Een…

30 10 2014

flowersJoh 17:20-21: (2014 Direkte vertaling): “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo — dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U; en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”

In ‘n vorige plasing op hierdiedie blog is ons gevra: “Is ek by God?” Daarna het die vraag gevolg: “Is ek by God deur myself te gee?” Vandag vra Johannes die vraag: “Is ek by God deur eenheid tussen gelowiges te soek?”

Hierdie vraag is deur die eeue ook al baiekeer aangespreek in verskillende Geloofsbelydenisse. Hier is ‘n paar voorbeelde:

Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;”
Geloofsbelydenis van Nicea: “Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.”
Belydenis van Belhar (1986): “Ons glo aan een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.”

Jesus bid vandag vir ons en tree vir ons by die Vader in. Waarvoor bid Hy? Volgens hierdie gedeelte bid Hy vir herstelde verhoudings, vir geneesde mense, vir liefdevolle samesyn. “Vir hulle bid Ek ook! Vader, gee dat hulle in lojaliteit teenoor mekaar soos een man sal saamstaan. Vader, U weet hoe heg en intiem ons verhouding met Mekaar is. Ons belange, denke en dade is totaal een. Gee asseblief dat hulle verhouding onder mekaar en veral met Ons net so heg en intiem sal wees. As die mense in hierdie wLreld sien hoe die gelowiges saamstaan en saamwerk, sal hulle oë daarvoor begin oopgaan dat U My na hulle toe gestuur het.” (17:21 Die Boodskap).

Deur Jesus word ons opgeneem in die lewe van die Heilige Goddelike Familie, Vader, Seun en Gees. Ons word kinders van God. Jesus bid dat die kwaliteit van ons verhoudinge dieselfde liefdevolle gehalte sal hê as die verhouding binne die Drie-eenheid.

Uit ‘n eerlike lees van Joh 17:20-26 kom ons agter dat eenheid vir Jesus belangrik was. Hy bid dat daar eenheid onder sy volgelinge sal wees. Onthou wie is die volgelinge oor wie dit hier gaan. Daar was vissermanne, belastinggaarders, ekstroverte en introverte, ouer en jonger mense asook mans en vroue onder hulle. Een ding kan ons van hierdie volgelinge van Jesus sê: Hulle was nie ‘n groep eenderse mense nie – en tog bid Jesus dat hulle een sal wees.

Miskien dink ons te veel oor eenheid in terme van eendersheid. Ons ken almal die storietjie van die ma wat na haar seun se paradedag gegaan het toe hy as polisie-offisier uitpasseer het. Die jong polisiemanne en vroue het netjies in gelid voor die skare verby marsjeer, maar o wee, die ma se seun was uit pas. “Kan jy glo”, sê sy vir die mense rondom haar, “my seun is die enigste een wat in pas is!”

Vir baie mense is ‘n kolom mense in uniform wat in gelid marsjeer, mooi! Dis volledige eendersheid. Die gevaar is dat ons iets hiervan in die kerk, in ons gemeente soek wanneer ons aan eenheid dink. Dan voel ons goed as almal konformeer na dieselfde kleredrag, dieselfde gebruike en optredes, ensovoorts.

Dis is nie verkeerd om by mekaar aan te pas en te konformeer nie. Ons doen dit in elk geval op baie terreine van ons lewe. Dink maar aan hoe mense elke jaar by nuwe modes aanpas. Die probleem onstaan egter wanneer ons dit begin verwar met gemeente-eenheid en kerkeenheid.

Wanneer dit gebeur, raak die gemeente of kerkruimte ‘n onveilige ruimte vir wie ook al uit pas is. Wee die een wat rook, sê een groep Christene. Wee die een wat geskei het, sê ‘n ander groep. Wee die een wat MIV positief is…..! Hierdie houdings lei tot stigma. En stigma funksioneer lynreg teenoor eenheid. Stigma lei daartoe dat ons na mekaar kyk met ‘n “Ons – Julle” houding.

In die Skifgedeelte waarby ons stilstaan, gaan dit baie duidelik om eenheid tussen Jesus se dissipels. Hierdie eenheid is so belangrik vir Jesus dat hy dringend tot sy Vader hiervoor bid. Die eenheid is so groots en diepgaande dat Jesus dit selfs met die eenheid wat daar tussen Hom en die Vader is, vergelyk. Hierdie eenheid is so belangrik vir die geloofwaardigheid van die evangelie dat Jesus by herhaling sê dat dit nodig is dat sy volgelinge een sal wees, want dan sal die wêreld weet en dan sal die wêreld glo.

Wanneer Jesus volgens Joh 17:22 sê dat Hy sy heerlikheid aan sy volgelinge gegee het sodat hulle ook een kan wees, gaan dit hier oor die paradoksale heerlikheid. Jesus “gee” aan sy dissipels sy lydensweg! In die ander evangelies lees ons dat Jesus herhaaldelik vir sy dissipels gesê het, neem jou kruis op en volg my (vgl Mat 10:38, 16:24, Mark 8:34 en Luk 9:23). Die eenheid tussen Jesus se dissipels is dus ten diepste ‘n eenheid wat die vrug is van dissipels van Jesus wat hulle kruise dra, volgelinge van Jesus wat bereid is om die minste te wees en ander se voete te was, gelowiges wie se optrede vol van genade en waarheid is. Dis ‘n liefdesgemeenskap volgens die liefde van Jesus.

In hierdie liefdesgemeenskap is die vrae, “wie is eenders en wie is anders?”, nie belangrik nie. Hier word gefokus op die vrae, “wie het hulp nodig? Wie se laste moet gehelp dra word?”

Wanneer ons so gemeente is, word ons gemeente ‘n plek van veiligheid, van genesing vir mense wat seergekry het, mense wat skynbaar anders is, mense van wie ons dink dat hulle uit pas geraak het. Die gemeente is mense wat deur God begenadig is. Mense wat God nuwe mense maak. En daarom kan ons ook mekaar in genade aanvaar in ons verskeidenheid en mekaar help om nuut te leef.

“Is ek by God deur eenheid onder gelowiges te soek?”

 

(Hierdie blogpost is die tweede van 4 wat van die sentrale temas van die Belydenis van Belhar (1986) oordenk. Hierdie plasings is nie verklarings of uitlegging van die Belydenis van Belhar nie, bloot nadenke oor van die temas.

Agtergrond inligting en stof gebruik  vanaf http://www.workingpreacher.org,http://seisoenvanluister.co.za en http://belydenisvanbelhar.co.za )

Advertisements




Deur watter bril kyk JY?

28 03 2011

“Dit is nie WAT jy weet nie, maar WIE jy ken” – so sê ons mos graag as ons kyk na hoe mense opgang maak in die lewe… So is ons dalk soms so bietjie jaloers op ander wat vooruit gaan. Daar ‘n groot klomp voorveronderstellings wat ons gedrag elke dag bepaal, ‘n groot klomp stories wat inspeel op hoe ons die lewe sien. So aanvaar ons later baie dinge as vanselfsprekend, dit moet maar so wees. Byvoorbeeld dat politici so ‘n hoë posisie beklee. Dat mense in die ‘sagter wetenskappe’ soos onderwysers en maatskaplike werkers, met kleiner salarisse as sê nou maar ouditeure en aktuarisse tevrede moet wees. Dat ryk mense ook die invloedryke mense moet wees. Dat as jy ‘n groot sterk man is, jy outomaties die leier is. Dat kragdadigheid ‘n teken van ‘n goeie leier is.

‘n Groot klomp stories, voorveronderstellings, praat saam in ons lewens as ons na iemand kyk en daardie persoon beoordeel.

Hier in ons verhaal (Johannes 4:1-26) gebeur dieselfde ding. Die vrou kyk na Jesus en ‘n klomp goed, ‘n klomp verhale, ‘n klomp kultuurgoedere maak dat sy vir Hom sê: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Agter hierdie eenvoudige vraag sit ‘n groot klomp vooroordeel.

☛ Toe die Assiriërs Samaria verower het, die Noordelike ryk van Israel, het hulle groot getalle van die inwoners gedeporteer en hulle plek met burgers van oral oor die Assiriese ryk vervang (2 Kon 17:23). Die Assiriërs het hulle vreemde godsdiens en andersoortige kultuur saam met hulle gebring en derhalwe het ’n merkbare “verbastering” tussen die Joodse inwoners van Samaria en die Assiriërs plaasgevind. Hieruit het die Samaritane gespruit. Die suidelike stamme is later ook weggevoer in ballingskap, maar na Babilon. Ná jare in Babilon is hulle toegelaat om hulle weer in Israel te hervestig. Die teruggekeerdes van die suidelike ryk wou ’n tempel bou en die Samaritane se hulp is van die hand gewys. Vyandigheid het tussen hulle ontstaan. In 400 vC het die Samaritane vir hulle ’n tempel in Samaria gebou, wat in 128 vC deur die Jode verwoes is.

So is daar diep vyandigheid tussen Jood en Samaritaan. Hulle het glad nie langs dieselfde vuur, of is dit nou put, gesit nie.

☛ Dan weet ons nog van die vooroordele in daardie tyd oor hoe mans en vroue met mekaar moes omgaan – of liewer NIE met mekaar mag kontak gehad het nie. Soveel so dat ‘n Joodse man nie eers met sy eie vrou in die openbaar sou praat nie. Dat ‘n vrou gesien is as iemand wat nie eers voor die hof kan getuig nie…

☛ En Jesus praat met die Samaritaanse vrou, redeneer met haar, vra haar vir water. So keer Hy ‘n klomp gebruike en kultuurverwagtinge om. Een vir een word al die aspekte uit ‘n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26 wanneer Jesus sê dat Hy die Messias is.

Lydenstyd is die tyd wanneer ons herinner word dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af lyk betekenis aan ons lewens te gee – getoets en op hul kop gedraai (kan) word.

Hier het die plaaslike gemeente waar hierdie gedagtes as preek gedeel is, baie waardevolle insette gelewer. Op die vraag watter vooroordele, watter kultuurgoedere, ons weghou daarvan om ander as kinders van God te sien, is die volgende vooroordele uitgelig:

  • Ons kan net in die kerk glo – terwyl dit so is dat die Nuwe Testament ons aanmoedig om as gelowiges saam te verkeer, het ons vandag die ongelukkigheid dat baie mense IN die kerk al baie seer gekry het. Hulle vertrou nie meer ander Christene nie, en omdat hulle nie meer eredienste bywoon nie, maak ons hulle af as “ongelowig”. So verdiep ons net die seer waarmee hulle rondloop!
  • Iemand wat anders lyk of op ‘n ander manier aanbid is nie ‘n “regte” Christen nie – Eintlik maak iemand wat anders lyk of doen ons ongemaklik, en so is dit makliker om te projekteer, om die wat “anders” is te etiketteer. As die ander ‘n etiket van “liberaal” of “onvolwasse” of “oneerbiedig” om sy/haar nek dra, dan kan ons so ‘n persoon beheer. Kategoriseer. Eenkant in ‘n boksie wegpak.
  • So wil ons net ons geloof op ‘n Sondag in ‘n vaste ritueel uitleef – enigiets anders is “onstigtelik”. Ons fokus so op die vorm en ritueel dat ons nie die pyn en nood van die medegelowige wat saam met my in die erediens sit, oplet nie.
  • Ons aanvaar dit as normaal dat in ‘n klein plattelandse dorpie daar ten minste 7 of 8 kerke is – in een gemeenskap! – Ons is nie meer ongemaklik oor vooroordele wat ons as Christene uitmekaar hou nie. Jesus het reuse grense oorgesteek in Sy uitreik na die Samaritaanse vrou. Ons is nie eers gereed om die hand na ‘n mede-Christen uit te reik nie, of om saam met ‘n mede-Christen van ‘n ander taal, afkoms of ras God te aanbid nie. Ons is gemaklik met verdeeldheid in die Christen gemeenskap – is Jesus?
  • Eredienste is net “reg” as ‘n dominee of pastoor of iets dit aanbied. ‘n “Gewone” gelowige se nadenke oor die Skrif word afgeskiet as van minder waarde. As ek hoor ‘n ouderling of iemand anders gaan die diens lei, bly ek sommer by voorbaat weg!

Wat ‘n reuse klomp insig bestaan daar tog nie in ons klein dorpie nie! As ons hierdie perspektiewe, onder andere, kan begin uitleef, sal dit net groot dinge beteken vir die geloofsgemeenskap hier.

Die brille van vooroordeel is egter dik! Ons moet die Koning wat aan die kruis is raaksien. Die een wat vir ons wys dat diensbaarheid die kenmerk van ‘n leier is, en nie mag of posisie nie. So kan ons ook ons eie kultuurbrille weggooi en ander met die oë van Jesus raaksien, as mede verteenwoordigers van God geskape.





Persepsies

23 04 2010

Persepsies is darem maar ‘n ding! My woordeboek beskryf ‘n persepsie as daai ding wat onaantreklike meisies (en ouens!) al hoe mooier laat lyk hoe meer bier jy drink…. Eintlik wil dit seker maar net sê “beauty is in the eye of the beholder”… Dit is ‘n ding wat rasioneel moeilik vasgevat kan word, want hy slaan baie diep in jou binneste, in die kern van jou bestaan vas. So het sekere ouens baie sterk persepsies oor watter karre die beste eyeis (Moet nie eers raak aan die Land Rover / Land Cruiser debat tussen die 4×4 ouens nie!). Alles baie onskuldig, lekker gesels-stof vir om ‘n braaivleis vuur.

Ongelukkig trap persepsie egter baie dieper spore as dit! Soms selfs bloederige spore…. So het ons persepsies oor ander nasies en volke – kyk maar net na al die grappe oor Iere / Skotte / Duitsers / Swart mense / Chinese / Pole / Boere . Weereens baie onskuldig, alhoewel soms erg kwetsend! En verder vertel dit ‘n verhaal van weggesteekte (en soms openbare) meerderwaardigheid, rassisme en selfs haat teenoor die een wat die onderwerp van die grap is… Soms gaan dit nog baie verder! Gaan luister maar na wat Palestyne oor Jode sê, en andersom. Die persepsies, die woorde, loop uit op bloed wat vloei in daardie geweste. En dit is maar net enkele voorbeelde uit ‘n wêreld waarin onvrede eintlik die norm geword het. In Suid-Afrika loop gemoedere juis hoog oor die persepsies wat die lied “Kill the boer” aanwakker.

Hierdie hele relaas oor persepsies het weer by my opgekom na die lees van die tweegesprek tussen Nico Smith en Anton Pienaar in die jongste Kerkbode oor kerkhereniging en die besware / probleme daar rondom. As iemand wat sedert 1987 in die gemeentebediening in die NG Sendingkerk en VGK gestaan het, het ek ‘n sekere persepsie oor die NG Kerk opgebou. Meestal gebaseer op my eie ondervindings, maar ook op ander se oorvertelde ondervindings. Van my eie ondervindings was byvoorbeeld die NG Lidmaat wat weier om my met die hand te groet, want “hy vat nie aan ‘n hand wat die Belhar belydenis onderteken het nie”. Dan was daar die emiritus leraar wat ouderling te die NG Gemeente Calitzdorp was, wat vir ons groepie NG Sendingkerk predikante wou dogmatiek leer, want ons kerkbegrip was (volgens sy persepsie) gebrekkig. Om nie eers te praat van die male sonder tal wat ek deur NG lidmate gevra is wat se opleiding ek het nie, om deur stom verbasing begroet te word as ek hulle vertel dat ek en hulle dominee saam op kweekskool was, en dat ek eintlik dieselfde opleiding het.

So is my persepsie rondom die hele afwysing en negatiewe siening van die Belhar Belydenis onder gewone NG lidmate dat dit spruit uit sienings wat opgebou is deur die Afrikaanse pers en NG dominees in die laat tagtiger en vroeë negentiger jare.

Prof Nico Smith skryf: “’n Jaar of twee gelede is ek gevra om ondersoek in te stel na die redes vir die skeuring wat in VGK-gemeentes in die Vrystaat plaasgevind het. Dit was uiters ontstellende verhale wat ek moes aanhoor oor hoe  NG kerkrade die VGK-gemeentes behandel het. In die 14 gemeentes wat ek besoek het, was in al die gemeentes van die VGK die plaaslike NG gemeentes aangewys as medeverantwoordelik vir die skeuring.” Dit het my herinner aan die Selgemeente werkswinkel wat ek in Mosselbaai bygewoon het so jaar of wat nadat die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika verenig het om die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) te stig. By hierdie werkswinkel was ‘n leraar van die NGKA in Lesotho wat nie deel was van die eenwording nie, wat buite die VGK gebly het. Nadat ek en hy eers ‘n paar persepsies oor mekaar uit die weg geruim het, vertel hy toe vir my dat hy sy salaris vanuit die NG Kerkkantoor in die Vrystaat kry. Daar is aan hom persoonlik gesê dat as hy en sy gemeente sou saamgaan met die eenwording en by die VGK aansluit, hy sy salaris sou verloor.  So kan vele VGK leraars dieselfde verhale vertel. Dit het gelei tot wantroue teenoor die NG Kerk. Vrae word gevra oor die NG Kerk se bona fides as positief klinkende sinode-besluite geneem word.

Noudat ek amper ‘n jaar in die NG Kerk gemeenteleraar is, kom ek agter dat baie van dieselfde wantroue ook aan hierdie kant lê. Jare gelede het ‘n NG leraar op ‘n kerkeenheidskonferensie te Wellington vir my gesê dat sy grootste probleem met kerkhereniging is dat hy vrees wat met sy salaris en pensioenvoordele kan gebeur. As hy nie so ernstig was in sy vrese nie, het ek seker uitgebars van die lag oor die wanpersepsie wat agter so ‘n stelling sit. Die persepsie dat sy pensioen en salaris in gedrang is, skep egter ‘n gevoel van wantroue teenoor die kerkherenigings proses – wat sit hieragter! Slegs die negatiewe rondom die VGK stigting is gekommunikeer, en nie die positiewe nie. Wat egter kommerwekkend is, is dat dieselfde sienings nou nog deur sommige leraars gehuldig word! Die feite van die saak was dat by die stigting van die VGK daar drie amptelike pensioenfondse bestaan het in die NGSK en NGKA. Al drie is behou as amptelike fondse van die VGK en gemeentes besluit saam met hulle dominees by watter fonds aangesluit word. Pensioenfondse word immers deur landswette beskerm. Met salarisse het die VGK kreatief gewerk. Die NGKA se salarsskaal het laer as die NGSK s’n begin, en ook laer geëindig. Die twee salarisskale is toe saamgevoeg om een lang skaal te maak. Elke jaar vir tien jaar lank is toe een kerf aan die onderkant verwyder totdat daar op ‘n meer werkbare skaal uitgekom is. Geen leraar se salaris of pensioen is nadelig geraak direk as gevolg van die eenwording en die stigting van die VGK nie, behalwe die dreigemente wat hierbo genoem is teenoor leraars indien hulle met die eenwording sou saamgaan.

Net so het die VGK met sy stigting die selfstandigheid van gemeentes bevestig. Gemeentes besluit self watter taal gepraat word tydens hulle erediens, daarom kry ‘n mens op verskeie plekke in die land Afrikaanssprekende en Xhosasprekende VGK gemeentes in dieselfde dorp.

Besware oor salarisse en pensioene om kerkhereniging te verhoed is om spreekwoordelik viool te speel terwyl Rome brand. Die NG Kerk ondervind wat die VGK al jare mee sukkel, naamlik ‘n gebrek aan geld om predikante te betaal. Danie Mouton skryf oor die NG Ring van Graaff-Reinet: “Uit die elf gemeentes in die ring het sewe nog predikante, hoewel net 2 nog ten volle volgens sinodale riglyn betaal word.” Dit is ‘n patroon wat regdeur die land voorkom in beide VGK en NG gemeentes. Ek sit die week in ‘n vergadering van ‘n klein NG gemeente. ‘n Vergadering waarin oor die oorlewing van die gemeente gepraat word. Waarin ernstig en kreatief gedink moet word om die voortbestaan en die bediening van die gemeente te verseker. 500m vanaf die vergadering sit die kerkgebou van ‘n klein VGK gemeente. Hulle het ook nie ‘n vaste predikant nie. Hulle sukkel ook met voortbestaan. Niemand van die NG Gemeente het egter nog ooit gedink om die VGK gemeente te nader sodat hulle ‘n predikant gesamentlik kan beroep nie…

Moet ons nie ‘n slag mekaar se persepsies erken en herken nie. Moet ons nie ‘n slag probeer om ander se vrese daadwerklik aan te spreek en uit die weg te ruim nie? Jesus sê tog duidelik aan ons in Joh 13:34-35: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”” Liefde is al ding wat persepsie kan oorwin. Liefde is al wat jarelange wantroue kan oorwin. Liefde vra egter waarheid, eerlikheid. Liefde vra dat ek bereid sal wees om my gekoesterde persepsies neer te lê en om te aanvaar dat EK dalk ook verkeerd kan wees, dat my persepsie dalk ook skeefgetrek kan wees!

So moes ek na jare van opgeboude persepsies agterkom dat die NG Kerk van vandag nie meer die NG Kerk van vroeër is nie. Alhoewel die ou sieninge nog hier en daar kop uitsteek, is die NG kerk besig om ‘n nuwe kultuur te ontwikkel. ‘n NG Kerk wat LUISTER??!! Vir iemand wat uit die VGK kom, met 20 jaar se opgeboude persepsies, was dit nogal ‘n “eye opener”! Prof Willie Jonker was tog reg in sy 1998 boek: “Selfs die kerk kan verander”!

Persepsies! Dit herinner my sterk aan oogklappe!