Rut 1 – Is alles hopeloos?

17 01 2021

‘n Nuwe jaar, maar nog baie van die ou jaar se probleme! Vanoggend kyk ons na Naomi se ervaring in Rut 1. Lees gerus saam met my! Ek gebruik die 2020 Afrikaanse vertaling.

Die audio weergawe van die oordenking is as potgooi by Anchor, Apple Podcasts en Spotify beskikbaar.

Die Video weergawe van die oordenking is op ons gemeente se YouTube kanaal. Die nuutste oordenking is altyd heel eerste, maar almal sedert die begin van grendeltyd is hier beskikbaar. 

Die teks van die oordenking volg hieronder. Lekker dag!

Rut 1:1-22

Wat ‘n jaar het ons agter die rug! En, hoe lyk 2021 nou? Sover begin dit “interessant”… Op mediese gebied raak die pandemie nou baie van ons direk met nie net vriende nie, maar ook familie wat siek raak. Op politieke gebied is dit asof die chaos wêreldwyd net nie wil ophou nie – van Amerika deur Engeland en Frankryk, Hong Kong tot hier plaaslik by ons! Die Mediese Navorsingsraad sê dat daar vanaf 6 Mei tot 29 Desember 2020 byna 72,000 MEER mense as die 5 jaar gemiddelde aan alle oorsake dood is.

‘Dit is ‘n tyd waarin meer as een van ons soos Naomi wil sê dat ons nie meer so genoem wil word nie, maar eerder “Mara” – bitter! Ek luister juis Vrydagoggend na ‘n persoon wat op RSG vertel hoe sy haar pa, ma en suster aan Covid afgestaan het. Hoe troos mens so iemand?

En dan klink dit asof die pandemie nog vir sommige mense die minste van hulle probleme is – daar isdie verloor van werk, finansiële probleme, verhoudingsprobleme, baie mense voel werklik hopeloos in hierdie tyd.

Waar vind ons God in hierdie tyd? Hoe sien ek God raak as dinge rondom my in duie stort? Hoe tree ek op as dit voel asof God weg is, asof ons maar self moet sien en kom klaar? Waar sien ek God se lig in hierdie tyd van Epifanie, ‘n tyd van vreugde omdat Jesus as Lig van die wêreld openbaar word.

In ons teks vanoggend het ons gelees van iemand wie se hele wêreld ook in duie gestort het. Eers is daar hongersnood by haar huis in Betlehem, dan trek hulle Moab toe, bly vir 10 jaar daar, die seuns trou in die tyd met twee Moabitiese vroue. Maar in die tyd sterf haar man en twee seuns! Vir ‘n weduwee sonder ‘n manlike familielid in daardie kultuur is sake al klaar moeilik, en dan nog in ‘n vreemde land ook!

So, Naomi besluit om terug te gaan Betlehem toe, aangesien sy gehoor het dat die hongersnood verby is. Sy probeer haar twee Moabietiese skoondogters, Rut en Orpa oortuig om liewer by hulle families te bly – wat het sy as weduwee tog om hulle aan te bied? Sy bid hulle eerder die Here se “gesed” toe – Sy betroubare liefde en lojaliteit. Ons ken dan die verhaal van hoe Rut tog aandring om saam met Naomi Betlehem toe te gaan. Orpa doen wat Naomi vra, Rut weier en trek liewer saam met haar terug. Naomi wil haar wegstuur met God se “gesed”, maar Rut betoon “gesed” deur Naomi te ondersteun en by te staan!

Naomi wil eintlik nie nog die las van ‘n skoondogter hê nie, sy is in pyn met ‘n onseker toekoms! En pyn is iets wat moeilik is om te deel. Ook ons praat maar moeilik oor ons pyn. Ons bêre dit diep weg en ploeter voort – maar die pyn verdwyn nie! 

En dit beïnvloed ons verhoudinge met mekaar, maar ook met God. Naomi is bitter, blameer God vir alles wat verkeerd geloop het. Ironies genoeg besluit sy om terug te keer Betlehem toe, want God het na Sy volk omgesien! Dit terwyl sy voel Hy sien nie na haar om nie.

Wat maak mens van so ‘n hopelose – tot op hierdie punt! – verhaal as ons self voel ons sit in hopelose situasies?

In hierdie hopelose situasie is daar tog iemand wat omgee, iemand wat weier om haar te los – Rut. Rut wys hoe lyk “gesed” in praktyk, wys hoe omgee en liefde lyk. Deur Rut word iets van God se “gesed” vir Naomi gewys, maar haar pyn maak haar blind en sy sien dit nie raak nie. Tog hou Rut nie op nie, tog los Rut haar nie alleen nie. Rut is, soos Tessa van Avila in die Middeleeue gesê het, God se hande en voete vir Naomi.

Pyn en hartseer isoleer ons, maak ons alleen. Ons het elkeen ‘n Rut in die lewe nodig wat, ten spyte daarvan as ons hulle wegstoot, aanhou om God se “gesed” uit te leef teenoor ons. En meer as dit! Ons het nodig om dalk iemand anders se Rut te wees! Om vir hulle te wys hoe lyk God se lojale liefde, God se omgee en versorging prakties te maak in ander se lewens. En ons kan dit doen, want God het Sy “gesed” by uitstek vir ons kom wys, kom leef, in Jesus – Immanuel – God met ons. Jesus, God self, het God se hande en voete vir ons geword.

Mag elkeen van ONS vanjaar onthou dat die Here na ons omsien (1:6)! En mag ONS vanjaar iets van daardie sorg vir ander wys! Mag ons God se “gesed” vir mekaar uitleef!





Jes 49:8-16 – Wanneer dit voel asof God nie hoor nie.

16 11 2020

Gister het ek ‘n ruskans gehad en ds Delmarie Viljoen van Queenstown het die diens in Stutterheim gelei.

Die verwerkte weergawe van gister se diens deur ds Delmarie Viljoen as video en audio alleen.

Lekker luister en kyk!’n Besonderse boodskap.





Josua 24:1-25 – En jy?

9 11 2020

Vandag se teks is Josua 24. Een van die bekende tekste in hierdie gedeelte is vers 15b: “Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”

Die Video weergawe van die oordenking is op ons gemeente se YouTube kanaal. Die nuutste oordenking is altyd heel eerste, maar almal sedert die begin van grendeltyd is hier beskikbaar. 

Die audio weergawe van die oordenking is by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

Die teks: Josua 24:1-3, 14-25

Die Israeliete het uiteindelik na baie jare in die woestyn in die land gekom waarvan hulle gedroom het. Hulle hoef nie meer vir water te soek nie. Hulle hoef nie meer in tente te lewe nie. Hulle hoef nie meer manna te eet nie, maar kan nou genoeg hê van allerhande kos, melk en heuning, soos die Bybel dit vir ons vertel.

Maar, die Israeliete het die gevaar geloop dat hulle kon vergeet wat God hulle geleer het, en net kon doen wat die ander volke in Kanaän doen. Want dié volke het afgode gedien, en slegte goed gedoen, selfs soms hulle kinders geoffer.

Direkte 2020 vertaling:

1 Josua het al die stamme van Israel in Sigem byeen laat kom. Hy het die oudstes van Israel, hulle hoofde, hulle regters en regsbeamptes opgeroep, en hulle het in die teenwoordigheid van God gaan staan.

2 Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Anderkant die Rivieri het julle voorvaders in die verre verlede gewoon — Tera, die vader van Abraham en Nahor — en hulle het ander gode gedien. 3 Maar Ek het julle voorvader Abraham van anderkant die Rivier af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek.

14 “Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die HERE; dien Hom met opregtheid en getrouheid. Verwyder die gode wat julle vaders anderkant die Rivier en in Egipte gedien het, en dien die HERE. 15 As julle dit egter nie goedvind om die HERE te dien nie, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”

16 Hierop het die volk geantwoord en gesê: “Nooit sal ons eers daaraan dink om die HERE te verlaat deur ander gode te dien nie; 17 want die HERE ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. 18 Die HERE het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die HERE dien, want Hy is ons God.”

19 Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle sal nie in staat wees om die HERE te dien nie, want Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n besitlike God, Hy sal nie julle oortreding en sondes vergewe nie. 20 As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en ‘n einde aan julle maak, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” 21 Toe sê die volk vir Josua: “Nee, maar ons sal net die HERE dien!” 22 Daarop sê Josua vir die volk: “Julle is getuies teen julleself dat julle self die HERE vir julle gekies het om te dien.” Hulle het geantwoord: “Ons is getuies.”

23 “Verwyder dan nou die vreemde gode in julle midde en rig julle harte op die HERE, die God van Israel.” 24 Toe sê die volk vir Josua: “Ons sal net die HERE ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.”

25 Josua het op daardie dag namens die volk ‘n verbond gesluit en vir hulle vaste voorskrifte en bepalings neergelê in Sigem. 

(Nota in Direkte Vertaling: :19 – besitlike God = Die woorde in die bronteks verwys daarna dat God hom hartstogtelik beywer vir sy kinders)

Verlede week het ons gehoor hoe die Israeliete 12 klippe uit die Jordaan moes neem en as gedenkteken opstapel om te onthou hoe God hulle deur die Jordaan gelei het. Nou is hulle deur die Jordaan en die beloofde land is hulle s’n. Nou moet hulle weer ‘n teken oprig om te onthou wat God vir hulle gedoen het. 

Nou is dit asof die groot bord voor hulle staan: “Bestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.” Die landsbelofte is vervul. Die nageslag is gewaarborg. Die land is in besit geneem, die vyande verslaan. Soos Josua sê: “Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom …. nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie” (21:45; 23:14).

Dit is nie net ‘n bestemming wat bereik is nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voetspore van God in hulle reis tot hier, in hul geskiedenis te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit het lank geneem — geslagte — maar God het gedoen wat Hy belowe het. 

Miskien is dit tyd om te dink oor die voetspore van God in ons lewe. Ons kan die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.

Josua maak dit nou duidelik dat dit nie die einde is nie, maar die begin. Wanneer God aan ons gegee het wat ons nodig het, wat Hy belowe het, is daar ‘n groot gevaar. Ons mag dink ons het hierdie gawe vir ewig, ons kan nou doen soos ons wil. 

God se boodskap is dat ‘n fase afgehandel is, maar nou (:14) moet hulle leef vanuit dit wat gebeur het: “ julle moet ontsag hê vir die HERE; dien Hom met opregtheid en getrouheid.

Die volk het, ten spyte van Josua se twyfel oor hulle verbintenis, besluit om die Here te dien (24:15-24). Vir Josua is dit duidelik dat die vrede van God, die werklike bestemming, slegs bereik word as ons ‘n keuse maak om die pad met God te stap. Hy en sy huis het hierdie pad gekies. Nou besluit die volk ook om dit te doen. Dit doen hulle ‘n paar maal: “Ons sal die Here ons God dien en aan Hom gehoorsaam wees!”

En dan lees ons in die geskiedenis hoe hulle telkemale weer afgedwaal het, hoe hulle hulle belofte vergeet het. Totdat ons in die Nuwe Testament lees hoe Christus namens hulle daardie belofte kom vervul het. Paulus skryf: “Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak” (Rom 15:8). 

Ons wil graag die beloftes van die Here vir onsself toe-eien, maar is ons bereid om die implikasies daarvan vir ons lewe te aanvaar? Daar is waarskynlik nie een persoon wat in die kerk sit wat nog nie gehoor het dat Jesus Christus die Verlosser van die wêreld is en dat Hy die dood oorwin het nie. Die meeste mense sal sê hulle glo dit. 

Om God se beloftes te hoor en daaroor na te dink, beteken niks as dit nie tot dissipelskap lei nie. Josua het sy mense behoorlik laat besef hulle moet twee maal dink wanneer hulle sê hulle dien die Here. Dit is wat Jesus ook in Lukas 14:25-33 sê, naamlik dat dissipelskap vra om koste te bereken. Daarom daag hierdie gedeelte ons uit om weer oor ons verbintenis aan God aandag te gee. As ons ons verwonder oor God se genade in Christus, sal ons sy genade eer deur Hom lief te hê, te dien en na sy stem te luister. Daarom is hertoewyding vandag nodig!





Eksodus 20:1-20 – Wie God is

4 10 2020

Van vandag af is ons weer terug in die fisiese erediens in ons kerkgeboue. Hierdie blog sal dus eers verskyn nadat die Facebook Live Stream verwerk is en opgelaai is op YouTube. Dankie dat jy hier volg!!

Die teks vir vandag is Eksodus 20:1-20

Die Video weergawe van die oordenking is op ons gemeente se YouTube kanaal. Die nuutste oordenking is altyd heel eerste, maar almal sedert die begin van grendeltyd is hier beskikbaar. 

Die audio weergawe van die oordenking is by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

Die Teks: Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20

Direkte Vertaling:

1 Toe het God al hierdie woorde gespreek:

2 “Ek is die HERE jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek

van slawerny, uitgelei het.

3 Jy mag naas My nie ander gode hê nie.

4 Jy mag nie vir jou ‘n gesnede beeld maak nie — enige

afbeelding van wat in die hemelruim daar bo, of op die aarde hier onder, of in die water onder die aarde is nie. 

7 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie misbruik nie, want die HERE sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie.

8 Gedenk die Sabbatdag deur dit heilig te hou. 9 Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet

12 Behandel jou vader en jou moeder met eerbied, sodat jy lank kan leef op die grond wat die HERE jou God vir jou gaan gee.

13 Jy mag nie moord pleeg nie.

14 Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

15 Jy mag nie steel nie.

16 Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.

17 Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy mag ook nie jou

naaste se vrou begeer nie.”

18 Toe die hele volk die donderslae hoor en die weerlig sien, asook die

geluid van die ramshoring, en die berg wat rook, was hulle bang en het gebewe. Hulle het op ‘n afstand bly staan 19 en vir Moses gesê: “Praat u met ons, en ons sal luister. Maar God moet nie met ons praat nie, sodat ons nie sterf nie.” 20 Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie, want dit is om julle te toets dat God gekom het, sodat die ontsag vir Hom deel van julle lewe sal wees en julle nie sondig nie.”

Eksodus 20 staan in die hart van ons verstaan oor wie God is en wie ons is. Hierdie hoofstuk is nie net geskiedenis of die notule van ‘n antieke vergadering nie. Ons kan as’t ware in die verhaal inklim as deelnemers. Dit is ons wat daar by Sinaiberg staan en na God se woorde luister. Ons is karakters in die verhaal. Dit is ons wat God in hierdie gebeure beter leer ken. Dit is ons wat beter leer verstaan wie ons is. Dit is nie net God en Moses wat hier in gesprek is nie. Dit is God en elke dissipel van Jesus. 

Die Here God is die hoofkarakter in Eksodus 20. As verteller van Eksodus 20, openbaar die Here in die vertelling sy hart vir die volk. Dit is ‘n hart vol barmhartigheid, liefde, omgee, solidariteit, genade, goedheid, moederlike ontferming en ‘n gevoel van jammerte!

God se hart kom helder na vore in 20:6 se woorde: “maar troue liefde bewys aan duisende”. Daarom skryf die groot teoloog Karl Barth: “The personal God has a heart.” 

Ons ontmoet God se selfbekendstelling, God se hart, reeds in die eerste woorde van hoofstuk 20: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”

God se liefde, sorg en trou het reeds ‘n geskiedenis, ‘n rekord, ‘n spoor. Mens kan terugkyk in die geskiedenis en God se sorg raaksien. Daarom kan jy God se woorde in die hede ernstig neem, en op God vertrou vir die toekoms. 

Ons is ook in die teks. Ons is die gemeente wat deur God verlos is en wat God se bevryding beleef het. Ons as die verloste gemeente word in die tien gebooie opgeroep om God se voorbeeld na te volg en met barmhartigheid teenoor mekaar te leef. Die Here se liefde, barmhartigheid en sy omgee, moet die patroon word vir ons lewe met Hom, vir ‘n omgee-lewe van sorg vir mekaar en vreemdelinge.

Hierdie verhaal hou natuurlik nie op by die Sinai berg nie. Dit loop deur die 40 jaar in die woestyn, deur die intog in die beloofde land, selfs deur Israel se ongehoorsaamheid en die ballingskap deur. Dan bereik dit sy hoogtepunt in Jesus Christus se barmhartigheid wat God se hart op ‘n dieper vlak openbaar. Die God-met-Israelverhale bereik ‘n hoogtepunt in die groot Immanuel. Jesus. Hy is die stem en gestalte van die Vader (Joh 5:37) wat die Vader se hart in die genesings, vergifnis, heling en voeding van die hongeriges openbaar. Jesus huil saam met dié wat verlies ervaar. Hy voel jammer vir die skare wat soos ‘n kudde is wat geen herder het nie. Hy bevry vroue uit die kultuur van onderdrukking. 

Aan die kerk sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle.” Eksodus 20 se gebooie van “nie doodslaan nie”, “nie egbreuk nie”, “nie steel nie”, “geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie”, “nie jou naaste se huis …. vrou begeer nie”, dui op die “mekaar”-spiritualiteit, ‘n sorg-spiritualiteit, ‘n respek-spiritualiteit, ‘n spiritualiteit van erken-mekaar-se-waardigheid. Ons word nou nog geroep om die 10 gebooie uit te leef in ons liefde vir die naaste en vir God.

Ons as gelowiges se lewe in gemeenskap met God moet gesien word in die gemeenskap met die gemeentelede en die nood om hulle. Juis hier moet die Vader se opsoekende liefde in ons verantwoordelikheid “teenoor mekaar” sigbaar word in donker dae van lyding, in winterdae van onreg, in die woestyne van wanhoop en beproewing. 

Die Kerk moet die evangelie leef en wees, dit heel tasbaar doen deur om te sien na die weduwees en die wese en die armes en die vreemdelinge. Daartoe het die kerk volmag. Daarvoor is hy gestuur en kan hy sê: Die Gees van die Here is op my …”

Ja, in Eksodus 20 sien ons Wie God is en hoe God optree. Ons sien ook wie ons as volgelinge van God is, en hoe ons moet optree. Ons is geroep om Christus na te volg en God se gebooie uit te leef.





Eksodus 17:1-7 – Wat verwag jy?

27 09 2020

Goeiemôre! Lekker om weer saam met julle te wees!

Wat verwag jy van God nou dat dinge so bietjie verander? Ons dink na daaroor vanoggend.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en kom ons deel saam in die Woord vanoggend.

Die teksgedeelte wat gebruik word is Eksodus 17:1-7

‘n Lied om voor die tyd mee rustig te word. Luister beslis verder as 1min 30 sek! 

In die eerste 1 minuut van hierdie video word die teks vir kinders met prentjies voorgelees uit die Engelse Bybel.

Die Video weergawe van die oordenking is op ons gemeente se YouTube kanaal. Die nuutste oordenking is altyd heel eerste, maar almal sedert die begin van grendeltyd is hier beskikbaar. 

Die audio alleen weergawe van die oordenking is by Anchor, Apple Podcasts en Spotify.

‘n Lied vir na die tyd waarmee ons antwoord op die teks.

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

Die Teks: Eksodus 17:1-7

Ons is so gewoond aan die woestynstories waar die volk wat “murmureer” al vir ons tipies van Israel geword het. Ons maak dit sommer af as ongeloof. Ons het juis verlede week na so ‘n verhaal geluister toe God geantwoord het met manna en kwartels.

Wat hier gebeur is egter veel méér. Miskien dal dit baat om die teks met verbeelding te lees, om jou die hitte, dors en vrees oor jou kinders en vee te verbeel. Ons is nog so aan die einde (hoop ons!) van ‘n droogte, en ons kan ons die geblêr van skape indink. Maar die volk “moan” nie net nie. Hulle plaas Moses in die beskuldigdebank. Dit is ‘n regsklag wat hulle aanhangig maak. Dit is ‘n regsaak oor beloftes wat nie realiseer nie, oor hulle leier wat nie omgee nie. Aldus is dit ‘n saak teen God.

Die vraag of die Here by ons is of nie, is nie ‘n filosofiese vraag gebore uit tye van nadenke, worsteling of selfs die luukse van blote wonder nie. Nee, in Eksodus 17 kom dit op vanuit akute dors en vrees. Dit is die raakpunt met ons eie lewe. Akute vrees en onsekerheid, met die gevoel van God se onvermoë (in ons eie oë) om sy bystand en teenwoordigheid sigbaar te verseker en te bewys.

Juis in die tyd wat Covid-19 oor die hele wêreld gespoel het, kon mens jou iets van Israel se nood verbeel. Terwyl vriende en kennisse siek word en selfs sterf wonder mens waar is God? Waarom gryp God nie in nie? Hoeveel van ons het al die staat se hantering van die pandemie bevraagteken – die regulasies het verskuilde motiewe, die staat wil net beheer, ensovoorts! Hier word nie net die staat – Moses! – bevraagteken nie, maar God self.

En dan kom God, soos telkemale in die woestyn, met ‘n verassing! Die Israeliete het hulle water gekry. Maar nie uit ‘n fontein of oase nie, maar uit ‘n klipharde klip. Nie sigbaar nie, maar eers nadat die Here vooruitgegaan het en die opdrag aan Moses gegee het. God het gehoor en hulle nood te hulp gekom. 

Dit beteken egter nie dat die res van die woestyntog met duidelike riglyne en tekens van voorsiening gepaard gegaan het nie. By baie plekke moes Israel weer voor keuses staan om te vertrou, sonder enige sigbare bewyse. 

Dit is die spel van die woestyn. Die verborge God is intens teenwoordig. Hy lok ons in die hardheid van ons bestaan uit tot ‘n spel waarin ons ons uiteindelik volledig, met al ons nood en ons hele menswees, aan Hom kan oorgee. Hy gebruik die omstandighede waarbinne ons ons bevind om ons iets van vertroue te leer – of dit nou Covid-19 is, of dit ‘n droogte is, of dit ‘n tragedie in my gesin is, of dit finansiële probleme is, of ek my werk verloor – God kan en wil alles gebruik om vir iets van Sy sorg te leer. Dit is ook so met die water uit die rots wat God by die berg Sinai/Horeb aan die volk gee. Dit kweek die verwagting dat die gawes uit sy hand, te midde van ons akute nood, nie net water is nie, maar Sy teenwoordigheid, Sy sorg, Sy beskerming.

Wat verwag jy hierdie week uit God se hand?