Prosesse, prosedures en ander goggas

14 11 2016

“‘n Diep geestelike ervaring.” Dit is hoe meer as een persoon die 2015 vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk beskryf het. ‘n Vergadering ‘n “geestelike ervaring”??? Dit moes baie spesiaal gewees het. Ongelukkig was ek nie daar om te deel in die ervaring nie, maar dit het wel uitgeloop op ‘n klomp besware. Soveel so dat ‘n Buitengewone Algemene Sinode in November 2016 gehou is om die besware aan te hoor. En daar was ek. As sekundes afgevaardigde.

Die agenda (Insluitend beswaarskrifte en gravamina, 746 bladsye!) het ons ‘n week voor die tyd gekry. Maar daar was eers nog ‘n streeksinode om af te handel, so, het ‘n mens maar probeer lees waar moontlik, maar glad nie voorberei soos dit behoort te gewees het nie. Dat ek nie al een in hierdie bootjie was nie word sommer die eerste aand duidelik.

Na ‘n uur en ‘n half gesprek rondom die Algemene Taakspan Regte (ATR) se verslag word dit duidelik dat ons eintlik niks te sê het oor die 2015 besluit rondom selfdegeslagverbintenisse nie. ‘n Appèlliggaam het dit alreeds van die tafel af gevee as gevolg van prosedurefoute!  Frustrasie begin! Kon die ATR dit nie maar duidelik gesê het aan die begin van hulle verslag nie? Duidelik was die oorgrote meerderheid van die vergadering saam met my onder ‘n wanindruk.

‘n Ander gogga wat sommer die eerste aand sy kop uitgesteek het was regsmenings. Dit het omtrent soos die eindtyd geklink, maar behalwe vir oorloë en gerugte van oorloë was dit regsmenings en gerugte van hofsake!

Dag twee begin toe op ‘n manier wat hierdie doodgewone plattelandse dominee glad nie verstaan het nie. 2015 se besluit is van die tafel af, in prosedurele terme bestaan dit nie meer nie. Tog word die volgende dag daaraan gewy om diegene wat besware of voorleggings oor die 2015 besluit het, kans te gee om dit te lug. Twee en twintig mense kry tyd om te praat oor ‘n besluit wat nie meer bestaan nie! Hoe nou gemaak?

Uiteindelik kom die sinode by ‘n gesprek wat aan die hart van die verstaan van die boodskap van die Bybel oor selfdegeslagverbintenisse lê, naamlik Skrifgesag en die verstaan van die Skrif. Dit was tenminste ‘n gesprek van ordentlike gehalte en diepte. So, met verwagting vir ‘n ordentlike besluit oor hierdie saak wag ons vir voorstelle op die tafel.

Dit gebeur toe, ‘n voorstel, oorgeneem uit een van die beswaarskrifte, met ‘n klomp amendemente, kom op die tafel. Punt vir punt, soos dit hoort, word dit bespreek en beredeneer. Die eerste stemming oor ‘n amendement val, dit word aanvaar, en daar kom die wiele af! ‘n Afgevaardigde spring op en beskuldig die sinode daarvan dat die kerk se “hamartologie en soteriologie” nou verander is! Dis nou, in gewone Afrikaans, sondeleer en verlossingsleer. Daar is ‘n harwar. Prosedure foute is gemaak. Die oorspronklike voorsteller het nie kans op repliek gekry nie. Die besluit word verwerp en die vergadering rol terug na ‘n posisie voor die besluit geval het. Repliek word gelewer, weer word gestem, die keer word die amendement verwerp.

Oor die uiteindelike besluit sal ek later ietsie sê, maar oor die prosesse, prosedures en ander goggas? Nie ‘n geestelike ervaring vir my gewees nie….





Ecclesia completa en ander groot woorde

11 11 2016

IMG_3827.JPGDie pas afgelope Buitegewone Vergadering van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in Pretoria (7-10 Nov 2016) het, soos soveel keer in die verlede, heelwat reaksie uitgelok. Hier wil ek nie reflekteer oor die besluit rondom selfdegeslagverhoudings nie, maar eerder so bietjie wonder oor hoekom daar soms sulke skerp verskille op die vloer kon wees. Ons het tog ooreengekom dat ons die gesag van die Skrif aanvaar, ons het selfs ‘n lang gesprek oor die verstaan van die Skrif gehad (hermeneutiek), maar toe dit by die toepassing kom…

Opvallend was hoe sommige afgevaardigdes gehou het daarvan om “groot woorde”, tegniese terme, te gebruik, wat natuurlik lei tot die uitsluiting van die 50% kerkraadslede teenwoordig (waarvan, ek sou raai, die meeste nie tegniese teologiese terme in Latyn en Grieks verstaan nie, die dominees sukkel daarmee!).

Ek wonder…. Ek wonder of of nie iets in die debatte gesien het van die laaste van die “moderniste” wat krampagtig aan “sekerhede” vasklou nie, terwyl ‘n groot deel van die vergadering al baie meer gemaklik is met ‘n post-modernistiese styl. Sonder om nou self baie tegnies of akademies te raak, net ‘n enkele opmerking oor die verskil tussen die twee (Daar is baie meer verskille as wat ek hier op ‘n verenvoudigde manier uitlig!).

‘n Modernistiese wêreldbeskouing werk meestal met absolute waarhede, vaste waarhede, swart of wit styl argumente. ‘n Post-modernistiese styl is baie gemaklik met grys areas, met erkenning dat ons nie als weet nie, met die mistiese.

Die voorstanders van ‘n meer inklusiewe houding teenoor mense wat in die kerk randfigure is, in hierdie geval mense met ‘n selfdegeslagseksueleoriëntasie, erken meerendeels dat ons onseker is van baie dinge, soos Paulus dit stel in 1 Korintiërs 13:12 (AFR83): “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld“. Tog wil hulle ruimte maak vir dit waarvan ons wel seker is, naamlik die liefde en genade van God wat daar is vir alle mense.

Wat ek gehoor het van diegene wat BAIE meer seker is van hulle standpunte en van hulle “feite”, is absolute sekerheid. Dit IS wat die huwelik is, en basta. Dit is wat die Bybel sê, ek verstaan dit absoluut en duidelik. Selfs ironiese opmerkings deur mense aan die ander kant is letterlik geïnterpreteer.

Ek wonder… Soos wat meer “millennials” afgevaardig word en die “Baby-boomers” al minder word by hierdie vergaderings mag die styl van debatvoering dalk heelwat verander. Dit is egter ook nie ‘n reglynige saak nie. Van die “Baby-boomers” het baie inklusiewe taal gebruik en van die “millennials” baie eksklusiewe taal. Dalk glad nie ‘n gender / ouderdom ding nie.

Ekself vind my baie gemaklik by Paulus se “dowwe spieël”!