Bybelstudie – Teks in Konteks – Markus 10:25 (17-31) – deur die oog van ‘n naald.

12 10 2021

Hierdie kort Bybelstudie reeks gaan probeer om van die uitdrukkings en tekste wat maklik verkeerd verstaan word, ‘n bietjie te verduidelik.


Kunstenaar Willard Wigan se minatuur kamele in die oog van ‘n naald.

Markus 10:25:

2020 Vertaling: “Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.”

Die Boodskap: “Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.”

New Living Translation: “In fact, it is easier for a camel to go through the eye of a needle than for a rich person to enter the Kingdom of God!”

The Message: “I’d say it’s easier for a camel to go through a needle’s eye than for the rich to get into God’s kingdom.”

Lukas 18:25

2020 Vertaling: “want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.”

Matteus 19:24

2020 Vertaling: “Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.”

Daar is al etlike verduidelikings in die verlede aangebied vir hierdie uitdrukking. 

Daar is byvoorbeeld die verhaal dat die “oog van die naald” ‘n klein deurtjie in Jerusalem se mure waswaardeur ‘n kameel slegs kon gaan as dit afgelaai is. Die idee is dan dat ons as mense ons “bagasie” moet aflaai om gered te word. As jy net die nodige doen, word jy gered. 

Daar is twee probleme met hierdie siening. Eerstens is “die oog van die naald” hek eers 326nC gebou in die Kerk van die Heilige Graf (Church of the Holy Sepulchre) se mure, nie in Jerusalem se mure nie. Hierdie kerk is 300 jaar later deur die Perse verwoes. Die huidige kerk van die Heilige Graf is langs die oorspronklike gebou. Die sogenaamde “oog van die naald” hek is onder die kerk langsaan, die kerk van St. Alexander Nevsky, wat oor die oorspronklike Kerk van die Heilige Graf gebou is. 

Ander mense sê weer dat ons hier te doen het met ‘n verkeerde vertaling of korrupsie van die oorspronklike teks. Hulle sê dan dat die Griekse woord “trema” eintlik “kamelos” moet wees. “Kamelos” beteken dik tou of skeepstou en sou dan verkeerdelik as “kameel” vertaal word. Die waarheid is dat die fout eintlik anders om gebeur het. Daar is later ‘n skryffout gemaak tussen Assiriese en Aramese vertalings van die evangelies. Die vroegste manuskrip wat “kamelos” bevat kom uit rondom die 9de eeu. Al die manuskripte wat hierdie woord bevat kom ook net uit ‘n bepaalde geografiese area.

So, Jesus het regtig gesê Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” Wat beteken dit dan?

Dit beteken eerstens NIE dat ons met genoeg moeite die koninkryk van God kan binnegaan nie! Jesus gebruik hiperbool om te sê dis ONMOONTLIK om deur jou eie pogings die koninkryk van God binne te gaan. Hy het Joodse idiome aangehaal wat verwys na ‘n kameel wat deur ‘n deur gaan en ‘n olifant wat deur die oog van ‘n naald pas. Dié gesegde het vir die Jode verwys na iets wat skaars, ongewoon, moeilik en onmoontlik was. Hierdie idiome is omtrent 200nC in die Joodse Talmud opgeteken en verwys na onmoontlike gebeure (Die Babiloniese en Jerusalem Talmuds is die opskryf van Rabbis se mondeling oorgelewerde wyshede).

Die dissipels moes verstaan dat diegene wat op hulle rykdom vertrou, dit moeilik sal vind om die ewige lewe te ontvang, omdat hulle hoop en vertroue op verkeerde dinge berus. Volgens Markus 10:26 was die dissipels uitermate verbaas oor Jesus se woorde. Trouens, hulle was nou meer verbaas as vroeër. As dit vir die jongman onwaarskynlik was om die koninkryk binne te gaan, is dit nou ‘n saak van onmoontlikheid. Die dissipels het vir mekaar van hulle verbasing vertel en gesê: “Wie kan dan gered word?” veral as die rykes nie eers die koninkryk sal kan binnegaan nie. Hulle wêreldse verstaan van ryk mense as bevoorregtes in die koninkryk het hulle steeds verhinder om insig te kry in wat Jesus vir hulle probeer verduidelik het. Hulle het aangeneem dat die rykes en bevoorregtes ‘n plek in God se koninkryk gewaarborg is.

Vrae vir nadenke:

Jesus se idioom verwys bes moontlik na mense wat op eie geld, mag en pogings vertrou om God te behaag.

  • Na watter mense kyk ek op? Wie dink ek is nader aan God se koninkryk? Rykes, magtiges, belangrikes in die kerk, beroemdes? 
  • Hoe kan ek in hierdie Covid-19 tyd waarin soveel mense geliefdes en werk verloor het met nuwe ore na God luister rakende dissipelskap, besittings en oorvloed?
  • Waarop vertrou jy?
  • Hoe kan jy vandag iets van God se koninkryk wys vir ander?

Die koninkryk van God konfronteer ons met ‘n visie van ‘n lewe en identiteit wat heeltemal onversoenbaar is met soveel van ons voorveronderstellings oor rykdom, voorregte en selfbelang.

Hierdie verhaal is soos ‘n gelykenis wat eenvoudige verklarings weerstaan. Dit is ‘n verhaal wat ons sommige kere so ongemaklik maak dat ons, in die hoop om die boodskap te versag, daartoe neig om sirkels daaromheen te loop. Die verhaal, soos ‘n gelykenis, wil eerder ervaar as verklaar word. Dit wil die ervaring op so ‘n wyse wek dat ons onsself op die werklike eise van dissipelskap toespits.

Bibliografie:

Biblical Studies Press, 2006. The NET Bible First Edition Notes, Biblical Studies Press.

Keener, C.S., 1993. The IVP Bible background commentary: New Testament, Downers Grove, IL: InterVarsity Press.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains. United Bible Societies

Marshall, I.H., 1994. Luke. In D. A. Carson et al., eds. New Bible commentary: 21st century edition. Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press.

Pilgrim Pat: https://patmcinerney.wordpress.com/2014/06/30/the-church-of-saint-alexander-nevsky/

Wright, N.T. 2004. Matthew for Everyone (The New Testament for Everyone). Westminster John Knox Press


Aksies

Information

Lewer kommentaar