Matteus 11:25 – 12:2 “Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is en Ek sal julle rus gee”

5 07 2020

Goeiemôre! Die vyfde Sondag van Koninkrykstyd en gister (4 Julie) was ook die 100ste dag van grendeltyd!! Baie seën en ‘n goeie familietyd julle toegewens.

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder.

Hier is ‘n oulike Afrikaanse Kerkjaar kalender om vir die kinders te wys hoekom vandag al die 5de Sondag van Koninkrykstyd is en waar dit inpas in die jaar.

n Lekker op en wakker lied, net vir ingeval jy nog vakerig voel! “Loof Die Here Want Hy Is Goed · Louis Brittz”.

En so as ‘n uitdaging, as jy die video kyk, kyk of jy van my toer herdenkinge kan raaksien 😉 Ook al lus vir kamp en uitkom!

Die video op YouTube of Kerkaanlyn.

Vir Audio alleen as jou data min is: AnchorApple Podcasts of Spotify.

n Pragtige Nederlandse lied om na die tyd te luister, “Komt allen die vermoeid en belast zijn

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

Die teks van die preek:

Matteus 11:25-30

Direkte Vertaling:

25 In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. 26 Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. 27 Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak. 28 “Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. 30 Want my juk is draaglik en my las is lig.””

12:1 In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en hulle het begin om die are te pluk en te eet. 2 Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie.”

I’m so over it” sê my dogter hierdie week. En ek dink dis baie van ons se gevoelens. Ons is moeg van beperkings op ons bewegings, moeg om nie te kan ontspan soos ons gewoond is nie, moeg van politici se reëls wat nie altyd vir ons sin maak nie. Moeg, veral van ‘n onderliggende vrees – hoe lank nog, gaan ek en my geliefdes dit oorleef?

Vir almal wat so voel, klink Jesus se woorde of dit spesiaal vir ons gesê is (:28): “Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Hierdie uitnodiging van Jesus pas in by die Bybel se boodskap van die dag van rus, die Sabbat. ‘n Geskenk om vir ons lewe te gee, ‘n geskenk om vir ons te wys dat die lewe nie net ‘n dolle gejaag is nie. Maar waar is hierdie geskenk as ons so moeg is….?

Jesus se woorde dat Sy juk rus bring sou baie vreemd geklink het vir die mense van Sy tyd. Die Rabbis het na die juk van God se wet en die juk van God se Koninkryk verwys. Jesus se juk, in terme van die verse net hierna, Jesus se sabbat, is nie ‘n juk wat swaar druk nie, nee, dit is ‘n juk van genade en liefde. Onthou dat wanneer God vir Israel die sabbat skenk, begin dit altyd met ‘n herinnering aan die tyd van slawerny in Egipte, ‘n herinnering ook aan God se genade en liefde wat hulle uitgelei het (Deut 5:6, Eks 20:2).

Om vanuit Jesus se rus, God se sabbat, te leef, behels dus ‘n sekere kyk na die wêreld. ‘n Kyk wat erken dat ons dié Een dien wat “Here van die Sabbat” is (Matt 12:8). Nie politici of siektes of ekonomiese probleme of vrees of enigiets is te erg vir Hom nie.

Hoe hoor ons hierdie woorde? Hoe kan ons dit regkry om hieruit te leef? Die evangelie van Matteus word soms die “onderwyser se evangelie” genoem, wat regdeur die evangelie leer Jesus Sy dissipels, volgelinge en die mense wat na Hom toe kom. Hy leer hulle, want hulle moet verstaan Wie Hy is, wat hy bring, wat Sy boodskap is. Eers dan kan hulle self so leef en sodoende ander leer.

Ook hier, hier waar Jesus rus aanbied is Hy besig om hulle te leer. Is Hy besig om die wysheid van die wêreld, die wysheid van die Rabbis omver te gooi. Die Rabbis het gesê ons moet die wet ken sodat ons dit kan gehoorsaam. Jesus sê dat as ons Hom ken, dan het ons rus, dan kan ons gehoorsaam aan die Vader leef.

Wanneer ons nie weet watter kant toe nie, wanneer ons moedeloos is, wanneer ons vreesbevange, bekommerd, radeloos is, is dit dalk goed om Jesaja se woorde te onthou:

Jesaja 40:27-31: “Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”?

28 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. 29 Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.

31 …dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

In hierdie uitmergelende tyd, hierdie vreemde tyd, hierdie hartseer tyd, hierdie tyd, so lyk dit ook, van die leun en verdraaiings, kom God se waarheid. Hy skenk rus, Hy skenk vrede, al hoe lyk die omstandighede rondom ons hoe vreemd en verward.

Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28). Is jy ook “over it?” Daar is rus!

Met erkenning aan:

Hauerwas, S., 2006. Matthew, Grand Rapids, MI: Brazos Press.

http://www.workingpreacher.org/

The New Testament in Its World” N. T. Wright and Michael F. Bird Zondervan Academic , 2019





‘n Dolle gejaag!

5 08 2019

Angs, stres, bekommernis, sommer normale, alledaagse dinge wat deel is van ons lewens. Dan sê ons sommer gou dis deel van die moderne lewe. Ons moet dit maar so aanvaar. Maar is dit so?

In Eksodus 5 lees ons die gebeure in die aanloop tot die Eksodus. Farao laai ekstra werk op die Israeliete, en die opsigters stres hulle dood. Inderwaarheid sê hulle vir Moses en Aäron: ““Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao” (:21).

En hoekom was al die werk in die eerste plek nodig? Hierdie slawe moes bakstene maak waarin Farao sy surplus kon stoor (Eks 1:11), en dit was ‘n nimmereindigende siklus. Hier was nie plek vir rus nie, net werk, werk, werk! Selfs in daai tyd was daar stres! Farao was ‘n slaaf van sy eie sukses, want hy en die opsigters onder hom was vasgevang in ‘n sirkel van werk, Hulle kon nie rus nie, want die werkers kon nie rus nie.

In hierdie sirkel van moegheid en oorwerk kom die God van die brandende bos skielik! (Eks 3). Hy lei hulle uiteindelik uit Egipte, en gee vir hulle ‘n manier van in vryheid lewe – die 10 gebooie (Eks 20). Hier manier van lewe begin deur hulle daarop te wys dat God nie soos die Egiptiese gode is nie – “Jy mag naas my geen ander gode hê nie” (Eks 20:3). En dan sommer gou-gou, in die 4de gebod, kom die wonderlike woorde: Ses dae moet jy werk, maar op die 7de mag jy geen werk doen nie! Die sirkel van werk, werk, werk word verbreek!

Jesus het hierdie probleem baie goed raakgesien, en som dit op in Matt 6:24: ““Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Mammon is ‘n harde baas, soos Farao al geleer het, daarom dat Jesus dan dadelik oorgaan om oor bekommernis te praat: :“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie” (:25) Die pad van mammon is die pad van eindelose gesoek na meer, ‘n pad van nooit genoeg hê nie, ‘n pad van nooit goed genoeg wees nie, van eindelose rusteloosheid, ‘n pad sonder ‘n Sabbatsrus. Dit is ‘n pad sonder God.

In ‘n sin kom sê Jesus ons moet kies watter god ons wil dien – die god van rusteloosheid en stres, of die God wat rus (Gen 2:2) Jesus kom stel dit ook op nog ‘n ander manier in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” Ons dien ‘n God wat rus en vir ons laat rus, want ons lewens is in Sy hande. Hy sorg, daarom hoef ons nie in bekommernis te verval nie.

Dit is die keuse, ‘n keuse tussen rusteloosheid of rustigheid. ‘n Keuse tussen ‘n dolle gejaag en ‘n fees! (Eks 5:1). Want sien, die “normale” bekommernis en stres, is ten diepste ‘n teken dat God in ons gedagtes te klein is. Ons dink ten diepste nie dat Hy in staat is om vir ons te sorg nie. Daarom raak die keuse tussen rusteloosheid en rustigheid ‘n geloofskeuse: Vertrou ons God of nie?

Na aanleiding van Eksodus 5:1-18 , Matteus 6:24-34 en Walter Brueggemann: Sabbath as Resistance





Genesis 2 – Rus?

12 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Genesis 2:2 :”Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.”

Rus. Rustig. Rus en vrede. Rus ‘n bietjie. Is dit nie baiemaal ons versugting nie? Ek onthou nog een van my proffies wat gesê het vakansie is ‘n tyd van rus, ‘n tyd van lê!

Baiemaal kyk ons na die einde van die eerste skeppingsverhaal en sien dat God gerus het, en dink dan dat God OPGEHOU het om iets te doen, dat God nou die skepping gelos het om op sy eie aan te gaan. In ons kultuur is dit ‘n gedagte wat sterk leef. Daar is ‘n gedagte wat al van die tyd van Isaac Newton en René Decartes kom dat God die wêreld gemaak en aan die gang gesit het soos ‘n horlosiemaker. Nou loop als maar op sy eie voort. God RUS nou, sit nou maar en hou die wêreld net dop. ‘n Gedagte wat uitgebeeld word in Bette Midler se liedjie – “God is watching us from a distance”.

Gelukkig is dit ‘n heel verkeerde verstaan van Gen 2:1-4! Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n voorbeeld. As jy verhuis, trek, is daar ‘n klomp goed wat gebeur.  Dis inpak, bokse orals. Wanneer jy by die nuwe woning aankom is dit chaos. Daar is bokse orals, dit voel dat jy nooit klaarkry met uitpak, met wegpak nie. As als uiteindelik klaar is, sit jy nie net nie. Jy begin funksioneer in die huis. En dit is die beeld van Genesis 1-2, van die eerste skeppingsverhaal.

God het orde geskep, God het alles op plek gestel om te funksioneer, en nou funksioneer God binne Sy skepping.

Hierdie selfde beeld kry ons in Jesus se woorde. In Matt 11:28 sê Hy: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Nie ‘n rus om agteroor te sit en niks te doen nie, maar ‘n rus waarin ons tyd en geleentheid het om tot Sy eer te leef. Ook die skrywer van Hebreërs 4 sien die Sabbats-rus wat op gelowiges wag as ‘n geskenk van God, ‘n tyd waarin ons Hom kan loof en eer. En al die voorbeelde bou op die manier waarop Eksodus na Gen 2:1-4 kyk. Na die slawerny in Egipte, waar daar geen rus was nie, word die 7de dag as rusdag ingestel. NIE as ‘n straf of selfs ‘n bevel nie, maar as ‘n GESKENK. Jy wat 350 jaar lank nooit rus geken het nie, kry nou ‘n dag waarop jy rus van jou normale taak en jouself opnuut kan wy aan God. Dat jy kan funksioneer soos God jou geskep het, as Sy verteenwoordiger.

Vir die ander volke van die Ou Nabye Ooste, soos die Babeloniërs, was rus net iets wat die gode toegekom het. En hulle het dit gekry omdat die mense hulle moes dien soos slawe.

Die beeld van die Bybel is TOTAAL anders! God skenk aan ons Sy rus. Wanneer ons dan hierdie rus wat God skenk geniet, is dit beide ‘n teken dat God vir ons sorg (want ons hoef nie altyd te werk nie) en dit is ‘n getuienis van God se versorging, genade en liefde. Van hoe God nog steeds funksioneer binne Sy skepping.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”