Identiteit?

30 09 2019

Wat ‘n paar weke en maand is ons sopas deur hier in Suid Afrika. Wat beteken my identiteit, my vingerafdruk as Christen in ‘n tyd soos hierdie?  Die afgelope paar weke het ons hopelik ‘n hele paar antwoorde geleer. Dit beteken dat ek nie my wil op vroue en kinders afdwing nie, veral nie met geweld nie. Dit beteken ek dien eerder as om ander af te skryf en te verjaag. Dit beteken ek bid vir ‘n regering waarvoor ek (dalk?) nie gestem het nie, dit beteken ek kom op vir die weerloses in die samelewing, al sukkel ek om hulle taal te praat.

Hoe kom ‘n mens by so ‘n identiteit, so ‘n manier van lewe uit? Jesus wil ons leer hoe, maar die probleem is, sommige van die maniere waarop Jesus dit stel (Markus 8:31-39), is nie lekker om te hoor nie, dit was nie polities korrek in Jesus se dag nie, en ook nie vandag nie! “Neem jou kruis op”, wat se nonsens is dit!? God wil tog net die goeie vir ons gee en ons seën! Of, dis hoe ons dit graag wil hoor!

Ook in Jesus se dag was dit glad nie ‘n lekker boodskap nie! Vir die groot Romeinse orator en staatsman, Cicero, wat so 43 jaar vC gesterf het, was die woord “Cruxus”, kruis, so afstootlik dat dit nie eers in goeie geselskap genoem kon word nie.

‘n Tydgenoot van Jesus, Seneca, ook die tutor van die keiser Nero, het geskryf van die “vervloekte boom”, en dat kruisiging die ergste dood ooit is.

Binne hierdie gedagtewêreld kom Jesus en sê Sy volgelinge moet hulle kruis opneem en Hom volg! Wat probeer Hy sê? Hoe moet ons dit verstaan? 

As iemand agter My aan wil kom” – dit lyk of Jesus vir ons wil laat verstaan dat kruis opneem deel is daarvan om Hom te volg. Maar hoe so? Want in die Romeinse wêreld het “jou kruis opneem” beteken jy is alreeds ‘n dooie mens, alreeds ‘n dood veroordeelde. Daar is geen hoop meer vir jou nie!

Tog is dit vir Jesus die eerste identiteitsmerker van wat dit beteken om Hom te volg. Paulus vat dit nog verder, en nie alleen is ons tot die dood veroordeel nie, ons is alreeds dood! (Rom 6). 

Hierdie dood bevat egter ook iets meer: “Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe.” (Rom 6:8)

Die lewe begin dus deur ‘n tot dood veroordeelde te wees.

En hoe lewe so ‘n tot dood veroordeelde? Ons het in die vorige blopost gehoor van diakonos (bediende) en doulos (slaaf) wees. Dit beteken dat ek die identiteit dra van iemand wat vrywillig ander dien ter wille van Christus. In Fil 1:21 verduidelik Paulus dit so: “om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” 

Om hierdie identiteit van Christus op te neem is werklik, in Paulus se woorde, ‘n “skandalon!” In ons wêreld dien niemand vrywillig nie, BEHALWE as jy IN CHRISTUS IS!

Baie van ons is dalk nog steeds lief vir die ou Hallelujah liedjie “Daar is ‘n dierbare kruis” – in die Bybel is daar egter niks “dierbaar” rondom die kruis nie, dis ‘n toonbeeld van jouself gee, van mag prysgee, van ander dien.

En dit, is ons identiteit.

Met gebruikmaking van gedagtes van Stephan Joubert tydens ‘n werkswinkel 22-24 Julie 2019 te Oos-Londen.





Sluimer en slaap?

28 01 2016

Ek is ‘n Christen. My probleme is opgelos. Jesus is die antwoord vir alles, so alles loop altyd reg. Ek en my vrou het nooit ‘n misverstand nie, en ons kinders is gehoorsaam.  Klink soos ‘n sprokie? Ja, want doodgewoon nie reg nie! Christene het ook moeilikheid, meningsverskille, stout kinders, siektes, ens.

Ons loop baiemaal met ‘n groot klomp persepsies van hoe die lewe as Christen lyk. Persepsies wat soms doodgewoon verkeerd is! Ps 121 is soos God se stil stem om ons te help om op die regte plek hulp te soek. Soms word ons totaal uitgeboul met die tipes probleme wat ons in ons Christelike lewe mee te doene kry – wat probleme is daar wel! Om Jesus te volg beteken nie ons sal nooit probleme kry nie. Hy gebruik die hele Matteus 10 om ons te waarsku oor alles wat ons sal oorval as ons Hom volg.

So, probleme ken ons. Hoe help Ps 121 ons dan? Hierdie Psalm is gesing op pad na Jerusalem, as ‘n pelgrimslied. Daar is ‘n klomp goed wat ‘n pelgrim kan oorkom. ‘n Enkel kan verswik word. Jy kan iets eet wat nie met jou akkordeer nie. Die son kan warm wees en jou water opraak. As vers 3 dan sê “Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie”, beteken dit dan dat ‘n gelowige nooit probleme het nie? Dit kan tog nie waar wees nie.

Die Psalm begin tog tereg dat ‘n mens soms hulp soek met dié woorde: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?” Baie van ons interpreteer dit as verwysend na die standvastigheid van die berge. God is dan ook so standvastig. Dit is nie heeltemal verkeerd nie, maar daar sit dalk meer hieragter.

As ‘n Jood opgestap het Jerusalem toe, deur die valleie rondom Jerigo, en hy kyk op na die berge en heuwels, wat sou hy sien? Die berge ja, maar ook baie meer. In die tyd toe die Psalm geskryf is was Palestina oortrek met afgodery. Baal, Ashera, Astarte en nog baie meer is aanbid. En hierdie aanbidding het meestal op hoë plekke geskied. Op die heuwels en berge is heilige bome, klippilare en houtpale gevind waar die aanbidding geskied het. So, as jy opgekyk het na die berge, wat sou jy sien? Afgod aanbiddingsplekke!

Die Psalm kom sê dan jou hulp kom NIE van Baal, Ashera, Astarte, die songod of maangod nie, dit kom van die Skepper van alles. Jou hulp kom nie van Baal wat berug was in die verhale oor hom dat hy maklik geslaap het en daarom nie sy volgelinge kon help nie, nee “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Hy is Skepper van alles, geen klip of grot of son of maan kan slegte invloede op jou uitoefen nie. Die Bybel is pynlik realisties oor die feit dat die lewe in geloof ook seerkry, siekte, ongelukke kan bevat. Tog is die belofte daar op baie plekke, maar ook spesifiek in Ps 121, dat Hy daar is om ons deur die moeite en verdriet te dra. God is nie daar ver eenkant wat wakker gemaak moet word deur die dominee of ons dankoffers of ons gebede nie. Hy is elke oomblik teenwoordig op ons lewenspad.

‘n Groot gevaar vir my lewe as Christen is om te leef asof ek twee gelowe het. Die een vir Sondag. Die een wat ons bêre vir die groot krisisse in ons lewe. Vir die algemene goed, die enkel wat onder ons knak, die stamp van die toon teen ‘n klip, die hitte, daarvoor gebruik ons ons elke dag se geloof – die antwoorde wat ons by Oprah kry, of ‘n vriend se advies, of die “Inspirational quote” op Facebook. Ons dink nie dat God belangstel in ons elke dag se lewe nie!
Ps 121 sê dat die God wat die “GROOT” dinge doen, wat hemel en aarde skep, is dieselfde God wat saam met my seerkry as dinge by die werk onregverdig is, Dit is dieselfde God wat saam met my seerkry as my huweliksverhouding sukkel, of ‘n vriend iets kwetsend kwytraak, of iemand iets onnadenkend sê wat my te nakom. Dit is die een en dieselfde God wat ook my reisgenoot is op die pelgrimstog van my lewe.

Ek loop dieselfde pad as die nie-Christen, betaal dieselfde vir my brandstof en kruideniersware, het dieselfde vrese oor politiek en misdaad. Die verskil is dat ek kan vertrou op die God wat my bystaan en versterk om die pad in geloof te loop. Ek het nie die Baals en Astartes van ons moderne lewe nodig nie, “Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.”

Met erkenning aan Eugene Peterson: “A long obedience in the same direction”





Ambassadeur

19 01 2015
© DO Strydom

© DO Strydom

– As ons die mooi slagspreuke hoor van God wat vir ons sorg en na ons omsien, klink dit so maklik, so eenvoudig.

– Glo ons dit egter werklik? Hand 17:18 verwys na die Epikurieërs, en vandag nog is dit die groot onderliggende “geloof” wat ons kultuur dryf. In kort beteken die Epikurise filosofie baie dieselfde as wat die ateïs Richard Dawkins as advertensies op Londonse busse gesit het so paar jaar gelede: “There’s probably no god. Now stop worrying and enjoy your life.” Ons kan wenkbroue lig, ons kan selfs lag, maar die waarheid is dat dit funksioneel is hoe baie mense leef. Ons is nou maar eenmaal hier op aarde, ons moet sorg vir onsself, as god bestaan het hy beslis nie die aarde geskape nie en is hy nog minder daarby betrokke.

– As ons dink dat dit darem ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is, ONS glo darem nog aan God,  bly die vraag WAT ons glo. As ons nog hoegenaamd glo dat God iewers betrokke is, dan dink mense eintlik meestal aan Hom as ‘n horlosiemaker – Hy het die wêreld gemaak en aan die gang gesit, nou moet ons op ons eie aangaan (ook in die breë bekend as Deism).

Wat agter hierdie sienings sit is die manier waarop ons hemel en aarde geskei het. Hemel is vir eendag, dis God se terrein. Aarde is vir nou, dis ons plek om te werk. Hemel is goed, aarde is sleg (Platonisme)

– Die Bybelse beeld is egter totaal anders! Die Bybelse beeld is dat hemel en aarde nou verweef is, sodat die Skepper-God deel is en betrokke is in die aarde – al verstaan ons nie altyd hoe nie. Die Bybelse beeld van hemel en aarde is die van ‘n tempel. Soos Paulus sê, nie ‘n tempel wat deur mense gemaak is met beelde van klip of hout wat God moet voorstel nie, maar ‘n tempel wat Hy self gemaak het. ‘n Tempel waarin God teenwoordig is, waar Sy beeld is – ons as mense!

•    Hemel en aarde is nie apart soos in Epikurisme nie, dit is saam geskape. Die totaliteit van alles is deur God geskape! (Gen 1:1).
•    Hemel is ook nie goed en die aarde sleg nie, soos in Platonisme nie. Genesis sê dat God die aarde goed geskape het.
•    Aarde is ook nie belangrik en hemel irrelevant soos in sekularisme nie (of omgekeerd soos in sekere uitdrukkings van die Christelike geloof nie).

– Ons word uitgenooi, die taak gegee, om in hierdie wêreld nie net te heers (Gen 1:28) vir ons eie beswil nie, nie net ons eie drange te bevredig nie, maar om werklik God se verteenwoordigers te wees, God se beeld wat wys waar en hoe Hy betrokke is in die aarde.

Hy is in die totaliteit van die skepping betrokke, want Hy het alles gemaak! Die gaan nie net oor ons siele nie! God gee om vir die aarde soos wat Hy omgee vir ons as mense. Dit gaan nie net oor eendag nie, om “eendag” hemel toe te gaan nie, God se opdrag aan ons gaan daaroor dat ons NOU Sy verteenwoordigers moet wees, NOU vir mekaar moet wys hoe lyk Sy liefde, NOU moet omgee vir Sy hele skepping.

– Richard Dawkins se slagspreuk moet eintlik lees: “There is a God. You are the sign that He lives. Now stop worrying and enjoy your life as His representative.” Dit gee sin, dit gee doel, dit maak die lewe die moeite werd.

Die sin lê nie daarin in dat alles vir MY betekenisvol moet lyk nie, die sin lê daarin om getrou God te verteenwoordig!

(Na aanleiding van Gen 1:26-31 en Hand 17:16-18, 24-28)

(Met erkenning aan NT Wright: “Surprised by Scripture“)





Chaos is nie vir God ‘n probleem nie!

17 01 2015

2015 begin darem weer met lekker chaos! Terreur aanval in Parys, vliegtuig wat val, plaaslik polisie wat aangeval is, nog plaasaanvalle en dan bekgevegte tussen sangeresse en aktrises. En moenie vergeet van ESKOM wat al klaar weer beurtkrag begin instel het nie! Mens wil amper vra “Is dit nou nodig”! Kan ons nie maar net een jaar rustig begin nie?

Dan praat ek nog nie eers van familiespanning wat baie keer maar deel is van die vakansieseisoen nie – elkeen het mos sy eie idee van wat ‘n lekker vakansie is!

In hierdie chaos vra mense some – “Waar is God?” Hoekom laat Hy toe dat dinge so deurmekaar loop? Dit is vrae wat die mense in die ou tyd ook gehad het. By die Egiptenare, die Assiriërs, die Babiloniërs, orals in die geskrifte wat ons het van die oertyd word hierdie selfde vraag gevra.

By die ander volke – buiten Israel – was die antwoord gewoonlik dat chaos gevaarlik is, en dat daar geveg moet word om dit te oorwin. Hetsy nou of dit in die vorm van ‘n seedraak of die see self was, dit moes oorwin word sodat die wêreld geskep kon word.

☛ Hierteenoor kom Genesis 1 met ‘n totaal ander siening. God het alles gemaak, selfs die chaos! Luister maar wat sê verse 1 en 2: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters”. Die “diep waters”, die “tehom” in Hebreeus, is juis dit waarvoor die mense bang was, die sinnebeeld van chaos en onbeheerbare kragte. Dit was “onbewoonbaar”, “woes en leeg” volgens die ‘53 vertaling.

Wat doen God dan? Veg Hy? Sukkel Hy? Nee, alles, selfs die woeste en leë diep waters is deur Hom gemaak. Hy spreek slegs ‘n woord, en die donkerte word verdryf:  “Laat daar lig wees!” Hy spreek nog ‘n woord en die diep waters word getem en op sy plek gehou deur soliede aarde. Chaos is nie vir God ‘n probleem nie!

☛ Hoekom nie? Want “die Gees van God het oor die waters gesweef” Hierdie beeld van God se Gees wat oor die waters sweef word in herinnering geroep in Deut 32:11 as dieselfde woord gebruik word om te verduidelik hoe God soos ‘n arend bokant haar kuikens sweef om hulle te beskerm. Van die ou kerkvaders het die beeld gebruik van ‘n hen wat haar kuikens versorg. Chaos is nie vir God ‘n probleem nie, want Hy versorg, Hy lei, Hy skep die goeie uit die chaos!

En so kan ons die res van die hoofstuk lees – dit waarvoor die mense bang was, die diep waters, word die bron van al die seediere, “ En God het gesien dit is goed” (:22). Elke keer spreek God ‘n woord, “en dit was goed”.

☛ Geen wonder Paulus het hierdie selfde beeld gebruik toe hy na God se herskepping verwys het nie: 2 Kor 4:6 “God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

Waar is God in 2015? Nee, Hy spreek nog steeds ‘n Woord, Hy verlig ons “met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

Ons kan deur baie brille na hierdie nuwe jaar kyk. Ons kies eintlik hoe om te kyk. Wat se bril wil ek gebruik?
– ‘n bril van vrees vir chaos
– ‘n bril wat niks sien nie, want als is net duisternis
– ‘n bril van ontkenning
– ‘n bril van geweld – “sien hulle reg!”

God se bril is die heerlikheid wat Jesus Christus uitstraal. ‘n Heerlikheid wat die wêreld verander, wat dit wat woes en leeg is, bewoonbaar en goed maak. ‘n Heerlikheid waartoe Hy ons roep en stuur as Sy verteenwoordigers (:26).

Watter bril gebruik ek om na die jaar te kyk?





Alles loop reg, altyd reg???

22 04 2011

☛ Neels Jackson skryf dié week in die Beeld, oor hoe ons na God kyk. En dan sê Neels dat ons graag ‘n God soos ‘n Toyota wil hê… Julle weet mos, “Alles loop reg, altyd reg.”

Die groot probleem waarmee ons egter opgeskeep sit, is dat alles NIE altyd reg loop nie! Misdaad, siektes, droogtes of oorstromings, natuurrampe en allerlei ander dinge wys ons dat dinge NIE altyd reg loop nie, selfs nie vir gelowiges nie. Dan kry ons mense wat dit goed bedoel wat vir ons kom sê: “Jy moet net meer geloof hê”. Dan sal alles reg loop.

Mense wat hierdie tipe Toyota Godsbeeld het, word dan in hulle diepste wese geskok wanneer iets soos die tsoenami in Japan gebeur, of kanker my tref, of my kind sterf, of….  Dan argumenteer hulle, hoe kan Hy God wees as Hy nie so iets kan keer nie! So asof Hy ’n ligskakelaar is wat dinge laat gebeur as jy die knoppie van gebed druk.

☛ In ons teks vanmôre (Jesaja 52:13-53:12) word die “Dienaar van God” beskryf, as iemand wat NIE ‘n “alles loop reg” Godsbeeld kon gehad het nie. Ons lees “hy was misvormd”, “hy was verag”, “hy was deur mense verstoot”, “iemand wat lyding en pyn geken het”.

As ons ook vanoggend dink aan Jesus se lyding aan die kruis  dan is dit sinvol om te vra wat Sy lyding beteken vir die verskillende vorms van swaarkry wat ’n ons hier op aarde beleef.

Die een ding wat dit nié beteken nie, is dat daar nie langer moeite en ellende gaan wees nie. Die Psalmdigter het immers nie geskryf dat hy die dal van doodskaduwee gaan systap nie, wel dat hy dit met vertroue tegemoet sal gaan. Hy “sal geen onheil vrees nie,” het die ou vertaling gesê.

Want in ’n sin is die Japanse tsoenami nie ’n abnormale verskynsel nie. Dit is hoe die lewe is.

‘n Lewe wat dit nie ontsien het om die Seun van God aan ‘n kruis vas te spyker nie!

☛ As die tsoenamies van die lewe ons egter tref, watter sin bied Jesus se lyding vir ons?  Soos Martin Luther vra, waar vind ons ‘n genadige God? Vanuit die Nuwe Testament is hierdie beeld van die dienaar van God in Jesaja al op Jesus van toepassing gemaak, maar nie net op Hom nie. In 1 Petrus 2 word hierdie beeld op ons daaglikse lewe as Christene van toepassing gemaak deurdat ons Christus in Sy lyding moet navolg.

Niemand sien egter uit daarna om te ly nie, niemand wil willens en wetens in pyn inloop nie. Jesaja gebruik die beeld van die “arm van God” om te verduidelik dat selfs binne lyding en pyn, God nog steeds daar is, God nog steeds genadig is. Hy is daar om ons te ondersteun. Sy “arm” is magtig genoeg, en Hy liefdevol genoeg om met ons te wees deur alles wat ons mag teenkom.

Hierin is besondere betekenis opgesluit vir ons as die kerk. Daar word baie gevra na hoe “die kerk” se stem in hierdie tye gehoor moet word. Ons as die kerk van die Here behoort nie onsself nie maar aan die oorwinnaar, die eerste kneg, aan Jesus. Ons is nie geroepe om die suksesvolste, mooiste, rykste in ons omgewing te wees nie, Nee, soos die kneg van die Here “ons lyding op hom geneem” het, so moet ons ‘n plek wees wat die swaarkry en lyding van die omgewing op ons neem. Juis ons hantering van swaarkry en teenspoed moet ‘n getuienis wees teenoor die mense rondom ons van ons geloof in Christus. Soos 1 Petrus 2:20,21 sê, “om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep” Jesus is tog elke oomblik met ons, ook in ons lyding. Waar vind ons ‘n genadige God? In ons eie lewens, en ons maak Hom sigbaar deur ons optrede.

Vandag herinner ons, bind ons vas, aan Jesus se kruisdood, dat ons Hom hierin moet volg deur juis hierdie genade en hoop aan die nasies te wys en na hulle te neem (Jes 49:6).

(Met erkenning aan Neels Jackson)





Herinneringe…

8 08 2010

Darem vreemd hoe herinneringe ‘n mens soms net kan bestorm en onverwags vang. Sit gisteraand en praat met ‘n kollega, wat soos ek, ook verpligte militêre diensplig gedoen het as kapelaan. So met die gepraat begin daar hoeveel herinneringe deur my gedagtes spoel wat my laat wonder hoe diep van die herinneringe werklik lê. Hoeveel van Chris Louw se Boetman lê nog onder my vel en wegkruip? Ek weet nie….

Sommer so, sonder om te probeer sistematiseer of om te probeer orden in datum volgorde… onthou ek…:

  • Die kameraderie gedurende basies. Die saamstaan, die saam af-“chop”. Ek onthou die Dopper pelle wat die bottel Whiskey aan ‘n toutjie by die venster uitgehang het, die absolute sinnelose gerondjaag in die middel van die nag as die korporaal dronk terugkom in die basis.
  • Hoe die Afrikaanse, Engelse, Joodse en Sewendedag Adventiste dominees saamgebind word deur die saam swaarkry gedurende basies.
  • Die staande mag Kapelaan wat vir my sê die Belhar belydenis is 10% kommunisties – en sy gesig toe ek hom durf vra WATTER 10%!
  • Hoe die swart mense in Zwide die weermag op die hande gedra het in ’85, toe die weermag in die woongebiede ontplooi is, voor die noodtoestand. Ek onthou hoe die kampers, waarvan baie Xhosa kon praat, met die mense gesels het. Ek onthou hoe ons vrugte en koeldrank gegee is, want die inwoners het gedink ons kom beskerm hulle teen die polisie….
  • Hoe die vriendelike geaardheid soos handomkeer verander het toe die “powers that be” besluit het daar moet ‘n polisieman op elke weermag Buffel saamry. Hoe dit verder verander het toe die kampers afgehaal is en vervang is met jong 18jaar oud dienspligtiges.
  • Hoe die jong voertuig wag agterop die Buffel ‘n ou swart vrou met ‘n knopkierrie agter die kop geslaan het terwyl ons verbygery het. Hoe, nadat ek ‘n klag teen die troep gelê het,  ek ingeroep is op die rooi tapyt deur Brig Joffel van der Westhuizen omdat ek die “troepe se moraal ondermyn”!
  • Hoe die Kommandement Samjoor die volgende dag, nadat hy van my skrobering gehoor het, vragte knobkierries, assegaaie, ens., van weermag voertuie laat afhaal het.
  • Hoe ongemaklik ek gevoel het met die sake wat bespreek is as ek Brig Joffel van der Westhuizen se ordergroepe moes bywoon as die Kommandement Kapelaan weg was.
  • Die kommadant op Eenhana wat my binne ‘n paar minute nadat ek hom ontmoet het, vertel het hy gaan hoof van die leër word (hy het nooit nie….)
  • Hoe die einste kommadant in siviele klere rondloop, terwyl die res van die basis gedwing word om self op Saterdae en Sondae, as hulle af is, in vol browns rond te loop.
  • Die Samjoor wat die troepe probeer stilkry voordat ek opdaag om ‘n erediens te hou: “Julle f@#$%* troepe moet nou f@#$%* stilbly, want die f@#$%* dominee gaan nou kom f@#$%* preek!” Dit terwyl ek reg agter hom staan en my bes probeer om nie uit te bars van die lag nie… Weet nie wat die troepe van daardie dag se preek onthou het nie….
  • Die seiners se kamertjie, waar ons lekker kon sit en radio luister uit die “states” (Suid-Afrika) – en ook soms onwettig met die radio-telefoon “states” toe bel.
  • Hoe lekker ek en die Kom-Ops luitenant by die Ovambo hoofman kuier en Mahangu broodjies eet en bier drink. Hoe dieselfde hoofman die volgende dag ons skel omdat Koevoet deur sy Mahangu lande, deur die paalheining om sy stat, tot reg voor sy hut gery het. En met die wegry slag, na ‘n “ondervraging” sommer vir die lekker die heining en lande aan die ander kant ook stukkend gery het…
  • Hoe die dominee van die EGKA gemeente in Eenhana (susterkerk van die NG Kerk) vir my die gate in sy kerk se dak wys wat Koevoet daar geskiet het, sommer net vir die lekker.
  • My skok toe ek by Nkongo se menasie instap waar ek veronderstel was om ‘n diens te hou, en die aansteekbord is vol mens ore en ander liggaamsdele, by fotos van hoe die persone gelyk het toe hulle geskiet is.
  • Hoe minister Magnus Malan “kategories” ontken dat Suid-Afrika in Angola is of probeer wees. Hoe hy ‘n week later erken ons “was” daar, maar almal onttrek. Hoe Eenhana soos die Ben Schoeman hoofweg lyk terwyl die Ratels, Buffels, tenks “onttrek”, Noord, Angola in…
  • Hoe ek moet diens doen by die mediese pos wanneer Koevoet inkom om diesel en voorraad te kry – en reguit “medics” toe gaan vir penisilien inspuitings teen “VD”. Hoe die dokter hulle “opline”, broeke af, en die naalde soos “darts” in hulle boude ingooi!
  • Hoe die einste dokter wondere verrig om ‘n Koevoet lid wat onder ‘n Caspir beland het wat gerol het, deur te haal. Hy het vir my twee sakke plasma in die hand gestop, en ek moes druk om dit so vinnig moontlik in die man in te kry, terwyl die dok gewerk het om die bloeding te stop. Ek onthou ook sy uiterste teleurstelling toe hy hoor dat die man ‘n paar dae later in 1 Mil hospitaal oorlede is.
  • Die troepe wat met diep hartseer kom vertel van probleme by die huis. “Dear Johnnies” van meisies af, probleme tussen ouers, en die ouens sit ver, kan niks doen nie. Hoe manne begin soek na vastigheid as hulle ‘n slag onder die koeëls deurgeloop het…
  • Majoor (op daardie stadium) Willem Ratte, wat met sy vrou en dogter buite die basis se walle bly, tussen niks en nêrens, so 240km Wes van Rundu. Hoe die einste majoor in die nag Swapo uniform en “boots” aantrek en gaan rondloop waar die troepe die volgende dag gaan patrollie stap. Hoe daardie troepe, by hulle terugkeer in die basis, rondgejaag word as hulle nie sy spore opgetel het nie.
  • Hoe daar by dieselfde basis, laatmiddag ‘n Suid-Afikaanse Dakota sou land, om dan met ‘n ander bemanning verder te vlieg. Net om vroegoggend terug te keer, om te vertrek met die bemanning wat hom gebring het – wat nooit die nag in die basis in gekom het nie. Dit het my baie laat wonder, tot ‘n “rekkie” Kaptein wat ‘n keer of wat saam gevlieg het, na te veel biere vir my vertel het dat dit Amerikaanse loodse is wat die Dakota vol wapens bring. Suid-Afrikaanse loodse wat dit dan oor die grens vlieg na Savimbi se mense toe. Dit keer dan vroegoggend terug, vol ivoor as betaling vir die wapens…
  • Hoe ons lê en “tan” op die trampolien.
  • Hoe daar ‘n nuwe menasie gebou word op Mangeti-Duin, ‘n maand of wat voordat Namibia onafhanklik word en terwyl trokke dag vir dag weermag voorraad wegry Suid-Afrika toe.
  • Die lekker kerkdienste by die San van Namibia se Boesmanland, en hoe daar sommer in twee San tale in getolk word terwyl ek in Afrikaans preek.

Ja, onthou kan ‘n mens onthou… Ons Boetman generasie kan soms oor lang biere en rondom braaivleis vure probeer uitpluis hoekom ons daar was, of dit ooit sin gehad het. Sommige sal vreeslik vas staan op die waarde van wat ons gedoen het. Ander sien dit weer as uiters sinloos.

As ek egter terugdink, kan ek nie anders as om te dink dat as sommige goed anders hanteer was, baie lyding en dood gespaar kon gewees het nie – maar dit sou ‘n samelewing kopskuif nodig gehad het wat Pres de Klerk eers baie later gebring het. ‘n Kopskuif vanaf ‘n ons-julle denke, na ‘n ONS-ONS denke. ‘n Denke waarin ons saam kan besluit om saam te bou, eerder as af te breek. Nou nog raak ek sommer warm onder die boordjie vir mense wat al te maklik oorlog praatjies maak, niemand wen daarin nie, daar is net verloorders in oorlog.

Boetman, soms lê hy nog maar vlak…





Alles is ‘n gejaag na wind?

1 08 2010

Wat weet jy van die Prediker boek? Mag ek raai dalk die gesegde “Werp jou brood op die water” en miskien hoofstuk 12 – “Dink aan jou Skepper in jou jong dae” en hoofstuk 3 “Almal is van stof”  wat nogal gereeld by begrafnisse gebruik word.

Hoekom is hierdie boek enigsens in die Bybel? Die skrywer klink so sinies! Alles word beskryf as ‘n gejaag na wind- nie een keer nie maar 9 keer beskryf hy die lewe so in hierdie boek! Genoeg om enigiemand depressief te maak!

☛ Die prediker(Qoheleth – die Hebreeus vir iemand wat mense toespreek) praat nie op ‘n mooi stigtelike manier nie. Nee, hy is brutaal eerlik, eerlik oor wat hy gedoen het en wat hy dink daaroor. Hy het sin gesoek in:
•    Wysheid en kennis (1:16-18)
•    Lag en plesier (2:1-2)
•    Wyn (2:3)
•    Opbou van groot ondernemings deur harde werk (2:4-6)
•    Baie besittings (2:7-8)
•    ‘n “goeie lewe” – sleg en goed kom op die einde tot dieselfde (8:10)

Oor dit alles sê hy op die einde – “Dit is ‘n gejaag na wind”

☛ Van die goed wat die Prediker so afskryf, is dinge wat ONS as heel goed sal beskryf, wat is dan nou verkeerd met wysheid, met kennis, met harde werk? Dit is tog alles goed wat ons as eerbaar sien, as dinge wat die moeite werd is om na te jaag. Ons kan tog gou iets sê oor iemand wat lui of dom is! Hoekom skeer die Prediker dit dan oor dieselfde kam as ‘n blote gejaag na plesier?

Is dit nie maar juis omdat al hierdie goed maar weer dinge is wat ONS, EK, doen nie? Ek kan hoe slim wees, hoe hard werk, maar in een oomblik kan dit van my weggeneem word.

☛ In die sin herinner Prediker aan Jesus se gelykenis van die ryk dwaas (Luk 12:13-21). Die ryk man sê vir homself: “‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.” God antwoord hom dan: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?” Selfs as ‘n mens jouself probeer troos met die gedagte dat jy dit vir jou kinders doen, dat jy ‘n nalatenskap daarstel waardeur jy onthou sal word, dan sê die Prediker dit is ‘n gejaag na wind want: “Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, en wie weet of hy ‘n wyse of ‘n dwase mens sal wees?” (2:18-19)

Sjoe! Hoort die boek enigsens in die Bybel? Is daar ‘n boodskap hier anders as dat alles maar verniet is? Wat sukkel die dominee met so ‘n teneerdrukkende teks?

☛ Hierdie vraag raak nog erger as ‘n mens in 3:12 lees: “ Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet” “Eat, drink and be merry!” blyk die Prediker se boodskap te wees….!

En in ‘n sin is dit PRESIES wat hy vir ons sê, al klink dit soos kettery! In Hoofstuk 2 verse 24 en 25, kom gee die Prediker vir ons die sleutel wat ons moet gebruik om hierdie, op die oog af siniese, stellings van hom te verstaan: “Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n  gawe uit die hand van God is.  Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?”
Vir die Prediker is ‘n lewe van dankbaarheid teenoor God, ‘n lewe waarin ons kan eet en drink en ons vriende en familie geniet, ‘n geskenk uit die hand van God. Vir die Prediker is om te eet, drink en die lewe te geniet ‘n daad van GELOOF! Vir elkeen wat gedink het die Ou Testament praat van WET en die Nuwe Testament van GENADE, herinner die Prediker ons dat alles GENADE is!

Kom ons wees maar eerlik, as ons na die onregverdigheid van die lewe kyk. As ons sien hoe dit goed gaan met “slegte” mense, en hoe “goeie “ mense sukkel – het ons nie ook maar al iewers gedink die lewe is ‘n “gejaag na wind” nie?

En dit is… As ons nie onthou dat elke dingetjie, elke seëning, elke dag van gesondheid, elke kind, elke sonstraaltjie, ‘n gawe van God is nie…. ‘n Gawe wat ons nie verdien nie, maar wat ons as geskenk kry.

(Na aanleiding van Prediker 1:2, 12-14, 2:18-23 en http://www.workingpreacher.org)