Ja, maar…

28 04 2015

In Numeri 13:25-33 kry ons een van daardie verhale wat ons almal onthou vanuit ons kinderbybels. Myne het nog ‘n prentjie gehad van twee manne wat ‘n reuse tros druiwe aan ‘n stok oor hulle skouers gedra het.

In hierdie gedeelte is daar egter iets baie interessant aan die gebeur. Die spioene kom terug met ‘n goeie verslag – “Dit loop oor van melk en heuning” (:27). Dit was die spreektaal om te sê die land is uitermate vrugbaar, beide in verboudingspotensiaal (melk) en natuurlike hulpbronne (heuning). Dieselfde spioene sê dan egter in vers 32 dit “is ‘n land wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak”, of soos die ‘53 vertaling sê, dit “is ’n land wat sy inwoners verteer”.

Hoe nou gemaak? Hoe kan dieselfde land oorloop van melk en heuning én sy inwoners verteer? Wat het gemaak dat die fokus so verskuif het?

☛ Die antwoord lê opgesluit in ‘n eenvoudige woordjie – “maar”. Dit is ‘n vrugbare land, MAAR die mense is sterk (:28). Dit is ‘n vrugbare land, MAAR die mense is sterker as ons (:31). Ten spyte van wat hulle gesien het, ten spyte van die belofte van God in vers 2 dat Hy die land aan die Israeliete sou gee, kom hulle met “Ja, MAAR!”

Slegs 2 uit die 12 spioene kom sonder ‘n MAAR terug. Kaleb sê in vers 30 duidelik “ons kan dit doen”. Dit is nie valse bravade nie, dis nie oorywerigheid nie. In verse 8 en 9 van die volgende hoofstuk sê Josua en Kaleb duidelik hoekom hulle so seker is dat hulle die land kan inneem: “Die Here is by ons.”

☛ Die spioene wat nie wou verder gaan nie, begin lieg en aandik om die Israeliete te oortuig dat hulle nie eers moet probeer om die land in te neem nie. Die melk en heuning raak iets wat hulle sou verteer. Saam daarmee word die mense sommer groter! Waar hulle eers net sterk is, raak hulle nou sommer reuse! Alles, net om nie die belofte van vers 2 te aanvaar nie.

☛ Alles, omdat hulle die Here uit die oog verloor het.

As ek so luister na mense wat praat oor wat in die wêreld gebeur, en veral ook die afgelope weke oor wat in ons eie land gebeur het, dan hoor ek dieselfde taal van vrees as by die 10 spioene. Vrees vir ISIS wat sterker as ons is. Vrees vir iets soos Xenofobie wat teen die blankes kan draai, want “hulle” is meer as ons. Vrees vir misdaad.

Die 10 spioene het een ding uit die oog verloor. Hulle het die Here gemis. Waar mis ons dalk die Here?

☛ Wat mis ons as ons rondom ons kyk en verlang na die ou dae. Hierdie selfde Israeliete is die wat verlang het na die vleispotte van Egipite nadat die Here hulle gered het. Hulle het die slawerny vergeet en net die vleispotte onthou.

Ons kyk na mense wat besighede oopmaak in ons dorp en kla oor die vreemdes. Besluit sommer dadelik hulle is onwettig. Ek is hierdie week uitgedaag deur Barkly-Oos se reaksie op die Chinese winkeleienaars. Daar het mense maar ook, soos ons baiemaal, gekla oor die vreemdelinge. Toe besluit ‘n groepie lidmate om die winkeliers te besoek en te vra wat hulle nodig het. Eers was die reaksie maar stroef. Taal was ‘n probleem, asook agterdog.

Een winkeleienaar maak toe later oop en sê dat sy ‘n Christen is en baie graag ‘n Chinese Bybel wil hê! Na ‘n gesoek is Bybels bekom en een aan elke winkel gegee. Dis nou ‘n positiewe reaksie teenoor die gewone negatiewe!

As gevolg van ons eie agterdog teen nuwelinge, en dalk ook ‘n bietjie Xenofobie by ons, mis ons dalk geleenthede wat die Here vir ons op ons voorstoep gee.

‘n Tweede voorbeeld. Is ons nie maar geneig om alle swart mense maar ook te skaar saam met die “hulle” vir wie ons bang is nie, net omdat hulle ‘n ander taal en kultuur het nie?

Ek sit hierdie week saam met ‘n Xhosa mama wat huil oor haar seun wat dood is. Nadat ons saam gebid het en ek in totaal ontoereikende woorde troos probeer bring het, sê haar suster uit die bloute: “Ons almal se bloed is rooi. Ons almal huil oor dooie kinders”.

Is dit nie tyd dat ons saam huil oor bloed wat in land vloei – hetsy of dit in plaasaanvalle gebeur of in Xenofobiese aanvalle of in ‘n dronk tsotsi se messteek of hoe ookal. Op die einde is die gevolge dieselfde. “Ons almal huil oor dooie kinders”.

☛ Ons mis ons medegelowiges omdat ons die Here mis. Ons mis die Here want ons sê baie maklik “Ja, MAAR”.  Hierdie spioene moes lieg en bedrieg omdat hulle bang was. Bang, omdat hulle nie die Here op Sy woord geneem het nie.

Wanneer gaan ons die Here op Sy woord neem dat ons mekaar moet liefhê, dat ons liefde onder mekaar ‘n getuienis sal wees dat Hy die Messias is, dat ons mekaar as gelowiges nodig het?





Waar liefde is, is daar geen vrees nie

1 03 2011

Na aanleiding van Matt 6:24-34:
Dit is darem vreemd hoe ons soms die Bybel lees – wat ‘n mens raaklees en wat ons mislees… Matt 6 is ‘n gedeelte uit die Bergrede van Jesus, en dit is een van daardie tekste wat ons sien as so bietjie onwerklik, utopies, iets wat net eendag in die Hemel waar kan wees. Ek bedoel, kan Jesus dit WERKLIK bedoel as Hy sê: “moet julle nie bekommer oor julle lewe” nie. Dit is mos eintlik belaglik in ons moderne lewe!  Ons het bekommernisse orals!

•    By die werk  – gaan ek my werk behou? Die teikendatums en teiken omset is onredelik! Regstellende aksie gaan my my werk kos!
•    By die huis – Wat vang die kinders tog aan? Hoekom is dit asof daar verwydering is tussen my en my huweliksmaat? Hoekom is daar nooit genoeg geld nie?
•    Bekommernisse oor…. wel jy noem dit! Daar is omtrent nie ‘n aspek van ons lewe wat ons nie in ‘n veld van bekommernisse omskep het nie.

Politiek, ekonomie, misdaad, ons maak eintlik ‘n beroep daarvan om bekommerd te wees.

Ons hele kultuur is daarop ingestel om hierdie bekommernisse te laat groei en blom en vrugte dra in ons lewens – wrange vrugte van depressie, stres, ens… Kyk na die nuus of die koerant, en dit is net slegte nuus. Kyk na ‘n advertensie en die boodskap is: Jy is nie goed genoeg nie – so raak mooier of slimmer. Jy stink – gebruik deodorant. Die goed wat jy het, jou kar, is pateties man, koop ‘n nuwe een!

Hoe kan Jesus vir ons in hierdie moderne lewe nog vra om nie bekommerd te wees nie? Nee ekskuus, Jesus VRA ons nie, Hy BEVEEL ons om ons nie te bekommer nie….

Voordat ons heeltemal dink dat Jesus dalk die kluts kwyt was hier, kom ons kyk bietjie mooi na die hele gedeelte wat ons gelees het. Dit begin met Jesus wat ons daarop wys dat ons nie twee base gelyktydig kan dien nie – Ons kan nie God en Mammon (die Aramese woord vir rykdom) dien nie.

Jesus sê nie dat geld goed of sleg is nie, geld, die smag daarna, maak net ‘n baie slegte baas – en hier gebruik Jesus dieselfde Griekse woord wat gebruik word om Hom te beskryf – Kurios – Here, Meester.  Jou Kurios is die een aan wie jou lojaliteit, jou tyd, jou diens, afgestaan word. En as geld, rykdom, goed my Kurios geword het, kom ons skielik agter ons het nooit genoeg nie. As geld ons sekuriteit is, dan tel ons, maak ons seker ons bly voor! Bekommer ons ons die heel tyd oor HOEVEEL ons het…

Jesus se egter: “julle kan nie God én Mammon dien nie.” “DAAROM sê Ek vir julle…”  Hy kom met ‘n heel alternatiewe manier van leef, ‘n alternatiewe manier van kyk na goed, eiendom, geld, sekuriteit.

God is oneindig, onmeetlik lief vir ons. Sy liefde werk met ‘n heel ander “ekonomie” as die geld-ekonomie. Dit kan nie opraak nie, selfs as ons Sy liefde wat Hy in ons gee uitdeel, raak dit nie op nie. Die van u wat kinders het, dink bietjie saam met my terug aan die geboorte van jou kinders – Toe die 1ste een gebore is, was ek baie lief vir haar, toe die 2de een gebore is was ek nie nou skielik net halfpad lief vir die eerste een nie, daar was genoeg liefde, meer as wat ek kon aan dink, vir hulle albei. So werk dit ook met God se liefde, hoe meer ons dit weggee, hoe meer het ons. Sy liefde kan nie geruil word nie, dit kan nie gebank word nie, dit kan nie getel word nie – hoe meer ons daaruit leef, hoe meer word dit!

Dit is hoekom Jesus sê dat ons nie bekommerd moet wees nie, want God se liefde raak nooit op nie! As ons in verhouding met God leef, as ons Hom liefhet en vertrou, dan skielik raak dit moontlik om Jesus te glo as Hy sê ons moet nie bekommerd wees nie. Dan begin ons iets van God se Koninkryk, van Sy droom vir ons, van Sy alternatiewe manier van lewe, raaksien.

Ja, dis nie maklik om die dinge wat Jesus sê te glo nie – My kind se universiteits geld moet nog steeds betaal word, die hoër brandstofprys moet nog steeds betaal word…. As ons egter toelaat dat Mammon God se oorvloed van liefde uit ons lewens verdryf, dan begin vrees ons lewens beheer. Vrees perk jou in, hou jou gevange. God se oorvloed stel ons egter vry. In Jesus se tyd was die heersers bang vir die alternatiewe manier van lewe wat Hy gebring het. Toe maak hulle Jesus dood. Moenie dat vrees jou dryf nie. 1Joh 4:18, 19: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie.”

God laat Hom egter nie inperk nie. Hy laat vir Jesus opstaan uit die dood – ‘n teken van Sy oorvloedige liefde. Hy verwoes nie diegene wat Jesus gekruisig het nie, Hy betoon nog steeds Sy liefde aan hulle.

Jesus nooi ons uit om in hierdie lewe van oorvloed te lewe!  ‘n Lewe waarin ons weet God het ons lief, niks kan ons van Sy liefde skei nie. ‘n Lewe deurdrenk met liefde! Waarin ons nie anders kan as om Sy liefde uit te leef teenoor ons naaste nie.