” goed, al die “godsdienstige” goed doen ons omdat God ons eerste liefgehad het! As ek vanoggend hier staan en saam met die jong lidmate erken “Ek glo!”, dan doen ek dit omdat God eerste na my uitgereik het. As ek vanoggend vorentoe kom en iets as ‘n oesfees dankoffer gee, dan doen ek dit as erkenning dat God alreeds vir my VOLLE lewe sorg.

Wat anders eis die HERE van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om noulettend die pad saam met jou God te loop?

Hierdie blogpost is die vierde van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )





Versoen…

30 10 2014

2 Korintiërs 5:18 : 2014 Direkte vertaling: En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het.

In van die Geloofsbelydenisse word as sulks oor versoening nagedink:

NGB art 21: Ons glo dat Jesus Christus Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort, soos die profete dit voorspel het.

HK – V&A 11 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal… Daarom… maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Belydenis van Belhar (1986): Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het; dat die kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees; dat die kerk salig genoem word omdat hulle vredemakers is.

In vorige blog plasings is ons herinner daaraan dat, terwyl ons die hele tyd vra: “Is God by ons?”, dat dit vraag eintlik is, “Is ons by God?” Toe het ons gevra: “Is ek by God deur myself te gee soos Hy Homself gee?” En verlede week was die vraag: “Is ek by God deur te bou aan die eenheid onder gelowiges?” Vandag se vraag “Is ek by God deur te help om vrede te herstel tussen mense?”

Dit alles begin met ‘n vernuwing in my verhouding met God, ‘n vrede herstel tussen my en God, ‘n versoening tussen my en God. Paulus begin deur in vers 16 te sê die vernuwing van ‘n gelowige se lewe bring verandering in jou verhouding tot ander mense. Paulus se se eie bekering getuig hiervan. Onderweg na Damaskus, om gelowiges te gaan terroriseer omdat hulle nie aan sy maatstawwe voldoen het nie, ontmoet hy die lewende Christus. Vroeër het hy Christus volgens menslike maatstawwe beoordeel. Nou het hy Christus waarlik leer ken. Dit bring ‘n radikale verandering in die manier waarop hy ander mense beoordeel.

Nou kyk Paulus (en ook ons) na die mede-mens op ’n geestelike manier. Ons fokus nie meer op die uiterlike, menslike maatstawe, of vanuit ’n wêreldse perspektief nie. Ons beoordeel nie soos vroeër Christus, en enigiemand anders, uit selfsug, onopregtheid of vooroordeel nie. Ons kyk met Christus se oë na ander.

Volgens vers 17 is hierdie nuwe manier van kyk moontlik, want die hele mens word vernuwe. Die ou dinge is verby, ’n nuwe skepping het plaasgevind, ‘n nuwe mens het tot stand gekom. Iets radikaal gebeur in Christus.

Volgens verse 18 en 19 is die nuwe dinge die werk van God. Die nuwe lewensuitkyk met nuwe standaarde en leefstyl (16) en nuwe bestaan, nuwe skepping (17) is God se inisiatief. Hy doen dit op die hoeksteen van Christus se versoening. In Christus is niks inderdaad meer dieselfde nie.

So God neem die inisiatief om vrede tussen ons en Hom te herstel, ‘n vrede wat ons net kan aanneem, net voor kan dankbaar wees. Nou kry ons die opdrag om die boodskap van die versoening uit te dra, of eerder, te bedien. Soos Jesus nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (Mark 10:45), is daar ’n noue verband tussen versoening en dienslewering. Dis ’n roeping tot selfprysgawe. Versoening kos ’n prys! Nuwe mense leef versoenend en bedien ander met versoening.

Die kerk is nie ‘n magsgroep of ‘n sosiale beweging wat sy gewig probeer rondgooi nie. Die kerk bedien die versoening. Die kerk bring mense in Christus se Naam bymekaar. Versoening kan nie afgedwing word nie. Dit word af gepleit. Mense word aangemoedig om versoenend te leef in Christus se Naam. Om versoen met God en met mekaar te lewe.

Paulus is nie bloot besig om teoreties oor versoening te praat nie. Hy skryf in ‘n situasie waar versoening dringend tussen hom en die gelowiges in Korinte nodig is. Daar het ‘n uiters gespanne verhouding tussen die apostel en die gemeente bestaan oor

  • sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl. ook 7:5-16),
  • die kollekte (hfst. 8-9),
  • sy apostelskap (2:14-7:4), en
  • die vals apostels (hfst. 10-13; vgl. ook 2:14-4:6).

Weens die gespanne verhouding, moet daar versoening tussen die gelowiges in Korinte en tussen Paulus en hulle kom. Daar is immers ‘n gemeenskaplike roeping, nl. om die versoening van Christus te verkondig.

Paulus se argument is dat hy en die gelowiges in Korinte op ‘n nuwe manier na mekaar moet kyk. Hulle is immers nuwe mense. Hulle is in Christus nuutgemaak. Hulle moet ‘n manier vind om mekaar se hande op die pad van die evangelie te vat. Hy en die Korintiërs moet leer om na mekaar deur die oë van Christus te kyk. Hulle is Christus se verteenwoordigers. Hulle moet vir die wêreld illustreer dat God versoening bring.

In ‘n land waar gelowiges uit mekaar geskeur is, het Paulus se boodskap verreikende betekenis en implikasies.

Ons moet onsself afvra: Hoe lyk ’n gemeenskap wat in Christus versoen is? Versoening het verreikende implikasies, vol uitdagings en struikelblokke, maar dit behoort verrykende nuwe geleenthede en ervarings mee te bring. ’n Nuwe bevryde gemeenskap – een nuwe mensheid in Christus wat met ’n nuwe blik, met die oë van Jesus na ander mense kyk.

Lidmate kan nie geloofwaardig die boodskap van versoening uitdra indien die kerk self onversoend leef nie.

“Ons kan allerhande soorte mooi slagspreuke uitdink en probeer om die kerk en ons gemeente te bemark. Ons kan mooi borde en brosjures produseer. Dit sal alles niks help as ons nie self die produk is wat bemarkbaar is nie. Dit sal sigbaar moet word in ons lewe as gemeente dat Jesus ’n verskil in ons maak. Terwyl kerke verdeel is, kan ons die mooiste storie opmaak, maar die produk is ongeloofwaardig.” (Julian Muller)

Versoening kan mens ‘n duur prys kos. Dit beteken dikwels dat jy jou trots moet sluk en die minste moet wees. Dit beteken jy moet jou aanspraak dat jy reg is, prysgee. Dikwels moet mens jou reg om die slagoffer van ander se gekonkel te wees, prysgee. Jy moet vrede maak en versoen, want die versoening geskied in Christus se Naam. Hy het die prys vir ons almal se sonde betaal. Om Christus ontwil versoen en vergewe ons. Ons Christus ontwil vat ons hande en leef die evangelie saam uit.

(Hierdie blogpost is die derde van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik  vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )





Een…

30 10 2014

flowersJoh 17:20-21: (2014 Direkte vertaling): “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo — dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

In ‘n vorige plasing op hierdiedie blog is ons gevra: “Is ek by God?” Daarna het die vraag gevolg: “Is ek by God deur myself te gee?” Vandag vra Johannes die vraag: “Is ek by God deur eenheid tussen gelowiges te soek?”

Hierdie vraag is deur die eeue ook al baiekeer aangespreek in verskillende Geloofsbelydenisse. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;”
Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.”
Belydenis van Belhar (1986): “Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.”

Jesus bid vandag vir ons en tree vir ons by die Vader in. Waarvoor bid Hy? Volgens hierdie gedeelte bid Hy vir herstelde verhoudings, vir geneesde mense, vir liefdevolle samesyn. “Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wLreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.” (17:21 Die Boodskap).

Deur Jesus word ons opgeneem in die lewe van die Heilige Goddelike Familie, Vader, Seun en Gees. Ons word kinders van God. Jesus bid dat die kwaliteit van ons verhoudinge dieselfde liefdevolle gehalte sal hê as die verhouding binne die Drie-eenheid.

Uit ‘n eerlike lees van Joh 17:20-26 kom ons agter dat eenheid vir Jesus belangrik was. Hy bid dat daar eenheid onder sy volgelinge sal wees. Onthou wie is die volgelinge oor wie dit hier gaan. Daar was vissermanne, belastinggaarders, ekstroverte en introverte, ouer en jonger mense asook mans en vroue onder hulle. Een ding kan ons van hierdie volgelinge van Jesus sê: Hulle was nie ‘n groep eenderse mense nie – en tog bid Jesus dat hulle een sal wees.

Miskien dink ons te veel oor eenheid in terme van eendersheid. Ons ken almal die storietjie van die ma wat na haar seun se paradedag gegaan het toe hy as polisie-offisier uitpasseer het. Die jong polisiemanne en vroue het netjies in gelid voor die skare verby marsjeer, maar o wee, die ma se seun was uit pas. “Kan jy glo”, sê sy vir die mense rondom haar, “my seun is die enigste een wat in pas is!”

Vir baie mense is ‘n kolom mense in uniform wat in gelid marsjeer, mooi! Dis volledige eendersheid. Die gevaar is dat ons iets hiervan in die kerk, in ons gemeente soek wanneer ons aan eenheid dink. Dan voel ons goed as almal konformeer na dieselfde kleredrag, dieselfde gebruike en optredes, ensovoorts.

Dis is nie verkeerd om by mekaar aan te pas en te konformeer nie. Ons doen dit in elk geval op baie terreine van ons lewe. Dink maar aan hoe mense elke jaar by nuwe modes aanpas. Die probleem onstaan egter wanneer ons dit begin verwar met gemeente-eenheid en kerkeenheid.

Wanneer dit gebeur, raak die gemeente of kerkruimte ‘n onveilige ruimte vir wie ook al uit pas is. Wee die een wat rook, sê een groep Christene. Wee die een wat geskei het, sê ‘n ander groep. Wee die een wat MIV positief is…..! Hierdie houdings lei tot stigma. En stigma funksioneer lynreg teenoor eenheid. Stigma lei daartoe dat ons na mekaar kyk met ‘n “Ons – Julle” houding.

In die Skifgedeelte waarby ons stilstaan, gaan dit baie duidelik om eenheid tussen Jesus se dissipels. Hierdie eenheid is so belangrik vir Jesus dat hy dringend tot sy Vader hiervoor bid. Die eenheid is so groots en diepgaande dat Jesus dit selfs met die eenheid wat daar tussen Hom en die Vader is, vergelyk. Hierdie eenheid is so belangrik vir die geloofwaardigheid van die evangelie dat Jesus by herhaling sê dat dit nodig is dat sy volgelinge een sal wees, want dan sal die wêreld weet en dan sal die wêreld glo.

Wanneer Jesus volgens Joh 17:22 sê dat Hy sy heerlikheid aan sy volgelinge gegee het sodat hulle ook een kan wees, gaan dit hier oor die paradoksale heerlikheid. Jesus “gee” aan sy dissipels sy lydensweg! In die ander evangelies lees ons dat Jesus herhaaldelik vir sy dissipels gesê het, neem jou kruis op en volg my (vgl Mat 10:38, 16:24, Mark 8:34 en Luk 9:23). Die eenheid tussen Jesus se dissipels is dus ten diepste ‘n eenheid wat die vrug is van dissipels van Jesus wat hulle kruise dra, volgelinge van Jesus wat bereid is om die minste te wees en ander se voete te was, gelowiges wie se optrede vol van genade en waarheid is. Dis ‘n liefdesgemeenskap volgens die liefde van Jesus.

In hierdie liefdesgemeenskap is die vrae, “wie is eenders en wie is anders?”, nie belangrik nie. Hier word gefokus op die vrae, “wie het hulp nodig? Wie se laste moet gehelp dra word?”

Wanneer ons so gemeente is, word ons gemeente ‘n plek van veiligheid, van genesing vir mense wat seergekry het, mense wat skynbaar anders is, mense van wie ons dink dat hulle uit pas geraak het. Die gemeente is mense wat deur God begenadig is. Mense wat God nuwe mense maak. En daarom kan ons ook mekaar in genade aanvaar in ons verskeidenheid en mekaar help om nuut te leef.

“Is ek by God deur eenheid onder gelowiges te soek?”

 

(Hierdie blogpost is die tweede van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik  vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )





Gee…

29 10 2014

B0318NL_op_800x600Johannes 17:10 Afr ’83 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.

In ‘n vorige post het ek die vraag gevra “Is ek by God?” Wie is hierdie God? Wie is Hy by wie ons moet bly? Deur die eeue het mense op baie maniere hierdie vraag probeer antwoord, maar die kern bly omtrent altyd dieselfde:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; Ek glo in die Heilige Gees” (Apostoliese Geloofsbelydenis)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.” (Geloofsbelydenis van Nicea)

Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.” (Belydenis van Belhar (1986))

Die Drie-Eenheid van Vader, Seun en Gees speel in elke geloofsbelydenis ‘n sentrale rol. Tereg ook. Vers 3 van Joh 17 sê: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

Mooi en waar woorde, woorde wat van ons kant af erken dat God groter is as wat ons ooit kan verstaan en droom Maar wat sê dit vir ons eintlik oor die karakter van God? In hierdie kort gedeelte wat ons gelees het uit ‘n gebed wat Jesus gebid het, kom daar belangrike sake na vore wat vir ons iets leer van hierdie God wat ons, volgens vers 3, kan ken.

Hierdie God, hierdie Vader, Seun en Heilige Gees, word gekenmerk deur iets baie belangrik in hierdie gebed – die gee van ‘n geskenk. Nege keer in hierdie paar verse word die woord “gee”, “didomi” gebruik. Ons is aan Jesus gegee deur God, en Hy gee aan ons God se woord, God se liefde. In die aksie van “gee”, is Vader en Seun een, en gee God eintlik Homself aan ons.

En dit is nie maar net per ongeluk dat die woorde hier so in Jesus se gebed deur Johannes opgeteken is nie, 75 keer in die evangelie van Johannes word daarop gewys dat God Homself aan ons gee

Wat sê dit vir my? Wat beteken dit vir my lewe en vir my besluite as ek weet ek is aan God gegee en Hy gee Homself aan my?

– Dit beteken onder andere dat ek sal weet ek behoort – ek is nie maar net los en vas in die lewe nie, ek is nie maar net ‘n ongeluk nie. Ek behoort aan God wat my ken en vir wie ek kan ken My geloof, my lewe begin by God wat my wil ken en Homself aan my wil bekendstel. Dit is my identiteit: Geken deur God! Aanvaar deur God!

– Dit beteken ook dat ek God se naam, volgens die tyd van Jesus se verstaan, God se karakter kan ken. Die God wie se naam ons bely in die belydenisskrifte is nie maar net ‘n veraf, onbetrokke God nie. Nee, ons kan Sy karakter ken, die karakter van die een wat alles gedoen het sodat ons Hom kan ken, wat Homself gegee het in lewe, sterfte en opstanding sodat ons Hom kan ken

– In vers 14 sê Jesus: “Ek het u woord aan hulle gegee”. ‘n Mens kan hierdie woorde nie hoor sonder om herinner te word aan die eerste vers van hierdie evangelie nie: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God”. Jesus het nie ‘n dooie letter, ‘n wet, gebring nie Deur die Woord te beliggaam het Hy ‘n verhouding, ‘n lewende Woord gebring wat bestaan uit ‘n verhouding met God.

Is ek by God? Want Hy is verseker by ons. Die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees GEE Homself aan ons sodat ons Sy karakter kan ken, GEE aan ons hierdie kennis deur die Woord wat vlees geword het, en GEE nou ook aan ons die opdrag om hierdie God verder te gaan bekend maak. :18: “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur”.

God gee Hom aan jou SODAT jy jouself aan HOM kan gee deur alles wat jy dink doen en sê!

(Hierdie blogpost is die eerste van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas

Agtergrond inligting en stof gebruik vanaf http://www.workingpreacher.org, http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )





Belydenis aflegging – 1 Kor 1:27-29

22 11 2010

1 Kor 1:17-29 (27-29), Deut 7:7-9

Dit is lekker om op ‘n dag soos vandag te kan bymekaarkom, om hier te kan wees en die vreugde van ouers en jongmense te kan deel waar hulle belydenis van geloof aflê. Om deel te wees van ‘n diens waar kerkraadslede hulle bereidwilligheid om op ‘n besondere manier God en die gemeente te dien, kom bevestig. Waar Sondagskool kan terugkyk na ‘n jaar en weet hulle het meer van God geleer

Te midde van al die lekkerte is daar egter altyd die gevaar dat ons dink ONS doen hierdie dinge, ons is dan so oulik, ons offer so baie op vir God. Ons teksverse herinner ons egter onomwonde daaraan dat ONS niks het om op te roem nie – Deut 7:7: “die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.” 1 Kor 1:29: “Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie.”

Hoekom is ons dan vandag hier? Wat het gemaak dat ons bereid kan wees om hier te staan, en in die openbaar te sê wat ons glo? Om dit te verstaan moet ons ver terug gaan, terug na die tyd toe hierdie 4 jongmense nog babatjies was – hulle is al 4 as kindertjies gedoop. Dit was ‘n baken, ‘n oriëntasiepunt in hulle lewens, al het hulle niks daarvan verstaan op daardie tyd nie.
•    Eerstens het hulle ouers beloof om vir hulle van die Here te leer. Dit is glad nie iets wat voor die hand liggend is nie – die ouers moes self weet dat ‘n lewe saam met God beter is as ‘n lewe sonder Hom.
•    Die belangrikste wat daardie dag gebeur het is egter dat God self uitgereik het, toe hulle nog niks verstaan het nie, en vir hulle gesê het dat Hy beloof om vir hulle lief te wees. En nog meer, Hy het die teken van water gegee sodat hulle altyd iets kon hê om hulle te herinner aan God se liefde.
So behoort ons doop vir elkeen van ons ‘n versterking te wees. Toe die Duitse teoloog, Dietrich Bonnhoeffer in die tronk sit agv sy geloof, toe die Nazi’s hom druk om toe te gee en sy geloof te kompromenteer – toe skryf hy uit wanhoop: “Wie is ek?” God het hom egter genade gegee om daarby te skryf: “Wie ek ookal is, o God, U weet ek is U s’n.” En dit is waar van elkeen van ons – te midde van watter moeilikheid of twyfel ookal, kan ons uitroep: “U weet ek is U s’n.!”

Met wat hierdie jongmense vandag kom doen, kom sê hulle iets, iets wat ons ander wat dalk al lankal lidmate is ook met ons lewens moet sê. Dit gaan NIE hier oor wat EK kom sê nie, nee dit gaan oor voortgaande bevestiging van God se werk in my lewe:
•    Ons lewe deur die Gees van God gelei! Nie as ‘n soort magiese krag nie, maar baie prakties as ‘n uitlewing van wat Jesus gevra het, van Sy voorbeeld navolg. Dit is ‘n lewe IN DIE GEMEENTE waar ons take, bedieninge opneem (1 Kor 12), waar ons groei in insig, waar ons volhard in die lewe van gebed (Rom 8), waar ons sekere houdings, gesindhede uitleef teenoor ander (Gal 5). 1 Kor 12:20 sê nie verniet nie: “nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.” Ons word geroep om sorg te dra vir mekaar, om deur die Gees gelei, Jesus se gesig vir mekaar te wees!
•    Die feit dat ons vandag, of iewers in die verlede, belydenis van ons geloof kon aflê, kon antwoord op God se uitnodiging by my doop, bevestig dat God SY doopbelofte gestand gedoen het – Hy seën ons! Dit is louter genade dat ons hier kan staan en sê, “Ek glo in God die Vader, Seun en Heilige Gees.” Seën wat sigbaar word en moet word in ons lewens.
•    As kind aanvaar ek en leef ek met die heerlike wete dat God vir MY liefhet! Ek is ‘n voorbeeld vir die grootmense met my geloof.
•    As jongmens om myself op ‘n avontuurlike en energieke wyse aan God te gee – soms op maniere wat dalk die bestaande orde hier in die gemeente gaan uitdaag!
•    As jong volwassenes dalk om in my werk te ontdek ek kan my roeping as Christen uitleef.
•    As iemand in my middeljare dalk die ontdekking dat God my gebruik, juis my stand in die gemeenskap kan gebruik om Sy getuie te wees.
•    As ouer persoon het ek dalk meer tyd om my roeping as gelowige uit te leef, om my wysheid tot Sy eer te gebruik.

Alles is egter genade. Seën wat ons uit God se hand ontvang wat dwarsdeur ons lewens by ons bly. Om belydenis van geloof af te lê, is nie om ‘n doel te bereik nie. As ek gekies word vir die Springbokspan, kan ek nie maar net rustig agteroor gaan sit asof ek ge-“arrive” het nie! Nou is die tyd vir hard werk, vir speel in die span.

Gebruik die genade van God, genade wat Hy beloof het toe jy niks verstaan het nie, genade waarmee Hy jou gebring het tot vandag, genade waarmee Hy ook in jou lewe vorentoe met jou sal wees, gebruik dit , leef daaruit deur die Gees wat in jou woon, om elke dag en oomblik tot Sy eer te leef!

(Preek gelewer tydens die belydenis van geloof aflegging deur 4 jong mense)