Bybelstudie – Geloofsgewoontes 6 – Vas

12 09 2021

Vas – is dit nie ‘n Roomse gewoonte nie? Of is dit dalk daai nuwe dieet wat ek van gehoor het – “intermittend fasting diet” enigiemand? 

Vir baie Christene is dit vandag iets vreemds om te vas en te bid. In ons kultuur glo ons nie daaraan om ons te ontneem van iets nie, ons kultuur is eerder gemik op die vervulling van ons begeertes. Vas is egter nie vreemd aan die Ou of Nuwe Testament nie. Dit was ook nie iets vreemds in die vroeë Christelike kerk nie en ook nie in die tyd van die Hervorming en die eeue daarna nie. Moses, Elia, Esegiël en Daniël het gevas en gebid. Jesus het vir veertig dae gevas. Daar is wel die verwysing in Markus 2:18-20 na Jesus se dissipels wat nie gevas het toe Hy op aarde was nie, maar tog ook dat hulle sou vas as Hy weg is. Paulus en die vroeë Christene het gevas (bv Hand 13:3 en 14:23). Die vroeë Christelike kerk het Woensdae en Vrydae gevas. Martin Luther is gekritiseer omdat hy te veel gevas het. Johannes Calvyn het gevas en gebid totdat die grootste gedeelte van Genève hulle tot God bekeer het.

Matteus 6:16-18

2020 Vertaling: “Wanneer julle vas, moenie soos die skynheiliges met hulle lang gesigte wees nie, want hulle trek hulle gesigte, sodat die mense kan sien dat hulle vas. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.”

Die Boodskap: “Wanneer julle julle so ernstig aan God toewy dat julle nie eens wil kos eet nie, moet julle nie soos die skynheiliges maak nie. In sulke tye loop hulle met ’n lang gesig rond sodat almal kan sien hulle vas. Ek sê weer: sulke mense het klaar hulle beloning weg. Moenie ’n spektakel van julle godsdiens maak nie. Gaan normaalweg aan met julle lewe wanneer julle vas: kam julle hare, was julle gesigte. Lyk netjies sodat niemand agterkom dat julle besig is om ernstig te bid nie. Slegs julle hemelse Vader hoef dit te weet. Hy sal wel sorg dat julle julle hemelse beloning kry.”

New Living Translation: “And when you fast, don’t make it obvious, as the hypocrites do, for they try to look miserable and disheveled so people will admire them for their fasting. I tell you the truth, that is the only reward they will ever get. But when you fast, comb your hair and wash your face. Then no one will notice that you are fasting, except your Father, who knows what you do in private. And your Father, who sees everything, will reward you.”

The Message: “When you practice some appetite-denying discipline to better concentrate on God, don’t make a production out of it. It might turn you into a small-time celebrity but it won’t make you a saint. If you ‘go into training’ inwardly, act normal outwardly. Shampoo and comb your hair, brush your teeth, wash your face. God doesn’t require attention-getting devices. He won’t overlook what you are doing; he’ll reward you well.”

‘n Paar opmerkings:

Daar is verskeie sienings oor vas. Sommige beperk die vas tot net die ontneem van voedsel terwyl ander sieninge weer voorstel dat die vas moet bestaan uit die ontneem van voedsel EN drank. Deesdae is daar ook die gewoonte om van aandag-aftrekkende dinge te vas, bv. van digitale apparate of sosiale media. Alhoewel daar baie gefokus word op voedsel, is die doel van vas om jou oë van die wêreld af te neem en dit net op God te fokus. Alles wat tydelik ontneem word om op God te fokus kan deur ‘n Christen as vas gesien word (bv 1 Korintiërs 7:1-5) 

Wanneer vas aan voedsel gekoppel word, kan lang periodes waar daar nie geëet word nie, egter skade aan die liggaam doen. Vas is nie bedoel om die liggaam skade te berokken nie maar wel om ons aandag op God te vestig. Vas moet ook nie gesien word as ‘n metode om te dieet nie. Die doel van Bybelse vas is nie om gewig te verloor nie maar om in ‘n dieper verhouding met God te staan. Dit is nie almal wat aan ‘n voedsel vas kan deelneem nie, soos byvoorbeeld diabete, maar almal kan wel iets opgee of hulself ontneem vir ‘n periode om sodoende meer op God te fokus.

Vas is nie iets wat ons moet gebruik om iets van God te kry nie. Vas verander ons, nie God nie. Vas is ook nie ‘n manier om meer gelowig te lyk as ander nie. Vas moet in die gees van nederigheid gedoen word en met ‘n verkeerde houding nie.

Die Skrif vereis ook nie dat Christene moet vas nie. God plaas geen vereiste daarop dat enige iemand moet vas nie, maar terselfdertyd vertel die Bybel ons dat om te vas is iets goed en voordelig is. Die keuse of jy wil vas of nie is dus jou keuse alleen. Iemand wat vas sal byvoorbeeld nie vinniger in die Hemel kom nie. Jou verhouding met die HERE sal wel groei as jy dit reg doen, en dit is ‘n geloofsgewoonte wat deur die eeue met vrug deur baie gelowiges beoefen is. 

Die punt is nie dat ‘n mens iets hiermee by die Here sou kan verdien nie. Dis opvallend dat daar in die Ou Testament geen gebod is om te vas is nie. Daar is maar net een vasdag deur die Here ingestel: die Groot Versoendag. 

Die moenies van vas

  • Moenie vas om God se seëninge te verdien nie.
  • Moenie vas gebruik as plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie.
  • Moenie vas om ander te beïndruk nie.
  • Moenie dat vas net ’n uiterlike vorm word nie.
  • Moenie dat vas ’n nuwe wet in jou lewe word nie.
  • Moenie vastye reël op tye wat jou gesin en ander sal verontrief soos in vakansies en feestye nie.

Onthou jy vas nie om te vas nie, maar om te bid en die aangesig van God te soek.

Geloofsgewoonte 5 gaan weereens oor God, en nie oor myself nie. David Mathis stel dit mooi: “Fasting, like the gospel, isn’t for the self-sufficient and those who feel they have it all together. It’s for the poor in spirit. It’s for those who mourn. For the meek. For those who hunger and thirst for righteousness.” 

Wil jy vas?

  • Indien jy nog nooit gevas het nie, kan jy dalk die eerste keer vir 24-36 uur vas.
  • Probeer soveel moontlik tyd maak vir gebed. ’n Mens hoef nie op te hou met al jou ander aktiwiteite nie. Jy kan vas al werk jy voldag. 
  • Onthou om wel water te drink.
  • Die normale items wat jy benodig tydens vas en gebed is ’n Bybel, ’n pen en ’n notaboek. Maak aantekeninge van dit wat die Here op jou hart lê. Skryf nuwe gedagtes neer.
  • Dit is goed om ander gelowiges te kry om saam met jou te vas en te bid, want julle kan mekaar bemoedig. 
  • Indien daar mediese redes is waarom jy nie kan vas nie, moenie skuldig voel nie en moet ook nie moedswillig wees nie. Veral persone wat aan suikersiekte ly, ’n spastiese kolon of hartprobleme het, moet verkieslik nie vas nie. 
  • Moenie ander slaafs navolg nie; vas is ’n saak tussen jou en die Here.

Bibliografie:

Alserda, S.M. https://www.christelikemedia.org/article/vas-vir-%E2%80%98n-geestelike-doel

Die Bybel 2020-vertaling. Die Bybelgenootskap van SA. 2020 

Louw, J.P. & Nida, E.A. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains. United Bible Societies. 1996

Mathis, David “Habits of Grace”. Crossway 2016

Moreleta Park Gemeente: http://moreleta.org/wp-content/uploads/2018/07/Hoe-om-te-vas-en-te-bid.pdf

Mounce, W.D. Mounce’s Complete Expository Dictionary of Old & New Testament Words. Zondervan. 2006.

Van Wyk, Chris: https://bybelskool.com/die-gebed-van-die-hart-of-jesus-gebed/

Whitney, Donald S. “Spiritual Disciplines for the Christian Life”. The Navigators. 2014 


Aksies

Information

Lewer kommentaar