Jesaja 35:1-10 – Kan enigiets nuut word?

5 09 2021

Iewers rondom Babilon, so amper 600 jaar voor Christus, sit daar ‘n klomp mistroostige mense. Hulle land is verwoes, hulle tempel is gelykgemaak met die grond en al die kosbare voorwerpe is gesteel. Drie keer het die Babiloniërs van die Israeliete weggevoer Babilon toe, 1400km per voet. Dit is eers nadat die Persiese koning Darius die grote Babilon verslaan het in 539vC, byna 60 jaar na die eerste Israeliete weggevoer is, wat hulle kon begin terugkeer. Ons lees veral daarvan in die boeke Esra en Nehemia. Dit het die groepe terugkerendes byna 5 maande gevat om die pad terug te stap!

Dit is egter nog lank voor hulle terugkeer, en die klomp is werklik teen die grond! Verse 3 en 4 praat van “slap hande”, “wankelende knieë” en “angstigheid”. Hulle sien geen toekoms nie. Hier gaan hulle sterf! 

Maar, in hierdie situasie, kom skets Jesaja vir hulle ‘n digterlike prentjie van blydskap van hoe dit sal lyk as hulle terugkeer. En dis ‘n wonderlik prent! Die uiters dorre deel suid van die Dooie See, die Araba, sal vol waterstrome en blomme wees, ‘n lushof. Selfs sonder roofdiere! Die prentjie wat Jesaja skets is een in die oortreffende trap van blydskap, want hulle is deur die Here vrygekoop (:10)! Hy verlaat hulle nie, al lyk die huidige omstandighede hoe sleg! Selfs blindes sal kan sien en dowes sal kan hoor (:5)! 

Die ironie is, dat alhoewel die belofte later vervul is, alhoewel hulle teruggekeer het, was die land nog steeds verwoes. Die tempel nog steeds ‘n murasie. As ons in die boeke Esra en Nehemia gaan lees, sien ons dat dit jare vat voordat ietsie herstel is, en dan glad nie tot die vorige glorie nie.

Hierdie beloftes kom eers werklik tot vervulling met Jesus, die Een wat werklik blindes laat sien en dowes laat hoor. Tog, soos so baie ander gedeeltes in Jesaja, konfronteer hy hulle hopeloosheid en vrees met hoop! “Kyk, hier is julle God;… Hy is die Een wat sal kom en julle verlos.” (:4)

Jesaja roep ons om verby die “realiteit” rondom ons te kyk, om ons nie net blind te staar teen alles wat verkeerd is nie. Al voel dit of ons in ‘n tyd leef waar God kwaad is vir ons, waar alles net verkeerd is – soos die digter van Ps 90 bv. blykbaar ook gevoel het – God se Hoop is lewend, is ‘n Persoon! In Markus 7 lees ons onder andere hoe Jesus van die beloftes vervul het deur blindes te laat sien en dowes te laat hoor. Hy het die Hoop vir ons lewend gemaak.

In die 6de eeu vC het God vir Israel ‘n “heilige pad” belowe om hulle uit te lei uit ballingskap in Babilon, om hulle na ‘n nuwe toekoms te lei. Baie Suid-Afrikaners soek ook ‘n nuwe toekoms, binne en buite die land. Soms soek ons dit in nuwe politieke leiers, of in beter sekuriteit, of om meer geld te hê. 

Voor die ballingskap het die Israeliete ook hul hoop in sulke goed geplaas. Hulle het hulle weermag opgebou, verdrae gesluit met lande soos Egipte. Niks het egter gehelp nie. Want hulle het die Een wat ons lewens in SY hand hou buite rekening gelaat.

Dit is juis God se goeie nuus dat boosheid alreeds oorwin is in Jesus, deur wat Hy gedoen het. God maak werklik mense nuut! In ‘n situasie waar die Romeine mense wat die Swart Dood gekry het letterlik op straat uitgegooi het om daar te sterf, het die vroeë kerk hierdie mense opgetel en verpleeg – en dit is waar ons vandag hospitale vandaan kry. Die wêreld kan net slegte nuus raaksien, maar in Jesus sien ons God se herskepping, God wat alles nuut maak!

Ons ontken nie die situasie van politieke, finansiële en sosiale verval rondom ons nie, maar ons dink en glo en aanvaar nie dat dit maar so moet wees nie. 

As om ‘n Christen te wees enigiets beteken, beteken dit dat ons die God wat alles nuut maak vertrou om ook ons te gebruik om hier iets nuut na vore te bring – waar vergifnis en aanvaarding moontlik is, waar liefde moontlik is, waar dit moontlik is om die nuwe te glo.

2 Kor 5:17-18: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het.”


Aksies

Information

One response

5 09 2021
Toortsie

Amen

Lewer kommentaar