Komga stories

14 09 2010

Soos beloof, van die stories wat vertel is tydens Komga se feesvieringe:

  • Tannie Poppie was die orrelis, maar nie sommer so ‘n orrelis nie, sy was DIE ORRELIS – m.a.w. redelik groot…  So groot dat sy nie die traporrel se trappe kon trap nie. So word twee opgeskote knape gekry om die pomp hier langs die kant van die traporrel te pomp, maar nie hoe nie, toe breek hulle die pomp se handvatsel af. Nou is daar net een genade… die twee knape moet hier onder tannie poppie se voete in, en die twee trappe druk dat die orrel kan wind kry. Die trappe moet jy egter om die beurt druk, druk jy hulle saam, is die orrel windloos en kom daar nie ‘n geluid uit nie. Nou soos dit maar gaan met opgeskote knape, hou hulle nie veel van die werk hier onder tannie Poppie se voete nie, en soos hulle belangstelling verloor, verloor hulle ook hulle ritme op die trappe, en die orrel raak windloos… Dan raps tannie Poppie sommer hier van bo af, en die twee lê weer in, soos twee goeie karperde. Op een stadium raak hulle weer die ritme kwyt, en die een loer nog om om te sien waar die raps is, toe kry hy dit sommer deur die gesig! Toe pomp die mannetjies!
  • Soos vandag nog, het Komga vroeër dae heel leeg geloop oor die Kersvakansie. Die een jaar kry twee kwajongens, ‘n de Kock en ‘n Fourie wat altyd by al die moeilikheid voor was, die taak om Mevrou Dominee en die kinders solank met die ossewa see toe te vat, Double Mouth toe, waar die gemeente en Dominee almal saam vakansie gehou het. As proviand vir die pad, word eers ‘n hele klompie bier gekoop. Toe word Mevrou Dominee en die kinders met al die vakansiegoed op die wa gelaai, nadat ‘n paar biere eers geledig is, net vir die warm laaiery… Toe word die pad Double Mouth toe gevat, maar nie voordat ‘n klomp klippe op die wakis gelaai is, en die touleier weggejaag is nie. Om te draai word of die hot of haar os dan met ‘n klip gegooi, en die deins weg, en so draai die ossewa. So gaan dit heel vrolik voor op die wa, met die biere wat vinnig minder word.

Wonderbaarlik kom hulle toe sonder teenspoed by die laaste steil afdraende voor Double Mouth aan, met die biere nou heeltemal op! Die twee besef toe wel dat hulle nie net die uitermate steil afdraende so kan aandurf nie, maar hulle het die ossewa se remskoen by die huis gelos. Hoe nou gemaak? Hulle neem toe ‘n groot ketting, maak ‘n knoop daarin, en maak dit so vas dat die agterwiel daarop klim, en so op die ketting die bult afgly. So gedoen so gedaan, sit hulle die osse aan die loop, maar toe werk die biere so dat hulle albei hulle balans verloor en val. Die osse en Mevrou Dominee en kinders is die bult af, met die twee wat val-val en rol-rol agterna kom! Gelukkig het die osse toe darem die wa veilig onder gekry!

Daar word nog baie stories van die twee vertel, soos van kapkarre wat in die see “val” dat net die disselbome uitsteek, maar daaroor ‘n ander dag verder.

  • Op ‘n stadium het Komga ‘n heel lekker rugbyspan gehad, met die NG en Sending dominees wat die senterpaar was. Een Saterdag kort daar toe ‘n vleuel, en na ‘n geskarrel word die Metodiste dominee nader gehark as vleuel. Toe die ander hoor van die drie dominees so op ‘n ry in die agterlyn, laat een hoor, “dis nou ‘n agterlyn wat vir geen duiwel stuit nie!”
  • Een van die interessantste Komga stories is seker die een van die klok. In die twintigerjare het die nuwe klok van die kerk weggeraak. So is die Engelse op die dorp geblameer, en het die ding amper gevoelens veroorsaak. So het die hele saak later vergete geraak, tot so klompie jare gelede toe ‘n brief uit Zimbabwe opdaag van Oom Nicholas de Kock. In die brief skryf hy toe dat sy gewete hom vreeslik pla, en dat hy moet bieg – hy en Piet Quion (uitgespreek “coin”) Fourie het die klok een nag afgehaal, en aan die Westekant van kerk begrawe. Met al die gevoelens rondom die beskuldigings dat die Engelse die klok gesteel het, het hy en Piet maar liewer oor die petalje stilgebly. Oom Nicholas stuur toe ewe ‘n plan ook saam van waar die klok moet lê. Net een klein probleempie, daar is intussen ‘n konsistorie aangebou bo-oor die plek waar die klok moet lê…

Met die feesvieringe van die naweek, is daar egter vlam gevat en is die klok gesoek. Gelukkig het Graham Bretzke ‘n metaalverklikker. So is ‘n gat in die konsistorievloer gesaag, en is daar ‘n stuk of 15 gate in ‘n BAIE beperkte ruimte gegrawe. Behalwe vir ‘n indrukwekkende versameling geroeste spykers en ander stukke ysters, is die klok toe nooit gevind nie. Ongelukkig is beide Piet en Nicholas intussen oorlede, so hulle kan nie gevra word vir meer inligting nie. Nou word daar weer bespiegel oor die tyd wanneer dit gebeur het, en of die konsistorie al gebou was of nie. Miskien sal Graham se metaalverklikker weer een van die dae ingespan word – sodra die seer spiere eers herstel het!





Komga

13 09 2010

Komga Kerkgebou

Met die viering van die 100jarige bestaan van die Ned. Geref  Kerkgebou te Komga, het daar wonderlike stories uitgekom! Ek sal so klompie van hulle hier plaas, maar eers net die “amptelike” voëlvlug oor die geskiedenis van die gemeente.

“Op die 15de Oktober 1859 besluit die Ring van Albanie in sitting te Riebeeck-Oos om di. W. Thomson en G.W. Stegmann na “Brits-Kaffraria” af te vaardig teneinde ondersoek in te stel na die omstandighede van die sg. “Grantees” aldaar wat lidmate is van die Ned. Geref. Kerk en as dit raadsaam blyk ‘n gemeente te stig.

Ds. W. Thomson word intussen siek, maar ds. G.W. Stegman gaan voort met die Ring se besluit en ontmoet te Newlands (Sendingstasie van die Episkopaalse Kerk) en te Peelton (Sendingstasie van die London Mission Society) lidmate van die Ned. Geref. Kerk. Die gevolg was die stigting van ‘n gemeente genaamd “Die Ned. Geref. Kerk in British Kaffraria”.

Op die Kerkraadsvergadering van 4 Mei 1861 te Peelton, word besluit om ‘n kerkplaas aan te koop. Die plaas van die heer W. Pretorius kom ter sprake en word gekoop vir £1,000. Op voorstel van ds. Stegman word die kerkplaas McLean genoem as blyk van waardering vir die simpatieke houding van Kolonel McLean teenoor die lidmate van die Ned. Geref. Kerk.

Voortaan sou dit die gemeente van Maclean wees en nie meer “De Ned. Geref. Kerk in British Kaffraria” nie. In 1910 is die laaste sentrum verskuif na Komga.” (Aangehaal uit die 1859-1959 Jubileum pamflet van die NG Kerk Komga).  Nadat die sentrum van die gemeente na Komga verskuif is, is die gemeente weereens herdoop – hierdie keer na die Ned. Geref. gemeente Komga.

Die Kerk is gebou deur Mnr N.G. de Kock en familielede en vriende. Mev N.G de Kock het die hoeksteen op 5 September 1910 gelê.

Die gemeentes van King William’s Town, Stutterheim en Oos-Londen het almal van Komga afgestig. Butterworth het ook van Komga afgestig, maar het weer teruggekom na Komga nadat die Transkei onafhanklikheid verkry het. Die ou grense van die gemeente het tot by die Bashee rivier getrek. In 1993 het Komga gemeente verenig met Stutterheim gemeente nadat die getalle te Komga heelwat gedaal het.

Al die afstigtings het nie sonder probleme verloop nie. Die Hollands-sprekendes van Oos-Londen wou net ‘n eie gemeente stig as hulle “niks met die Maclean gemeente te make sou hê nie.” Dit het gelei tot ds. J.P. Jooste se bedanking. Verhoudinge het egter verbeter en in 1905 is Oos-Londen afgestig van Komga.

In 1959, tydens die 100-jarige fees, het Komga 452 lidmate gehad. Dertig jaar later, in 1989 was daar nog 266 lidmate. Tans bevat die Komga wyk van die Stutterheim gemeente, 41 lidmate.

  • Tot sover die “amptelike” geskiedenis van die gemeente. Interessant genoeg bestaan daar twee weergawes van die aankoop van die plaas te Macleantown. Volgens die een, soos hierbo aangehaal uit die 1959 eeufees pamflet. Die ander, genoem in “A Pot-pourri of Komga History” deur M.A.M de Villiers, sê dat die oorspronklike plaas Maclean in 1859 in die naam van Koningin Victoria aan die Ned. Geref. Kerk “toegeken” is.
  • Ter wille van nasate los ek die name uit die volgende storie:  Daar was ‘n leraar te Komga met wie die gemeente glad nie goed oor die weg gekom het nie. (Hy het ‘n geskiedenis gehad van moeilikheid by ander gemeentes ook). Op ‘n kerkraadsvergadering, waarin die kerkraad hom probeer oorreed het om te bedank, sê die leraar toe dat hy net sal loop as hulle hom uitkoop. Hy voeg toe by dat hulle nie die geld daarvoor het nie. Met die maak ‘n ouderling ‘n sak wat hy by hom gehad het oop, en skud (volgens oorlewering) sowat 300 goue ponde op die tafel uit, met die woorde: “Daar gaan jy!” Die dominee het toe blykbaar sonder enige verdere omhaal bedank…




Hy is magtig!

13 09 2010

Die afgelope naweek Komga se kerkgebou se 100jarige bestaan gevier, met die gemeente wat 151 jaar gelede gestig is. Hieronder die boodskap vir die dag. Sal so ietsie oor die geskiedenis van die gemeente in ‘n ander post plaas.

———————————————–

Efesiërs 3:14-21

Dit is lekker om te kan fees vier! Dit is lekker om na te dink oor genade, oor dinge wat gebeur het. Sulke nadenke kan egter ook gevaarlik wees deurdat ons dalk net kan dink aan wat ONS gedoen het – asof hierdie kerk en gemeente se 151 jarige geskiedenis van ons afgehang het. Dit is ook gevaarlik, want ‘n mens kan dink die werk is nou klaar, ons kan terugsit, daar is niks meer om te doen nie.

Paulus se gebed vir die Efesiërs gee egter ‘n totaal ander perspektief aan ‘n dag soos vandag. Ons is nie hier bymekaar omdat ons so goed is of so hard gewerk het nie, nee, dis deur “die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het.”(3:15) Dit is deur Sy Genade dat ons hier is.

God is die een is wat ons versterk, en NOG STEEDS versterk – die werk is nie klaar nie, dit gaan voort! Paulus praat van ‘n innerlike krag – ‘n krag, ‘n versterking wat kom uit die feit dat God deur Sy Gees in ons woon, ons lei.

Hierdie innerlike versterking lei direk tot die vestiging van ons fondamente in God se liefde (3:17), tot ons wortelskiet in God se liefde met wortels wat diep deurdring. Die manier waarop Paulus dit sê, wys daarop dat dit klaar gebeur het. Ek en jy HET wortelgeskiet in Christus se liefde. Hy is in ons harte, in die diepste sentrum van ons lewens. Dit gebeur deur die geloof, die aanvaarding van God se liefde, die neem van God op Sy Woord. Daardie wortels moet nou die liefde in ons lewens inbring en laat sigbaar word. Christus se liefde is nie maar bloot ‘n sêding of konsep nie, waar Hy is, is daar liefde!

Wanneer ons na onsself luister, dan is ons geneig om negatief te wees – ag die lidmate te Komga het so min geword… God se liefde is egter baie meer, baie wyer en hoër en verder as wat ons ooit kan droom of dink (3:18). As ons werklik na mekaar begin luister, begin praat oor wat God besig is om te doen, dan ontdek ons ‘n ander sy van die lewe. God se genade is net soveel groter as wat ons selfs kan droom!

Vers 19 sê God se liefde gaan alle verstand te bowe! Ons dink ons is slim, ons weet so baie, maar God se genade en God se liefde is onverstaanbaar. Ons kan dit net aanvaar. En dit is ten grootste wat ons hier vier vandag – God se genade en God se liefde wat oor soveel jare sigbaar was hier in Komga, maar nog steeds sigbaar is!

Hy is “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink”! (vers 20) Nie net nou of in die verlede nie, maar “deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.” (3:21)

Terwyl ons terugkyk na al die wel en weë van die kerk in hierdie geweste – na dae met baie lidmate, ander tye minder lidmate, samewerking met verskillende gemeentes, moet ons weet dat dit nooit vervelig kan wees as God se kind nie! Hy wil en kan elkeen van ons gebruik tot Sy eer. Hy is werklik “magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink”!