2 Kor 13:11-13 – Genade, liefde en samesyn

26 06 2023

Gepreek te NGK Stutterheim 4 Junie 2023

Drie-eenheidsondag is die eerste Sondag in Koninkrykstyd. Dit vervul ons elke keer met verwondering oor wat die Bybel van God getuig. Meer nog, ons word met verwondering vervul om te ontdek wie hierdie God vir ons is, d.w.s hoe God by ons betrokke is. Die voorreg om uit genade in ‘n verhouding met God te staan, oorweldig mens. Paulus sluit hierdie brief, gerig aan die gemeente in Korinte, af met ‘n groet in die Naam van die Drie-enige God (13:13): “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.”

Hierdie groet, wat deur die eeue Sondag vir Sondag in Christelike gemeenskappe weerklink, openbaar God en God se gawes aan ons: genade, liefde en gemeenskap met God deur die Heilige Gees.

Kom ons gesels oor die uitdagings van die stad Korinte en van die eerste gemeente in Korinte, die ontvangers van hierdie brief. Korinte was ‘n belangrike stad in die tyd van die Nuwe Testament. Mense het tipies hul ambagte sowel as hul godsdienste na die stad gebring. Talle probleme het hierdie toestroming van mense na die streek vergesel. Soos die meeste antieke hawestede het Korinte ‘n reputasie vir seksuele onsedelikheid gehad met ‘n verskeidenheid heidense praktyke. Binne hierdie gemeenskap moes die christene leef. 

Dit het tot heelwat probleme en verdeeldheid in die gemeente gelei. Paulus moes hulle in meer as een opsig oor hulle sondes aanspreek.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die genadegroet van God drie-enig aan die einde van die brief so helder glinster: “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal.”

In een kort sin word die volle inhoud van dit wat God aan ons skenk raakgevat. Dit is soos ‘n waterval van seën aan gebroke mense en ‘n kwesbares gemeente.

Teen die agtergrond van die genade, liefde en geestelike gemeeenskap met God, roep ons teks die gemeente op om nou nuut te lewe (13:11-12): “Ten slotte, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees. Groet mekaar met ‘n heilige soen. Al die heiliges stuur vir julle groete.”

In ‘n tyd van ontwrigting gekenmerk deur korrupsie en politieke spanning in ons land en elders, oorlog en geweld op globale skaal, pandemies en epidemies soos selde gesien, ekonomiese uitdagings en hongersnood, armoede en werkloosheid – om enkeles te noem – is dit te verstane dat daar ook in ons dag en tyd spanning in geloofsgemeenskappe is. 

Ook vir ons is die oproep tot eensgesindheid en vrede tussen Christene onderling tydig en belangrik. Soos in Korinte van ouds, mag dit selfs wees dat onenigheid tussen gemeente en leraar kan bydra tot spanning in gemeentes en verbrokkeling van verhoudings. 2 Korintiërs 13 maak nie alleen ‘n sterk oproep op eensgesindheid en harmonie onder Christene nie, maar maak veral ook die basis vir die oproep baie duidelik: die drie-enige God. 

2 Korintiërs 13:11-13 maak dit baie duidelik dat God van Christene verwag om met mekaar in gemeenskaplike vrede saam te lewe. Paulus spreek dit nie uit as ‘n moralistiese wens of behoefte nie, maar as ‘n oortuiging wat juis berus op die trinitariese God, Vader en Seun en Heilige Gees.

Soos die drie persone van die Drie-eenheid vreugde, vervolmaking, aanmoediging, eensgesindheid en vrede verteenwoordig, so moet gelowiges ook met mekaar omgaan.


Aksies

Information

Lewer kommentaar