Logos

25 12 2016

“Die Woord, deur wie ons God leer ken, was reg aan die begin reeds daar. Die Woord was by God en die Woord was God.” (Joh 1:1-14 – Die Boodskap) Wat ‘n vreemde manier om die boek te begin. Ander as bv Matteus en Lukas wat begin met Jesus se menslike geslagsregister, begin Johannes baie verder terug!

Die Woord, die Logos was aan die begin daar, en die Logos was God.  Hoe verstaan ons dit??

Die woord “Logos” wat in Afrikaans met “Woord” vertaal word het eintlik ‘n baie dieper betekenis as net “woord”. Dit kan eintlik beter vertaal word as “storie” of “stem”. So eintlik kan ons hierdie eerste vers ook vertaal as “in die begin was die Stem daar”, of “in die begin was God se storie, se verhaal, daar”.

As ‘n mens in die res van die Johannes evangelie kyk, dan maak dit baie sin. Vir Johannes tel wat ons HOOR baie. So herken Maria Jesus eers toe sy Sy stem hoor (Joh 20). Wanneer ons God se stem in Sy Logos hoor, verander ons.

Ons het van die Christelike geloof iets gemaak wat gaan om “Wat GLO jy”, terwyl dit eintlik gaan om “Hoor jy God se stem?” As dit gaan om “glo”, dan verval ons in klomp redenasies en breingimnastiek soos ons mekaar probeer oortuig. Ons moet egter God se stem hoor, dan word Sy Logos werklik vir ons, dan kan ons luister en op ‘n ander manier begin lewe.

In baie huise is dit maklik om te sien wie is eintlik in beheer – dit is die een wat die meeste geraas maak! Dalk is dit ‘n kleuter wat die huishouding regeer deur tantrums en ‘n geskree. By God werk dit anders. In 1 Konings 19 probeer Elia God se stem hoor. Daar was ‘n aardbewing, ‘n geweldige wind, ‘n vuur, maar nie in een van die goed was God se stem nie. God se stem is eers gehoor in ‘n “fluistering in die windstilte” (1 Kon 19:12).

Hier met Kersfees vier ons Johannes se geweldige aanspraak dat die kindjie in die krip God se sagte “fluistering in die windstilte”, God se Logos, is. God wat Sy verhaal met ons voortsit op ‘n byna onwerklike manier. Nie meer die vuurkolom of rookkolom soos met die uittog uit Egipte nie, maar met die sagte fluistering van ‘n kindjie.

‘n Kindjie wat God se diepste kommunikasie met ons word. Die manier waarop God ons na Sy stem laat luister, die manier waarop ons die Logos kan herken en erken.

En dan op ‘n baie betekenisvolle manier. Nie maar net “geestelik” nie. Nee, vers 14 gebruik twee betekenisvolle woorde: Hy het sarks (vlees) geword en eskênôsen (tent opgeslaan) onder ons. Dit beteken dat Hy volledig mens geword het en ’n menslike bestaan aanvaar het.

Nie net vlees geword nie, maar in die vlees iets van God se stem vir ons kom wys het, vir ons laat hoor het. Hy het tent opgeslaan by ons soos God in die tyd van die eksodus in die tabernakel (tent) by Israel teenwoordig was.

Wanneer ons vandag, op Kersdag, voor die Kindjie in die krip buig, buig ons voor die hoë God, die Logos, wat onder ons kom woon het, by ons kom tent opslaan het. Ons buig voor die lewegewende Woord waardeur alles geskep is, steeds onderhou word, en eenmaal voltooi sal word.

Met watter woorde sal ons reageer op God se woord in Jesus Christus? Die enigste gepaste woorde is lofsange en gebede, eerbetoon en verheerliking van God. ‘n Gepaste woord is ook om oor die waarheid van God in Jesus ons geloof in Hom te bely.

(Met erkenning aan “Woord en Fees” en Leonard Sweet)

Advertisements




Soos ‘n boom by ‘n waterstroom

15 06 2012

Image

Die afgelope week (4-7 Junie 2012) het die Oos-Kaap se NG Kerk sinode gehou. Daar is oor baie goed gepraat en besin – Jeug en onderwys, belydenisskrifte, administrasie, eenheid van die kerk, lidmate, doop, predikante, ens, ens… Ek kan sommer hoor hoe mense dink – “En? Wat beteken dit vir ons hier waar ons die Here dien? Sulke vergaderings is sommer tydmors!”

Tog het hierdie sinode ons almal met ‘n boodskap huis toe gestuur, met Psalm 1:3, so vertaal: “Die NG Kerk in Oos-Kaapland is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” Mooi woorde. Baie poëties gestel. Maar hoe kom ‘n mens by die mooi verby, hoe kry die vrugte van hierdie boom voete in God se wêreld?

Kom ons vertaal hierdie teks nog so bietjie verder: “Die gemeente waar ek die Here dien is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” En wat van nog verder: “Ek, vul jou eie naam hier in, is ‘n boom wat by God se waterstroom geplant is, op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.”

‘n Mens kan nou baie goed sê oor hierdie teks. Ons kan uitwei oor wat dit beteken om God se boom te wees – hoe die beeld van ‘n boom iets sê van sterkte, van diep gewortel wees, van tot nut wees vir ander deur die skaduwee en vrugte. Ons kan verder uitwei oor God se waterstroom en hoe God ons versorg, hoe Hy altyd daar is vir ons, hoe die boom nooit kan groei sonder Hom nie.

Maar, gedagtig aan wat Jesus gesê het in Matteus 21 rakende die vyeboom wat nie vrugte gedra het nie, moet ons miskien ‘n bietjie gaan let op die vrugte wat ons dra. Dra ons “op die regte tyd” vrugte? Wat bedoel Psalm 1 met hierdie vrugte?

Die bron van die vrugte word baie duidelik in Psalm 1 uitgewys as die Woord van God. God self is die Een wat die vrugte in ons bewerk. Ons dra nie vrug omdat ons so oulik is nie. Psalm 1 sê ons moet die Woord eet en drink en slaap, dan dra ons vrugte as gelowiges en gemeente, nie omdat ons so goed beplan en goeie administrasie het nie.

Die vrugte is ook nie eintlik vir ONSSELF bedoel nie. ‘n Boom eet nie sy eie vrugte nie! Vrugte is daar om ander mee te versterk, ander mee te dien. Die vrugte is ook publiek, dit moet raakgesien kan word anders beteken dit niks vir ander nie. Anders kan niemand sy honger met daardie vrugte stil nie.

Hoe dra ek en jy, as God se bome, gevoed en versorg deur God, God se vrugte op die regte tyd?

Laat ek myself net ‘n oomblik hier in die rede val. Baiemaal dink ons dat geloof ‘n privaat saak is, ‘n saak vir my binnekamer. Is daar iets soos ‘n private geloof?  Nee! In die Bybelse tye was my publieke lewe en my geloofslewe een. Deesdae sê ons ons geloof het niks te make met my werk, my sport, ens nie. Ons het van geloof iets gemaak wat op ‘n Sondag vir ‘n uur of so beoefen word. Maandag begin die regte lewe weer…

Vir Psalm 1 is dit nie hoe dit moet gebeur nie. Vanuit God se Woord, vanuit my ontmoeting met God, word ons versterk om vrugte te dra, om duidelik en in die openbaar, in die publiek, Christen te wees

Dit beteken NIE dat ons daarop moet aandring om alles oop en toe te maak met gebed nie. In die ou dae is die enigste tye wat God se stem gehoor is by iets soos ‘n sinode die opening en afsluiting aan die begin en einde van die dag – tussen-in het ons met mekaar geredekawel en mekaar met ons welsprekendheid probeer oortuig. God se stem, God se vrugte moet deurlopend na vore kom. Dank die Heer dat dinge al hoe meer so gedoen word!

Ons word alreeds hier in die erediens daarvoor gereed gemaak. Al die goed wat ons hier doen en saam deel, vanaf die seëngroet regdeur die Wet, Geloofsbelydenis, prediking, tot by die uitsendingseën aan die einde het tog ten doel om ons te voed langs God se waterstroom.  As ons by die Here uitkom, is dit onmoontlik om nie vrugte te dra nie.

SODAT ons vrugte, God se vrugte deur ons, gesien kan word in die onderwys, in die politiek deur die versterking van ons demokrasie, in die werksplek, in die media, by die eenkant, verstote gedeeltes van ons samelewing. God se stem word duidelik in die manier wat ons die sout is vir die aarde,

Hoekom?  Hoekom is dit nodig om hierdie publieke, in die openbaar sigbare, vrugte te dra? Is dit nie genoeg om net versterk te word in ons eie “binnekamer” in ons eie “geloof” nie?

Ons moet hierdie openbare, publieke vrugte dra want ons is uit genade gered…in Christus geskape tot die goeie werk wat God voorberei het (Efes 2). God het die wêreld lief (Joh 3:16) en wil deur ons vrugte Sy liefde aan die wêreld bring.

(Met erkenning aan Prof Piet Naudé se voordrag tydens die sinode)

(Foto: Heinrich Alberts)