Luk 10:25-38 – my naaste, my keuse?

12 09 2021

Die verhaal van die Barmhartige Samaritaan is so bekend, ons skakel sommer af as dit begin – ons ken dit tog! Wat as ek jou vanoggend uitdaag om weer te dink – hierdie is nie ‘n verhaal van hoe om goed en gaaf te wees nie, hierdie is ‘n verhaal oor hoe om die wêreld te verander!

Kom ons gaan kyk mooi na wat hier gebeur. Die verhaal begin natuurlik by die wetskenner wat Jesus weereens wou vasvra. En toe Jesus hom, soos enige goeie Rabbi gedoen het, self sy eie vraag laat beantwoord, probeer hy nog steeds: “En wie is my naaste?” (:29) Waarop Jesus ‘n storie vertel van drie groepe mense.

Ons vergeet soms die eerste groep, die rowers. Hulle gee niks om vir ander nie, wat joune is, is myne, teen watter prys ook al – al is dit jou lewe! Ons ken sulke mense ongelukkig goed genoeg in ons samelewing. Van diegene wat iemand doodmaak vir ‘n R10 tot diegene wat pensionarisse se hele pensioen steel met slenters en bedrog – dink maar aan Steinhoff en die onlangse Bitcoin debakel. Hierdie mense los ons langs die pad, platgeslaan, met geen hoop nie, en selfs haat.

Dan is daar ook die priesters en Leviete in hierdie lewe. Hulle optrede sê “ek sal wat myne is beskerm, al kry jy in die proses seer”! Dis goeie mense hierdie, steunpilare in die samelewing. Hulle doen wat reg is. Hulle betaal hulle belasting, sit op die skoolbestuur en kerkraad, word geag in die samelewing. Hulle betoon selfs groot liefde en barmhartigheid, in hulle eie omgewing en teenoor hulle mense. Die ou wat daar langs die pad gelê het was waarskynlik dood, volgens hulle opinie. En, volgens die tempelreëls sou hulle onrein wees as selfs net hulle skaduwee op die dooie val. So, om oor die pad te loop en die persoon te help kon hulle iets kos, hulle kon onrein wees, die rowers is dalk nog in die omgewing en hulle word ook slagoffers – alles goeie redes, regtig, hulle doen niks sleg nie. Hulle fokus maar net op hulself en wat die beste is vir hulleself. So val verhoudinge langs die pad af, so raak hulle selfsugtig, sonder om dit te bedoel!

En, as ek nou brutaal eerlik moet wees, ek dink die meeste van ons is maar in hierdie posisie die grootste deel van ons lewens. Ek weet ek is…

En dan is daar die Samaritaan. Geminag deur die Jode, nee, selfs gehaat. En hierdie veragte se etiek is een van liefde. Hier op die gevaarlike 27km wat ‘n 1000 meter in hoogte wissel, met kranse en wegkruiplekke en rowers kom sê die Samaritaan “wat myne is, is joune, as jy dit nodig het”. My veiligheid is joune, my sekuriteit is joune, my finansies is joune, want jy het dit nodig.

Die priester en Leviet vra “wat sal met MY gebeur as ek stop om die man te help?” Die Samaritaan vra “wat sal met die slagoffer gebeur as ek nie stop en help nie!”

In vandag se lewe ken ons ook vrees. Vrees vir rowers, vir siektes, vir korruptes, vir bedrog. En vrees het die manier om ons sleg te laat optree, om ons selfsugtig te maak. As vrees die oorheersende etiek van ons lewens raak trek ons terug van ander, klou ons aan ons eie veiligheid, loop ons omtrent nooit oor die pad om ander te help nie. 

Dit lyk vir my ons is almal iewers tussen Jerigo en Jerusalem op pad op die oomblik. Op ‘n moeilike, gevaarlike pad. ‘n Pad wat maak dat ons oor ons skouers kyk in vrees. En dit is nie net die virus nie, dit is selfsugtigheid, leuens, ook selfbejammering soms. 

Soos die wetgeleerde het ons twee keuses. Ons kan kies wie ons naaste is, besluit wie geregtig is op ons hulp, liefde, tyd. Of ons kan leef vanuit ‘n etiek van ‘n naaste wees vir ander. Bereid wees om oor die pad te loop om iets vir iemand anders te beteken. En as ons dit doen? Dan sien ons iets waarvan Jesus baie gepraat het – die Koninkryk van God het naby gekom! 


Aksies

Information

Lewer kommentaar