Deur watter bril kyk JY?

28 03 2011

“Dit is nie WAT jy weet nie, maar WIE jy ken” – so sê ons mos graag as ons kyk na hoe mense opgang maak in die lewe… So is ons dalk soms so bietjie jaloers op ander wat vooruit gaan. Daar ‘n groot klomp voorveronderstellings wat ons gedrag elke dag bepaal, ‘n groot klomp stories wat inspeel op hoe ons die lewe sien. So aanvaar ons later baie dinge as vanselfsprekend, dit moet maar so wees. Byvoorbeeld dat politici so ‘n hoë posisie beklee. Dat mense in die ‘sagter wetenskappe’ soos onderwysers en maatskaplike werkers, met kleiner salarisse as sê nou maar ouditeure en aktuarisse tevrede moet wees. Dat ryk mense ook die invloedryke mense moet wees. Dat as jy ‘n groot sterk man is, jy outomaties die leier is. Dat kragdadigheid ‘n teken van ‘n goeie leier is.

‘n Groot klomp stories, voorveronderstellings, praat saam in ons lewens as ons na iemand kyk en daardie persoon beoordeel.

Hier in ons verhaal (Johannes 4:1-26) gebeur dieselfde ding. Die vrou kyk na Jesus en ‘n klomp goed, ‘n klomp verhale, ‘n klomp kultuurgoedere maak dat sy vir Hom sê: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Agter hierdie eenvoudige vraag sit ‘n groot klomp vooroordeel.

☛ Toe die Assiriërs Samaria verower het, die Noordelike ryk van Israel, het hulle groot getalle van die inwoners gedeporteer en hulle plek met burgers van oral oor die Assiriese ryk vervang (2 Kon 17:23). Die Assiriërs het hulle vreemde godsdiens en andersoortige kultuur saam met hulle gebring en derhalwe het ’n merkbare “verbastering” tussen die Joodse inwoners van Samaria en die Assiriërs plaasgevind. Hieruit het die Samaritane gespruit. Die suidelike stamme is later ook weggevoer in ballingskap, maar na Babilon. Ná jare in Babilon is hulle toegelaat om hulle weer in Israel te hervestig. Die teruggekeerdes van die suidelike ryk wou ’n tempel bou en die Samaritane se hulp is van die hand gewys. Vyandigheid het tussen hulle ontstaan. In 400 vC het die Samaritane vir hulle ’n tempel in Samaria gebou, wat in 128 vC deur die Jode verwoes is.

So is daar diep vyandigheid tussen Jood en Samaritaan. Hulle het glad nie langs dieselfde vuur, of is dit nou put, gesit nie.

☛ Dan weet ons nog van die vooroordele in daardie tyd oor hoe mans en vroue met mekaar moes omgaan – of liewer NIE met mekaar mag kontak gehad het nie. Soveel so dat ‘n Joodse man nie eers met sy eie vrou in die openbaar sou praat nie. Dat ‘n vrou gesien is as iemand wat nie eers voor die hof kan getuig nie…

☛ En Jesus praat met die Samaritaanse vrou, redeneer met haar, vra haar vir water. So keer Hy ‘n klomp gebruike en kultuurverwagtinge om. Een vir een word al die aspekte uit ‘n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26 wanneer Jesus sê dat Hy die Messias is.

Lydenstyd is die tyd wanneer ons herinner word dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af lyk betekenis aan ons lewens te gee – getoets en op hul kop gedraai (kan) word.

Hier het die plaaslike gemeente waar hierdie gedagtes as preek gedeel is, baie waardevolle insette gelewer. Op die vraag watter vooroordele, watter kultuurgoedere, ons weghou daarvan om ander as kinders van God te sien, is die volgende vooroordele uitgelig:

  • Ons kan net in die kerk glo – terwyl dit so is dat die Nuwe Testament ons aanmoedig om as gelowiges saam te verkeer, het ons vandag die ongelukkigheid dat baie mense IN die kerk al baie seer gekry het. Hulle vertrou nie meer ander Christene nie, en omdat hulle nie meer eredienste bywoon nie, maak ons hulle af as “ongelowig”. So verdiep ons net die seer waarmee hulle rondloop!
  • Iemand wat anders lyk of op ‘n ander manier aanbid is nie ‘n “regte” Christen nie – Eintlik maak iemand wat anders lyk of doen ons ongemaklik, en so is dit makliker om te projekteer, om die wat “anders” is te etiketteer. As die ander ‘n etiket van “liberaal” of “onvolwasse” of “oneerbiedig” om sy/haar nek dra, dan kan ons so ‘n persoon beheer. Kategoriseer. Eenkant in ‘n boksie wegpak.
  • So wil ons net ons geloof op ‘n Sondag in ‘n vaste ritueel uitleef – enigiets anders is “onstigtelik”. Ons fokus so op die vorm en ritueel dat ons nie die pyn en nood van die medegelowige wat saam met my in die erediens sit, oplet nie.
  • Ons aanvaar dit as normaal dat in ‘n klein plattelandse dorpie daar ten minste 7 of 8 kerke is – in een gemeenskap! – Ons is nie meer ongemaklik oor vooroordele wat ons as Christene uitmekaar hou nie. Jesus het reuse grense oorgesteek in Sy uitreik na die Samaritaanse vrou. Ons is nie eers gereed om die hand na ‘n mede-Christen uit te reik nie, of om saam met ‘n mede-Christen van ‘n ander taal, afkoms of ras God te aanbid nie. Ons is gemaklik met verdeeldheid in die Christen gemeenskap – is Jesus?
  • Eredienste is net “reg” as ‘n dominee of pastoor of iets dit aanbied. ‘n “Gewone” gelowige se nadenke oor die Skrif word afgeskiet as van minder waarde. As ek hoor ‘n ouderling of iemand anders gaan die diens lei, bly ek sommer by voorbaat weg!

Wat ‘n reuse klomp insig bestaan daar tog nie in ons klein dorpie nie! As ons hierdie perspektiewe, onder andere, kan begin uitleef, sal dit net groot dinge beteken vir die geloofsgemeenskap hier.

Die brille van vooroordeel is egter dik! Ons moet die Koning wat aan die kruis is raaksien. Die een wat vir ons wys dat diensbaarheid die kenmerk van ‘n leier is, en nie mag of posisie nie. So kan ons ook ons eie kultuurbrille weggooi en ander met die oë van Jesus raaksien, as mede verteenwoordigers van God geskape.

Advertisements




Grense

18 05 2010

Wat is dit met mense en grense? Iets uit die oertyd toe alles oor oorlewing gegaan het? Iets van ‘n ingebore aversie teen dit wat ANDERS is? Grense rondom mysself, my gevoelens. Grense rondom my familie, grense rondom my mense, my land, my kontinent, selfs dalk eendag rondom my wêreld teen wat van buite mag kom?

Waar dit ookal vandaan kom, dis ‘n werklikheid. ‘n Werklikheid wat die manier waarop ek werk en woon bepaal. Kyk maar na ons hoë mure en elektriese omheinings om ons huise. Selfs op vakansie, ver van enige amptelike kampplekke in die Kalahari of Namib, trek ons ons voertuie in ‘n laer om ONS ruimte te skep.

In die verband het ek jare terug ‘n baie interresante ondervinding gehad by Ukwi pan, in die weste van Botswana. Ons het in die bos gekamp, en ons voertuie in ‘n halfmaan getrek, met ons vuur as die fokuspunt van die halfmaan. ‘n Man van die Garankwa (spel?) San het uit die bos uit gestap gekom, aan die verste kant van die vuur gaan sit en homself warm gemaak. Geen oogkontak gemaak nie, ook nie na ons voertuie of besittings gekyk nie. Na ‘n ruk staan hy op en loop. Eers toe ons met hom begin praat, draai hy om en gesels met ons in die suiwerste Afrikaans! Hy verduidelik toe vir ons dat vir hulle, ‘n vuur altyd gemeenskaplike besitting is. Daarom ag hulle dit as ongeskik as jy jou vuur toe parkeer dat niemand anders daarby kan uitkom nie. Van ‘n besoeker word verwag dat hy nie tussen die vuur en jou huis sal kom nie. Na ‘n gesprek het hy die volgende dag teruggekom en vir my vriend ‘n pyl en boog kom maak, sodat ons kan sien hoe hy dit doen.

Hoeveel keer mis ons nie verrykende ondervindings  omdat ons laer trek en ander buite hou nie?

Die een ding wat my keer op keer tref van Jesus se optrede teenoor mense was Sy openheid. Die vrou met bloedvloeing het die moed gehad om aan die soom van Sy kleed te raak. Telkemale reik Hy uit, na die Siro-Fenisiese vrou, na Samaritane, na veragte Jode soos Levi die tollenaar, na kinders. Hy trek nooit laer en hou ander weg nie.

Wat sê my laer-trek mentaliteit van my getuienis as Christen? Hoe kan ek meer soos Jesus wees en oop wees vir ander?

Die Garankwa man se stelling dat vuur ‘n gemeenskaplike besitting is, het my laat dink aan die uitstorting van die Heilige Gees soos tonge van vuur… Hoeveel keer probeer ons om die vuur van die Gees vir onsself te hou – Myne! Terwyl Jesus se opdrag juis die teenoorgestelde was – in Jerusalem en Samaria, ja tot aan die uithoeke van die wêreld moet ons hierdie vuur deel!

Dankie tog vir Jesus se uitsending van Sy dissipels, vir Sy uitreik na mense buite die volk waaronder hy gebore is, want ook ons was hierdie buitestaanders na wie die eerste Christene gestuur is, ook ons is nie gebore Jode nie. Dit plaas egter nou ook op my die verpligting om nie die evangelie vir myself te probeer hou nie, maar om uit te reik na ander.

Ons moet onsself egter mooi vergewis van wat ons probeer bereik as ons uitreik na ander – die doel is tog nie om van ander kopieë van onsself te maak nie. Wat wil ek wys, hoe wil ek teenoor ander optree?

Wat moet in MY verander om in liefde, met Jesus se gesindheid na ander uit te reik? Wat moet ek leer by Jesus om grense te kan oorsteek eerder as om grense op te rig? Na wie stuur Jesus my?





Die verrassende God

3 04 2010

Het gister die voorreg gehad om drie Goeie Vrydag nagmale waar te neem, een in die NG Kerk, en twee in Xhosasprekende VGK gemeentes. Was nogal getref deur die verskil in geloofsbelewing tussen die verskillende gemeentes, maar nie net tussen die VGK en NGK gemeentes, soos wat ons dalk sou verwag nie. Ook tussen die twee VGK gemeentes was daar ‘n verskil, met die een wat in amper uitbundige vreugde vooruitgryp na dit wat na Goeie Vrydag kom, die opstanding. By die ander VGK gemeente het ek ‘n baie soortgelyke belewenis as by die NG gemeente gekry – ‘n soort van biddende ootmoet, ‘n besef van wat Goeie Vrydag vir Jesus beteken het. Die teks vir al drie geleenthede was dieselfde, die prediker dieselfde.

Dit, saam met die lees van die Leesrooster se fokusteks vir opstanding Sondag, Hand 10:34-43, het my laat wonder of ons nie partykeer te veel maak van die verskille, en te min van dit wat ons saambind nie.

Ek is seker ek sou in verskillende NG gemeentes ook die verskil in geloofsbelewenis ervaar het, as wat ek tussen die drie gemeentes van gister ervaar het. In plaas van om so te fokus op ras en taal, moet ons dalk eerder die wonderlike veelvoudigheid van God se genade vier.

Weereens het God my, in die woorde van die Leesrooster se preekstudie, verras! Die verassing het egter nie daar opgehou nie!

‘n Ou universiteitsvriend van my, Piet Steyn, wat tentmaker sendeling in die Oekraine is, stuur toe ook vir my ‘n epos waarin ons so bietjie gesels oor die Ortodokse gebruike rondom Paasfees. Die verrassende vir my is toe hoe, na “70 jaar van formele ateisme” gebruike soos om mekaar te groet rondom Paasfees met die gebruiklike “Christus het opgestaan”, “Hy het waarlik opgestaan”, nog steeds oorleef. Piet se vrou, Dekseltjie (‘n storie vir ‘n ander dag!), put groot genot daaruit om ateistiese of agnostiese kollegas en vriende met “Christus het opgestaan” te groet, net om die outomatiese respons van “Hy het waarlik opgestaan” te kry. Wat natuurlik dadelik opgevolg word met rooi gesigte, want hulle glo mos nie in dié “bygeloof” nie!

So op hierdie Saterdag voor Paasfees, groet ek julle met “Christos waskres!” (Russies vir “Christus het opgestaan”).

En ek hoor by voorbaat julle antwoord “wahistinoe waskres!” (Russies vir “Hy het waarlik opgestaan”). Nie as kultureel gewoonte-antwoord nie, maar gebore uit die geloof in ‘n lewende God wat ons nog telkemale kan verras!