Wie is Jesus? Wie is ek?

13 04 2014

Image

Na aanleiding van Matteus 27:11-14, 27-31

☛ Wanneer Jesus op Palmsondag die stad op die donkie binne ry, lees ons die volgende: (Matt 21:10) “Die hele stad (het) in opskudding geraak en gesê: Wie is hierdie man?”

Wie is Jesus? In die teks wat ons vandag gelees het kom die vraag weer en weer na vore. Die hoëpriesters en skrifgeleerdes vra dit, Pilatus vra dit. En as Jesus nie antwoord nie, dan word daar sommer spottenderwys namens Hom geantwoord. Wie is die man?

  • Profeet? – Tydens die verhoor voor die hoëpriester spoeg die mense Jesus in die gesig, slaan Hom met die vuis, klap Hom en sê as profeet moet Hy sê wie Hom geslaan het (26:67-68);
  • Koning van die Jode? – Die soldate bespot Jesus met ‘n nagebootste koningskleed, riet as septer en doringkroon. Hulle buig spottend voor Hom en noem Hom Koning van die Jode (27:29);
  • Seun van God? – Aan die kruis laster en bespot die verbygangers Jesus. As Hy die tempel kan afbreek en in drie dae kan opbou, en die Seun van God is, kan Hy Homself sekerlik van die kruis red (27:43);
  • Koning van Israel? – Die Skrifgeleerdes en familiehoofde spot Jesus ook. Hy is dan die koning van Israel en die Seun van God – Hy kan sekerlik van die kruis afkom (27:41-42).

Wie is hierdie Man wat deur arbeiders en melaatses en kreupeles en prostitute as Messias vereer word? Wie is hierdie arm, wandelende Rabbi wat die stad binne ry soos ‘n koning? Wie is hierdie man wat ‘n week later deur die strate gesleep word en gekruisig word soos ‘n gewone misdadiger?

☛ Selfs vandag maak Jesus ons deurmekaar, het Hy Christene deur die eeue deurmekaar gemaak. Ons hou van in beheer wees, van mag. As Jesus egter gekonfronteer word, gespot word, gekruisig word gee Hy alle mag prys!

Die titels waarmee Jesus bespot word, is op die einde juis dit wat ons oor Jesus glo. Die ironie dat spot eintlik waarheid bevat en die spotter bespot. Die ironie is juis dat diegene wat Hom spot, diegene wat Hom Profeet en Seun van God en Koning noem, reg is! Tog kom Hy nie met mag nie, maar in swakheid. Nie met kragdadigheid nie, maar in weerloosheid. Nie in oordeel nie, maar in genade. Nie veroordelend nie, maar in liefde. Niks van wie Hy is of wat Hy doen pas in by ONS prentjies van mag en regering nie.

☛ Wie is Jesus vir my? Ook vandag bespot ons Hom soms deur hom te reduseer na iets of iemand wat my pas:

  • Hy is die wonderwerker wat mense op aanvraag moet genees
  • Hy is die magtige een wat bose mense op aanvraag moet verdelg, Hy moet sorg dat “die wiel draai”, dat “boontjie sy loontjie” moet kry.
  • Hy is die een wat moet sorg dat dinge altyd goed verloop met my, dat ek “geseënd” moet wees
  • Hy is die bonatuurlike wese wat ‘n “wolk van beskerming” om my moet vorm.

Werklik! Wie is Jesus? Fillipense 2:5-8 gee vir ons die fondament van die antwoord: “Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het nie sy gelykheid aan God beskou as iets waaraan Hy moes vashou nie, maar Hy het Homself prysgegee deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het, het Hy Hom verneder deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.” (Afrikaans 2014)

☛ Vir Jesus gaan dit nie oor mag nie, al het Hy al die mag in die heelal! In liefde ontledig Hy Homself, verneder Hy Homself, laat vaar Hy alles wat en wie Hy is, ter wille van ons!

En dan sê Hy ons moet dieselfde gesindheid hê! Ons wat so graag aan mag vashou, wat in beheer wil wees, wat dinge volgens ons wense wil laat geskied. Aan ons word gevra, nie net wie is Jesus nie, maar wie is ek! Ek wat sê ek is ‘n volgeling van die Koning van Israel, van ‘n Profeet, van die Seun van God. Sien, die manier wat ek na Hom kyk, die manier waarop ek die vraag “Wie is Jesus” beantwoord, bepaal wie ek is….

Wie is Jesus? Hy is die Een waaroor ons bely dat Hy nie gesterf het om dit moontlik te maak vir God om ons lief te hê nie, maar om te bewys dat God ons alreeds liefhet.

Wie is ek as ek voor die bewys van God se liefde staan?

(Met erkenning aan Workingpreacher.org en Bybelmedia se “Woord en Fees”

Illustrasie met erkenning aan  http://www.patheos.com/blogs/markdroberts/)

Advertisements




Luk 19:28-40 – Vredevors vs Oorlogsvors

26 03 2010

Luk 19:28-40

Ons almal ken die verhaal van Palm Sondag, Jesus se intog in Jerusalem in. Min van ons besef dat daar daardie dag TWEE intogte in Jerusalem in was.  Marcus Borg en John Dominic Crossan in hulle boek “The Last Week” het vir my dié liggie laat opgaan.

Die een ken ons. Jesus wat Jerusalem vanuit die Ooste op die donkievul inry. Die klere en palmtakke wat op die pad voor die donkie neergegooi is. Jesus wat van die klein, armoedige dorpie Nasaret was, met ‘n boodskap oor die Koninkryk van God, gevolg deur meestal arm mense. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gekom vanaf Galilea, so 160km Noord van Jerusalem.

Vanuit die Weste is daar nog ‘n optog, een wat die mense van Jesus se tyd goed geken het, maar wat vandag minder bekend is. Die Romeinse Goewerneur, Pontius Pilatus, kom die stad binne vooraan  kolonne kavelarie en soldate. Pilatus het in Cesarea gewoon, so 100km Wes van Jerusalem. Met groot Joodse feestye het die Goewerneur dan Jerusalem toe gekom, in geval van moeilikheid. Sy gevolg soldate het dan ook die garnisoen in Jerusalem versterk.

Tussen die twee optogte kom daar seker nie ‘n groter verskil gewees het nie:
•    Jesus op ‘n donkievul. Saal gemaak van klere. ‘n Kleinerige groepie juigende mense wat hulle klere en palmtakke voor hom op die pad neergooi.
•    Vanuit die Weste die imperiale optog, ‘n toonbeeld van mag en krag. Kavelarie op perde, voetsoldate, gepoleerde leerpantser, glintsterende helmette, goue arende op baniere – maar ‘n skare wat die onderdrukker stil aanstaar.

Daar is egter ‘n verdere, baie belangrike, verskil. Pilatus se optog vertoon nie net die imeriale Romeinse mag nie, maar ook die Romeinse godsdiens. Reeds met Augustus, 31VC, is die keiser as goddelik aangesien en in die amptelike staatsgodsdiens aanbid. Inskripsies verwys na Augustus as “seun van god”, “here” en “redder”. Alhoewel Tiberius wat na Augustus keiser geword het, en nou in die tyd van Jesus keiser is, nie so baie gemaak het van die keiseraanbidding as Augustus nie, is dit nog steeds, 10-15 jaar na Augustus se dood, die amptelike staatsgodsdiens.

Hierteenoor is die, by vergelyking, armoedige optog van Jesus, “seun van God”, “Here” en “Redder” uit die Ooste. Jesus se optog is nie net ‘n kompeterende intog nie, dit gaan ook oor ‘n kompeterende Godsdiens! Die evangelieskrywers het dit baie duidelik verstaan!  In Jesus se hele intog sou ‘n Jood van daardie tyd dadelik Sagaria 9:9 raakgesien het: “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.”

Jesus se intog is ‘n doelbewuste vervulling van die profesie in Sagaria, en dit sou nie ongemerk verbygegaan het nie.

Pilatus kom die stad binne as heerser, met vertoon van wapens en mag en krag. Jesus kom die stad binne as vervulling van ‘n profesie as koning, maar ‘n koning wat, volgens die res van Sagaria, van oorlog ontslae sal raak, wat vrede sal bring, waarlik die Vredevors teenoor die oorlogsvors!