Bybelstudie – Geloofsgewoontes 5 – Gesamentlike gebed

31 08 2021

Een van die goed wat gelowiges seker die meeste vir my sê is, “ek kan nie voor mense bid nie.” Die redes wat aangebied word is legio, maar wat vir my hartseer is, is hoe mense hulself eintlik hiervoor blameer. Niks in ons geloofslewe is ‘n “moet” nie, behalwe om in Jesus te glo! Al die ander goed wat ons doen, byvoorbeeld die geloofsgewoontes waarmee ons besig is, plaas ons net op ‘n plek om God se stem beter te hoor. Ons weet mos dat ons hele lewe ‘n lewe van gebed sonder ophou is (1 Thes 5:17). Tim Keller skryf tereg: “Everwhere God is, prayer is.”

Kom ons begin deur te vra, waar lees ons in die Bybel van gesamentlike gebed? Ek sien dit veral in die lewe van Jesus en ook in die vroeë kerk. Kom ons kyk eers na die lewe van Jesus:

Lukas 9:28

2020 Vertaling: “Ongeveer agt dae nadat Hy dit gesê het, het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en teen die berg op gegaan om te gaan bid.

Die Boodskap: “Sowat agt dae later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n berg op gevat om daar te gaan bid.”

New Living Translation: “About eight days later Jesus took Peter, John, and James up on a mountain to pray.”

The Message: “About eight days after saying this, he climbed the mountain to pray, taking Peter, John, and James along.”

En in die lewe van die vroeë kerk: Handelinge 1:14

2020 Vertaling: “Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.

Die Boodskap: “Hulle het elke dag saamgebid. Van die gelowige vroue het saam met hulle kom bid, so ook Maria, Jesus se ma, sy broers en ’n klompie ander gelowiges.”

New Living Translation: “They all met together and were constantly united in prayer, along with Mary the mother of Jesus, several other women, and the brothers of Jesus.

The Message: “They agreed they were in this for good, completely together in prayer, the women included. Also Jesus’ mother, Mary, and his brothers.”

  • Wat hoor jy hier oor gebed?

Wat baie duidelik is, is dat die vroeë kerk in navolging van Jesus en Sy dissipels saam gebid het. Hoe hulle dit gedoen het weet ons nie. Ons weet byvoorbeeld nie of hulle stil of hardop gebid het nie. Wat ons wel weet is dat hulle gevind het dit is nodig om saam met mekaar te bid.

Nou hoe doen ‘n mens dit as jy ongemaklik is om byvoorbeeld hardop saam met iemand anders te bid? Ek dink baie van ons ly nog aan die nagevolge van persone in ons verlede wat verskriklik lank en in sekere hoogdrawende formules gebid het. Verlede week het ons gesê die “doel van gebed is om nederig, in afwagting, in God se teenwoordigheid te kom om met Hom in verhouding te tree, om met Hom gesprek te voer, om Sy teenwoordigheid te geniet.” Hoe en hoekom sal ek dit saam met ander gelowiges doen?

Die HOEKOM is dalk die makliker antwoord. Regdeur die Nuwe Testament, wanneer gepraat word van ons, ons liggame, as die tempel van God, is dit altyd in die meervoud. Een van baie voorbeelde is 1 Kor 3:17b: “die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.” Ons is bedoel om gesamentlik mekaar te ondersteun, te dra, te korrigeer, by te staan. En ook om saam te bid.

Oor die HOE is daar minder duidelikheid, behalwe dat dit gereeld geskied het in die lewe van Jesus en die vroeë kerk. Wat wel interessant is, is dat Jesus gewoonlik die dissipels wat die naaste aan Hom was saam geneem het om te bid. 

So, wat sal mens sê oor gesamentlike gebed? Dit lyk vir my dit is iets wat ons gereeld moet doen, aangesien ons mekaar nodig het. Soos met persoonlike gebed lyk dit vir my of ons altyd eers met die Woord moet begin. Die fokus is nie op lang uitgerekte gebede nie, maar die deel van mekaar se harte en gefokuste en kort gebede. Dit gaan nie oor ‘n vertoning nie, maar oor gedeelde blydskap of hartseer voor die Here. Dit lei tot gedeelde vreugde, tot eenheid tussen gelowiges en tot ‘n groter kennis van mekaar en Jesus. 

Onthou weer die Griekse woord vir bid: “proseuchomai” Dit beteken eenvoudig “om met God te praat”.

Geloofsgewoonte 4 gaan dus oor die deel van myself met God, maar ook met medegelowiges. Dit gaan oor gedeelde vreugdes en hartseer, oor gesamentlik voor God te kniel en ons afhanklikheid te betuig.

Vrae vir myself:

  • Met wie het ek die vrymoedigheid om hardop mee saam te bid?

Bibliografie:

Die Bybel 2020-vertaling. Die Bybelgenootskap van SA. 2020

Louw, J.P. & Nida, E.A. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains. United Bible Societies. 1996

Mathis, David “Habits of Grace”. Crossway 2016

Mounce, W.D. Mounce’s Complete Expository Dictionary of Old & New Testament Words. Zondervan. 2006.

Van Wyk, Chris: https://bybelskool.com/die-gebed-van-die-hart-of-jesus-gebed/

Whitney, Donald S. “Spiritual Disciplines for the Christian Life”. The Navigators. 2014 


Aksies

Information

Lewer kommentaar