Bybelstudie – Teks in Konteks – Openbaring 18:23 – Toordery!

19 10 2021

Hierdie kort Bybelstudie reeks probeer om van die uitdrukkings en tekste wat maklik verkeerd verstaan word, ‘n bietjie te verduidelik.

2020 Vertaling: “Jou sakelui was die magtiges van die aarde, want deur jou betowering is al die nasies mislei.”

1953 Vertaling: “jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei.”

New Living Translation: “For your merchants were the greatest in the world, and you deceived the nations with your sorceries.”

The Message: “Her traders robbed the whole earth blind, and by black-magic arts deceived the nations.”

Op die oomblik loop daar ‘n storie rond wat só iets klink: “Openbaring 18:23 verwys na die huidige Covid-19 epidemie, en spesifiek na die inenting. Hierdie inenting is boos. Die rede daarvoor is dat dit deur die groot farmaseutiese maatskappye gemaak word met die uitsluitlike doel om geld te maak. Openb 18:23 sou dan, omdat “farmaseuties” afgelei sou wees van die Grieks “pharmakeia”, waarsku teen hierdie maatskappye se “towery”!” Tot sover die sosiale media storie wat rondloop.

Wat maak ons hiermee? Dit klink dan so logies en voor die hand liggend? 

Soos dit gewoonlik gaan as ons Openbaring lees, moet ons hele hoofstukke lees om sin te maak van die beeldspraak en vreemde beelde. (gaan lees gerus my WordPress blog by https://deonstr.wordpress.com/2021/01/27/bybelstudie-openbaring-deel-1-inleiding/ waar ‘n reeks verskyn oor hoe om Openbaring te lees). Verder moet ons onthou dat baie van die beelde vanuit die Ou Testament ontleen is. In hierdie vers word die oordeel oor “towery” en “hoereerdery” ontleen vanuit Nahum 3:4 en Jesaja 49:7. 

Die hoofstuk gaan oor die oordeel oor Babilon. Dit roep beelde vanuit die Ou Testament van die Toring van Babel (Genesis 11) op, maar veral ook van die Babiloniese ballingskap en die verwoesting van die tempel van Salomo in 586vC. Babilon was die simbool van alles wat sleg en boos was, daarom gebruik Openbaring dit as simbool vir Rome. In die eerste eeu was Rome dié simbool van menslike trots, afgodery en onsedelikheid. 1 Petrus 5:13 gebruik die uitdrukking “in Babilon” om na die verdrukking van die kerk onder Rome te verwys.

So die agtergrond van vers 23 is dus die oordeel oor Rome as simbool van alles wat boos is.

Nou moet ons ‘n bietjie na Afrikaanse taalkunde gaan kyk! Soos wat Boshoff en Nienaber al in 1967 gesê het, is dat sommige mense dink dat ‘n woord se etimologie (oorspronklike betekenis) die “ware betekenis” aandui. “Maar taalkundiges en veral etimoloë weet vandag, en ander geleerdes en selfs leke behoort te weet, dat hierdie opvatting op ‘n wanbegrip berus.” Woorde ondergaan semantiese of betekenis verskuiwings oor tyd. 

Die Afrikaanse woord “farmaseuties” is natuurlik afgelei van die Nederlands “farmaceutisch”. Dit is weer afgelei van die ou Franse “farmacie”, die Latyn “pharmacia” en die Grieks “pharmakeia”. Alhoewel soortgelyk is daar tog betekenis verskille. Die Franse woord verwys byvoorbeeld na die gebruik van kos as lakseermiddel. Die Grieks en Latyn verwys na wat ons ken as medisyne, maar ook na gifstowwe! Omdat die verstaan van medisyne nie so goed was in die vroeë tye nie, het die gebruik van medisyne gewoonlik ook met rituele en towerspreuke gepaard gegaan. Daarom het die woord in Grieks ook die betekenis van toordery. Soos hierbo gewaarsku, beteken dit natuurlik nie dat “farmaseuties” vandag ook toordery beteken nie! Dink maar aan die woord “VAAK”. In Nederlands beteken dit “dikwels”, in Afrikaans, wat die woord van Nederlands gekry het, om te wil gaan slaap. Hierdie woord het ‘n betekenis verskuiwing ondergaan oor tyd, soos die Griekse “pharmakeia”.

Farmaseuties” in Afrikaans beteken dus nie toordery nie!

Nou waaroor gaan Openbaring 18 dan? Die grootste deel van hierdie hoofstuk is klaagsange, “funeral dirges”. Die skrywer is ironies-spottend besig om Rome (Babilon) se ondergang te “betreur”. Dit is ‘n manier van skryf wat ons by die Ou Testamentiese profete ook kry. Eintlik is die skrywer besig om op ‘n ironiese manier die stad se ondergang te profeteer. 

Dis moeilik vir ons om vandag die volle impak en diepte van wat Johannes skryf te verstaan. ‘n Bejaarde profeet, verban na ‘n eiland omdat hy die magtigste ryk wat nog ooit bestaan het se bevele verontagsaam het, verkondig nou dieselfde ryk se ondergang! 

Die geskiedenis het gewys wie reg was. Die Christelike geloof het regoor die wêreld versprei, Rome het al vyftien eeue gelede geval… Sedert die val van Rome was daar ander ryke wat gekom en gegaan het. Dit is nie goed om jouself op te stel as die grootste en magtigste nie, veral nie as jy God ook minag nie.

Antieke filosowe en skrywers het soms hulle retoriese vermoëns ten toon gestel deur ‘n prysgedig vir ‘n belangrike stad te skryf. ‘n Bekende een is Aelius Aristides wat so ‘n oordrewe prysgedig oor Rome geskryf het in die 2de eeu. Johannes gebruik daarteenoor juis die stad se mag en rykdom om dit te veroordeel. 

Vrae vir nadenke:

  • In Matteus 24:6 sê Jesus: “Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pasop, moenie verskrik raak nie. Want hierdie dinge moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie.” Waarvoor is jy vandag bang of verskrik?
  • Op watter manier kan Jesus jou vandag vertroos en help met jou vrese?
  • Dank Hom nou daarvoor dat niks jou uit SY hand kan ruk nie (Rom 8:37-39)!

Bibliogradie:

Barry, J.D. et al., 2012, 2016. Faithlife Study Bible, Bellingham, WA: Lexham Press.

Boshoff, S. P. E. en Nienaber, G. S., 1967. Afrikaanse Etimologieë, Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Keener, C.S., 1993. The IVP Bible background commentary: New Testament, Downers Grove, IL: InterVarsity Press.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996. Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains.

Strydom, D.O.: https://deonstr.wordpress.com/2021/01/27/bybelstudie-openbaring-deel-1-inleiding/

Wright, N. T.. God and the Pandemic, 2020. Zondervan.


Aksies

Information

Lewer kommentaar