Psalm 65 – God se leivoor is vol water

12 07 2020

Goeiemôre! Op ‘n naweek van stormagtigheid kom ons en luister na God se Woord.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Pragtige ou loflied uit New Zealand: Liedboek 563

Vandag se teks is Psalm 65

Hier is ‘n prent die kinders. Laat hulle met ‘n inkleurkryt merk ‘n lysie maak van waar die Psalm oor God praat. Laat hulle met ‘n ander kleur merk waar die Psalm oor mense praat. Skryf die mooiste stukkie iewers vir jouself neer.

Psalm 65 kinder

Die video op YouTube en op Kerkaanlyn.

Die audio vir as jy dit verkies is beskikbaar by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

Vandag bly ons by die ou liedere! Tel jou seëninge!

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

Die Teks:

Psalm 65

Direkte Vertaling

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid. ‘n Lied.

2 Aan U kom ‘n lofsang toe, o God wat in Sion is; aan U moet geloftes betaal word. 3 U wat gebede hoor — na U moet alle mense kom.

4 Al sou sondeskuld my oorweldig, U bedek ons oortredinge. 5 Gelukkig is die mens vir wie U uitkies en laat nader kom — hy mag woon in die voorhowe van u huis. Ons wil graag versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u tempel.

6 Tereg antwoord U ons met ontsagwekkende dade, o God wat ons verlos — U, die vertroude tot aan al die einders van die aarde en die verste see, 7 die Een wat die berge vestig deur sy krag, wat omgord is met mag, 8 wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe, die rumoer van volke. 9 Daarom het die bewoners van die einders ontsag vir u wondertekens. U laat gejubel opklink waar die son opkom en waar dit ondergaan.

10 U het na die land omgesien, dit deurdrenk, dit besonder verryk. God se leivoor is vol water. U sorg vir hulle koring, ja, so berei U dit voor: 11 U maak die vore nat, die ploegbanke gelyk; met reënbuie maak U die aarde sag, U seën dit wat daar opkom. 12 U kroon u goeie jaar; waar u spore lê, drup dit van vettigheid. 13 Die weivelde van die woestyn drup, juigend omgord die heuwels hulleself. 14 Die weiding is oortrek met kleinvee;die valleie is beklee met graan; hulle roep uit van vreugde, ja, hulle sing.

‘n Mooi Psalm met bekende woorde! Hoeveel van ons het nie al geluister na vers 5 as ‘n votum by die aanvang van ‘n diens nie: “Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkies en laat naderkom om in u tempel te bly. Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,die goeie dinge in u heilige woning.” (:’83 vertaling) Dan gaan die Psalm voort vanaf vers 6 om te praat oor hoe God alles onder beheer het, selfs die see en natuur. Hoe Hy omsien na die land (:10), hoe die voorspoed “drup van vettigheid”!

Alles mooi, alles in plek, alles reg. Maar as my lewe nie so lyk nie? Dinsdag hierdie week het Annelise Burges in die Vrye Weekblad se daaglikse bulletin geskryf: “Ek wou oor iets anders as Covid-19 skryf hierdie week, want ek bespeur ‘n geweldige tamheid onder byna almal wat ek ken. Daar is vrees, (irritasie), eensaamheid ( irritasie), bekommernis (irritasie), woede (irritasie).” Wat maak ek met so ‘n “mooi” Psalm, ‘n Psalm wat van die goeie van die lewe skryf as ek bevrees is, of dalk selfs vol woede?

Walter Brueggemann skryf oor die Psalms dat ons ‘n herhaling van oriëntasie, disoriëntasie en heroriënteringkry. Ons sien ietsie daarvan hier. Net die vorige Psalm, 64:2 sê:”Luister, o God, na my stem as ek kla”. Psalm 65 begin met “Aan U kom ‘n lofsang toe, o God”. Psalm 65 as ‘n psalm van heroriëntering praat oor hoe die lewe lyk as dit gelewe word vanuit ‘n verwagting, ‘n verwagting op die Een wat alle gebede hoor (:3).

En so ‘n lewe begin, volgens vers 4, by God se genade, by die Een wat ons oortredinge bedek. Al skei ek myself van God af, al val ek in, om Brueggemann se woord te gebruik, disoriëntasie omdat ek ongehoorsaam en hardkoppig is, nog steeds is die genade daar. Die genade wat ons in God se teenwoordigheid veilig laat bly – in die woorde van die psalm, in God se voorhowe laat bly.

So ‘n lewe in die plek van genade maak dat ons God beter raaksien, wat help dat ons God ook raaksien as die Een wat die storms stilmaak, “wat die gedruis van die oseane stilmaak, die gebulder van hulle golwe” (:8), maar ook “die rumoer van volke”. Die storms van die lewe, die “vrees, eensaamheid, bekommernis, woede” (Burgess) van leef in ‘n tyd van Covid-19, maar ook in ‘n tyd van politieke spanning, ‘n tyd waarin mense rassehaat aanjaag, ‘n tyd wat ons wonder oor politici se bona-fides, ‘n tyd van misdaad. Ook in hierdie tyd is ons nie geskei van God se genade nie, nie op moedverloor se vlakte nie.

God stil nie net die storms nie (ook die binne-in my!), maar gebruik hulle om te wys hoe Hy sorg, hoe Hy “na die land omsien”. En dit roep ons tot lof (:14).

Ons kry hierdie selfde tema as Paulus in Romeine 8 skryf oor wat Christus kom doen het. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” (Rom 8:1) Te midde van chaos, te midde van moedeloosheid en wanhoop, het Hy ons “in Christus Jesus die lewe (ge)gee”, het Hy ons “vrygemaak.”

Binne disoriëntasie van sonde en wanhoop en moedeloosheid, kom heroriënteer Christus ons, kom gee Hy ons rede om te juig en jubel.

Want Hy weet hoe lyk so ‘n deurmekaar lewe, Hy weet wat dit is om die disoriëntasie van onregverdigheid deur te maak, selfs die finale disoriëntasie van die dood. Daarom, in my vrees, eensaamheid, bekommernis, woede, is Hy met ons, langs ons, hou Hy ons vas, dra Hy ons.

Ons kan uitroep van vreugde, ons kan sing, want Jesus draai ons in die regte rigting, Hy oriënteer ons elke oomblik, elke dag. God se leivoor is inderdaad vol water! (Ps 65:10)

 





Genesis 1 en 2, vir oulaas

19 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Kan dit alles presies net so waar wees. Daar is dan so baie vrae oor hierdie vroeë teks.

Kom ons kyk maar net na een.

Hoekom is die volgorde van die skepping in Gen 1 en 2 verskillend?

Gen 1 – Lig – gewelf – droë grond en plante – son en maan – seëdiere en voëls – Landdiere en mens. Gen 2 – aarde en hemel – man – diere en voëls – vrou.

Om dit te antwoord, laat ons die vraag van ‘n ander kant af benader: Hoekom is daar twee skeppingsverhale in die Bybel? Ons moet weereens onthou dat mense in daardie tyd geskryf het met ‘n spesifieke doel. Hulle doel was NIE wetenskaplik soos ons dit verstaan nie. Die doel was om God se almag te bely, om te bely dat God geskep het en dit goed gedoen het. Dat alles en almal wat bestaan ons bestaan te danke het aan die genade en liefde van God. Gen 1 verduidelik hoe alle mense (nie net die koning nie!) na God se beeld geskep is. Gen 2 praat oor hoe die mens optree binne God se ruimte en tot Sy eer.

Nou hoekom dan Adam en Eva? Onthou eerstens dat die woord adam net die Hebreeuse woord vir “mens” is. Net so beteken “eva” “lewe” of “om te lewe”. Hebreeus as taal het eers vanaf so 2000vC ontwikkel. Wat in Gen 2 beskryf word is ‘n verduideliking van iets wat gebeur het VOORDAT Hebreeus nog as taal bestaan het. Wanneer Adam/Mens dan homself in Gen 2:23 verheug oor die vrou: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem” dan gebruik die Hebreeus die woorde “ish” en “isha” – man en vrou. Die woorde wat gebruik word dui bes moontlik doodgewoon op mense, dis nie voorname nie.

Hoekom is dit so? Hoekom word Genesis 1 en 2 op so ‘n manier vertel wat dit vir ons moeilik maak? Kom ek probeer die situasie aan die hand van ‘n paar stellings verduidelik, van dit sou julle al gelees het die afgelope paar weke.

1. Gen 1 en 2 stel nie belang in moderne wetenskap nie, weet niks van moderne wetenskap nie, en verduidelik die skepping aan die hand van hoe die mense van daardie tyd dit verstaan het.

2. Wat hieruit voortvloei is dat Gen 1 en 2 nie van 24 uur dae praat nie – volgens Gen 1:14 is die son en maan eers op die 4de dag geskep: “Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.” Volgens hierdie vers is 24 uur dae eers op die 4de dag geskep!

3. Gen 1 en 2 kan nie gebruik word om evolusie te bewys of die teendeel, dat daar geen evolusie is nie, te bewys nie. Mense van duisende jare gelede het die ontstaan van alles, geïnspireer deur die Heilige Gees, beskryf in terme wat hulle verstaan het. Hulle het niks van evolusie of ander verduidelikings van die ontstaan van alles geweet nie. Dit was nie eers vir hulle ‘n vraag of God geskep het nie, dit was voor die hand liggend.

Die beeld wat ons uit Gen 1 en 2 kry, die beeld waaraan ons as God se geliefdes moet vashou, is die beeld van ‘n “hands-on” God wat die hele heelal, maar spesifiek die mens, met liefdevolle sorg skep. En daardie beeld verander nooit in die Bybel nie! Om die waarheid te sê, in die koms van Jesus, in dit wat Hy vir ons doen, word God se sorg net nog verder bevestig en uitgebeeld.

En dit is die kern van Genesis 1 en 2. God gee om. God versorg. God maak vir ons ruimte om Hom te dien en eer, om Sy verteenwoordigers te wees.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 – Slingertelefoontyd

22 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Onthou jy nog ‘n slingertelefoon? Daai een wat jy geswaai het, dan het ‘n stem aan die ander kant gevra: “Nommer asseblief?” Wie weet vandag nog hoe so ‘n telefoon gewerk het behalwe die ouer mense? Is jou oupa of ouma dalk dom omdat hulle sukkel met ‘n selfoon? Kan jy so ‘n slingertelefoon gebruik?? Dit gaan glad nie oor slim of dom nie, dit gaan oor wat ons aan gewoond is, wat ons leer om te gebruik.

God wou nie in die Bybel verduidelik hoe elke dingetjie werk nie. Hy kom sê in die Bybel dat Hy betrokke was, dat Hy op elke vlak alles goed gemaak het.

God kom sê vir ons in Gen 1 dat Hy “geskep” het. En dan gebruik die skrywer die Hebreeuse woord “bara”. Die woord word 48 keer in die Ou Testament gebruik, en dit word ALTYD gebruik om iets aan te dui wat God doen – mense skep/bara NIE!

Nou kom die moeilike deel – “bara” verwys amper NOOIT na iets materieël nie (hard, sag, gas, ens). Dit verwys meestal na iets wat nie aan gevat kan word nie. So verwys Ps 89:13 daarna dat God Noord en Suid “bara” het. In Psalm 51:12 “bara” God ‘n rein hart, en so gaan dit aan. In Genesis 1 word die woord 2 maal gebruik – “Aan die begin het God geskep”, en God het die Leviathan, die seemonsters, geskep.

Nou wat beteken dit, wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?

Eerstens kan ons vergeet daarvan om evolusie of sulke goed te bewys of verkeerd te bewys uit Genesis 1. Die Bybel stel doodgewoon nie daarin belang nie! In die leefwêreld waarin die Ou Testament geskryf is, was daar nie ‘n vraag of God of gode betrokke was by die skepping nie, dit is doodgewoon aanvaar.Die materieële oorsprong van alles was nie ‘n vraag nie.

Tweedens, kyk na die prentjie by hierdie blogpost (en die een van ‘n paar weke gelede daaroor) van die wêreldbeeld van die Israeliete. Chaos, die waters, die seemonsters, duisternis, dit alles is as gevare, as bedreiginge gesien. Alles wat buite die “hemelkoepel”, buite die “firmament” is, is gevaarlik! Nou kom Genesis 1 en sê, lag amper vir die vrees, jy’s bang vir die seemonster? God het hom ook geskep, op sy plek gesit.

Want dit is waaroor die hele verhaal van Genesis 1 gaan – God gee aan alles funksies, God orden alles, God plaas alles op hulle regte plekke, God laat alles goed werk. God het nie die mense van die slingertelefoontyd ‘n selfoon verduideliking gegee nie. Hy het dinge verduidelik op ‘n manier wat hulle verstaan het.

Ons dink dalk vandag dit het langer gevat as 24 uur, of dalk ook glad nie – DIT MAAK GLAD NIE SAAK HOE LANK DIT GEVAT HET NIE! Genesis probeer nie daardie vraag antwoord nie!

Genesis kom sê binne ‘n wêreld waar alles gevaarlik en boos gesien is, dat God alles orden en beheer. God hou selfs die seemonsters op hulle plek!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 – Onwaar?

15 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

“Die Bybel is onwaar en onbetroubaar” skryf Prof. Jurie van den Heever in sy boek “Wat moet ons met ons kerk doen?” Hy baseer sy stelling daarop dat sekere goed in die Bybel beskryf word op ‘n manier wat ons vandag weet nie so is nie, bv die maan word as ‘n ligbron beskryf terwyl ons vandag weet dit weerkaats net die son se lig.

Is dit egter hoe ons die Bybel die denke van die Ou Testamentiese mense moet verstaan? Onthou, daar is niks in die Bybel geskryf wat verder gaan as die verstaan wat die mense van daardie tyd van die heelal gehad het nie! Kom ek sê dit weer, ons kry nie in die Bybel wetenskap wat verder gaan as die mense van daardie tyd se verstaan nie!

Wat bedoel ek hiermee? Vers 6 van Gen 1 sê: “Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

Die ‘83 vertaling praat van ‘n “gewelf”, die ‘53 van ‘n “uitspansel”, die Engels van “expanse” of “vault”. Die Boodskap praat van ‘n “soliede struktuur”, die Nuwe Lewende Vertaling van ‘n “hemelkoepel”. Mens hoor ook soms die woord “firmament” in hierdie verband. Net die klomp vertalings wys dat die Hebreeuse woord “raqîa” (wat met hierdie woorde vertaal word) nie so eenvoudig is om te vertaal en te verstaan vandag nie.

Die ou Hebreërs het die heelal verstaan soos die ander mense rondom hulle. Die wêreld was eintlik gevaarlik en wil jou doodmaak. As ons nou na “raqîa” op ‘n letterlike materiële vlak kyk, dan moet ons sê, die aarde is plat en daar is ‘n soliede koepel struktuur wat die waters van chaos weg hou van ons! (Kyk na die prentjie bo-aan). En ons WEET vandag daar is nie so iets nie.

Maar vir die mense van die vroeë tyd was “raqîa” iets funksioneel, iets wat God gebruik het om die wêreld te orden, om chaos en gevaar weg te hou en die wêreld se ritmes van reën en seisoene te orden en bepaal. God moes jou beskerm. Dis ‘n vreemde wêreld vir ons, maar as ons dit nie verstaan nie, verklaar en verstaan ons die Bybel verkeerd!

Vir die mense van daai tyd het die materiële eienskappe van ‘n ding nie saak gemaak nie (is dit hard, sag, vloeistof, gas, ens), wat saak gemaak het is die FUNKSIE van die ding. En vandag nog bely ons dat God ons lewens en hierdie wêreld in Sy hand hou. Ons verstaan van HOE Hy dit doen is net ANDERS as die mense van die vroeë tyd.

So, die Bybel is nie onbetroubaar en onwaar as ‘n mens dit korrek binne sy tyd se kultuur en verstaan van die heelal lees nie.

As ons dit dan nou binne sy kultuur verstaan, hoe “vertaal” ons dit na ons kultuur en kennis vandag? Want dit is nie net ‘n taal wat vertaal moet word nie, maar ‘n hele leefwêreld en kultuur.

Miskien moet ons die vraag omdraai? Wat is daar wat jou vandag die bangste maak? Politieke onrus? Finansiële onsekerheid? ‘n Toekoms vir jou kinders? Jou gesondheid? Jou huwelik? Die Woord kom herinner ons dan dat desnieteenstaande dit waarvoor ons bang is, dit wat ons in die nag laat wakker lê, God nog steeds daar is, dat Sy “Hemelkoepel” Sy “raqîa”, daar is om ons te beskerm, dat Sy genade en liefde nog elke dag daar is vir ons.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”