Ek glo…

11 06 2012
ImageEk glo in God die Vader,…En in Jesus Christus…Ek glo in die Heilige Gees. So sê ons mos as ons die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê.
Maar, en dis ‘n GROOT maar! Wat beteken hierdie woorde regtig? Glo ons in drie gode, een God, hoe werk dit?
Kom ons begin maar met eerlikheid – Ons weet nie regtig hoe om die Drie-eenheid te verduidelik nie. Enige poging bly net dit, ‘n POGING. Ons taal, simbole, verstaan is nie genoeg om die volheid van God te verstaan en te verduidelik nie. Soos die een skrywer tereg sê: “People who say they understand it (The Trinity) aren’t to be trusted.”! (David Lose, Divine Relationship). Die simbool by hierdie geskrif is ook maar een van vele pogings deur die eeue om die Drie-Eenheid visueel uit te beeld.
Tog was daar deur die eeue baie pogings om die Drie-Eenheid te verduidelik.  Dit is nou maar inherent aan ons as mense om te probeer verstaan, al sukkel dit!
Die Egiptiese Woestynvaders het ‘n kerslig gebruik om die konsep van die Drie-Eenheid te probeer verduidelik: Hulle het die kers só gebruik om die Drie-Eenheid te probeer verduidelik:
  • Oorsprong van Lig – Dit is die Vader
  • Die Lig self wat verlig – Die Seun, Jesus
  • Die hitte wat jy voel – Die Heilige Gees
Al help die Woestynvaders se konsep, het dit ook, soos al hierdie konsepte en pogings, gebreke.
Nog iemand uit Afrika, Augustinus, het ook ‘n poging aangewend om die Drie-Eenheid te probeer verduidelik. Hy het gepraat van ‘n “Gemeenskap van liefde”. Sy beeld het nogal moontlikhede, al het dit ook gebreke.
  • Minnaar – God die Vader
  • Geliefde – Jesus, die Seun
  •  Die Liefde – Die Heilige Gees
Ons kan heeldag voortgaan om al hierdie pogings te lys, vanaf Patrick, die sendeling aan die Iere, se gebruik van die drie-blaar klawer, regdeur tot moderne teoloë. Al wat ons vir seker kan sê, is dat alhoewel die beelde ons help om ‘n mate van verstaan te kry, hulle almal ook aan ernstige gebreke ly.
Hoekom is dit dan belangrik om oor die Drie-Eenheid te praat? Daar is dan nie eers ‘n spesifieke teks in die Bybel wat hierdie verhouding uitspel nie! Nee, dit is eerder die manier wat die hele Bybel oor God praat, vanaf Genesis (“Ons”) regdeur tot die einde. Selfs die bekende Matt 28:18, 19: “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (1983 Afrikaans vertaling) is nie ‘n sogenaamde “proefteks” nie, maar vat eintlik maar net saam hoe die hele oor God praat (Interessante tekste om na te kyk is, onder andere: Gen 1:1, 26, 1 Kor 5:18-20, Rom 5:1-5, Efes 1:3-14, Mal 3:6, Heb 13:8)
As die Bybel dan self die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees nie duidelik uitspel nie, hoekom moet ons oor dié saak bekommerd wees?
Dit is belangrik om vas te hou aan die Drie-Enige verstaan van God, want as ons dit nie doen nie, kruip allerlei probleme in ons verstaan van God en praat oor God in.  In sommige gevalle word die Vader bo die Seun, Jesus en die Heilige Gees geplaas. Dan word Jesus slegs mens, en in uiterste gevalle die Gees slegs ‘n “krag”. Die probleme sien ‘n mens al vroeg by die Arianisme. In sekere van die Gnostiese dwalings sien ‘n mens hierdie tendens ook. Vandag is dit in die “oneness” pentekostalisme te siene, asook in die manier wat Islam na Jesus kyk, om maar net twee voorbeelde te noem.
Ander kere word die drie persone van die Drie-Eenheid gesien as slegs maskers waardeur die een God Hom aan ons wys (modalisme), nie dat die drie Persone deel is van die wese van God nie.
Of die Drie-Eenheid word só geskei dat daar van drie afsonderlike gode gepraat word.
Al verstaan ons nie hoe die Drie-Eenheid inmekaar steek nie, en al skiet al ons beelde en konsepte ver tekort, is dit belangrik om vas te hou aan die belydenis dat ons glo in een God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Wat weet ons wel van hierdie een God, Vader Seun en Gees?
  •  God se eenheid is baie dieper as dit wat ons ken in menslike verhoudings, al kan ons ondervindings van vriendskap, omgee binne families, vir ons so ‘n klein skynseltjie wys van wat God se eenheid behels.
  • Die lewe wat God gee is onselfsugtige liefde. Liefde wat uitgeleef word in die verhouding tussen Vader, Seun en Gees. Die bewys hiervoor kry ons in die offer van Jesus
  • God is nie ‘n krag of iets onpersoonlik nie, maar staan en wil in ‘n lewende verhouding met ons staan. God is een, maar Sy eenheid is die lewende eenheid van die Drie-Eenheid.
Hoe leef ons ons geloof in ‘n Drie-Enige God uit? Hoe beïnvloed my geloof in ‘n Drie-Enige God my alledaagse lewe? Daar is ‘n vlakke van my lewe waarop hierdie geloof ‘n effek het.
  • Leef NOU tot eer van God, nie net wag vir “eendag” in die hemel nie. Die Gees lei ons nou alreeds in God se wil.
  • Leef in volle verhouding met God en jou medemens. Jesus het nie verniet die Wet opgesom as liefde tot God en liefde tot die naaste nie.
  • Die eenheid in die Drie-Eenheid is ‘n simbool vir ons eenheid onderling. Vader Seun en Gees is in ‘n perfekte eenheid en verhouding met mekaar, en kan ons lei tot onderlinge eenheid.

Die vroeë Griekse vaders het die woord “Perichoresis” gebruik om hulle verstaan van die onderlinge eenheid tussen Vader, Seun en Gees te verduidelik. Dit beteken letterlik “ronddans”. Mag óns so in ‘n noue verhouding met die Vader, Seun en Gees leef dat ons met vreugde en in eenheid en liefde met die Drie-Enige kan ronddans!





Jesus bid vir jou!

20 05 2012

Na aanleiding van Joh 17:6-23

Ons ken almal die “Onse Vader”, die modelgebed, of soos dit in Engels bekend staan, “The Lord’s Prayer”. Wanneer ons bid, dan probeer ons dit as ‘n model gebruik vir hoe om te bid. Hoeveel van ons besef egter dat daar nog ‘n “Lord’s Prayer” is, ‘n gebed waar Jesus nie vir ons leer hoe om te bid nie, maar om spesifiek VIR ons te bid.

:9-11b: “Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.”

Miskien gee ons nie so baie ag aan hierdie gebed nie, omdat dit nogal moeilik geskryf is. Waar die Onse Vader lekker vloei, duidelik uiteengesit is, is hierdie gebed van Jesus moeilik om te lees, met elke sinsnede wat eintlik iets sê. Gelade woorde.

Kom ons probeer egter dieper kyk, kom ons probeer sien wat
Jesus vir ons bid. Om dit te doen moet ons eers iets van die agtergrond probeer verstaan.

Hier in Johannes se verhaal is dit nou Donderdag aand, die aand voor Jesus se kruisiging. In hoofstukke 14 tot 16 leer Jesus vir oulaas vir sy dissipels wat sy taak was, wie Hy is, en wat hulle rol in die verdere vervulling van Sy taak gaan wees. Jesus het nie tyd vir bogpraatjies nie. Die tyd is kort. En nadat Hy hulle vir oulaas geleer het, bid Hy nou hier in hoofstuk 17 vir hulle.

☛ En wat bid Hy vir hulle? Dat dit maklik en voorspoedig sal gaan? Dat almal aan hulle lippe sal hang en die Goeie Nuus aangaande Jesus maklik sal aanvaar? Nee, maklik gaan dit nie wees nie! :14 “Die wêreld haat hulle.” Jesus weet dit, en daarom bid Hy ook nie dat dit maklik moet wees nie. Nee, Hy bid dat God die dissipels sal sterk maak en ondersteun sodat hulle al die teenkanting en terugslae kan deurstaan. En Hy bid spesifiek dat hulle een mag wees, want slegs so, as hulle saamstaan, kan hulle hierdie taak volvoer.

☛ Jesus bid egter nie net vir die elf dissipels van 2000 jaar gelede nie.  “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom” (:20) -en wie is dit?  Dit is ONS! Ja, in die nag voor Hy sterf, bid Jesus vir ONS!

En wat bid Hy vir ons? Wat vra Hy by God vir ons? Hy vra dieselfde dinge as wat Hy vir die elf gevra het. Dat ons God se onderskraging en ondersteuning sal hê, dat ons een met mekaar en met God sal wees. En hoekom? Sodat dinge vir ons makliker moet wees? Sodat ons lekker kan leef en nooit probleme hê nie?  Nee! Sodat “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (:21b).

Vir my en jou, vir ONS, bid Jesus in die nag voor Hy sterf. Hy bid dat ons een met mekaar en met God sal wees “sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” (:23)

☛ Dit is eintlik ongelooflik om daaraan te dink dat Jesus, net voor Hy sterf, aan my en jou gedink het!  Maar dit het nie daar opgehou nie.  Hy bid NOG STEEDS vir ons! Elke keer as ons die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê, herinner ons onsself daaraan dat Jesus aan die regterhand van God sit om vir ons in te tree – nou, vandag!

Elke dag, elke oomblik, tree Jesus vir ons in. Hy is nog steeds lief vir ons, Hy wil ons nog elke oomblik ondersteun en bystaan. Hoekom? Want Hy is werklik lief vir ons! Daarom ook dat Hy deur die Heilige Gees in ons woon en ons elke oomblik wil lei, troos, versterk en nader aan mekaar bind.

☛ Wat wil u hê moet Jesus vandag vir u voor bid? Ons weet al ons probleme, siektes, kwellinge, gaan nie sommer net so maklik in die niet verdwyn nie. Wat is die een ding wat jy vandag vir Jesus wil vra om jou mee te help, om vir jou mee by te staan?

Dalk geduld om ‘n beter ouer of vriend te wees?
Dalk moed om staande te bly te midde van ‘n moeilike tyd in jou lewe?
Dalk insig oor hoe om ‘n moeilike situasie in die huis of by die werk te hanteer?
Dalk meer liefde teenoor die wat jou liefdeloos behandel?
Dalk hoop vir daar waar jy hopeloos voel?
Dalk genesing van siekte van liggaam of gedagtes?
Dalk die genade om te kan vergewe?

Net jy weet waarvoor jy wil hê Jesus moet vir jou bid, vir jou intree by die Vader. Hy wil dit doen! Praat met Hom en vertel Hom, erken teenoor Hom dat jy Hom nodig het, Hy wil jou versterk! Dan sal jy Hom kan verheerlik in alles wat jy doen en sê.

(Met erkenning aan workingpreacher.org)





Aanvaarding, ten spyte van…

15 05 2011

Daar is baie diewe en rowers in hierdie wêreld. Daar is baie wat lewe aanbied, maar lieg daaroor. Slegs die goeie Herder wat Sy lewe vir ons afgelê het kan egter vir ons die ware oorvloedige lewe gee. Slegs die goeie Herder aanvaar ons onvoorwaardelik.

Jesus kom en beloof in hierdie gedeelte (Johannes 10:10) dat Hy gekom het sodat ons “die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Dit klink goed en lekker. Wie sal dit nie wil hê nie! Soos die een ou gesê het, “Despite the high cost of living, the activity remains popular!” “Ten spyte van hoeveel ons kla oor lewenskoste, bly dit populêr om te lewe…” En Jesus gaan ‘n stappie verder en beloof aan ons OORVLOEDIGE lewe! Moet nie net oorleef nie, lewe oorvloedig!

Baie van ons offer allerlei dinge op, om ons definisie van ‘n oorvloedige lewe vir onsself daar te stel. Gesinslewe word opgeoffer om langer ure te werk. Gesondheid word opgeoffer om harder te werk, alles om – dalk! – raakgesien te word en ‘n beter pos te kry, of om meer geld te maak uit my besigheid. Want oorvloedige lewe beteken mos “the good life”! Geld, goed, karre, dit is mos wat ‘n oorvloedige lewe is…

In ‘n onlangse dokumentêre program wat in Amerika uitgesaai is as deel van die “Frontline” reeks, “The Persuaders”, verduidelik mense wat self in die advertensie bedryf is, hoe die advertensiewese werk (Om ‘n kort 8 minute gedeelte te kyk, klik hier). Nie net om behoeftes by ons te skep vir dinge nie, maar om vir mense “die lewe” aan te bied! Die een persoon gaan so ver as om te sê dat die advertensiewese probeer om die leë plekke in ons lewens wat vroeër deur gemeenskapslewe in kerke en skole gevul is, in te neem.  “Reach out and touch someone.” deur ‘n spesifieke telefoondiens te gebruik. “Because I’m worth it.” vir ‘n spesifieke parfuum. “Be all you can be.” sluit by die Weermag aan! “Connecting People.” as jy die regte selfoon het, om nie te praat van die koeldrank wat “life add” nie!

Hierdie advertensies probeer nie die produkte verkoop omdat dit beter is as die opposisie nie, die produkte beid aan jou ‘n beter, meer vervulde, durf ek sê, ‘n oorvloedige lewe aan! En ons weet dat alhoewel ons gereeld van hierdie produkte wil hê en selfs nodig het, dat hulle nie werklik vir ons ‘n beter lewe gee nie. Hulle breek ook, voldoen nie aan die beloftes nie, tog laat ons onsself telkemale vang…

En hoekom laat ons onsself vang? Ons almal wil graag die beloofde oorvloedige lewe hê, maar ons kry dit nie. Ook nie hier binne die kerk nie!

Ja, dit klink dalk na kettery, maar is dit nie maar ons ondervinding ook hier nie? Hoeveel keer verneuk ons onsself nie hier deur die tweede beste te aanvaar nie!
•    Ons glo God aanvaar ons omdat ons gehoorsaam is. In werklikheid leef ons gehoorsaam omdat God ons aanvaar het.
•    Ek glo ek moet sekere dinge doen om goed van God af te kry. Inteendeel gee god Sy gawes vrywillig, dit wat ons doen, doen ons om vir Hom dankie te sê!

En omdat ons die tweede beste aanvaar, omdat ons wette in plek van genade wil stel, kry ons nie Jesus se beloofde oorvloedige lewe hier in ons gemeenskap as mede-gelowiges nie.

Nee, ons wantrou mekaar eerder. Is bang vir ‘n geskinder as ek eerlik is oor iets waarmee ek sukkel in my lewe. Ons waag dit nie om werklik in verhouding met mekaar te tree as mede kinders van God nie, want ons het al te veel kere in die verlede seer gekry…. So hoe leef ons?  Ons leef op ‘n manier om onsself te beskerm, om ander weg te hou van ons diepste binneste af. Ons is so bang ander gaan ons verwerp as hulle ons ken soos ons werklik is, so ons leef ‘n leuen, ‘n voorgee lewe. Ons kan dit egter nie selektief doen nie, so ons sluit ook vir God uit! So bly die lewe, en dit oorvloedig, buite ons bereik.

Hoe kom ons uit hierdie moeilikheid uit? Hoe kry ons die beloofde oorvloedige lewe sonder om weer seer te kry?

Seerkry mag egter altyd om die draai lê, want ons kan nie in ware verhoudings met mekaar en God staan sonder om ons self oop te stel, om te vertrou nie – soos die skape in hierdie gelykenis moet vertrou, so moet ons Hom ook vertrou!

En ons kan! Want die mens Jesus het op hierdie aarde geloop en verwerping en pyn beleef, sodat Hy ons daarby kan verby lei.

So om die belofte van die oorvloedige lewe waar te maak moet ons dit WAAR LEEF! Ons kan dit nie koop nie. Ons kan dit nie verdien nie. Ons kan nie met God onderhandel daaroor nie. Ons moet hierdie belofte aanvaar uit die hand van die Een wat vir ons so lief het dat Hy vir ons gesterf en opgestaan het. En ons leef dit WAAR deur te leef met die wete, uit die besef dat ons AANVAAR word soos ons is. Ek hoef nie beter klere of ‘n groter kar of ‘n slimmer selfoon te hê nie. Ek hoef selfs nie te probeer om God tevrede te stel deur meer kerk toe te gaan of meer geld te gee nie, Hy aanvaar my soos ek is.

Daar is baie diewe en rowers in hierdie wêreld. Daar is baie wat lewe aanbied, maar lieg daaroor. Slegs die goeie Herder wat Sy lewe vir ons afgelê het kan egter vir ons die ware oorvloedige lewe gee. Slegs die goeie Herder aanvaar ons onvoorwaardelik.

En ons kry hierdie geskenk deur te besef dat ten spyte van wie ek is, ten spyte van wat ek vir ander wil wegsteek, Hy bly oorvloedig lief vir my!

Al soek ek hoeveel keer op die verkeerde plekke geluk en liefde en aanvaarding, alleen by God is daar begrip, Alleenlik God wil ons aanvaar soos ons is en die oorvloedige lewe skenk! Want ten diepste is oorvloedig lewe nie geld, goed nie – wel die nabyheid van God, die nabyheid aan God.

Ons beleef ‘n breukdeel van wat hierdie onvoorwaardelike aanvaarding is in liefdevolle, eerlike verhoudings. Maar dit is slegs ‘n ligte voorsmakie van die volle aanvaarding deur God!  God wil hê ons moet elke dag aanvaarding ervaar, veral ook in die kerk. Dit is juis die een plek waar ons veilig moet kan voel want ons weet as christene alles is genade. Ons is almal ‘n klomp verloste sondaars bymekaar, nie “goeie” mense nie, maar aanvaarde mense. Hierdie oorvloedige lewe is vir almal – jy is God se gesig by jou huis, werk en in die kerk – Leef ‘n lewe van ander aanvaar soos hulle is, God doen dit met jou!





Wat sien jy?

8 05 2011

Wat soek ons in die lewe?  Geld, geluk? As Eugene Peterson, ’n Amerikaanse predikant, reg is, soek mense na twee dinge: wonderwerke en antwoorde. Waarom wonderwerke? Want God kan vir ons dinge doen wat ons self nie kan doen nie. Waarom antwoorde? Want God kan vir ons dinge vertel wat ons self nie kan uitpluis nie.

Die feit dat ons as mense in ’n gebroke wêreld leef, maak dat daar altyd by ons die hunkering is na ’n lewe en omstandighede wat nie die ongelukke, skokke, nare ontdekkings, misdadigheid, teleurstellings, en noem maar op, van ons bestaan reflekteer nie. Die daaglikse sorge en bekommernisse kan ’n mens moedeloos maak – ’n soort magteloosheid bring wat jou van jou lewensvreugde en -moed beroof.

Soms is daar dinge wat met jou gebeur wat geld of mag nie kan regmaak nie. Dit is asof jou hoop in die niet verdwyn, asof die gordyn vir jou gesak het en jy al een is wat met jou nood en bekommernis oorgebly het – nêrens om heen te draai nie, niemand om te raadpleeg nie, nie ’n nommer wat jy kan bel nie.

Soms raak ons so uitsigloos agv dinge wat op ons neerdruk, dat ons die voor die hand liggende, dit wat voor ons oë is, nie sien nie.

Soos hierdie manne wat hier op pad is na Emmaus toe (Luk 24:13-35). Terwyl hulle loop en praat oor dit wat gebeur het, verskyn Jesus self aan hulle, maar hulle herken Hom nie. Selfs toe Hy vra waaroor hulle gesels, kryt hulle Hom uit as ‘n “vreemdeling in Jerusalem”. En dan, as hulle vir Hom vertel waaroor dit gaan, gee hulle hulle diepste gevoelens weer (:21): “Ons het so gehoop dat dit hy is wat Israel sou verlos.”

So gehoop Hy sou die gehate Romeine verjaag, so gehoop dat Hy die Messias sou wees…  Vir ons as Christene klink dit dalk vreemd, het hulle dan nie die profete gelees wat vertel het van die Messias wat sou kom as die lydende kneg van die Here nie? Vir ons is die woorde van Jesaja 52 en 53 tog goed bekend, Jesus het dit op Homself van toepassing gemaak. Maar die Jode in die tyd van Jesus se verwagting van ‘n Messias was beslis NIE as een wat sou kom ly nie! Inteendeel, hulle het ‘n glorieryke koninkryk verwag, ‘n terugkeer na die koningshuis van Dawid, met selfs nog meer mag en prag en praal.

Die Emmaus gangers praat van “ons leiers” en “ons profete” – hulle was kerkmense, hulle het geweet van die beloftes. Hulle het die profete geken, selfs saam met Jesus rondbeweeg. Hulle het geweet Jesus sou kom dien, maar hulle was blind daarvoor. Hulle het hul eie verwagting / idees gehad

So het hulle verwagtinge hulle blind gemaak vir wat, nee WIE, voor hulle oë staan. ‘n Koning sou hulle aanvaar, maar een wat aan ‘n kruis gesterf het, tog nie!

Toe kry die Emmaus gangers albei die dinge waarvan Eugene Peterson praat, ‘n antwoord en ‘n wonderwerk! Eers verduidelik Jesus aan hulle die profesieë, en toe nadat hulle Hom herken by die maaltyd, verdwyn Hy voor hulle oë.

Ons is gelukkig om vandag beide te hê – die antwoord en die wonderwerk! Ons het die hele Bybel, ons het Jesus se woorde, ons het Sy dissipels se nadenke oor Hom, ons het briewe waarin hulle mekaar onderrig en bemoedig het. Ons het meer as genoeg om ons te oortuig van God se liefde!

Daarby het ons ook die wonderwerk. Ons het God self wat deur Sy Gees in ons woon. Ons word elke dag herinner aan die wonderwerk van God se liefde vir ons!

Maar…  ons soek en bevraagteken nog al die tyd, ons sien die antwoorde wat voor ons oë is nie raak nie.

Hoekom? – Ons lees graag die Bybel selektief of glad nie, en so mis ons die boodskap. Ons is so verblind deur smart, woede, mismoedigheid dat ons vergeet van die wonderwerke en antwoorde wat God al vir ons vroeër gegee het  – ons geheue is net so kort soos die Emmaus gangers  Ons onthou net as dit goed gaan. As die swaar van die daaglikse gebroke wêreld ons tref dan vra ons waar is God? – hoekom laat Hy seer toe? – – in plaas daarvan om God se antwoord en God se wonderwerk wat alreeds in ons lewens gebeur het raak te sien!

Sien God raak! Help ander om God raak te sien!

(Met erkenning aan http://seisoenvanluister.co.za/) Read the rest of this entry »





Alles loop reg, altyd reg???

22 04 2011

☛ Neels Jackson skryf dié week in die Beeld, oor hoe ons na God kyk. En dan sê Neels dat ons graag ‘n God soos ‘n Toyota wil hê… Julle weet mos, “Alles loop reg, altyd reg.”

Die groot probleem waarmee ons egter opgeskeep sit, is dat alles NIE altyd reg loop nie! Misdaad, siektes, droogtes of oorstromings, natuurrampe en allerlei ander dinge wys ons dat dinge NIE altyd reg loop nie, selfs nie vir gelowiges nie. Dan kry ons mense wat dit goed bedoel wat vir ons kom sê: “Jy moet net meer geloof hê”. Dan sal alles reg loop.

Mense wat hierdie tipe Toyota Godsbeeld het, word dan in hulle diepste wese geskok wanneer iets soos die tsoenami in Japan gebeur, of kanker my tref, of my kind sterf, of….  Dan argumenteer hulle, hoe kan Hy God wees as Hy nie so iets kan keer nie! So asof Hy ’n ligskakelaar is wat dinge laat gebeur as jy die knoppie van gebed druk.

☛ In ons teks vanmôre (Jesaja 52:13-53:12) word die “Dienaar van God” beskryf, as iemand wat NIE ‘n “alles loop reg” Godsbeeld kon gehad het nie. Ons lees “hy was misvormd”, “hy was verag”, “hy was deur mense verstoot”, “iemand wat lyding en pyn geken het”.

As ons ook vanoggend dink aan Jesus se lyding aan die kruis  dan is dit sinvol om te vra wat Sy lyding beteken vir die verskillende vorms van swaarkry wat ’n ons hier op aarde beleef.

Die een ding wat dit nié beteken nie, is dat daar nie langer moeite en ellende gaan wees nie. Die Psalmdigter het immers nie geskryf dat hy die dal van doodskaduwee gaan systap nie, wel dat hy dit met vertroue tegemoet sal gaan. Hy “sal geen onheil vrees nie,” het die ou vertaling gesê.

Want in ’n sin is die Japanse tsoenami nie ’n abnormale verskynsel nie. Dit is hoe die lewe is.

‘n Lewe wat dit nie ontsien het om die Seun van God aan ‘n kruis vas te spyker nie!

☛ As die tsoenamies van die lewe ons egter tref, watter sin bied Jesus se lyding vir ons?  Soos Martin Luther vra, waar vind ons ‘n genadige God? Vanuit die Nuwe Testament is hierdie beeld van die dienaar van God in Jesaja al op Jesus van toepassing gemaak, maar nie net op Hom nie. In 1 Petrus 2 word hierdie beeld op ons daaglikse lewe as Christene van toepassing gemaak deurdat ons Christus in Sy lyding moet navolg.

Niemand sien egter uit daarna om te ly nie, niemand wil willens en wetens in pyn inloop nie. Jesaja gebruik die beeld van die “arm van God” om te verduidelik dat selfs binne lyding en pyn, God nog steeds daar is, God nog steeds genadig is. Hy is daar om ons te ondersteun. Sy “arm” is magtig genoeg, en Hy liefdevol genoeg om met ons te wees deur alles wat ons mag teenkom.

Hierin is besondere betekenis opgesluit vir ons as die kerk. Daar word baie gevra na hoe “die kerk” se stem in hierdie tye gehoor moet word. Ons as die kerk van die Here behoort nie onsself nie maar aan die oorwinnaar, die eerste kneg, aan Jesus. Ons is nie geroepe om die suksesvolste, mooiste, rykste in ons omgewing te wees nie, Nee, soos die kneg van die Here “ons lyding op hom geneem” het, so moet ons ‘n plek wees wat die swaarkry en lyding van die omgewing op ons neem. Juis ons hantering van swaarkry en teenspoed moet ‘n getuienis wees teenoor die mense rondom ons van ons geloof in Christus. Soos 1 Petrus 2:20,21 sê, “om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep” Jesus is tog elke oomblik met ons, ook in ons lyding. Waar vind ons ‘n genadige God? In ons eie lewens, en ons maak Hom sigbaar deur ons optrede.

Vandag herinner ons, bind ons vas, aan Jesus se kruisdood, dat ons Hom hierin moet volg deur juis hierdie genade en hoop aan die nasies te wys en na hulle te neem (Jes 49:6).

(Met erkenning aan Neels Jackson)





Groei jy nog?

30 03 2011

Fasiliterende leierskap kursus – net een van daai kursusse met groot name wat eintlik maar net ‘n wegkom kans is? Soos duidelik gemaak in ‘n vorige blog inskrywing oor hierdie kursus, is dit glad nie so nie! Terapie of leerskool?  Of iets van altwee? So sit ons vir ‘n opvolg weer met Frederick as aanbieder, en elke aand gaan ons goed moeg huis toe! Drie dae van intensiewe werk kan nie regtig in ‘n kort blog inskrywing opgesom word nie, so ek gaan net aan van die punte wat my die meeste getref het, aandag gee.

  1. Waar begin fasiliterende leierskap? “Visioenêre leierskap” word baiemaal opgehemel as die tipe leierskap wat nagejaag moet word. Dit skep eintlik probleme omdat iemand vir ander besluit wat die rigting is wat die groep moet gaan. In uiterste gevalle probeer sulke leiers legitimiteit aan hulle “visioene” verleen deur te te beweer dat die Here vir hulle die rigting aangedui het, dat die Heilige Gees met hulle gepraat het, en daarom moet die hele groep in hulle rigting beweeg. Sonder om die ingrype van die Gees te ontken, is dit tog vreemd dat die Gees net met een persoon in die groep sou praat, en nie almal nie. Verder lei so ‘n leierskap styl heel geredelik tot konflik, want as enigiets sou skeefloop het die groep mos ‘n maklike sondebok – die een wie se visoen nagevolg is. Almal saam moet deel wees van die proses, dan kan almal saam in die sukses en mislukkings deel. Mense hou egter van outoritêre  leiers, want dan kan hulle hul eie verantwoordelikhede abdikeer.
  2. ‘n Fasiliterende leier is nie ingestel of gefokus op die einde nie, hy/sy is in beheer van die proses. Ek op my eie, sowel as almal saam, moet besin oor waarheen ons op pad is. Selfkennis is uiters noodsaaklik om ‘n fasiliterende leier te kan wees. Ek moet weet wat my normale reaksie is op konflik, wat my natuurlike leierskap styl is – eers dan kan ek mag abdikeer en die proses fasiliteer deur ‘n balans te hou tussen visie en reëls.
  3. Een van die grootste probleme met groei of om uit probleme te kom, is “stuckness”. Stuckness is ‘n vreemde kreatuur, omdat jy as leier grootliks daarvoor verantwoordelik is. Dinge wat in die verlede goed gewerk het, word net so toegepas op die probleme van die hede, en dan sit goed vas, wil dit nie meer werk nie! Om uit so ‘n vasgevalde situasie te kom, is dit nodig vir die leier om ‘n skuif in posisie te maak, dit sal lei tot die skuif van die res van die groep se posisies ook. Hier moet ‘n mens die verskil tussen tegniese en beginsel probleme herken, en weet dat dit twee nie op dieselfde wyse opgelos word nie.
    1. ‘n Liniêre proses van verandering kom tot sy reg wanneer ons tegniese probleme probeer oplos. Dit beteken ons identifiseer ‘n probleem, kom ooreen oor ‘n oplossing en implimenteer dit. Dit werk met probleme soos om die klankstelsel te vervang.
    2. Wanneer dit kom by die verandering van die karakter van ‘n groep, of om ‘n beginsel te skuif (iets soos die styl van aanbidding), moet ‘n mens reg wees om chaos te geniet.. Embrace chaos! Sulke probleme word nooit reglynig opgelos nie. Daar is altyd ‘n periode waarin dit lyk asof die proses agteruitgaan, waarin die probleem ontken word, waarin sekere persone geblameer word vir die probleem, waarin daar selfs woede is wat uitloop op ‘n depressiewe toestand, ‘n uitsigloosheid waarin mense nie weet wat om te doen nie. As ons egter almal saam met eerlikheid aan ons denkraamwerk werk, kom daar meestal nuwe energie in die proses en vind daar groei plaas.
  4. Hoe “omhels” jy chaos? Vir iemand wat in ‘n leierskap posisie staan, klink dit eerder na iets om voor bang te wees, om te vermy! Om chaos te omhels beteken dat jy teenoor jouself erken dat jy die proses nie kan “dryf” nie, dat die situasie bo en buite jou vermoëns uitgeloop het – beslis nie ‘n lekker gevoel vir iemand soos ‘n predikant of onderwyser wat glo (geleer is!) dat hulle altyd in beheer moet wees nie! Dit is egter eers as jy op die verhoudinge begin fokus wat binne die situasie aan die ontwikkel/versleg is, as jy kan terugstaan en afstand kry, dat perspektief na vore tree. Dit impliseer dat jy fyn en blaamloos luister na mense, nie om hulle van jou “regte” standpunt te oortuig nie, maar om in die proses die onderlinge verhoudinge te beskerm, om almal te leer om mekaar “raak” te luister.
  5. Om so te kan na buite staan, om so jou eie (sterk) standpunte bietjie agterweë te laat, beteken jy moet in jouself die rustigheid en die sekerheid hê dat die proses julle op ‘n plek sal uitbring waar die verhoudinge beskerm en versterk word, en waarvandaan verder gebou kan word.
    1. In hierdie verband het ons ‘n praktiese sisteem analise gedoen van ‘n situasie wat werklik in ‘n gemeente ontstaan het. Daar was konflik oor iets in die gemeente, en sterk standpunte is na alle kante toe gehandhaaf. Die dominee het met die “regte” inligting die situasie probeer beredder, maar mense het hom begin sien as iemand wat kant kies. Na ‘n tyd van persoonlike nadenke, stil word, tree die dominee toe terug uit die situasie. Hy begin toe net fokus daarop dat die verhoudinge onderling gehandhaaf moet word, en dat die verskillende partye mekaar nie verloor in die proses nie. En daar gebeur ‘n ongelooflike ding! – Die saak word beredder, mense vind mekaar, en daar kan verder gegaan word. Alles omdat een persoon sy posisie verander het. en daarmee die ander partye ook gedwing het om hulle eie posisies aan te pas. Deur te kies vir die formasie van mense, eerder as vir informasie, is almal opgebou en kon uit die “stuckness” beweeg word.

Daar is baie meer wat in die paar dae na vore gekom het. Hierdie was maar net sekere hoofmomente wat my aandag gegryp het.





Deur watter bril kyk JY?

28 03 2011

“Dit is nie WAT jy weet nie, maar WIE jy ken” – so sê ons mos graag as ons kyk na hoe mense opgang maak in die lewe… So is ons dalk soms so bietjie jaloers op ander wat vooruit gaan. Daar ‘n groot klomp voorveronderstellings wat ons gedrag elke dag bepaal, ‘n groot klomp stories wat inspeel op hoe ons die lewe sien. So aanvaar ons later baie dinge as vanselfsprekend, dit moet maar so wees. Byvoorbeeld dat politici so ‘n hoë posisie beklee. Dat mense in die ‘sagter wetenskappe’ soos onderwysers en maatskaplike werkers, met kleiner salarisse as sê nou maar ouditeure en aktuarisse tevrede moet wees. Dat ryk mense ook die invloedryke mense moet wees. Dat as jy ‘n groot sterk man is, jy outomaties die leier is. Dat kragdadigheid ‘n teken van ‘n goeie leier is.

‘n Groot klomp stories, voorveronderstellings, praat saam in ons lewens as ons na iemand kyk en daardie persoon beoordeel.

Hier in ons verhaal (Johannes 4:1-26) gebeur dieselfde ding. Die vrou kyk na Jesus en ‘n klomp goed, ‘n klomp verhale, ‘n klomp kultuurgoedere maak dat sy vir Hom sê: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Agter hierdie eenvoudige vraag sit ‘n groot klomp vooroordeel.

☛ Toe die Assiriërs Samaria verower het, die Noordelike ryk van Israel, het hulle groot getalle van die inwoners gedeporteer en hulle plek met burgers van oral oor die Assiriese ryk vervang (2 Kon 17:23). Die Assiriërs het hulle vreemde godsdiens en andersoortige kultuur saam met hulle gebring en derhalwe het ’n merkbare “verbastering” tussen die Joodse inwoners van Samaria en die Assiriërs plaasgevind. Hieruit het die Samaritane gespruit. Die suidelike stamme is later ook weggevoer in ballingskap, maar na Babilon. Ná jare in Babilon is hulle toegelaat om hulle weer in Israel te hervestig. Die teruggekeerdes van die suidelike ryk wou ’n tempel bou en die Samaritane se hulp is van die hand gewys. Vyandigheid het tussen hulle ontstaan. In 400 vC het die Samaritane vir hulle ’n tempel in Samaria gebou, wat in 128 vC deur die Jode verwoes is.

So is daar diep vyandigheid tussen Jood en Samaritaan. Hulle het glad nie langs dieselfde vuur, of is dit nou put, gesit nie.

☛ Dan weet ons nog van die vooroordele in daardie tyd oor hoe mans en vroue met mekaar moes omgaan – of liewer NIE met mekaar mag kontak gehad het nie. Soveel so dat ‘n Joodse man nie eers met sy eie vrou in die openbaar sou praat nie. Dat ‘n vrou gesien is as iemand wat nie eers voor die hof kan getuig nie…

☛ En Jesus praat met die Samaritaanse vrou, redeneer met haar, vra haar vir water. So keer Hy ‘n klomp gebruike en kultuurverwagtinge om. Een vir een word al die aspekte uit ‘n onkonvensionele hoek belig met die hoogtepunt in vers 26 wanneer Jesus sê dat Hy die Messias is.

Lydenstyd is die tyd wanneer ons herinner word dat ook óns gebruike, godsdienstigheid, oorleweringe, kultuurgoedere – alles wat op die oog af lyk betekenis aan ons lewens te gee – getoets en op hul kop gedraai (kan) word.

Hier het die plaaslike gemeente waar hierdie gedagtes as preek gedeel is, baie waardevolle insette gelewer. Op die vraag watter vooroordele, watter kultuurgoedere, ons weghou daarvan om ander as kinders van God te sien, is die volgende vooroordele uitgelig:

  • Ons kan net in die kerk glo – terwyl dit so is dat die Nuwe Testament ons aanmoedig om as gelowiges saam te verkeer, het ons vandag die ongelukkigheid dat baie mense IN die kerk al baie seer gekry het. Hulle vertrou nie meer ander Christene nie, en omdat hulle nie meer eredienste bywoon nie, maak ons hulle af as “ongelowig”. So verdiep ons net die seer waarmee hulle rondloop!
  • Iemand wat anders lyk of op ‘n ander manier aanbid is nie ‘n “regte” Christen nie – Eintlik maak iemand wat anders lyk of doen ons ongemaklik, en so is dit makliker om te projekteer, om die wat “anders” is te etiketteer. As die ander ‘n etiket van “liberaal” of “onvolwasse” of “oneerbiedig” om sy/haar nek dra, dan kan ons so ‘n persoon beheer. Kategoriseer. Eenkant in ‘n boksie wegpak.
  • So wil ons net ons geloof op ‘n Sondag in ‘n vaste ritueel uitleef – enigiets anders is “onstigtelik”. Ons fokus so op die vorm en ritueel dat ons nie die pyn en nood van die medegelowige wat saam met my in die erediens sit, oplet nie.
  • Ons aanvaar dit as normaal dat in ‘n klein plattelandse dorpie daar ten minste 7 of 8 kerke is – in een gemeenskap! – Ons is nie meer ongemaklik oor vooroordele wat ons as Christene uitmekaar hou nie. Jesus het reuse grense oorgesteek in Sy uitreik na die Samaritaanse vrou. Ons is nie eers gereed om die hand na ‘n mede-Christen uit te reik nie, of om saam met ‘n mede-Christen van ‘n ander taal, afkoms of ras God te aanbid nie. Ons is gemaklik met verdeeldheid in die Christen gemeenskap – is Jesus?
  • Eredienste is net “reg” as ‘n dominee of pastoor of iets dit aanbied. ‘n “Gewone” gelowige se nadenke oor die Skrif word afgeskiet as van minder waarde. As ek hoor ‘n ouderling of iemand anders gaan die diens lei, bly ek sommer by voorbaat weg!

Wat ‘n reuse klomp insig bestaan daar tog nie in ons klein dorpie nie! As ons hierdie perspektiewe, onder andere, kan begin uitleef, sal dit net groot dinge beteken vir die geloofsgemeenskap hier.

Die brille van vooroordeel is egter dik! Ons moet die Koning wat aan die kruis is raaksien. Die een wat vir ons wys dat diensbaarheid die kenmerk van ‘n leier is, en nie mag of posisie nie. So kan ons ook ons eie kultuurbrille weggooi en ander met die oë van Jesus raaksien, as mede verteenwoordigers van God geskape.








Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 651 other followers