Pinkster dag 2 – Wie aanbid ons?

22 05 2020

22 Mei 2020 – Dag 2 van Pinkstertyd.

Deuteronomium 6:4-5:
“Luister Israel, die HERE is ons God, die HERE alleen. Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele wese en met al jou krag.” (Direkte Vertaling)
“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (‘83 vertaling)

Die “Shema” (na aanleiding van die eerste woord “shema” – luister) is die sentrale fondament van die Joodse geloof. Van ‘n Jood word verwag om dit in die oggend en die aand op te sê. Dit is egter nie net vir Jode belangrik nie, maar ook vir ons as christene. Die Shema word aangehaal in Markus 12:29 en 1 Korintiërs 8:4,6.

Vanoggend kyk ons na die tweede sleutelwoord: “HERE”. Die HERE is … alleen: Dit word in Mark 12:29 vertaal as: “Die Here ons God is die enigste Here” (vgl ook 1 Kor 8:4,6). Die Hebreeus kan ook vertaal word: “Die HERE ons God, die HERE is Een” en “Die HERE is ons God, die HERE is Een” (Direkte vertaling notas).

In baie vertalings sal jy sien “Here” kan of normaal, of in hoofletters, “HERE”, gespel word. Dit hang af van watter Hebreeuse woord in die oorspronklike gebruik word, die naam van God (JHWH), dan is dit hoofletters, of net die gewone woord, adon, wat meester of heer beteken.

Kyk gou hierdie kort video (4min lank)
https://bibleproject.com/videos/yhwh-lord/

Gesels met jou huismense of dink na by jouself:
• Wat het jy nuut gehoor?
• Waarna moet jy vandag luister?
• Wat wil jy graag dat die Here vandag by jou hoor? Wat is jou hart se wens nou?
• Wat beteken die naam van die Here, “Ek Is Wie Ek Is” vir jou?

Praat met die Here oor wat jy gehoor het.


Aksies

Information

Lewer kommentaar