‘n Dolle gejaag!

5 08 2019

Angs, stres, bekommernis, sommer normale, alledaagse dinge wat deel is van ons lewens. Dan sê ons sommer gou dis deel van die moderne lewe. Ons moet dit maar so aanvaar. Maar is dit so?

In Eksodus 5 lees ons die gebeure in die aanloop tot die Eksodus. Farao laai ekstra werk op die Israeliete, en die opsigters stres hulle dood. Inderwaarheid sê hulle vir Moses en Aäron: ““Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao” (:21).

En hoekom was al die werk in die eerste plek nodig? Hierdie slawe moes bakstene maak waarin Farao sy surplus kon stoor (Eks 1:11), en dit was ‘n nimmereindigende siklus. Hier was nie plek vir rus nie, net werk, werk, werk! Selfs in daai tyd was daar stres! Farao was ‘n slaaf van sy eie sukses, want hy en die opsigters onder hom was vasgevang in ‘n sirkel van werk, Hulle kon nie rus nie, want die werkers kon nie rus nie.

In hierdie sirkel van moegheid en oorwerk kom die God van die brandende bos skielik! (Eks 3). Hy lei hulle uiteindelik uit Egipte, en gee vir hulle ‘n manier van in vryheid lewe – die 10 gebooie (Eks 20). Hier manier van lewe begin deur hulle daarop te wys dat God nie soos die Egiptiese gode is nie – “Jy mag naas my geen ander gode hê nie” (Eks 20:3). En dan sommer gou-gou, in die 4de gebod, kom die wonderlike woorde: Ses dae moet jy werk, maar op die 7de mag jy geen werk doen nie! Die sirkel van werk, werk, werk word verbreek!

Jesus het hierdie probleem baie goed raakgesien, en som dit op in Matt 6:24: ““Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Mammon is ‘n harde baas, soos Farao al geleer het, daarom dat Jesus dan dadelik oorgaan om oor bekommernis te praat: :“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie” (:25) Die pad van mammon is die pad van eindelose gesoek na meer, ‘n pad van nooit genoeg hê nie, ‘n pad van nooit goed genoeg wees nie, van eindelose rusteloosheid, ‘n pad sonder ‘n Sabbatsrus. Dit is ‘n pad sonder God.

In ‘n sin kom sê Jesus ons moet kies watter god ons wil dien – die god van rusteloosheid en stres, of die God wat rus (Gen 2:2) Jesus kom stel dit ook op nog ‘n ander manier in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ons dien ‘n God wat rus en vir ons laat rus, want ons lewens is in Sy hande. Hy sorg, daarom hoef ons nie in bekommernis te verval nie.

Dit is die keuse, ‘n keuse tussen rusteloosheid of rustigheid. ‘n Keuse tussen ‘n dolle gejaag en ‘n fees! (Eks 5:1). Want sien, die “normale” bekommernis en stres, is ten diepste ‘n teken dat God in ons gedagtes te klein is. Ons dink ten diepste nie dat Hy in staat is om vir ons te sorg nie. Daarom raak die keuse tussen rusteloosheid en rustigheid ‘n geloofskeuse: Vertrou ons God of nie?

Na aanleiding van Eksodus 5:1-18 , Matteus 6:24-34 en Walter Brueggemann: Sabbath as Resistance





Genesis 2 – Rus?

12 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Genesis 2:2 :”Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.”

Rus. Rustig. Rus en vrede. Rus ‘n bietjie. Is dit nie baiemaal ons versugting nie? Ek onthou nog een van my proffies wat gesê het vakansie is ‘n tyd van rus, ‘n tyd van lê!

Baiemaal kyk ons na die einde van die eerste skeppingsverhaal en sien dat God gerus het, en dink dan dat God OPGEHOU het om iets te doen, dat God nou die skepping gelos het om op sy eie aan te gaan. In ons kultuur is dit ‘n gedagte wat sterk leef. Daar is ‘n gedagte wat al van die tyd van Isaac Newton en René Decartes kom dat God die wêreld gemaak en aan die gang gesit het soos ‘n horlosiemaker. Nou loop als maar op sy eie voort. God RUS nou, sit nou maar en hou die wêreld net dop. ‘n Gedagte wat uitgebeeld word in Bette Midler se liedjie – “God is watching us from a distance”.

Gelukkig is dit ‘n heel verkeerde verstaan van Gen 2:1-4! Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n voorbeeld. As jy verhuis, trek, is daar ‘n klomp goed wat gebeur.  Dis inpak, bokse orals. Wanneer jy by die nuwe woning aankom is dit chaos. Daar is bokse orals, dit voel dat jy nooit klaarkry met uitpak, met wegpak nie. As als uiteindelik klaar is, sit jy nie net nie. Jy begin funksioneer in die huis. En dit is die beeld van Genesis 1-2, van die eerste skeppingsverhaal.

God het orde geskep, God het alles op plek gestel om te funksioneer, en nou funksioneer God binne Sy skepping.

Hierdie selfde beeld kry ons in Jesus se woorde. In Matt 11:28 sê Hy: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Nie ‘n rus om agteroor te sit en niks te doen nie, maar ‘n rus waarin ons tyd en geleentheid het om tot Sy eer te leef. Ook die skrywer van Hebreërs 4 sien die Sabbats-rus wat op gelowiges wag as ‘n geskenk van God, ‘n tyd waarin ons Hom kan loof en eer. En al die voorbeelde bou op die manier waarop Eksodus na Gen 2:1-4 kyk. Na die slawerny in Egipte, waar daar geen rus was nie, word die 7de dag as rusdag ingestel. NIE as ‘n straf of selfs ‘n bevel nie, maar as ‘n GESKENK. Jy wat 350 jaar lank nooit rus geken het nie, kry nou ‘n dag waarop jy rus van jou normale taak en jouself opnuut kan wy aan God. Dat jy kan funksioneer soos God jou geskep het, as Sy verteenwoordiger.

Vir die ander volke van die Ou Nabye Ooste, soos die Babeloniërs, was rus net iets wat die gode toegekom het. En hulle het dit gekry omdat die mense hulle moes dien soos slawe.

Die beeld van die Bybel is TOTAAL anders! God skenk aan ons Sy rus. Wanneer ons dan hierdie rus wat God skenk geniet, is dit beide ‘n teken dat God vir ons sorg (want ons hoef nie altyd te werk nie) en dit is ‘n getuienis van God se versorging, genade en liefde. Van hoe God nog steeds funksioneer binne Sy skepping.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”