Gebed gedurende droogte

16 09 2019
Gebed gedurende droogte
Lewegewende God, aan U behoort ons in die totaliteit van ons lewens.
Terwyl hitte en droogte ons land teister, wend ons ons na U met nood in ons harte oor die gewasse op die land en die diere wat niks het om te vreet nie, met nood in ons harte vir mense wat moed verloor, met ‘n groot besorgdheid oor veranderinge in die klimaat, oor ‘n kwesbare Skepping.
Wil U omsien na ons land, o God, wil U voorsien in alles wat ons nodig het.
Laat U seën neerdaal en ons land weer vrugbaar maak.
Laat ons nie omkom van dors nie.
Hou ons byeen in ons sorg vir mekaar, laat ons raaksien wat ons naaste se nood ook is.
Lewegewende God, ons vertrou ons aan U toe in hierdie omstandighede.
Amen
Treffende “Gebed gedurende droogte, geskryf deur die voorsitter van die sinode van die Protestantse kerk in Nederland, ds. Saskia van Meggelen (18/08/2018)
Vertaal en effens aangepas deur myself (14/09/2019)

 

Advertisements




Mislukte staat en gelowiges

2 09 2019

Boodskap gelewer deur Prof Jurgens Hendriks – NGK Stutterheim 18 Augustus 2019

INLEIDING

Daar is ʼn groot onrustigheid in ons land, onsekerheid oor die toekoms. Agentskappe wat te doen het met emigrasie het meer as ooit navrae van Suid-Afrikaners van mense wat na Australië, New Zeeland, Kanada en waar ook wil gaan. Intussen stroom mense uit Zimbabwe en talle ander lande na Suid-Afrika in die hoop om hier te kan werk kry en ʼn beter lewe te mag hê. In die Wes-Kaap groei die townships met mense uit die Transkei en Oos-Kaap op ʼn weeklikse basis.

Dis ʼn wêreld-wye verskynsel. Vlugtelinge uit Afrika stroom oor die Middellandse See na Europa al is daar duisende wat verdrink as oorlaaide bote sink.

Waarom gaan dit so sleg in Afrika dat mense sulke lang en gevaarlike reise aanpak, so ver gaan om huis en haard te verlaat en in ander lande heenkome te gaan soek?

Ek wil dit met ʼn vraag begin.

  • Waarom is die meeste Afrika lande in so ʼn hartseer toestand?
  • In baie lande, SA inkluis, is meer as 80% van die bevolking Christene. Hoekom gebeur die ding in Christen lande?

Waarom soveel korrupsie en so ʼn gebrek aan betroubare leiers dat ʼn land se mense “die pad vat” op soek na beter heenkome?

Die boodskap het vier dele:

  1. Simptome van ʼn mislukte staat.
  2. Waarom maak Christene nie ʼn verskil as hulle 80% van die bevolking is nie?
  3. Leierskap en drie versoekings;
  4. Leierskap in navolging van Christus.

  1. SIMPTOME VAN ʼn MISLUKTE STAAT

As mens “failed state” Google het die internet die interessantste besprekings en voorbeelde. Die Encyclopedia Brittanica se beskrywing is na my oordeel uitstekend:

Failed state, a state that is unable to perform the two fundamental functions of the sovereignnation-state in the modern world system: it cannot project authority over its territory and peoples, and it cannot protect its national boundaries. The governing capacity of a failed state is attenuatedsuch that it is unable to fulfil the administrative and organizational tasks required to control people and resources and can provide only minimal public services. Its citizens no longer believe that their government is legitimate, and the state becomes illegitimatein the eyes of the international community.

Ons het pas oor die nuus gehoor:

Auditor-general, Kimi Makwetu, has releasedthe latest municipal audit results, showing an overall decline for the 2017-18 financial year.

The Auditor-General of South Africa audited 257 municipalities… Only 18 municipalities managed to produce quality financial statements and performance reports, as well as complied with all key legislation, thereby receiving a clean audit. This is a regression from the 33 municipalities that received clean audits in the previous year.

U weet wat voor die Zondo kommissie getuig word. Op grond van die getuienis is SA op die drumpel daarvan om ʼn mislukte staat te word, inteendeel, streke van die land en afdelings van die staat is sodanig gekaap deur korrupte mense en groepe, dat al die kenmerke van ʼn mislukte staat daar voorkom. Oud-president Zuma het hierdie bedeling ingelui en sy trawante probeer met alle mag in beheer bly van selfverrykende korrupsie. Dit is asof hulle die Afrika patroon wil navolg.

Ons vraag is: hoekom maak die kerk nie ʼn verskil nie? Waar is die invloed van 80% Christene wat sout en lig moet wees, wat reg en geregtigheid moet bring, wat vrede tussen alle mense moet bewerk?

Ek is die afgelope 20 jaar betrokke by NetACT, die Network for African Congregational Theology. Die netwerk het in 1999-2000 ontstaan tussen agt kweekskole waar die NGK se sendingwerk tot kerkstigting en uiteindelik onafhanklike kerk met hulle eie teologiese opleiding gelei het. Tans het ons meer as 50 lede uit 15 lande waar meer as 20,000 teologie studente opgelei word.

Kyk egter na die groter prentjie: in SA is daar ongeveer 180,000 pastore van gemeentes wat basies geen teologiese opleiding het nie – dis ongeveer 80% van alle kerkleiers. In Afrika Suid van die Sahara is daar ten minste 2 miljoen “bospastore” sonder geen opleiding in teologie, in hoe om die Bybel te lees en te verstaan en te breek en op die manier hulle gemeenskappe te begelei nie.

  • In al hierdie lande en feitlik in al die betrokke kerke is korrupsie en nepotisme, etnisiteit-spanning tussen stamme (m.a.w. rassisme), ʼn groot probleem.
  • In meeste van hierdie lande is die Islam aan die groei. Die spanning en geweld tussen Christene en Islam is ontstellend soos wat die Islamitiese imperialisme in intensiteit en fisiese aggressie toeneem.

Van alle mense het die Nigeriërs in die netwerk vanaf 2015 daarop aangedring dat ons die korrupsie-en-leierskap probleem in die oë moet kyk en aanspreek. Ek wens ek kon u meer vertel oor wat hier aan die gebeur is. Dit gee my moed.

Ons wil egter fokus op die vraag: Waarom het Christene in hierdie mislukkende state en streke so min invloed – en dit terwyl Christene die meerderheid in soveel van die lande is?

Die antwoord lê daarin dat ons nie verstaan wie ons is nie, wat ons moet wees nie. Ons is nie die lig van die wêreld en die sout van die samelewing nie.

Wat is ons identiteit? Hoe moet ons wees? Die antwoord staan reeds in Gen 1:26-28.

2 IDENTITEIT

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Die skrifgedeelte verduidelik dat

  • onsgeskep is na die beeld(wat ons is) en verteenwoordiger (wat ons moet word) van die Drie-enige God, die Vader, Seun en Gees; of in ander woorde: as ʼn gemeenskap, ʼn “community.” Ons bestaanswese is “community” en die eerste en belangrikste gemeente is die gesin.
  • Ons is geskape om as mede-skeppers, verteenwoordigers,verantwoordelikheidte neem vir die skepping;
  • Ons is geskape om te heers, maar “heers” se diepste betekenis hier is om te dien… ons is soos mens in Christus kan sien: diensknegte,verantwoordelik om na mekaar en die skepping om te sien.

Ons identiteit is geleë in die misterie van die Drie-eenheid. Richard Rohr het dit mooi gestel:

In the Trinity, the three must be maintained as three and understood as different from one another. Yet the infinite trust and flow between them is so constant, so reliable, so true, and so faithful that they are also completely one.1

ʼn Ander pragtige metafoor is die waterwiel waarmee die ou mense water oor ʼn draaiende bakkies-wiel laat loop het om die krag te verskaf om koring te maal.

Die Vader gee alles aan die Seun soos wat die boonste bakkie al sy water uitstort in die bakkie onder hom. Die Seun gee alles wat Hy ontvang aan die Gees en die Gees gee al die krag aan almal wat “in Christus” hulle hart en lewe oopstel aan die Gees. Hierdie krag draai om die as van liefde wat die Koninkryk van God op die aarde laat kom. Die God van liefde stort liefde uit in die lewens van sy kinders wat dit “in community” met mekaar deel, aan mekaar en aan die wêreld gee, skeppend en verantwoordelik, versorgend gee.

Dit is ʼn dans van kreatiewe, skeppende beweging wat die Koninkryk van God laat gestalte vind.

Waarom kom dit nie tot sy reg in ons gemeenskappe nie? Hoekom “flop” ons is ons Godgegewe doel?

Genesis vertel ook wat die Koninkryk laat misluk soos ʼn mislukte staat. Alles val in mekaar as elke Adam en Eva besluit hulle wil self in beheer wees oor hul eie tuintjie. Hulle kruip dus weg van God. Maar die gebrek aan verantwoordelikheid neem laat jou naak … en uiteindelik is daar moord in jou eie familie as die een kind die ander een doodslaan.

Die verhale van die vloed, van Noag, van die toring van Babel en die groot taalverwarring verduidelik wat alles verkeerd loop as ons ons God-gegewe identiteit en verantwoordelikheid verloor. Ideologie neem oor, eie planne vir beheer oor eie koninkryke en stede, Steinhoff besighede en Zimbabwe state verduister skeppende verantwoordelikheid vir die wêreld en lewe. Die einde is ʼn mislukte staat en ʼn gebroke wêreld.

Dit is ʼn terneerdrukkende prentjie. Die vroegste weergawe van ʼn mislukte staat. God probeer weer.

Van Genesis 12 en volgende lees ons migrasie-stories en sien ons hoe God ons help om weer ons ware identiteit te ontdek. Hy roep vir Abram en sê (Gen 12:1-4):

Die Here het vir Abram gesê:

Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.

Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.

Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, 

Abraham word toe, soos so baie mense vandag, ʼn immigrant.

Abraham moet die mens se diepste identiteit weer ontdek .. en die keer gebruik die Bybel ander woorde om ons identiteit te beskryf: jy moet vir ander tot ʼn seën wees. Daarin sal jy self seën vind.

Vir my is van die belangrikste lesse uit die Abraham verhale-siklus dat jy nie maklik jou identiteit in jou geboorteland en tussen jou eie mense ontdek as jou hele lewe net om jouself draai nie. Soos met apartheid en ontelbare ander voorbeelde uit Afrika en die geskiedenis, verongeluk selfsugtig gerigte ideologie die diepste wese van ons Godbedoelde identiteit en verantwoordelikheid. “Op reis gaan” beteken mens moet ontsnap uit ʼn geslote lewenskring.

Gehoorsaamheid” ontsluit genade, al is om gehoorsaam te wees self groot genade. Daar is baie illustrasies hiervan uit Abraham se lewe. Kom ons kyk na twee: Dis eers as jy in gehoorsaamheid die onbekende in waag en jy afhanklik is van die Here se leiding en krag op die onbekende pad voor jou, dat jy leer om te word wat jy moet wees.

Dis net as jy gehoorsaam is dat jou nageslag ʼn toekoms het. Dit moes Abraham met die lank wag vir Isak leer. En hy moes leer dat jy jou kosbaarste besittings moet kan weggee. Eers dan kry jy dit en meer terug.

Genade word ontsluit deur gehoorsaamheid, maar gehoorsaamheid kom telkens net los as jy bereid is

  • om wyer as jou eie tuintjie verantwoordelikheid te neem;
  • as jy bereid is om wat jy het op te offer

Op die reis het Abraham telkens altare gebou. Die altare moes hom herinner wat hy van God leer ken het. Die altare het padtekens en padkaart vir sy identiteit geword.

  • Het u en ek altare waar God aan ons verskyn het en vir ons rigting gegee het?
  • Is ons gehoorsaam om buite ons eie tuintjies verantwoordelikheid vir die skepping en wêreld om ons te neem?

Vanuit die oogpunt van hierdie boodskap illustreer die res van die OT twee sake:

  1. Israel as ʼn mislukte staat omdat hulle nie ʼn seën vir die nasies was nie maar op hulleself ingestel was …. en let op, ʼn mislukte staat verloor beheer oor sy grondgebied. In die ballingskap verloor Israel al hul aardse besitting.
  2. Leierskap. In Israel se geskiedenis was daar goeie konings en slegte konings. Die gehalte van leierskap bepaal die lotgevalle van mense en volke. En kyk ook na die geboorte van ʼn baie spesiale vorm van leierskap: profete. Ek vertrou u weet dat SA se profete ons gered het van ʼn Rwanda-tipe bloedbad.

3 LEIERSKAP EN DIE DRIE VERSOEKINGS

Die OT se profete het algaande besef dat God self vir ons sal moet kom wys wat Hy bedoel met leierskap en wat ons ware identiteit is. Ek wil uit die NT twee aspekte van leierskap met u deel – aan die hand van die voorbeeld van Jesus Christus.

Die eerste is die versoekings wat ons verlei en waardeur ons identiteit vernietig word.

Matteus 4:1-11, Markus 1 en Lukas 4 verhaal hoe die Satan Jesus se Koninkryk probeer verongeluk het, sy identiteit probeer saboteer het.

U ken die drie versoekings. Mens kan dit opsom as hedonisme, egoïsme en materialisme. Henri Nouwen2het die mooiste boekie oor leierskap aan die hand van die drie versoekings geskryf.

  • Hedonismeis ‘n denkrigting waarvolgens genot en gelukdie primêre of belangrikste intrinsieke waarde en die hoogste doelvandie menslike lewe is. Maak van klippe brood; seks in enige vorm vir die “kick” daarvan; losbandigheid wat net plesier soek. Dit gaan om die versoekings van die vlees, oordrewe beheptheid met die mens se basiese liggaamlike behoeftes. Dis van te veel eet en vetsug (obesiteit) tot al die baie vorme van seksuele obsessies, of ʼn obsessie met jou fisiese voorkoms, of ʼn lewe wat net op “jôl” ingestel is en vir niks verder verantwoordelikheid neem nie.
  • Egoïsmeofselfsug. Spring van die tempel se dak en laat almal verstom as die engele jou ʼn soft landinggee. Jy wil gewild wees en bewonder word. Jy wil die middelpunt van alles wees, die mense moet jou aanbid, jy kan nie sonder die aandag van facebook en twitter volgelinge en die toejuiging van die skares klaarkom nie. Jy rig jou besluite en keuses in op grond van wat die mense sal sê.
  • Materialisme en beheer. Heers oor die koninkryke van die aarde het Satan aan die Jesus voorgestel, ek gee jou al die mag,geld en besittings en die vermoë om in alles en oor alles beheerte hê. Dit gaan om die bou van Steinhoff-sakeryke , om onder die “Big Men” of “Assertive Women” te tel, om lewenslange president te wees – ensovoorts.

Jesus is sy lewe lank hiermee gekonfronteer.

  • In die woestyn het hy dit in sy mees kru vorm ervaar;
  • Tussen Getsemane en Golgota was dit ʼn bloedsweet versoeking.

As mens swig voor hierdie versoekings verloor jy jou skeppingsidentiteit en kan jy nie vir ander tot ʼn seën wees nie. Dit breek verhoudings (community) en jy word ʼn slaaf van waardes wat vernietig. Waarop dit neerkom is dat jy ophou verantwoordelikheid neem vir die skepping en jou naaste. Jy eindig egter altyd naak in jou eie tuintjie met kinders wat baklei en doodmaak.

4 LEIERSKAP IN NAVOLGING VAN JESUS

In wat waarskynlik die oudste Christelike lied is, kan ons die diepste beginsels van ons identiteit hoor en in Jesus geïllustreer sien.3The Message se vertaling van Filip 2:1-8 lui:

1–4 If you’ve gotten anything at all out of following Christ,

if his love has made any difference in your life,

if being in a community of the Spirit means anything to you,

if you have a heart,

if you care— then do me a favor:

Agree with each other,

love each other,

be deep-spirited friends.

Don’t push your way to the front;

don’t sweet-talk your way to the top.

Put yourself aside, and help others get ahead.

Don’t be obsessed with getting your own advantage.

Forget yourselves long enough to lend a helping hand.

Think of yourselves the way Christ Jesus thought of himself.

He had equal status with God but didn’t think so much of himself

that he had to cling to the advantages of that status no matter what.

Not at all.

When the time came, he set aside the privileges of deity

and took on the status of a slave, became human!

Having become human, he stayed human.

It was an incredibly humbling process.

He didn’t claim special privileges.

Instead, he lived a selfless, obedient life and then died a selfless, obedient death —

and the worst kind of death at that — a crucifixion.

Sendingwerk in Afrika het telkens die evangelie verskraal tot ʼn tipe verlossing wat neerkom op ʼn ontsnapping van al die aardse ellendes vir ewigdurende vreugde eendag in die hemel. Dis ʼn “ontsnap aarde ellendes” evangelie wat nie gehoor het dat die evangelie gaan oor ʼn koninkryk “op die aarde soos in die hemel” nie. Nou sit Afrika en talle Christene met ʼn evangelie wat die hemel belowe maar die aarde in ʼn gemors los.

Luister na Filippense 2, kyk na Jesus se aardse lewe.

Soos Abraham het hy sy tuiste verlaat en ʼn immigrant op aarde geword waar hy die hele tyd op reis was na alle groepe en mense wat hom nodig gehad het: armes, siekes, vroue, kinders, rykes, heersers, skrifgeleerdes ens.

Maar die grootste geheim van Jesus se lewe kyk ons die hele tyd mis. Hy het ʼn dienskneg gebly en nooit die onbeskryflike krag waaroor hy beskik het, tot sy eie voordeel aangewend nie. Hy het siekes genees, blindes laat sien, verlamdes laat loop, skares gevoed, duiwels uitgedryf, storms kalmeer, op water geloop en Lasarus wat dood was opgewek …

  • maar nooit het hy sy mag gebruik om homself te bevoordeel nie.
  • Sy mag is gebruik om ʼn seën te wees.

Ons grootste versoeking is om die besittings, geld en mag waaroor ons beskik tot ons eie voordeel te gebruik. Jesus se versoeking in Getsemane, voor die kruisiging, het hieroor gegaan. Toe Petrus die bendelid se oor met sy swaard afkap, sê Jesus vir hom (Matt 26:52-53):

Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. 

Ons het ʼn baie eensydige siening van die kruis – eintlik ʼn selfsugtige siening. Die kruis is vir ons die simbool van die grootste reddingsaksie wat ooit plaasgevind het, Jesus se bloed vir ons sonde.

Dus, na ons aardse “jôl” kry ons vergifnis en ontvang ons die ewige lewe. Dis soos goeie besigheid.

Jesus wys vir ons met die kruisiging dat verlossing kom, die Koninkryk kom,

  • as jy nie die mag waaroor jy beskik vir jou eie belang aanwend nie;
  • as jy beheer van jou eie tuintjie of koninkrykies prysgee om vir ander ʼn seën te wees.

Die eerste geslag Christene het hieroor gesing (Fil 2:7-8):

He didn’t claim special privileges.

Instead, he lived a selfless, obedient life and then died a selfless, obedient death—

and the worst kind of death at that—a crucifixion.

SLOT

Hoekom is Afrika en Suid-Afrika ondanks die hoë persentasie Christene in so ʼn hartseer toestand?

Hoekom vertoon ons en talle ander lande al die simptome van ʼn mislukkende staat?

As ek die Bybel reg verstaan, sê die Bybel vir ons ons leef nie in navolging van Christus nie.

Ons, en ons leiers, het ons ware identiteit verloor – of dit nog nooit ontdek nie.

God se koninkryk kan op aarde kom, as ons bereid is om nie net vir ons eie tuintjies te leef nie, maar as ons verantwoordelikheid vat vir die plaas. Dit beteken, ons moet oor die grense van geslag en ras en stand uitreik, Abraham-gewys op reis gaan, verantwoordelikheid aanvaar vir alles wat stukkend is en seer is … Jesus volg na al die ander groepe en daar help, daar sout wees, daar verantwoordelikheid aanvaar. Dis nie ʼn maklike pad nie want dit beteken in die politieke en ekonomiese gemors van jou eie gemeenskap inbeweeg.

Hoe anders kan ons sout wees en lig bring as ons nie vir die nasies tot seën is nie?

Hoe kan ons dorpe, streke en provinsies verander sonder dat daar mense is wat verantwoordelikheid neem en die korrupsie aanspreek?

Dis nie ʼn maklike reis nie. Maar as ons in ons eie tuintjies selfsugtig wat ons het vir onsself hou, is daar ook geen toekoms nie.

Word deel van God se waterwiel.

Amen.

Jurgens Hendriks

18 Aug 2019. hjh@sun.ac.za. 073 772 6706.

1Richard Rohr’s Daily Meditation, From the Center for Action and Contemplation, Unity and Diversity, 8 June 2019.

2Henri J.M. Nouwen, In the Name of Jesus: Reflections on Christian Leadership(New York, Crossroads, 1989).

3Twee boeke wat vir my baie beteken het om Filippense 2 te verstaan is: Gorman, M.J., 2009, Inhabitating the cruciform God, kenosis, justification and theosisin Paul’s narrative soteriology, Eerdmans,Grand Rapids; Hellerman, J.H., 2013, Embracing shared ministry. Power and status in the early church and why it matters today, Kregel, Grand Rapids.





Brood van die lewe?

23 09 2018

KosDie Jode se mae is lekker vol geëet vroeër in Johannes 6. Maar vandat dit gebeur het en hulle Jesus in Kapernaum opgespoor het (Joh 6:41-51), kan hulle nie – wil hulle nie? – die betekenis van Jesus as Brood van die Lewe verstaan nie (Joh 6:35). Of dalk verstaan hulle dit goed, maar wil dit nie aanvaar nie!

Tekens en wonders bly maar moeilik. Iets wat ons sukkel om ons koppe om te kry, maar blykbaar ook die mense van Jesus se tyd. Solank ‘n teken inpas met wat hulle dink of hulle bevoordeel, is als reg. Maar moet tog nie probeer om dit wat hulle dink probeer verander nie – Wie dink hierdie seun van Josef en Maria is Hy in elk geval!

Tog doen Jesus die moeite om te verduidelik, soos op soveel ander plekke in die evangelies. Gee vir ons brood. Gee vir my water. Moet ek weer uit my moeder uit gebore word? En elke keer verduidelik Jesus, weer en weer. En Hy doen dit, want Hy besef dat die konteks, ALLES wat die mense gedink het hulle weet, alles het verander. God gee nie meer daaglikse manna wat vrot raak as jy dit opgaar nie. Die Brood van die Lewe loop en sweet en praat en eet en genees en doen tekens hier op aarde voor hulle oë.

Maar nie net weet Hy die hele denkraamwerk, die hele konteks waarmee die mense grootgeword het, het radikaal verander nie, maar Hy ken ook ons natuur, ons manier van dink. As iets voor ons neuse gebeur waarvan ons nie hou nie sal ons dit ignoreer of ontken. Hy weet ons hou nie van goed wat ons rus versteur nie. Hy weet ons sal altyd die maklike pad kies teenoor die moeilike.

Hy sien ook ons vrese. Vrees vir foute maak. Vrees dat ons die verkeerde keuse maak. Vrees om ons keuses teenoor ander te moet verdedig.

Daarom dat Hy weer en weer verduidelik. En wat is dit wat Hy sê? Hy kom bied Homself aan: “Ek is die brood van die lewe” (Joh6:48 Direkte Vertaling). Hy kom daardeur en bied ‘n verhouding met Homself en met God aan. Johannes 6:29 : “Dít is die werk van God: Dat julle glo in die Een wat Hy gestuur het.” Jesus en God, onskeibaar, in verhouding met mekaar en met ons.

Wat meer kan ons vra! Maar dan weet ons verhoudings is nie altyd sonder probleme nie – verhoudings vra vertroue! En dit is waaroor dit gaan om te glo in Jesus, om Jesus en God te vertrou. Op Sy woord te neem.

Maklik sal dit nooit wees nie! Tot die dissipels het erg daarmee gesukkel. (Joh 6:60 DV) “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” En dan lees ons in Joh 6:66 “Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie”

Selfs vir diegene wat gesien het hoe Hy die tekens doen, was dit te veel gevra. Maar daar was tog sommiges, soos Petrus wat so pragtig bely in Joh 6:68: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.”

Petrus het raakgesien dat die tekens nie maar net foefies of vermaak was nie. Dit was ‘n sigbare teken van God se werk in die wêreld deur Jesus Christus. Hy het die genade ontvang om te glo, om God te vertrou vir dit wat Hy deur Jesus doen. En dit kan ek en jy ook doen, want na wie anders sal ons gaan? “U het die woorde van die ewige lewe.” Hy is die brood van die lewe.

Met erkenning aan workingpreacher.org





“There’s a crack in everything”

16 09 2018

2143482916_8246798fea“As ons tog maar net vleis gehad het om te eet” (Numeri 11:4). Klink na ‘n heel redelike versoek of hoe? – Veral vir ‘n Suid-Afrikaner! En as ‘n mens honger is, is dit ook iets redelik om te vra.

As ons egter na die wyer gedeelte kyk sien ons dat hulle nie honger was nie, inteendeel, elke dag het die Here manna voorsien. Hulle hoef nie te geplant het nie, nee, elke dag kon hulle maar net die manna optel. Volgens die Bybel was dit heel lekker ook, met ‘n soeterige smaak.

Soos die ou Afrikaanse spreekwoord sê: “Dis nou kla met ‘n witbrood onder die arm!” Hulle het genoeg gehad om te eet. Hulle hoef nie eers te gewerk het daarvoor nie. Tog was dit nie genoeg nie.

Dan lyk dit asof die Here nou vir eers genoeg gehad het van hierdie kermende volk (Numeri 11:18-23). Van hierdie klomp wat soos bedorwe kinders optree. Julle wil vleis hê? Julle sal vleis kry, genoeg dat dit by julle ore uitkom! En selfs die leier, Moses, is so half ongelowig. “Al die visse in die “ sal nie genoeg wees nie! Maar die Here bly by wat Hy belowe het – “Is die Here se hand te kort?” (DV) ““Dink jy Ek het nie die mag nie?” (‘83 Afr)

En dan gebeur wat die Here belowe het. Kwartels word deur die wind ingewaai oor die kamp, en “die een wat die minste gehad het, het tien gomer bymekaargemaak” (:32 DV) Dit is omtrent 22,000liter vleis, ‘n dieseltenk vol!

Tot dusver die Bybel, nou wat sê dit vir ons vandag? Ons maak tog nie manna bymekaar nie, ons werk hard vir ons geld!

Ek hoor die teks oor ‘n paar goed praat:

  • God voorsien mildelik
  • Ons twyfel, tog sorg God
  • Ons hunker terug na wat ons as die “goeie ou dae” sien, tog is vandag die “goeie ou dae!”

Dit is net vreemd hoe God genade op genade uitstort. Die volk verwyt God, Hy betoon genade en voed hulle deur ‘n wonderwerk. En is dit nie maar waar nou ook nie? Daar is baie roeringe, baie onrustigheid. Wêreldwyd krap politici om en gewone mense betaal daarvoor. By ons loop politieke uitsprake uit op aanvalle en onverdraagsaamheid, op onrustigheid, op ‘n terug hunker na die “goeie ou dae”.

Wat is die rol van ‘n Christen in sulke tye? Praat ons saam oor ‘n onsekere toekoms? Lei ons negatiwiteit tot verdere onverdraagsaamheid tussen mense? Of leef ons vanuit die wete dat die Here se hand nie te kort is nie? Dat ten spyte van wat ons tref, wat se rampe en ellende daar ookal oor ons kom, ons die Here volg wat belowe het “Ek is by julle al die dae tot die einde van die wêreld.”

Want ook Jesus het nie net vrede en voorspoed belowe nie, inteendeel Hy het gewaarsku dat daar vervolging en teenkanting sal wees.

Ten spyte daarvan weet ons dat elke dag ‘n stuk genade uit God se hand is. Genade waarvoor ons maar net kan dankie sê. Leonard Cohen sing (The Anthem) en sê “”There is a crack, a crack in everything/ That’s how the light gets in.” Die beeldhouer Francois Wessels vat dit verder en sê dis ook hoe God se lig deur ons na buite skyn!

Niks is perfek nie, nie die wêreld nie en ook nie ons nie. Maar as ek my krake erken is daar ruimte vir God se genade in my lewe. En kan daardie genade weer deur my krake met ander praat.

Dink ek alles moet net perfek wees, na my smaak, tot my voordeel? Dan is ek met die Jode van Moses se tyd. God wil veel eerder deur my onvermoë sy genade op ander laat skyn – dit is waarvoor Jesus ons gereedmaak, dis waarvoor ek en jy in SA is in 2018.





Wat is ‘n “geestelike lewe”?

9 09 2018

3222_mising-yers-jesus-5_05320299Wat beteken dit om ‘n geestelike lewe te lei?

Is dit om te bid? Om Bybel te lees? Om vergewensgesind te leef? Om goed te doen? Om armes by te staan? Om vir geregtigheid te werk? Om God te sien in ‘n mooi sonsondergang? Om goeie tye saam met ons familie deur te bring?

Die twaalf dissipels het hard gewerk vir Jesus. Mark 6:7-13 lees ons hoe Jesus hulle uitgestuur het. In Mark 6:30-34 kom hulle terug, uitgeput van die “goeie dinge” wat hulle gedoen het. Soveel so dat Jesus sien dat hulle rus nodig het en vir hulle sê: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.” (6:31b)

Soms dink ons ‘n geestelike lewe is om ons dood te werk vir Jesus, of, aan die ander kant, om God net te sien in die dinge wat ons geniet. Albei kan tog nie waar wees nie?

Eintlik gaan dit oor of ons God se stem volg of die kultuur van die dag. ‘n Voorbeeld is die verskil tussen die sogenaamde “Baby Boomers” en “Millenials”. Dis nou diegene wat so 54-72 jaar oud is en die wat so 22-37 jaar oud is. Die “Baby Boomers” het geglo aan hard werk, die “regte” ding doen, inpas in die samelewing. Dit het op ‘n sekere manier tot ‘n selfsugtigheid gelei wanneer werk voor en bo alles gekom het. Die “Millenials” werk ook hard, maar nie terwille van die werk nie, om tyd en geld te hê om aan hulself te spandeer. Die “regte” ding vir hulle is wat hulle aanspreek, die samelewing tel nie regtig nie. Hulle wil “geestelik” wees op hulle eie terme. So elkeen van die geslagte kan goed en reg lewe, kan “geestelik” lewe, maar is dit die kultuur of God se stem?

Jesus sien dit wat die dissipels doen, Hy is bewus dat hulle maar ook in hulle tyd deur die kultuur gedruk en stoot word. Hoe dit maklik is om maar net “geestelike” goed te doen ter wille van die doen, maar dit gaan nie dieper nie. Daarom dat Jesus hulle uitnooi na ‘n “stil plek” toe, letterlik, na die woestyn toe, na ‘n onbewoonde, bar gedeelte. Daar, nie op die “groen weivelde” nie, wil Jesus hulle batterye herlaai.

Hoekom dan juis die woestyn, wat is so spesiaal daaraan? In Jesus se terme is dit die plek waar die gejaagdheid agtergelaat kan word om in Sy teenwoordigheid te wees. Daar waar die skedules, kalenders, selfone, eposse en als nie ons dag bepaal nie, maar die teenwoordigheid van Jesus.

Die wêreld waarin ons leef is ‘n deurmekaar plek wat ons ook deurmekaar maak. Ons sien Kimberley wat brand. Ons sien plaasaanvalle en aanrandings. Ons sien hoe die Franse hulle nasionale dag vier met 850 karre wat in een nag uitgebrand word en Parys die wêreldbeker oorwinning vier deurdat talle winkels geplunder word. Regoor die wêreld sien ons geweld, armoede, uitbuiting, korrupsie, misdaad. Ons sien oseane wat verswelg onder plastiek. Ons sien… ons hoor… Alles dinge wat ons omkrap, bang en kwaad maak, magteloos laat voel. Hoe maak ‘n Christen ‘n verskil in hierdie wêreld?

Jesus sê dat om ‘n verskil te kan maak moet ons tyd saam met Hom spandeer. Slegs dit gee vir ons die perspektief om weer na die wêreld deur Sy oë te kyk, en nie deur ons kultuur se oë nie. Alles wat ons doen is geestelik, tog moet ons ook spesifieke tye maak om saam met Jesus stil te raak. Om te leer om in afhanklikheid van Hom te leef, nie net afhanklik van ons eie harde werk en planne nie. Ons moet soms die “pause” knoppie op ons lewens druk, aandag skenk aan ons gesondheid, gemoed, verhouding met Hom. Dan kan alles geestelik en tot Sy eer wees! My werk, my stiltetyd, my familietyd, my tyd in die erediens, my ontspanning, my hele lewe.

Verw: https://www.thelocal.fr/20180715/looters-clashes-with-police-and-road-accidents-mar-french-world-cup-party

https://www.thelocal.fr/20180716/850-cars-torched-across-france-on-bastille-day-weekend





Wat is die wonder?

26 08 2018

IMG_7829_2983758218.JPGDaar is nood in die land. ‘n Groot droogte en hongersnood. Die hele 2 Konings 4 gaan oor verskillende maniere waarop God voorsien in die nood. Olie vir die weduwee, ‘n seun vir die Sunemmitiese vrou, toe die opwekking vn die seun uit die dood, die giftige bredie wat eetbaar gemaak word, en nou die vermeerdering van brood. Verskillend, maar met een draad wat deurloop, die Here voorsien.

Anders as die ander verhale in hoofstuk 4 begin dié een in verse 42-44 nie met nood of skaarste nie. Dit begin met vrygewigheid. ‘n Man bring 20 garsbrode en koringare as eerste vrugte uit dankbaarheid na die profeet toe. Dit is ruim! Mens kan amper die vars gebakte brood ruik! Wat ‘n dankbaarheidsgeskenk!

Dan is daar dadelik ‘n tweede verbasende daad van vrygewigheid – Elisa sê: “Gee dit vir die mense om te eet.” Daar is nie eers ‘n aanduiding dat hy iets vir homself oorhou nie.

Dan verander die prentjie skielik! Die ruim, amper oordadige, geskenk lyk effentjies in die oë van sy slaaf wanneer hy kyk na die hoeveelheid mense wat moet kos kry! Skielik is daar skaarste! 100 mans was net ‘n manier om te sê “Baie mense”. En teenoor die baie mense lyk die broodjies maar min.

Daar is niks vreemds of magies aan die geskenk wat hier gegee is nie. Dit is doodgewone brood volgens ‘n doodgewone gebruik dat van die eerste vrugte, die eerste oes, aan die Here geskenk word. Dit is ‘n erkenning dat die grond en die opbrengs daarvan aan die Here behoort. Dit het gedien as herinnering daaraan dat die Here voorsien en het gehelp om selfsugtigheid en hebsug te bekamp.

Die geskenk en Elisa se aangee daarvan aan die dorpie se mense beteken dat die mense eintlik kan smul aan die Here se maaltyd! En wat ‘n maaltyd was dit nie!

In ‘n tyd van hongersnood kry een man ‘n seëning van ‘n goeie oes. Hy dank God deur van dit aan Elisa te skenk. Elisa deel dit uit aan die dorpie en God maak die geskenk oorvloedig – daar bly selfs oor! Die bron van die oorvloed is die Here wat deur een persoon se vrygewigheid ‘n hele dorp seën!

Wat is nou die wonderwerk hier? Die feit dat die brood wonderbaarlik meer mense kon voed as wat dit geblyk het? Of dalk die feit dat een persoon nie net aan homself gedink het nie, maar die Here wou dank vir sy goeie oes?

Wat ookal die grootste wonder is,

– dit begin by God wat die oes laat inkom,

– dit word voortgesit deur ‘n dankbare gewer,

– die ontvanger deel dit met almal

– en God laat dit oorvloedig seën!

So word die hele gemeenskap deel van God se Heilige maal. En is dit nie maar net die manier wat ons elkeen elke dag moet leef nie? Uit die gewone wonder van kos op die tafel en ‘n dak oor die kop bewus wees van God se voorsiening. Om so gevoed te word is om in God se teenwoordigheid te wees.





Genesis 2 – Rus?

12 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Genesis 2:2 :”Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.”

Rus. Rustig. Rus en vrede. Rus ‘n bietjie. Is dit nie baiemaal ons versugting nie? Ek onthou nog een van my proffies wat gesê het vakansie is ‘n tyd van rus, ‘n tyd van lê!

Baiemaal kyk ons na die einde van die eerste skeppingsverhaal en sien dat God gerus het, en dink dan dat God OPGEHOU het om iets te doen, dat God nou die skepping gelos het om op sy eie aan te gaan. In ons kultuur is dit ‘n gedagte wat sterk leef. Daar is ‘n gedagte wat al van die tyd van Isaac Newton en René Decartes kom dat God die wêreld gemaak en aan die gang gesit het soos ‘n horlosiemaker. Nou loop als maar op sy eie voort. God RUS nou, sit nou maar en hou die wêreld net dop. ‘n Gedagte wat uitgebeeld word in Bette Midler se liedjie – “God is watching us from a distance”.

Gelukkig is dit ‘n heel verkeerde verstaan van Gen 2:1-4! Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n voorbeeld. As jy verhuis, trek, is daar ‘n klomp goed wat gebeur.  Dis inpak, bokse orals. Wanneer jy by die nuwe woning aankom is dit chaos. Daar is bokse orals, dit voel dat jy nooit klaarkry met uitpak, met wegpak nie. As als uiteindelik klaar is, sit jy nie net nie. Jy begin funksioneer in die huis. En dit is die beeld van Genesis 1-2, van die eerste skeppingsverhaal.

God het orde geskep, God het alles op plek gestel om te funksioneer, en nou funksioneer God binne Sy skepping.

Hierdie selfde beeld kry ons in Jesus se woorde. In Matt 11:28 sê Hy: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Nie ‘n rus om agteroor te sit en niks te doen nie, maar ‘n rus waarin ons tyd en geleentheid het om tot Sy eer te leef. Ook die skrywer van Hebreërs 4 sien die Sabbats-rus wat op gelowiges wag as ‘n geskenk van God, ‘n tyd waarin ons Hom kan loof en eer. En al die voorbeelde bou op die manier waarop Eksodus na Gen 2:1-4 kyk. Na die slawerny in Egipte, waar daar geen rus was nie, word die 7de dag as rusdag ingestel. NIE as ‘n straf of selfs ‘n bevel nie, maar as ‘n GESKENK. Jy wat 350 jaar lank nooit rus geken het nie, kry nou ‘n dag waarop jy rus van jou normale taak en jouself opnuut kan wy aan God. Dat jy kan funksioneer soos God jou geskep het, as Sy verteenwoordiger.

Vir die ander volke van die Ou Nabye Ooste, soos die Babeloniërs, was rus net iets wat die gode toegekom het. En hulle het dit gekry omdat die mense hulle moes dien soos slawe.

Die beeld van die Bybel is TOTAAL anders! God skenk aan ons Sy rus. Wanneer ons dan hierdie rus wat God skenk geniet, is dit beide ‘n teken dat God vir ons sorg (want ons hoef nie altyd te werk nie) en dit is ‘n getuienis van God se versorging, genade en liefde. Van hoe God nog steeds funksioneer binne Sy skepping.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”