Logos

25 12 2016

“Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God.” (Joh 1:1-14 – Die Boodskap) Wat ‘n vreemde manier om die boek te begin. Ander as bv Matteus en Lukas wat begin met Jesus se menslike geslagsregister, begin Johannes baie verder terug!

Die Woord, die Logos was aan die begin daar, en die Logos was God.  Hoe verstaan ons dit??

Die woord “Logos” wat in Afrikaans met “Woord” vertaal word het eintlik ‘n baie dieper betekenis as net “woord”. Dit kan eintlik beter vertaal word as “storie” of “stem”. So eintlik kan ons hierdie eerste vers ook vertaal as “in die begin was die Stem daar”, of “in die begin was God se storie, se verhaal, daar”.

As ‘n mens in die res van die Johannes evangelie kyk, dan maak dit baie sin. Vir Johannes tel wat ons HOOR baie. So herken Maria Jesus eers toe sy Sy stem hoor (Joh 20). Wanneer ons God se stem in Sy Logos hoor, verander ons.

Ons het van die Christelike geloof iets gemaak wat gaan om “Wat GLO jy”, terwyl dit eintlik gaan om “Hoor jy God se stem?” As dit gaan om “glo”, dan verval ons in klomp redenasies en breingimnastiek soos ons mekaar probeer oortuig. Ons moet egter God se stem hoor, dan word Sy Logos werklik vir ons, dan kan ons luister en op ‘n ander manier begin lewe.

In baie huise is dit maklik om te sien wie is eintlik in beheer – dit is die een wat die meeste geraas maak! Dalk is dit ‘n kleuter wat die huishouding regeer deur tantrums en ‘n geskree. By God werk dit anders. In 1 Konings 19 probeer Elia God se stem hoor. Daar was ‘n aardbewing, ‘n geweldige wind, ‘n vuur, maar nie in een van die goed was God se stem nie. God se stem is eers gehoor in ‘n “fluistering in die windstilte” (1 Kon 19:12).

Hier met Kersfees vier ons Johannes se geweldige aanspraak dat die kindjie in die krip God se sagte “fluistering in die windstilte”, God se Logos, is. God wat Sy verhaal met ons voortsit op ‘n byna onwerklike manier. Nie meer die vuurkolom of rookkolom soos met die uittog uit Egipte nie, maar met die sagte fluistering van ‘n kindjie.

‘n Kindjie wat God se diepste kommunikasie met ons word. Die manier waarop God ons na Sy stem laat luister, die manier waarop ons die Logos kan herken en erken.

En dan op ‘n baie betekenisvolle manier. Nie maar net “geestelik” nie. Nee, vers 14 gebruik twee betekenisvolle woorde: Hy het sarks (vlees) geword en eskênôsen (tent opgeslaan) onder ons. Dit beteken dat Hy volledig mens geword het en ’n menslike bestaan aanvaar het.

Nie net vlees geword nie, maar in die vlees iets van God se stem vir ons kom wys het, vir ons laat hoor het. Hy het tent opgeslaan by ons soos God in die tyd van die eksodus in die tabernakel (tent) by Israel teenwoordig was.

Wanneer ons vandag, op Kersdag, voor die Kindjie in die krip buig, buig ons voor die hoë God, die Logos, wat onder ons kom woon het, by ons kom tent opslaan het. Ons buig voor die lewegewende Woord waardeur alles geskep is, steeds onderhou word, en eenmaal voltooi sal word.

Met watter woorde sal ons reageer op God se woord in Jesus Christus? Die enigste gepaste woorde is lofsange en gebede, eerbetoon en verheerliking van God. ‘n Gepaste woord is ook om oor die waarheid van God in Jesus ons geloof in Hom te bely.

(Met erkenning aan “Woord en Fees” en Leonard Sweet)

Advertisements




Kom ons eet lekker!

24 12 2014

KosWat is dit met ons mense en kos? Dit is in alle kulture baie belangrik. “Die Indiese antropoloog prof Gheevargese Maharajah gee byvoorbeeld ’n beskrywing van die Renakirfa se diereoffer-ritueel wat hy uit sy eie kwalitatiewe navorsing aanhaal: “The preparation of a person for this ritual consists of the drinking of holy alcoholic potions. These potions are usually prepared by the designated “medicine”-man, and help participants to achieve a semi-trance like state. The focal point of this ritual is a fire, around which all participants gather. When most have reached this consciously altered state, numerous animal sacrifices are conducted and afterwards consumed by the tribe… Whilst conducting my research, I found this ritual to be a thought-provoking window into the heart of the Renakirfa culture, showing for example a very patriarchal society, exclusivity along racial lines (apparent from the way in which I struggled to gain access into this ritual in order to conduct my qualitative research) and abundant wealth (apparent from the presence of the huge amounts of meat and potion and the absence of the underprivileged). The only aspect that I still find very puzzling is the meaning of (so familiar in my own Indian culture) the discussion the men had about Eastern spices during the height of their trance. A discussion about a so-called “Currie Cup”.” (Cas Wepener. “Aan tafel met Jesus.”)

Vir iemand van buite kan ons eetgewoontes werklik soms lyk na ‘n offer, na een of ander god wat ons aanbid. Ander tye lyk dit weer asof ons kos slegs as petrol vir die lyf sien as ons haastig ontbyt gryp of sommer voor die TV neerplak om gou iets te eet.

Selfs in Jesus se tyd was daar verskillende maniere van kyk na kos – aan die eenkant was daar die Fariseërs wat oorboord gegaan het met die Joodse wette rondom vas en dan neergesien het op diegene wat dit nie soos hulle gedoen het nie. Daar was ook mense wat hulle te buite gegaan het aan kos, daarvan lees ons in Korintiërs. En iemand soos Jesus, wat nie die Fariseërs se beheptheid met vas gedeel het nie, en kos geniet het? Hy word uitgekryt as ‘n vraat en wynsuiper!

Hierdie tyd van die jaar word nie verniet “silly season” genoem nie. ‘n “Silly season” waarin ‘n groot klomp van ons fokus op kos is, en BAIE daarvan!

Vir my lyk dit of ons manier van met kos omgaan een van die simptome is van als wat verkeerd is in ons siening van Kersfees. Daar word beplan, gekoop, oordadig voorberei, en dan baiemaal ‘n klomp kos weggegooi. Nou Kersfees sluit nie verniet die woord FEES in die naam in nie! Dit is ‘n feestelike tyd. En ons as mense koppel nou maar eenmaal lekker eet en drink aan feestelikheid, en dit is heeltemal reg so. Het Jesus dan nie self wyn gemaak vir ‘n troue nie? Maar is dit AL waaroor dit gaan? Te veel eet?

As ek kyk na die beskuldiging teen Jesus rondom kos dan is dit nie soseer dat Hy te veel geëet het nie, eerder dat Hy, volgens die “mense”, saam met die verkeerde mense geëet het! “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” (Luk 15:2).  ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’ (Luk 7:34).

Hoe eet ons? Daar is die “Renakirfa” ritueel wat ons aan die begin gelees het, daar is die werk toe hardloop sonder ontbyt omdat ons laat is, daar is die neer plak voor die TV en eet sonder om ‘n woord met my huismense te wissel. Is dit wat God verwag, is dit hoekom Hy vir ons smaakkliere gegee het om kos mee te kan geniet?

Jesus se optrede wys ‘n paar goed uit. Dit wys uit dat ons nie van kos ‘n afgod moet maak nie (deur te veel of te min te eet nie!), dit wys dat kos ‘n geskenk uit God se hand is. Bowenal wys dit egter uit dat kos ‘n geleentheid is om te bou aan die verhoudinge in ons lewens. Verhoudinge wat begin daar waar  ons as gesin kos saam gebruik.

Wat moet ek onthou in hierdie Kerstyd rondom ons maaltye?

  • Onthou dat kos genade is – Genade beide in die ontvang daarvan in afhanklikheid van God, maar ook in hoe ons ander seën met die genade wat ons ontvang uit God se hand.
  • Kos bou gemeenskap. As jy dink aan lekker tye saam met jou familie of vriende is ek seker dat ‘n maaltyd iewers daar gaan wees. Moenie net wag om verhoudinge te bou op spesiale geleenthede nie, jou ontbyt, aandete, elke maaltyd saam met jou gesin is ‘n tyd van feestelikheid.
  • Kos herinner ons aan Jesus wat ons red. Ons het van ‘n maaltyd saam met Jesus ‘n ritueel gemaak met ‘n klein stukkie brood en klein slukkie wyn. Elke maaltyd kan en moet egter ‘n herinnering wees aan wat Jesus vir ons gedoen het uit genade, aan God se liefde vir ons wat dit moontlik gemaak het. Aan die Gees wat ons nou daaraan herinner.
  • Kos is deel van ons uitreik na ander. Soos Jesus ons nooi om ‘n maal saam met Hom te deel, so moet ons hierdie genade verder uitdra.

In Lukas 7 tree die gasheer glad nie soos ‘n gasheer op nie. Jesus se voete word nie gewas nie, Hy word nie eer betoon nie. Dit word oorgelaat aan iemand wat besef hoe gebroke en verwerplik sy is om aan Jesus hierdie eer te betoon.

Hoe betoon jy eer?

(Na aanleiding van Lukas 7:33-39, 15:1-2)





Maagdelike geboorte?

15 12 2010

Daar is ‘n klompie gedeeltes in die Bybel wat mense pla – kan die verhale ooit waar wees? Ons hou mos daarvan om dinge rasioneel te kan verklaar!  Matteus 11:18-25 is een van daardie tekste.

Die mense wat probleme kry of maak met hierdie verhale kom gewoonlik van twee kante af – daar is die vir wie ons geloof staan of val by die maagdelike geboorte. Vir ander is dit net te ongelooflik – in die letterlike sin – hulle kan net nie iets so bonatuurliks glo of aanvaar nie. Dan probeer dominees twee soorte antwoorde gee. Die een probeer met alle mag om die historiese waarheid van die verhaal te probeer bewys – en dit krap sommige mense om. Die ander verwys na die verhale as “metafore” en probeer dan aandui dat dit nie nodig is om dit letterlik te glo nie – en dit maak nog meer mense kwaad!

Persoonlik dink ek albei hierdie pogings mis die punt. Matteus skryf nie geskiedenis soos ons dit vandag verstaan nie. Hy probeer nie ‘n neutrale, onbevooroordeelde objektiewe geskiedenis skryf nie!  Hy skryf geskiedenis soos al die geskiedskrywers in die eerste eeu na Christus geskryf het. Hy vertel ‘n verhaal om ons te leer en oor te haal om sy punt in te sien en te aanvaar.

Moet my nie verkeerd verstaan nie! Matteus skryf definitief ’n verhaal waarin hy glo, en hy wil hê ons moet die ook glo. Matteus is egter nie geinteresseerd in die “feite” nie. Hy wil aan ons ‘n groter waarheid, wat meer is as die saamvoeging van ‘n klompie feite, oordra. Matteus skryf in werklikheid ‘n geloofsbelydenis hier.

Deur te veg oor die “waarheid” al dan nie van die feite mis ons Matteus se boodskap heeltemal. Matteus is besig om ‘n skat met ons te deel – Hy gee aan ons ‘n geloofsbelydenis dat God in Jesus Christus weer aan die skep is. ‘n Nuwe skepping met die oog daarop om Sy beloftes aan Israel en die hele wêreld te hou!

Daar is twee sake wat Matteus aan die orde bring, en hy vleg hulle pragtig saam. Eerstens stel Matteus belang in skepping. Die Afrikaanse vertaling mis die nuanses van die Grieks hier, maar in vers 1 van Matteus 1 staan daar letterlik: “ Die genesis van Jesus Christus”. Die begin, die oorsprong van Jesus. En nou weer hier in vers 18 gebruik Matteus dieselfde woord – genesis – terwyl dit in Afrikaans met geboorte vertaal word. Matteus kom beskryf hier in die eerste boek van sy evangelie ‘n nuwe skepping van God, ‘n nuwe begin!

Die “Gees van God het oor die waters gesweef” in Genesis 1 vers 1. Hier is dieselfde Gees weer aktief, hierdie keer sodat Maria kan swanger word met, vir Matteus, die nuwe Adam. (Selfs Jesus se versoeking in Matt 4 herinner aan Adam en Eva se versoeking in Gen 3)

Saam met God wat besig is met ‘n nuwe skepping, konsentreer Matteus ook op God se beloftes aan Israel. Dit is hoekom Joseph so sentraal staan in hierdie gedeelte, want deur hom kan Jesus se geslagsregister terug gevoer word na Dawid. God het taamlike groot beloftes aan Israel gemaak deur Dawid, en Matteus glo dat God al hierdie beloftes en nog meer waar maak in en deur Jesus. Die grootste van hierdie beloftes was dat Dawid se koningshuis vir altyd sou regeer. In Jesus word hierdie belofte waar en gestand gedoen. Nou nie meer net vir Israel nie, maar vir almal van ons. God self stel Israel instaat om Sy doel met hulle te bereik, die doel wat ons in Jesaja 49 en 60 lees, naamlik dat Israel ‘n lig vir die nasies moes wees om ander na God toe te trek.

Emmanuel, “God met ons”, is God se nuwe skepping om Sy beloftes waar te maak! En God is nog steeds besig met Sy skepping, deur my elke dag NUUT te maak deur die Gees wat in my woon, dieselfde Gees wat in die begin oor die waters gesweef het. Hy is nog steeds besig om Sy beloftes waar te maak: Beloftes van liefde, deur ons instaat te stel om Sy liefde uit te leef.

Laat ons in hierdie Kerstyd werklik God se verteenwoordigers wees soos wat Hy al in Genesis vir ons gemaak het, laat ons Sy lig so laat skyn dat ander na Hom toe aangetrek kan word. Laat ons liefde ondermekaar van so ‘n aard wees dat ander sal glo dat Jesus Christus seun van God is!

(met erkenning aan workingpreacher.org)